Kortverhale

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ten spyte daarvan dat ek die afgelope naweek baie siek was met ‘n verkoue wat my net nie wou los nie, was ek baie hartseer omdat ek nie die 40-jaar reunie saam met my ou Pretoriase skoolmaats kon bywoon nie. Lekker bitterbek, ook. Maar dan, die ou skoolmaats het ek net geken totdat ek standerd agt gemaak het, want daarna is ek landbouskool – en koshuis, toe, waar ek standerd nege gemaak het voordat ek direk daarna getroud is. Van my beloftes aan Pappie om matriek steeds eendag te maak, het niks gekom nie, om die eenvoudige rede dat dit nooit nodig was nie. Want ek het, vandat ek begin werk het na my seun se geboorte, altyd meer verdien as my skoolmaats, wie hulle lewens oor dieselfde tydperk gebaan het. Nou praat ek natuurlik van die meisies. My tydgenote. ‘n Paar het werklik uitgestyg, van die meeste ander weet ek nie eens nie, want ons paaie het heeltemal uitmekaar beweeg. Maar daar was darem een meisie, een van my skoolmaats in die hoërskool, wat altyd naby was. (ons was aangetroude famlie) Vir haar kon ek gebruik as maatstaf van my eie vordering, en ek het ‘n geweldige bewondering ook vir haar gehad. Van kleins af. Mooi, slim, ‘n harde werker. ‘n Goeie parallel, dus. Vir my kinders, veral my dogter, het ek geleer om haar voorbeeld te volg; na haar te kyk as hulle wou sien hoe ‘n dame moet lyk, of wees. Ek het haar selfs my kinders se peetma gemaak, seker dat sy altyd daar sou wees om haar perfekte voorbeeld te stel. Ek self was mos maar so gemaak, en so gelaat staan. Ek het immers my eie swakhede geken, ek ek was nie eens naasteby perfek nie! Sy was.

Ons het vriende gebly, oor die vroeëre jare nadat ons getroud en gevestig geraak het. My vriendin het eers haar studies voltooi, perfekte voorbeeld wat sy was, en dit was eers baie jare later voordat sy aan kinders kon dink. Later, weens die lang wag vir ‘n eie kind, nog kwalifikasies bygekry terwyl sy gesukkel het om swanger te raak. Sukses met al die ander dinge waarvoor ons gewens het, het ook gevolg, sodat dit met ons almal baie goed gegaan het. Finansiëel veral. Later was ek die een wie nie meer in my vriendin se prentjie gepas het nie. Heel vriendelik, het sy my op ‘n dag om verskoning gevra dat sy my nie meer na haar teepartytjies sou nooi nie. Gesê dat al haar vriendinne se hare orent staan na ‘n kuier waar ek ook teenwoordig was. Ek het lekker gelag destyds, dit was ‘n groot grap vir my, en ook vir die ander mense wie ons albei geken het. Maar skoonsus Ernatjie, wie definitief niemand se hare ooit orent sou laat staan nie, is ook nie meer genooi nie. En skoolmaats? O wee, hulle was almal van die verkeerde kant van die berg! Ons groot foute was natuurlik dat ons nie die regte adresse gehad het nie, hier waar ons ons in die Noorde van die dorp gevestig het nie. Ons was ook nie aanstellerig genoeg nie, net maar gewone mense. En my vriendin het ook maar hier van die Noorde gekom, al wou sy dit later so graag vergeet. So het ons vervreemd geraak, en toe my man boonop later onder verdagte omstandighede sterf, was daar niks meer wat my en haar aan mekaar gebind het nie. Nie met haar man wie blou gesweer het dat ek myne vermoor het, en die storie wyd en syd laat loop het nie. Terwyl sy dus gespook het om haar vriendinne van hulle kennis van my te laat vergeet, was ek net so besig. Om die verhouding tussen my en my kinders te herstel. Of eerder, te probeer herstel. Ek sê probeer, want die saadjie is destyds gesaai, en die verlies aan vertroue kon nooit werklik weer herstel word nie. Ons bly darem ‘n gedugte trio, as ons ‘n gemeenskaplike front vorm, sou iemand van buite ons wil takel!

En ten spyte van haar gulhartige aanbod – die dag na die begrafnis – dat ek asseblief moet sê as sy kan help, was sy nooit daar toe ek in die jare daarna wel hulp nodig gehad het nie. Veral nie as peetouer vir my kinders, waar sy sou kon skitter met haar goeie voorbeeld nie. Ja, ja, daar was altyd geskenkies vir hulle as hulle verjaar het, of Kersfees, die paar Kersfeeste wat hulle nog saam met die plebs die kant van die berg deurgebring het, maar peetouer wees? Nee. Ai, ek vergeet al weer. Daar was wel ‘n gebaar, een maal. My dogter was toe in Standerd ses of sewe, dink ek. My vriendin en haar man het aangebied om my haar aan te neem! My seun was toe al reeds klaar met skool, self besig om te studeer. Dit was wonderlik, ou Toeks sou alles wat haar ou hartjie maar kon begeer, gekry het. En sy sou ongetwyfeld gou die bietjie indruk wat ek op haar lewe gemaak het tot op daardie stadium, kon afleef, sodat sy net so ‘n pragtige, perfekte mens soos haar tante kon opgroei. Ek was natuurlik die vlieg in die salf, want die voorwaarde – dat ek my kinders nooit weer sou mag sien nie – het my nie gepas nie. Jinne, so ‘n slegte ma was ek darem nie gewees dat ek my kinders in geheel sou moes afstaan nie. Net arm. Buitendien het my vriendin en haar geleerde man toe darem al selfs ‘n kind gehad. ‘n Seun.

Met facebook saam, leer ek weer ‘n paar van die skoolmaats ken na baie jare. Vind ook uit dat baie van hulle die skinderstorie van destyds gehoor het. As hulle wonder hoe dit is dat ek nie opgehang is na die “moord” nie, praat hulle darem nie (meer) daaroor nie, en hulle is selfs vriendelik met my. So begin ons beplan aan ‘n weersiens, ‘n ontmoeting tussen ou maats. Nie ‘n amptelike reunie nie, net ‘n weersiens. Om te sien wat die lewe met ons almal gemaak het, maar dit ontwikkel toe tog in ‘n reunie, en terwyl ek my onttrek omdat ek nie ‘n plek daar het nie, stel ek my ou vriendin voor om dit te reël. Sy was immers hoofmeisie daardie jaar. En natuurlik is sy baie bly om dit te reël. Ongelukkig op haar eie, haar belangrike man is nou baie siek. Ek hoor dat hy so maer is dat sy bril van sy gesig val. Hy loop ook nie meer lekker nie, maar niemand van ons weet presies wat fout is nie.

Natuurlik kry ek hom jammer, maar oor die jare het hulle my hand van vriendskap immers keer op keer afgeklap, geweier. Vir haar het ek nog altyd jammer gekry. Sy was met hom getroud, dit moes erg gewees het. Maar ek kry hulle nie nou so jammer soos destyds, toe hulle hulle enigste kind verloor het nie. My hart het vir hulle gebloei, daardie jare. Maar ook sy sal nou stadigaan daaraan gewoond moet raak om haar paadjie alleen te stap. Nou kan ek nie help om maar weer te vergelyk nie. My vriendin is steeds so mooi soos altyd, dit lyk asof die ouderdom nie aan haar geraak het nie. Wat praat ek, sy is mooier as ooit! En die gewone ou klompie maters steek maar sleg af, sien ek toe ek na die fotos van die reunie op facebook kyk. Toe ek haar vooraf vra wat die protokol is met so ‘n byeenkoms, laat sy my baie duidelik verstaan dat almal welkom is, mits jy daardie jaar matriek geslaag het. Maar op pad na die reunie, ry sy ‘n groot ompad om een van die maats - wie my self vertel dat sy ook glad nie matriek gemaak het nie - te gaan oplaai, om saam met haar te ry. Toe die vriendin my daarvan vertel, vra ek haar verbaas of ons ou vriendin weet dat sy ook nie matriek gemaak het nie, gedagtig aan die hoofmeisie se skerp en bitsige skindertong, maar sy verseker my dat sy wel weet. Nou ja, wat kan ek sê?! Sy was adamant dat ek dit nie behoort by te woon nie. Haar kalklig sou ek tog nooit as te nimmer kon steel nie?!

Een en veertig jaar gelede het ek ‘n keuse gemaak wat die res van my lewe sou bëinvloed. Soos die meeste mense op daardie ouderdom, natuurlik. Ek en my maats was in standerd nege, en almal het al ernstig begin dink het aan die keuse van ‘n loopbaan. Ek ook. Die man in my lewe destyds het die besluit gehelp neem, hy wou nie ‘n geleerde vrou hê nie, net vir my. Hy was baie lief vir my. En ek het, nadat hy dood is, baie swaar gekry, arm geraak deur my eie foute, maar ek het my twee kinders oorgehou. En om hulle groot te maak, was soveel makliker omdat my seun toe reeds groot genoeg was om my met sy sussie te help. Hy was hy my grootste steunpilaar, toe, en hy is dit steeds. Wat nie die geval sou wees, het ek later eers getrou nie.

Ek kon destyds die ander pad gekies het. Matriek gemaak het. Ek sou selfs verder kon gaan studeer het. Maar ek is ook in die bevoorregte posisie om te kan terugkyk, vandag. En veral verlede Maandag, toe my pragtige seun sy 40ste verjaardag gevier het. Oor die afgelope 41 jaar, en dinge wat met my gebeur het. En met die mense om my. Maar kyk en vergelyk soos ek wil, weet ek: Nie een dag, nie een uur, of een minuut, sou ek met my vriendin wou plekke ruil nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

41
Dit laat my wonder, wat beteken matriek vandag?
9 jaar 2 maande 3 weke 6 dae 5 ure oud


41 jaar
'n Mens leef jou besluite! En tog tussen die lyne lees ek Spyt en Beny raak. Lekker gelees aan goeie skryfwerk. Hier en daar 'n paar foutjies wat reggestel moet word.
9 jaar 5 maande 1 week 4 dae 5 ure oud


41 jaar
Ek vind jou vertellings baie interessant en leesbaar. Goed en eerlik geskryf.
Natuurlik moet ek nog voor begin om al die drade bymekaar te kry, maar ek sukkel lelik met die tyd.
9 jaar 5 maande 1 week 4 dae 14 ure oud


Keuses...
Ek moes eenvoudig lees, en ek is bly ek het dit gelees. Soos jy sê, daar is keuses wat gemaak is, maar verander daaraan?...stellig nie want dan sou ek myself ontneem het van dit wat ek het in my kinders en kleinkinders. Ek stem saam met die tevredenheid waarin mens jouself kan bevind...Baie dankie dat jy die deel van jou verlede gedeel het, en dit met trots gedoen het.
9 jaar 5 maande 1 week 4 dae 17 ure oud


Een-en-veertig jaar...
Aag pragtig! Jy het jou keuse gemaak en jy is met reg trots daarop! En dan kan jy dit nog so mooi beskryf ook! Nee wat, jou sogenaamde vriendin kan maar gaan slaap - sy kom nie naby jou nie.
9 jaar 5 maande 1 week 4 dae 18 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Wie Praat Nou? Boek 1 - ʼn Gids na die wêreld van Geestelike Energie

    deur Thalita Goosen

    Wie Praat Nou? Boek 1 - 'n Gids na die wêreld van Geestelike Energie - is die eerste van 'n reeks opeenvolgende boeke wat vanuit 'n geestelik/wetenskaplik/sielkundige denkrigting onderrig. Hierdie reeks boeke is gemik op daardie mense wat gereed is vir 'n hoër Waarheid en reguit antwoorde.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar