Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Destyds, vars uit hosptaal na die been en te bang om asem te haal, sê my seun op 'n dag vir my ek moet die dak van die garages van die een huis wat ek pas vir hom gebou het, afhaal.

Op my verbaasde "Hoekom?!!!" hoor ek dat ek die mure moet lig, sodat daar plek is vir nog 'n vloer bo. Ek doen dit, en so skep hy vir sy ou bang ma 'n blyplek. Net daar, onder sy dak en vlerk en wakende oog. Natuurlik het ek die dak weer teruggesit. Die ekstra koste self betaal. En maande later toestemming by die Stadsraad gekry om 'n lekker dek voor die "french doors" oor die parkeerarea op te rig, toe te veel mense begin bekommer het dat ek nog met rolstoel en al by die deur gaan uitneuk terwyl ek die werkers van daar bo hulle opdragte gee.

Ek het Solly nie spesifiek aangestel as my persoonlike handlanger nie, dit het maar so gekom, want hy was na die gemors maar altyd net byderhand. Spring eerste as Magog praat. So oud soos my seun, het hy vinnig geleer, en toe ek klaar is met die twee duette se kombuiskaste, het ek met die afvalhout dan ook vir myself 'n kombuisie in die "loft" ingebou.

Met die houtwerk was Michael eintlik my handlanger, maar my skedule op al die kontrakte was agter, en Michael is een van my loodgieters ook. En die kombuisie is klein, daar is nie hoë kaste nie, ek sal oral bykom. Die bietjie meer as 40 vk meter het ek mooi opgedeel, sodat daar 'n slaapkamer, lessenaar, badkamer, rug aan rug met die kombuis is. Aantrekkamer ook. Die dek sou my sitkamer word, later.

So sit ek dan op die rolstoel en werk, houtwerkbokkies voor my. Ons vorder vinnig, ek is haastig van natuur. Toe ek die eerste lang stuk melamien moet sny, lyn ons hom mooi op. Ek ry met die rolstoel langsaan, die rolsaag gemaklik in my linkerhand. (Ek het jare gelede geleer om dubbelhandig te raak toe my regterarm so lank onbruikbaar was nadat Kerneels Uys dit in die potjie afgebreek het) (ek moes maar die tjek geteken het, maar hardegat verander nie van kleur nie!)

Ek stoot die saag lekker, maar toe haak die plank. Solly wil help, maar in plaas dat hy die plank nader aan my stoot, steek hy sy hand onder die tafel deur om die saag te probeer trek. Ek sien die ongeluk kom, klap na hom. Te laat. Die bloed spuit in rooi boë teen die spierwit skêrkappe en plafon terwyl ons in verstomming daarna staar.

Terwyl ek vir my noodhulptassie wag, vorm die kring, my werkers, dagarbeiders, ander toeskouers. Staan hulle naderhand drie, vier diep om my rolstoel. Ek is by Solly ingedruk in die klein ruimte by die wasbak in die badkamer, ek hou sy hand onder die koue water. Hoor hoe die vreemde belhamel vir Solly vertel hoeveel geld hy uit my gaan maak, en ek byt hard op my tande om die paniek weg te sluk, Jaap is op 'n ander perseel. Hulle gaan nie glo dat Solly sy besering self in sy onnoselheid veroorsaak het nie, maar maak darem pad oop toe die tassie kom, en met Solly se hand, palm na bo, op my skoot, kyk ek na die skade. Die diep snit loop oor die voorvinger, met sy middelvinger net bo die palm afgesny, hang dit net aan 'n bietjie sening. Die handpalm gaap oop en wit van kant tot kant. Die koue water, dalk die skok ook, het gehelp.

Ek beweeg soos 'n outomaat, hande is my ding en terwyl ek deurentyd sag met Solly praat, werk ek. Gee eers suikerwater. Sy gesig is vaal, die vel soos grys fluweel, maar die fluweelbruin oë, albeit swemmend in trane verlaat my gesig nie vir 'n oomblik nie.

Die lawaai het stiller geraak soos ek die vingers en hand eers ontsmet, toe met Betadine insmeer en daarna versigtig maar stewig eers met gaas, en daarna met dik crépeverbande verbind.

Omdat ek die hand elke dag self wil ontsmet en verbind, help dit nie dat ek Solly huis toe stuur nie, maar ek plaas hom op betaalde verlof, en hy verf die bloedkolle die volgende dag al toe. Laatmiddag kyk ek ondertoe want ek hoor stemme. Betyds om te sien hoe Solly met sy witverbinde hand 'n minagtende waai in die rigting van die belhamel swaai terwyl hy na sy slaapplek loop, en ek weet Solly gaan nie vir hom luister om vir my moeilikheid te maak nie.

Hulle het elke dag kom kyk as Solly so voor my kniel, sy hand op my skoot. Drie weke later was die wond mooi toe, en 'n maand nadat die ongeluk gebeur het, was daar geen merk of litteken meer te sien nie.

Solly was nog vir jare getrou, en selfs nadat die kontrakte klaar was en die werk opgedroog het, het hy nog op my werf gebly. Later ander werk gekry, maar begin drink, en toe weggeraak. Ek moes gereeld 'n pleit hof toe stuur as hulle hom "dronk op straat" toegesluit het, sodat hy kon loskom.

Mense sê hy is in Johannesburg by familie, ander sê hy is dood. Hy was 'n weeskind. Hy het gesê ek is sy enigste ma.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Solly
Ja, so wonder mens baie keer oor mense wat jou pad gekruis het en toe weer verdwyn het, maar ek het iets gelees wat vir my nogal baie verklaar het. Dis in die lyn van: "people come into your life for a reason, a season or a lifetime." Dan is die verduideliking dat "reason" gewoonlik baie kort is omdat hulle net 'n boodsakp het, of iets moes doen; "season" is langer omdat hulle vir 'n groter taak daar moet wees, of wat ook al en "lifetime" is dan die mense soos familie, goeie vriende, ens. Weet nie of dit help nie, maar dis goed dat jy oor al die dinge kan skryf.
8 jaar 5 maande 3 weke 6 dae oud


-
Jy beskryf 'n band wat gevorm is, een van vertroue en respek. Daarna kan jy maar net sê, ek hoop dat dit met jou goed gaan.
8 jaar 5 maande 3 weke 6 dae 10 ure oud



N VERGANE ERA

deur neels claasen

spoorweg staaltjies en verhale uit die verlede



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar