Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Kleinboet kuier so oor die lang naweek hier en hy bring 'Die Madeleine' saam. Die Saterdag is dit koud buite en ons steek die 'Welcome Dovertjie' aan en vinnig begin daar so ’n geselligheidtjie in die voorvertrek posvat. Ons brou Ciro moerkoffie en daar is beskuit en dan raak die tonge mos los en die stories word van oral oor gaan haal. Lekkerder as lekker.

Een van die stories wat vasgesteek het en in die hoek bly wag het om gehoor te word, is die een van die oom in die kerk, sy niekkerbol kouende gewoonte en die aand van die muskiete.

As mens aan ’n kerk dink kom iets lagwekkend nie sommer eerste in jou gedagtes op nie. As mens aan-aan ’n niekerbol kouende omie dink lag jy nie sommer hardop nie. As mens aan ’n lastige muskiet dink is lag die laaste emosie waaraan jy dink.

Maar sit die drie elemente saam in die kerk en jy kry iets heel anders. Hierdie is ook ’n ware storie so dit maak dit so half snaakser.

Madeleine was ’n meisie van so by die ses jaar oud toe sy saam met haar ouers in die agste ry van die kerk gesit het. Dit was warm die dag. Almal het papiertjies gevou en gewaai en sakdoeke is kort-kort teen die voorkoppe gedruk. Later het die Dominee die preek onderbreek en die diakens gevra om al die deure oop te maak. Hy het gesien van die ouer manne gaan dit nie maak nie. Hulle ogies sukkel om oop te bly. Vars lug is die oplossing.

Voor Madelein sit een van die meer gesiene ooms van die dorp. Lekker min hare. Die pankop blink van die sweet. Die oom het altyd ’n bruin papiersakkie in sy baadjie se sak gehad. In die sakkie was hierdie ou swart niekerbols wat mens by die Griek se kafee op die hoek kon koop. Groot en hard en swart.

Die oom het so elke vyftien minute in sy sak gevroetel en dan met so amper hoes die niekerbol in sy mond gedruk. Lekker skelm maar almal het geweet hy kou sy niekerbol. As jy so ry voor of agter hom gesit het, kon jy duidelik hoor hoe rol hy daardie niekerbol van kies tot kies en as hy klein genoeg is, het hy hom gekou tot in stukkies. Verskriklik irriterend as jy nie op die preek konsentreer nie.

So sit die oom en laai ’n vars niekerbol in sy kies toe die duiwel by die oop deur insweef in die vorm van ’n muskiet. En daardie muskiet het so tussen die rye deur gesweef op soek na sy volgende slagoffer toe een van die tannies hom met ’n waaier bykom en hom gewond. Daardie muskiet gaan in ’n doods draai in en instink vat oor. Net voordat hy heeltemal buite beheer raak kry hy hinke-pink ’n noodlanding reg. Op die niekerbol omie se agterkop. Hy het gly-gly gestop voordat hy verstrengel kon raak in die Vitalis gekamde sypaadjie.

So sit die muskiet en kyk hoe erg die tannie se waaier hom beskadig het en hy verloor konsentrasie. Groot fout.

Madelein sien die muskiet op die omie se kop land en die hulpvaardigheid refleks neem oor. Sy gryp haar ma se familie bybel en laat waai. Daardie bybel is in groot letters gedruk. Hy het die ou testament en die nuwe testament in. Hy is groot en swaar. Toe daardie bybel die muskiet en die omie se agterkop laat saamsmelt kon jy ’n naald hoor val.

Ongelukkig ook die niekerbol. ’n Breukdeel van ’n sekonde voordat die muskiet die ewigheid in is, het die oom besluit om die niekerbol van die linkerkantse kies oor te plaas na die regter kies. Dit is ’n geoefende tongrol aksie. Maar die tongrol is nog nooit in die middel onderbreek deur ’n klap van die bybel nie. Daardie niekerbol skiet uit die omie se mond en val met ’n harde skoot op die teëlvloer.

Almal kyk na die omie wat verwoed opspring en sy agterkop vryf. Die dominee skrik homself uit sy preek stuk uit en raak sy plek op die bladsy kwyt. Die niekerbol hardloop soos ’n albaster oor die teel vloer en in die stilte is dit oorverdowend. Almal hou die niekerbol dop. Die kerk loop teen ’n skuinste vorentoe en die niekerbol neem die pad van die minste weerstand en hy rol kliphard tot voor in die kerk.

Die hele kerk kyk na die niekerbol en dan kyk hulle na die omie en dan na die Dominee. Die Dominee sukkel steeds om sy plek in sy notas te kry. Alles is doodstil. Dan staan so klein pokkeltjie in die voorste ry op en tel die niekerbol op. "Dankie, liewe Jesus ..." prewel hy en stop die niekerbol in sy kies.

Toe moes die Dominee maar die preek stop want die mense het gelê soos hulle lag. Almal behalwe die seun wat die niekerbol sit en suig en verbaas sit en rondkyk.


Ludwig (Dover nagte)



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Die legkaart van ons lewe

deur hopeanointed

Jare se ervarings van diepe seer het ons geleer dat ons lewe ṅ legkaart is in God se hand wat Hy spesiaal uitgesoek het deur Sy liefde en genade om te voltooi. ṅ Legkaart, kosbaar en uniek waarvan elke stukkie sorgvuldig met tyd en geduld uitgesoek word om presies in plek te pas. ṅ Legkaart in bou om aan ṅ gebroke wêreld te wys dat Jesus Leef!



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar