Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hy word stadig, lomerig wakker en lê eers vir ‘n oomblik stil om te probeer fokus. Hy lê doodstil, sy bene effe uitmekaar en sy arms plat langs sy sye. Sy asemhaling word geleidelik vinniger, sy hartklop versnel en hy voel hoe klein sweetdruppeltjies delikaat op sy vel vorm, ‘n oomblik lê en dan smelt, stadig oor sy vel afrol en wegraak onder sy lyf.

Sy lyf voel heerlik warm en dan vryf hy sy vingers stadig, byna eksperimenteel-versigtig heen en weer. Hy voel sand, fyn, warm seesand onder sy handpalms en krul sy vingers diep daarin. Hy glimlag verlig en haal diep asem, ruik die seelug en trek sy longe vol daarvan. Hy spits sy ore en luister na die geluide van die oseaan – hy hoor branders breek, seemeeue kras en dan lek hy met sy tong oor sy klam, vol lippe. Hy proe sagte, souterige seesproei en glimlag onwillekeurig, byna afwagtend. Uiteindelik maak hy sy oë oop en knip-knip sy ooglede vinnig om aan die helder sonskyn gewoond te raak. Hy stoot homself byna ekstaties regop, sit dan kruisbeen en staar tevrede na die droommooi toneel wat hom omring.

Sy blik streel stadig, strelend-versigtig oor die idilliese landskap en hy staar na die horison, waar die son, ‘n waserige wit-geel bal byna surrealisties in die hemel hang. Sy oë drink die sagte, wolkelose blou van die lug in en speel oor die dieper, kobalt-en-akwamarine dans van die oseaan. Hy neem elke nuanse waar en lag gelukkig. Hy voel goed, vry en ontspanne.

‘n Sagte briesie speel oor sy vel en hy staan op. Sy voete sak weg in die sagte seesand en hy stap doelgerig na die watervlak, na die plek waar die branders breek. Die nat sand is meer stewig onder sy voete en hy hou die klein skulpdiertjies wat vinnig wegboor in die sand en klein gaatjies vorm ge-amuseerd dop, dan gaan staan hy en voel die sagte seeskuim strelend om sy enkels vou. Net vir ‘n oomblik, dan trek dit weer terug en ‘n ander, nuwe brander skuim om sy enkels. Hy staan stil en sak al dieper in sy selfgemaakte sandspore weg. Die vyfde brander is sterker en tuimel hom om, sy voete lig vanself uit sy soliede sandskoene en hy rol speels in die brander, sluk seewater en hoes verstikkend. Trane van geluk rol oor sy wange en uiteindelik staan hy sopnat en skoongewas op, draai om en stap stadig op teen die strand, woud-se-kant toe.

Hy stap tree vir tree oor die droë sand en hurk aan die voet van die woud, waar die bergstroom in die see begin loop. Hy drink handevol vars bergwater en voel verfris, dan maak hy die mandjie oop wat onder ‘n palmboom vir hom wag. Hy lig ‘n bottel Merlot, ‘n kristalglas en ‘n botteloopmaker uit die mandjie. Die kurk kom stadig, al draaiend los en hy skink sy wynkelk stadig vol, teug daaraan en sug gelukkig.

‘n Spesiale termo-verhitte bak hou ‘n bord Pasta Alfredo warm en hy eet stadig daaraan met ‘n vurk wat in ‘n afsonderlike kompartement gestoor was. Die slaai van sagte, vars avokado, kraakvars slaaiblare, Rosa-tamaties, feta en swart olywe verdwyn ewe vinnig. Terwyl hy eet, staar hy oor die oseaan en ervaar meer rustigheid as ooit vantevore in sy lewe. Hy skil ‘n mango vir nagereg, hap daaraan en die soet sous speel oor sy tong, drup oor sy wange, vingers en voorarms. Hy hap primitief daaraan en suig die sap van sy palms af. Hy byt aan ‘n geelperske en eet vinnig tot op die pit, dan sny hy die spanspek oop en eet die soet skywe een vir een.

Hy besef in sy wese dat dit slegs ‘n wegkoms van realiteit is, ‘n tydelike vakansie, wegkomkans. Miskien is dit juis die rede hoekom hy alles soveel méér geniet. Juis omdat dit tydelik is.

Hy eet al die kos in sy mandjie op, drink die bottel wyn leeg en steek sy hand een laaste maal in die mandjie. Hy haal ‘n vel handgemaakte papier en ‘n vulpen uit en by die laaste lig van sy idillies-ondergaande son skryf hy ‘n boodskap. Hy skryf vurig, blaas die ink droog en vou die briefie toe. Hy plaas dit binne-in ‘n plastiese sakkie en bêre dit onder ‘n rots by die ingang van sy klein geheime wintergrot. Daar is reeds talle ander briewe. Sy biografie onder ‘n klip, in klip. “Niemand weet daarvan nie,” glimlag hy stil, gelukkig aan homself en klim af teen die rotswand, al af en af , ondertoe, tot by die strand.

Hy gaan lê uiteindelik, na ‘n lang dag plat op die sand, presies op die eertydse plek waar hy wakker geword het en maak sy oë toe. Donker duisternis omvou sy gedagtes en hy raak weg in slaap. Weg, weg, al verder weg ...

Hy lê doodstil op sy smal bed met die klapperhaarmatras, sy bene effe uitmekaar en sy arms plat langs sy sye. Hy word stadig, lomerig wakker en lê eers vir ‘n oomblik stil om te probeer fokus. Hy lê doodstil, sy bene effe uitmekaar en sy arms plat langs sy sye. Sy asemhaling word geleidelik stadiger en hy voel koud.

Sy lyf voel ysig koud en dan vryf hy sy vingers stadig, byna eksperimenteel-versigtig heen en weer. Hy voel sy gewone klapperhaarmatras onder hom. Realiteit. Sy vingers kloof diep kepe daarin. Hy snik binne homself en haal vlak asem, gespanne en al wat hy ruik is urine en vrees. Hy probeer sy ore sluit teen gille en die aanhoudende kletter van staal op staal en lek dan moedeloos met sy tong oor sy droë lippe. Uiteindelik maak hy sy oë oop en staar verbysterd, stil na die gleuf naglig deur die tralies van die klein venster ver bo sy bed. Hy lê stil, doodstil, starend na die venster. Die tralievenster.

Sy blik streel stadig, strelend-versigtig oor die duister landskap wat hom omring en hy staar na die donker, die eindelose donker wat dreig om hom oor te neem, in sy binneste in te kruip en loodswaar, broeiend daar te bly lê. Hy vrees die donker van die nag en die banaal-geroetineerde bestaan van elke sinnelose dag wat dreig om hom in ‘n nihilistiese dop van menswees te ontvorm.

Hy slaan sy oë terug in sy oogkaste en fokus op ‘n klein ligkol skuins bo sy bed, die kol wat hom laat weggaan, laat verdwyn in die helende dieptes van sy onderbewussyn in ... Hy spiraal tollend af, af, al dieper af na sy plek van vrede, waar die son, ‘n waserige wit-geel bal byna surrealisties in die hemel hang. Sy oë drink die sagte, wolkelose blou van die lug in en speel oor die dieper, kobalt-en-akwamarine dans van van die oseaan. Hy neem elke nuanse waar en lag gelukkig. Hy voel goed, vry en ontspanne.


 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Weg
Dis fabulooslik goed beskryf. Het jy dit al beleef? Indien nie het jy 'n great verbeelding!!!!
5 jaar 7 maande 6 ure oud


Eksperimente in realiteit
Hei, Carol, ek het nou regtig geniet om die skryfstuk te lees -- ek dink dis baie geslaagd.
6 jaar 10 maande 3 weke 4 dae 21 ure oud


Ok, ales verby
Alle kommentaar is op verbode lede ge;lewe en kommentare is verwyder. Die veld is dus oop vir kritiek:
6 jaar 10 maande 3 weke 5 dae 14 ure oud


Geen misverstand
Bloot net nuuskierigheid oor ander digters en skrywers. Is maar in my aard. Ek wil altyd die persoon agter die woorde leer ken. Mooi aand.
7 jaar 6 maande 2 weke 1 dag 19 ure oud


Liewe genade
Jy sien meer as ek ... ek het bloot 'n storie geskryf ...
7 jaar 6 maande 2 weke 1 dag 20 ure oud


Mmmm ...?
As jy so se? Waar's dit,bv?
7 jaar 6 maande 2 weke 2 dae 16 ure oud


Net een ding?
Aan EkteenjY ... Wat van die metafisiese?
7 jaar 6 maande 2 weke 2 dae 17 ure oud


WoW
EksteenjY! Is dit hoegenaamd moontlik om jou te flous? Waaaaar kom jy en jou kennis vandaan Jy neem intuitief waar .. ek staan verstom.
7 jaar 6 maande 2 weke 2 dae 18 ure oud


--
bai goed geskryf ek hou hiervan Carol
7 jaar 6 maande 2 weke 2 dae 21 ure oud


Eksperimente
Hierdie kortverhaal was destyds die gevolg 'n eksperiment wat 'n paar van ons gedoen het - ons het mekaar 3 woorde gegee en dan moes ons 'n storie skryf. Die drie woorde vir hierdie stuk was SON, SEE,WYN. Dit was nogal pret. Ons oorweeg dit om 'n bietjie later sulke projekte te loods. Stel julle belang?
7 jaar 6 maande 2 weke 2 dae 21 ure oud



Kodeks

deur Nini Bennett

Nadat nini Bennett bekroon is as kortverhaalskrywer (RAU-Mardene Marais Prys) en as jeugverhaalskrywer (The International Room to Read Children's Book Competition), debuteer sy met 'n digbundel, Kodeks. Sy was een van die vyf debutante wat genooi is om die Versindaba-fees te Stellenbosch (2011) by te woon. Veral die literator Charles Malan het die bundel hoog aangeskryf.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar