Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Iemand het eens ‘n gedig geskryf oor die plek:

Die stilte 'n strelende kleed
met Savlon en 'n pleister kompleet

versteur deur bokmakierie in c mineur

Klowe en woestyn slim gebêre in een terrein
met 'n arend wat sweef oor kleure kunstig geweef

Ou Karoo, harde land;
wat vou 'n veldblom in jou sagte hand

Ek wens, O, die wens is naak!
dat ek hier vergete kan raak.

Die digter het die gedig op Woes geplaas. (Met erkenning aan Susanna.za.com, die skuilnaam wat gebruik is.)

Laat my toe om verder voort te weef.

Elandsberg. Dit is die naam wat die parkeraad aan die bepaalde stukkie van die dorsland se kothuise gegee het. Daar is vier. Almal is seker ‘n replika van mekaar. Ek kan net nommer 4 beskryf want dit is waar ek gebly het.

Een slaapkamer met ‘n bed so groot jy voel soos ‘n stoffie in die Andromeda-newel. Die kamer het een groot oopskuifvenster wat amper tot by die vloer strek.

‘n Stort met ‘n oopskuifdeur na buite vir die stort-onder-die-sterre gevoel.

‘n Oopplan woonkamer-kombuis met ‘n groot kaggel en ‘n ontbyttoonbank. Die vertrek loop deur twee groot deure uit op die stoep wat braaivleisgeriewe en ‘n splash pool (is daar ‘n Afrikaanse woord - sitpoel dalk?) bevat. Die stoep verleng dan verder voor die woonkamer, slaapkamer en badkamer verby. Die woonkamer het ‘n groot oopskuifvenster wat amper tot by die vloer strek.

Die badkamer-skuifdeur, slaapkamer en woonkamervensters kyk uit op kilometers se Karoo flora wat eindelik opdraend koers kry die Roggeveldberge uit ... daar waar die oggendson sy kop uitsteek.

Geen elektrisiteit. Geen selfoonseine. Geen internet. Die sitpoel se pomp word deur ‘n sonkragpaneel gedryf. As die son sak, raak die sagte gebrom van die pomp stil.

Jy wonder seker hoekom die fyn beskrywing van die kothuis? Geduld asseblief – dis nodig.

Ek is nie onrealisties nie. Ek weet die Karoo kan ongemaklik oonderig raak. Ek het dit net perfek getref klimaatsgewys: dit was herfs en dan het daar boonop ‘n kouefront skoor gesoek binneland toe maar nog nie volskaals begin twis nie.

Dit vir agtergrond.

Ontspan. Daar is baie tegnieke en rate oral om ‘n mens te help om daardie toestand van totale, oorgegewe en hemelse slapgeit te bereik. Hier is een: lê op ‘n sagte, maar stewige matras op jou rug in ‘n koel, donker kamer. Sorg dat jou ruggraat so reguit as moontlik is sonder om te voel of jy ‘n stok ingesluk het. Bene effens uitmekaar met voete na buite gedraai sodat jou hakke nie in die matras in boor nie. Arms effens weg van die lyf met handpalms wat gemaklik dak toe wys. Maak jou kop skoon van al die geraas. Makliker gesê as gedaan, daarom is die res handig. Begin by jou tone. Konsentreer op jou tone. Jou tone is al wat daar is, dit lê die hele heelal vol, jou kop inkluis. Trek hulle saam. Hierdie is nie joga of pilatus of soortgelyke verwringing van gewrigte nie. Die idee is net om hulle saam te trek vir so drie of vier tellings en hulle dan te ontspan. (Moet asseblief tog nie begin tel nie, want dan verdwyn die tone uit die kop uit). Hou hulle ontspanne. Vergeet dan van hulle. Voetsole volg. So werk jy dan jou spiere deur, hakke, enkels, kuite, knieë tot jy by jou ore (of kopvel, as jy kan) eindig. Gewoonlik raak jy aan die slaap hier by die dye al.

“Die stilte ‘n strelende kleed
met Savlon en 'n pleister kompleet”

Stilte. As jy daar op die stoep sit (of op die bed lê of onder die stort staan) vou die stilte om jou toe. Daar is nie ‘n geluid nie. Nie krieke, sonbesies, voëls, mense, die sublimale gebrom van elektriese stroombane of diere nie. Niks. Dis doodstil. En so in die stilte voel jy daardie slapgeit opkruip en afkruip en deurkruip deur jou lyf – sonder een enkele tegniek – nie eens die een hierbo kom naby aan daardie stilte nie.

In die nag is die stilte nog meer intens.

En so het ek die eerste dag die Tankwa ontdek en dit was ‘n aangename kennismaking.

Met die oggend van die tweede dag word ek begroet deur twee meerkatte langs die sitpoel. Hulle lê daar uitgestrek soos honde naby aan my gemakstoel wat ek die vorige dag al staangemaak het vir ‘n lekker, vredige oggendkoffie. Met my naderkoms lig die een sy kop so effens – merk op dit is maar net ‘n vriend-gedierte en ontspan weer. Die ander een doen nie eens moeite nie. Toe ek gaan sit bly hulle net waar hulle is.

Ek het amper bevoorreg gevoel; amper gedink ek behoort aan dieselfde kliek as Cesar Milan en dit is oor my magiese persoonlikheid dat die diertjies my geselskap opsoek.

Ek en die meerkatte het in vrede saamgeleef vir die duur van my verblyf. ‘n Ritme het ontstaan. Etes is gedeel maar hulle het nooit hulleself gehelp aan my kosvoorraad wat op die kombuistoonbank uitgepak was nie.

As ek sit en lees voor die woonkamervenster, het hulle net buite die venster op die stoep gelê.

As ek in die slaapkamer was, het hulle voor die slaapkamervenster gelê, of deur die oop venster binnegekom en met voorpootjies teen die bed kom kyk wat doen ek daar op die bed en weer padgegee.

Kom aand het hulle verdwyn na Meerkatlaan.

Dit was voorwaar ‘n voorreg om ‘n huis te deel met twee wilde-mak meerkatte.

Tankwa.

‘n Magiese plek.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Die winkende Dood

deur neels claasen

die verhaal van n tienermeisie wat in dwelms se kloue beland het



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar