Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Nou, kyk, as jy vir ma ken, sal jy weet as hulle die slag dorp toe gaan, was houtlepels taamlik hoog op haar inkopielys geskryf. En nie net een een nie. Nee sommer ‘n hele paar op ‘n slag. Ek dink amper Alfa het daardie jare spesiale voorraad gehou net vir haar. Dit was natuurlik ook nie altyd vir kosmaak nie. Nee, sy het 4 kinders en hulle agterwerêlde moes oor een of ander rede die vorm van ‘n houtlepel aanneem. En ma het gevoel dis haar plig om die proses aan te help.

Soos die keer toe ma wou perskes uitdroog. Ek kan nie onthou dat ons perskebome op die plaas gehad het nie, so ma moes hulle van iewers af gekry het. Nou as jy sulke goed persent kry, moet hulle gebruik word. En ma se idee met die perskes was om hulle uit te droog.
So is hulle dan ook mooi afgeskil, en gesny en watter ander voorbereidings dit ook verg (moes iets groots gewees het aan ma se reaksie toe dit nie meer gebruik kon word nie) om droog te raak. Ma moes ook eintlik van beter geweet het as om die goed sonder enige toesig buite te los vir die droograak proses.

Wel so lê die goed toe nou daar. Ewe dood onskuldig, maar eintlik ‘n moerse uitnodiging vir enige seun wat dalk daar rond is. En my broer Krummel was so ‘n seun.
Gewoonlik die ou voorbeeldige enetjie, maar somtyds kan goeie mense ook nie die versoeking weerstaan nie. En as jy dan nou nog in jou kwaad gesterk word deur ‘n Nama kind saam met wie jy alles doen, en dié het nog nooit van perskes gehoor nie, is dit nie maklik nie. Die goed lê dan nou daar en lyk moedswillig lekker.

So na ‘n paar minute se observasie om te sien waar die grootmense is, vaar hulle die perskes in. Eers trommeldik gevreet, toe is dit ook nie meer lekker nie. Besluit toe maar om die vol-geit bietjie af te oefen of iets, want toe begin hulle mekaar gooi met die goed.

Nou ek het al vroeër gepraat van ma wat ‘n redelike groot rugby fan is. En ek dink een van die maniere hoe sy dit uitgeleef het was om “veld-ore” (van die soort wat die skeidsregters dra) iewers op ons kinders te plant, want sy’t altyd geweet wat ons doen en praat. So met die hulp van ons nasionale sport, kom sy toe ook uit die huis gestorm. En soos altyd voorbereid (tot op ‘n punt, want sy was kaalvoet) het sy ook sommer die houtlepel in die hand.
Wat die kinders se redding was, is die feit dat sy soos Bakkies Botha, wat ‘n doellyn geruik het, daar uitstorm. Die enigste verdediger in haar pad was die hond wat voor die agterdeur gelê en slaap het. Met die moerse lawaai, vlieg hy toe (ek is seker, tot sy spyt) op. Reg voor ma in. Sy het nog ‘n paar Joost sidesteps probeer maak, maar trap toe in elk geval op sy stert.
Die gevolg was dat die hond toe nie die enigste obsticle in haar pad is nie, maar ook ‘n paar drolle wat die hond gelos het van die skrik en pyn.
Dit het vir Krummel natuurlik al lankal die geleentheid gegee om ‘n hele paar meter te wen. Maar ma laat haar nie onderkry nie. As sy haar mind op iets gesit het, sal niks haar keer nie.
Wel so het ons gedink, maar as mense wat op ‘n plaas grootword, behoort jy te weet dat klein dingetjies in die lewe die grootste struikelblokke kan wees. Dinge soos duwweltjies en miere.
Wel hy het toe koers gekies windpomp toe wat so ongeveer 50 m van die huis af is. Nou daardie jaar was ‘n taamlike goeie reënjaar, met die gevolg dat die duwweltjies redelik goed gegroei het. Ma het die goed probeer uitroei in die yard, maar ek verbeel my sy het die week na hierdie spesifieke petalje, ‘n groter poging aangeweld.
Ewenwel, ma is agterna. Kaalvoet.
Sy het darem tot so amper verby die hoenderhok gevorder. Maar as jy nou van die huis se kant af die affêre staan en bekyk, sou dit gelyk het of sy deur dryfsand probeer hardloop. Die eerste paar tree met ‘n moerse spoed, maar dan al stadiger en stadiger. Natuurlik soos die dorings meer geraak het. Die laaste twee treë was in slow motion. Met voete wat onnatuurlik hoog opgetel word, en hande wat terselfdertyd by die duwweltjies in die voete probeer bykom. Die laaste aksie was ma wat handeviervoet tot stilstand kom. Gelukkig vir Krummel se onskuldige ore, was hy al buite hoorafstand, want daar het ook ‘n paar woorde uit ma se mond gekom wat ek nie geweet het sy ken nie.

Nou-ja, so gaan sit sy toe net daar op die grond, om die vervlakste duwweltjies uit te kry. Sy maak min foute in haar lewe, maar dit was een van hulle.
Sien soos ek gesê het, was dit ‘n goeie reënjaar, met die gevolg dat die rooimiere ook vreeslik opgewonde is. Hulle ken die kalk en weet daar kom nie baie reën nie, so as dit wel gebeur, moet hulle genoeg bymekaar maak. En enigiets wat in hulle pad staan, sal weet daarvan.

Eers het ma so stil gesit en duwweltjies uittrek, toe haar kop skielik opruk. Soos iemand wat ‘n ligte skok gekry het. Duwweltjies vergete. Nog ‘n paar koprukke, toe die onderlyf wat ‘n paar passies sommer daar op die grond maak. Kompleet soos ‘n hond wat sy agterwêreld op ‘n graspol probeer afvee.
Die volgende oomblik vlieg sy op en dit lyk of sy haarself probeer pak gee soos sy die miere probeer slaan, wat nou ook hewig begin kapsie maak het teen die geslanery, en al meer begin byt.

Nou kyk, ma se voete is toe nog vol dorings, en die stuk tussen haar en die huis was uit die aard van die sak ook nog besaai daarmee. Maar sy het nogtans die afstand vinniger afgelê terug huis toe, as met die gaan slag. Ek dink daardie spesifieke houtlepel lê seker nounog daar waar sy hom gelos het.
Nadat sy ontslae geraak het van al wat byt en steek, was sy eers die moer in.

Om alles te kroon, het oupa, nadat ma terug in die huis was, vir Krummel geroep om na hom toe te kom. Hy’t ook nie op hom laat wag nie en nael vir al wat hy werd was na waar hy weet hy beskerm sou word. Groot Fout.
Ma het intussen ‘n ander houtlepel in die hande gekry (nog ‘n ekonomiese plus vir Alfa). En toe is sy op die oorlogspad.
Oupa druk vir Krummel in die hoek en gaan staan voor hom, sodat ma nie by hom kan kom nie. (Oumense is blykbaar nie so wys as wat hulle voorgee nie). Toe kom hy ook maar verby met die houtlepel, tot hy dit nie meer kon hou nie en moes padgee. En daar werk ma weer aan haar plig om ‘n kind se gat houtlepelvormig te kry.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Duwweltjies en Rooimiere
Oulike vertelling!
9 jaar 9 maande 3 weke 17 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar