Kortverhale

Titel: Eerwaarde en die pea-shooter

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Tant Mina was ’n gelowige mens.
Sondag vir Sondag het sy op haar beskeie plekkie in Pa se sendingkerkie gesit.
Tant Mina was altyd uitgevat in haar beste Sondagklere, want, het sy geredeneer, as mens ’n afspraak met die Liewe Here saam het, trek jy vir jou “ordintlik” aan.
Tant Mina se “ordintlik aantrek” het bestaan uit ’n groot liggeel kerkhoed, liggeel handskoene met ’n bypassende handsakkie en ’n geel kerkrok met ’n sonneblom motief. Natuurlik is die sykouse en hoë hakskoene ook nie uitgesluit nie.
Verder het tant Mina op kerk-oggende, Sondae, altyd na laventel geruik.
Vandag nog as ek die reuk van laventel kry, dink ek terug aan daardie warm Sondag oggende in die klein sendingkerkie.
Wanneer Tant Mina Sondae oggende met haar spul kleinkinders die kerk ingestap gekom het, was dit ’n hele ritueel wat hom afgespeel het.
Tant Mina het vas geglo haar kinders is nie in staat om hulle kleingoed in die weë van die Liewe Hemelse Vader op te voed nie en het dus die saak op haar geneem. Een van hierdie selfopgelegde take was om die kleinkinders saam met haar kerk toe te bring.
Die gevolg was dus dat sy met die prosessie kleingoed die kerk binne gestap kom. By haar bank wat sy elke Sondag in sit, het sy dan gaan staan. Kopknikkend het sy dan vir elke kleinkind gestaan en wag om by die bank in te stap. Dit wou altyd so voorkom of sy hulle tel.
Niemand mag gaan sit voor sy nie so sê nie. As elkeen sy staan in die bank gekry het, het Tant Mina dan gese: “Sit.”
Almal kry hul sit. Dan sê tant Mina: “Maak toe julle oge.” Almal sluit die oë. Tant Mina doen ’n stil gebed. Dan sê sy: “Amen. Maak oop julle oge.”
Almal moet dan stilsit tot Pa die preekstoel betree. Niemand mag praat nie.

Pa het altyd die manier gehad om op sekere mense te fokus wanneer hy preek. Tant Mina was een van hulle.
Vir die ou Tante was Pa die Liewe Here se eie Profeet en het sy altyd aan Pa se lippe gehang wanneer hy preek. Nou moet ek ook by sê, Pa se preke was baie eenvoudig. Hy het eintlik meer met die gemeente gesels en stories vertel as wat hy gepreek het. Die gevolg is dat almal altyd aandagtig geluister het wanneer die ou man preek.

Die betrokke Sondag oggend het klein Abel ’n self gemaakte pea-shooter met hom saamgebring kerk toe. Hy het ’n geel balpuntpen geneem, die ink gedeelde uitgehaal, en siedaar: ’n Pea-shooter.
Gewapen met ’n handvol ronde groen kareebessies in sy sak, het hy langs sy Ouma plaasgeneem in die kerk en dinge begin uitkyk.
Tant Mina het aandagtig na Pa se preek geluister, sonder om enigsins bewus te wees van wat om haar aangaan.
Omdat hulle aan die linkerkant van die kerk agter die diakens gesit het, het Klein Abel sy kanse afgewag.
As Hy sien Pa kyk in Tant Mina se rigting, sit hy doodstil. Wanneer Pa egter sy kop na die middel en die regterkant van die kerk draai, sit klein Abel ’n groen kareebessie in sy mond. Hy mik dan op Johannes, een van die diakens en blaas deur die pypie. Die bessie tref vir Johannes in die nek. Hy vryf sy nek en brom iets van ”muskiete”
Ewe skielik kyk Pa weer in tant Mina se rigting met sy preek en dan sit Klein Abel ewe vroom stil.
Die mannetjie misgis hom in ’n stadium en Pa sien wat hy doen.
So tussen sy preek deur se Pa: “Tant Mina, hou bietjie dop wat daardie klein vabond daar langs jou doen!”
Tant Mina kyk na Abel net toe hy die pea-shooter na sy mond bring om weer vir Johannes te skiet.
“Jou klein maaifoedie!” bulder sy. Sy kry Klein Abel aan die arm beet en sleep hom by die kerkbank uit.
In die geskokte stilte wat toe heers, kom klein Abel se stemmetjie helder deur die kerk: “O helletjie Piet! Nou gaan my g*t brand! Bid my vir my ‘seblief djulle, gehoor?"







Kommentaar

Weergawe: 1 | 1 jaar 5 maande 1 dag 22 ure 49 minute gelede gelewer

Onderwerp: Eerwaarde


Ek neem aan dis toe, dat die kerk uitgekom het...

'n Heerlike happie !


Grafte op die Berg

deur Johannes de Swart

Prosigma, dagboek van 'n paranoiese skisofreen



Mentorskap program

Mentorskapprogram

Leer meer oor skryf en word deur 'n mentor op jou pad gehelp.

picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar