Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

DEUR PADDAMAN
(WARE VERHAAL MET 10% HUMOR BYGEVOEG)

Ek sal my eerste en laaste ondervinding van kamermusiek nooit vergeet nie. Dit was n ondervinding wat my dood kon beteken het. Ek het my byna dood gelag! Met alle respek aan diegene wat van kamermusiek hou.

Gedurende die sestiger jare werk ek in Johannesburg. Dit is my eerste werk na skool en ek is onervare maar vol lewenslus. Ek werk saam met twee mans en drie vrouens. Een van die vroue was geweldig oorgewig en sy kon skaars loop. Sy was vet maar die dierbaarheid vanself. Haar naam was Matilda Botha. Sy was destyds al diep in haar veertigs. Julle moet weet ek het destyds as jong man niks geweet van die uitvoerende kunste nie. Vandag weet ek nog net so min!

Ek word uitgenooi om die vertoning by te woon. Dit was 'n spogerige geleentheid en ons moes ons beste klere dra. Ek weet nie of dit vandag nog dieselfde is nie maar die groot koppe was daardie dae amptenare genoem gewees. Nou ja, ons trek ons beste klere aan. My pak klere het my negentien Rand uit die sak gejaag. Dit was baie geld want ek het sewe en vyftig Rand per maand verdien! Toe ons by die teater aankom sien jy net amptenare en hul vrouens. Almal loop rond met hulle neuse in die lig! Mens loop seker so as jy ‘n amptenaar is. Almal is in swart aangetrek.

Gelukkig is my pakklere ook swart en ek probeer my bes om soos ‘n amptenaar te lyk. Al wat jy doen is om na ‘n denkbeeldige kolletjie bo ‘n ander ou se kop te konsentreer dan lyk jy soos ‘n amptenaar! Dit help om jou neus te lig dat jy ‘n verhewe houding kan inneem. Nie ‘n siel weet dat jy ‘n vry kaartjie het nie. Ek moes twee Rand vir myne betaal en dit is voordat ek lekkers kon koop! Ons was belet gewees om ‘Simba chips’ die saal binne te bring. Destyds het ‘Simba’ nog nie bestaan nie maar ter verduideliking noem ons dit maar so. Die geluide wat dit veroorsaak wanneer jy dit kou is steurend vir die musikante en die amptenare en hulle vrouens!

Matilda is gekleed in ‘n swart rok wat groot genoeg is vir ‘n sirkus tent. Dit is een van daardie rokke wat op ‘n later stadium aan Boswell and Wilkie sirkus uitverhuur kan word. Matilda is groot. Sommer baie groot. Ons het later uitgevind dat haar ouma Donker Afrika se ligte uitgeslaan het!

Die vertoning gaan begin en almal moes hulle plekke inneem. Die vyf van ons het geweet dat ons nie daar hoort nie. Matilda kon lekker lag. Miskien is die woord lekker lag nie die regte beskrywing nie. Haar gelag het geklink soos die geluide wat 'n trein ongeluk in ‘n tonnel sou maak. Matilda was mooi gevra om die aand ernstig op te neem en om nie te lag nie. Sy moes die gedoente as ‘n soort van begrafnis aanskou. Sou julle die stroewe gesigte van die amptenare kon aanskou sou julle geweet het wat ek bedoel!

Omdat soveel mense die uitvoering sou bywoon het die organiseerders ekstra stoele laat in dra. Die spasies tussen die rye stoele was beperk tot krygsgevangenes van die Tweede Wereld oorlog. As jy vel en been was kon jy deur die rye stap om jou sitplek op te neem. Enigiets meer as dit was ‘n probleem! Baie van die amptenare se vrouens het gewonder of hulle nie eerder by die huis moes gebly het nie.

Arme Matilda! Sy het gelyk soos een van Japan se Sumo stoeiers! Toe ons die nou spasie sien waardeur ons moet loop tot by ons sitplekke het ons gewonder of Matilda nie eerder op die verhoog moes sit nie. Haar metgesel vir die aand, Dries Bekker, moes Matilda stoot terwyl ons andere haar moes trek. Gelukkig was ons die eerstes wat ons plekke ingeneem het. Ons kon nog die stoele so skuif dat Matilda tot by haar sitplek kom. Ons het min of meer al die stoele geherrangskik! Van al die gespartel het my goedkoop pakklere gelyk asof dit nou net uit die wasgoed mandjie gekom het. Ek het die ene sweet geruik!

“Hierdie kamermusiek moet iets goed wees om op te maak vir ons gespartel om net by ons sitplekke te kom. Miskien sal Matilda nou verstaan waarom ons altyd vir haar se ‘eet net ses room poffertjies en nie twaalf op ‘n slag nie’ “sê ek saggies aan een van my kollegas wat net so uitgeput is soos ek.

Uiteindelik sit ons almal en wag op die kamermusiek opvoering. Ek kon nooit uitwerk hoe Matilda haar boude op die smal sitplek kon kry nie.

Sonder dat ek dit geweet het het Dries opsetlik tussen my en Matilda gaan sit. Hy het geweet wat die gevolge sou wees indien ek en Matilda gedurende die opvoering oog kontak sou maak! Hy was nie verkeerd nie.

Die verrigtinge neem ‘n aanvang. Ons sit met groot oë en kyk na die verhoog. Die aankondigings is gemaak. Die voorgestoeltes is voorgestel. Alles is gereed. Die ligte word gedoof.

Die musikante lyk asof hulle ‘n slegte tyding gehoor het. Hulle lyk asof hulle enige oomblik in trane kan uitbars! Dit is maar sekerlik hoe jy lyk wanneer jy kamermusiek speel.

Toe die eerste ou sy stryker, of wat dit ookal genoem word, oor die snare trek toe weet ek hier kom moles! Die tweede ou volg met sy geraas wat klink soos twee katte wat in ‘n geveg betrokke is. Die amptenare gee voor dat hulle alles verstaan. Dit is per slot van sake kamermusiek!

Ek voel ek gaan lag. Ek weet ek durf dit nie doen nie. Die gekerm op die verhoog duur voort. Dit klink asof meer katte by die geveg betrokke geraak het! Ek wonder wat in Matilda se gemoed aangaan. Die katte skree nou uit volle bors! Dan gaan die geklank op en dan gaan die klank af. Ek dink aan alles wat my weemoedig kan maak. Ek dink aan die dood van my ouma en hoe sleg ek gevoel het. Ek dink aan die tyd toe my pa in die hospitaal was en ons nie geld gehad het om vir hom te gaan kuier nie. Enigiets om sleg te voel.

Ek probeer om my ore toe te stop in die gees. Ek het eenkeer gehoor dat daar gese was dat as jy wil lag en jy dit nie kan stop nie moet jy konfyt eet om jou wange hol te trek. Ek weet nie waar om konfyt in die hande te kry nie! Die amptenare sit asof hulle versteen is. Ek daarenteen wil sterf van die lag!

Ek draai my kop om na Matilda te kyk. Dries kom dit agter en beweeg so dat ek en Matilda nie oogkontak kan maak nie. Die marteling op die verhoog duur voort. Die katte gil en blaas en krap mekaar se oë uit. Ek byt op my tong. Ek dink aan my eerste pakslae in graad een. Ek het in my broer se plek pak gekry en dink aan die onregverdigheid van die lewe! As ek ses jaar oud was het ek nou gehuil maar nou is ek nie ses jaar oud nie!

Ek kyk weer in Matilda se rigting en weer kry Dries dit reg om ons oogkontak te verhoed. Matilda uitoorlê Dries en kyk verby sy agterkop en staar my vierkantig in die oë! Ek maak my mond oop asof ek wil lag net om haar reaksie te sien toe sy ‘n lag uitstoot wat meer as ‘n kreet in die stille nag klink. Nou is daar geen keer aan Matilda nie. Nie eens die gedagte aan die dood of die oorlog in Irak sal haar keer nie.

Die groot liggaam met die groot longe stuur die een na die ander onheilspellende krete die nag in! Ek hits haar aan deur saam te lag. Matilda is nou buite beheer! Haar longe is nou sonder suurstof en sy voel sy gaan flou word.

Die musikante het so groot geskrik dat sommige ophou met speel en die ander het hul plek verloor op die musiekblad voor hulle. Daar is nou konsternasie op die verhoog en tussen die gehoor. Die amptenare en hulle vrouens wat voor in die saal sit vlieg om om te kan sien wat de hel gaan nou aan! Matilda kry haar asem terug en lag nou so lekker dat party van die amptenare ook lag terwyl hulle afkeurende kyke van hulle kollegas kry.

Matilda besef wat sy gedoen het en begin huil. As daar nou een ding is wat versagtende omstandighede kan veroorsaak dan is dit 'n gehuil. Matilda skree soos sy huil en wanneer sy my gelag hoor dan skater sy weer van die lag.

Dries probeer om hierdie groot liggaam op te help sodat ons kan wegkom van die skandes wat ons veroorsaak het. Matilda se agterstewe het vasgesit aan die stoel waarop sy gesit het. Wanneer Dries haar wil oplig dan kom die stoel saam en die pote van die stoel is in die amptenaar se gesig wat agter haar gesit het tot groot vermaak van diegene wat in die nabyheid sit.

Die ligte is in die tussentyd aangeskakel en almal kyk nou na Dries en Matilda. Dries weet nie hoe om op ‘n beskaafde manier die stoel van Matilda se boude los te kry nie! Matilda lag en huil deurmekaar. Ek lag so ek kan nie sien waar ek loop nie. Ek wonder nog steeds waar ek konfyt kan kry vir my en Matilda sodat ons kan ophou met lag. Die gedagte aan die dood help nie! Ons lag aaneen. Die groot laggende en huilende vrou met die man agter haar wat haar boude wil verlos van die stoel lyk so komieklik dat almal in die saal nou lag. Dries lag nie. Hy is die ene konsentrasie om die stoel los te kry van Matilda se agterstewe.T oe die stoel uiteindelik los kom gaan ‘n groot gejuig op! Selfs die suurknolle kan nie ‘n glimlag onderdruk nie.

Dries kan nie die huilende laggende Matilda deur die nou gangetjie kry nie. Diegene wat in ons ry gesit het staan op en skuif na die hoof gang om Matilda en Dries te help om deur te beweeg. Dries se ore is bloedrooi van skaamte. Matilda is swaar en pap gelag. Dries sukkel om haar te beweeg. Hy is buite homself van vernedering. Hy sleep haar nou na die uitgang. Dries se voete gly onder hom uit en hy val bo op Matilda! Die gejuig wat opstyg is asof ‘n drie onder die pale gedruk is!

Die kamermusiek is vergete! Almal wil sien wie hierdie persoon is wat sulke merankas aanvang. Niemand sal ooit hierdie aand vergeet nie. So ‘n aand is ‘n belewenis. Dit gebeur net een aand in ‘n leeftyd. Ek het later bedank en my eie koers gegaan. Jare later het ek gewonder wat van Matilda en Dries geword het! Vandag weet ek wat die betekenis is van, ”Ek het my byna dood gelag."



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

BEGRAFNIS OF VERASSING - Wat se die Skrif daarvan?

deur Spannie

Hierdie baie kontroversiele vraag van ons tyd rakende die hantering van die menslike liggaam na afsterwe word onomwonde en baie duidelik aan hand van die Skrif en geskiedkundige bronne uiteengesit in hierdie volledige studiestuk. Liggaamsverbranding is baie duidelik 'n suiwer heidense gebruik en streng verbied in die Woord. Vloeiend geskryf, met baie interessante gegewens uit die geskiedenis van ons tyd is hierdie 'n boek wat mens moeilik neersit na jy begin lees het. 'n Moet vir elke ernstige gelowige van ons tyd.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar