Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hy sien haar vir die eerste keer toe sy ses jaar oud is. Lindie. Die juffrou het hulle saam in dieselfde bank gesit omdat hulle te veel praat in die klas.

Hy weet wat sy maats speeltyd gaan doen. “Herman sit langs 'n ou meisie! Herman sit langs 'n ou meisie!“ sal hulle sing en laggend weghardloop as hy hulle wil karnuffel.

Daarom is hy bot en stil en maak asof hy skaars bewus is van haar bestaan.

“Wil jy 'n stukkie salami hê?”

“Wat?” vra hy.

“Wil jy 'n stukkie salami hê?” Dit is negeuur en die juffrou het gesê hulle kan maar hulle toebroodjies eet. Sy hou haar kosblik na hom toe uit. Hy weet nie wat salami is nie – sy bedoel seker daardie ronde skywe koue vleis, want behalwe vir haar toebroodjies is dit al wat in haar kosblik is. Hy loer eers rond om te sien of niemand vir hom kyk nie en vat dan een.

“Dankie,” sê hy stug. Sjoe! Dis lekker. Hy vat nog een. Haar ma het haar hare vasgebind in twee lang wit poniesterte aan weerskante van haar kop. Haar een voortand is weg en 'n klein stukke wit blink waar die opvolger besig is om sy plek in te neem.

Ai, die vernedering! Die klok lui vir speeltyd en sy maats sit en wag om hom te takel. Hy wag eers dat sy opstaan en 'n entjie weg is, dan vat hy 'n rekkie uit sy potlood kissie en skiet haar agter haar nek. Sy maats bars uit van die lag.

Sy gaan staan stil en kyk om na hom toe. So 'n kyk! Van seer en teleurstelling.

Hy voel hoe sy gesig rooi word. “Ekskuus,” sê hy. “Dat was nie aspris nie. Dit was 'n ongeluk.” Sy sê niks en loop uit buitentoe.

Hulle moet sulke patrone teken met vetkryt en dit dan inkleur sonder om oor die lyne te gaan. Hy help haar, want alhoewel sy goed inkleur, weet hý hoe om die kleure te skakeer van buite na binnetoe. Toe hulle klaar is, hou die juffrou hulle tekeninge op vir almal om te sien en plak 'n goue sterretjie op elkeen.

Dit word 'n roetine en elke dag vreet hy al haar salami op. Daarom is hy verbaas toe sy eendag nie haar kosblik vir hom uithou nie. “Ek wil nou self my salami eet,” sê sy. Daarna gaan hulle verhouding vinnig agterruit en kort daarna kry hulle in elk geval n nuwe juffrou en sit hy nou weer langs sy ou maat Doepies, wat hy 'n lekker lammie kan gee elke keer as die duiwel hom pak.

Sy ma laat hom tennis lesse neem en klavier. Vaderland. Hy wil dolgraag rugby speel. Maar dit is hom nie beskore nie. Lindie neem ook klavier by dieselfde onderwyseres. En hulle het 'n tennisbaan. Hulle ouers reël dat hulle ten minste twee keer per week saam tennis oefen.
Sy speel heelwat beter tennis as hy en dit maak seer. Hoe meer sy hom wen, hoe meer praat hy met homself, vertel hy vir homself hoe hy haar gaan vermorsel, en hoe meer hy met homself praat, hoe meer lag sy vir hom. Hulle word weer goeie maats. Hy speel darem baie beter klavier as sy.

Sy help hom om 'n boomhuis te bou in die moerbeiboom by haar ouers se huis. In ruil daarvoor moet hy saam met haar huis-huis speel, saam met haar twee klein sussies en dié se maatjies. Dan is hy die pa en sy die ma, met 'n hele string kinders. Goeie aarde! Maar sy dra darem koekies en koeldrank aan wat hy terstond verorber.

Haar tande het effens skeef uitgekom en op hoërskool kry sy draadjies. Hulle is saam ingeskryf by die kunswedstryd om 'n klavier duet te speel. Hulle voer dit ook op by verskeie ander geleenthede en wanneer hulle tussen ander mense nie voor die klavier is nie vermy hy haar. Hy begin ook belang stel in meisies en sy raak soms 'n vyfde wiel aan die wa.

Maar hulle hou kontak en bly vriende – help mekaar wanneer woonstel getrek moet word, eksamens geskryf moet word, gee mekaar raad met liefdes probleme.

Hy het 'n uitstekende tenoorstem ontwikkel en studeer musiek. Na drie jaar se waansinnig-harde werk slaag hy 'n oudisie vir toelating tot die Juilliard School vir musiek in New York.

By 'n geleentheid in Johannesburg net voor sy vertrek dra hy sy oudisie-stuk voor saam met 'n simfonieorkes. Hy meng met die gehoor gedurende die pouse net voor hy moet optree en loop hom vas in Lindie en 'n twee meter lange blonde reus.

“Haai Herman! Hoe gaan dit?” Haar hand is sag en warm in syne. “Maar ek hoef seker nie te vra nie. Jy het puik gedoen!”

Sy beduie na haar metgesel. “Laat ek jou voorstel aan De Wet.” Sy bloos effens. “Ons is verloof. Ons trou in November. Maar jy sal dit seker nie kan bywoon nie.”

Hy knik sy kop en glimlag. Outomaties, soos 'n robot. Hy kan dit nie glo nie. Hoe durf sy met iemand trou?

Hy kyk na haar. Haar wit hare het donkerder geword, 'n heuning blonde kroon wat sy lank en los dra. Ook haar stem is donkerder, voller. Sy is pragtig.

“Verskoon my, ek moet gaan,” sê hy en los De Wet se hand, wat hy soos 'n aap aanhou skud het.

Op die verhoog het die orkes klaar gestem en die dirigent het sy plek ingeneem. Op sy teken stap hy op die verhoog, wag vir die applous om te bedaar, wag vir die klarinet se beroemde inleiding en begin dan sing. Puccini, Tosca, “E lucevan le stelle” – “Toe die sterre helder geskitter het”:

Die sterre het geskitter
die lug was met parfuum gelaai
Die tuinhek het gekraak
'n voetstap het die sand geraak...
Geurig het sy ingekom
My in haar sagte arms toegevou.
O, soetste soene, smagtende liefkosings,
stroop ek koorsagtig die lieflike gedaante van haar sluiers!

Vir ewig het my droom van liefde nou verdwyn.
Daardie oomblik is vergaan - ek sterf in wanhoop.
Ek sterf in wanhoop!
En nooit voorheen was die lewe vir my so kosbaar nie,
So kosbaar nie, nee nooit!

Meer as eenkeer, vir die eerste keer, is daar 'n krakerigheid in sy stem op die hoë pianissimos, genoegsaam vir die gehoor om dit waar te neem. Die applous is hoflik maar gedemp. Hy sien die hand voor die mond opmerkings, kan amper voel hoe die mense wonder. Hy buig vlugtig en verlaat die verhoog, sy kop 'n warboel van gedagtes.

Dit is eers weer vyf jaar later dat hy in Suid-Afrika terugkom vir 'n warrelwind toer van vyf optredes in vier stede oor twee weke. Hy het alle kontak met Lindie vermy. Die drie briewe wat hy van haar gekry het, het hy onoopgemaak weggebêre op plekke waar dit uit sy oog uit was. Eendag sal hy miskien die moed hê om hulle oop te maak. Maar nie nou nie.

In Johannesburg sluit hy sê konsert af met “E lucevan le stelle” – hy skuld die mense dit om te wys dat hy wel die ding kán sing. Foutloos en suiwer doen hy dit - aanvaar die dawerende applous. Dit was een van die moeilikste dinge wat hy in sy lewe gedoen het, om sy gedagtes heeltemal af te sluit, af van enige assosiasie met vyf jaar gelede.

Sy ou vriend Doepies het vir hom 'n klein onthaal gereël na die konsert, net 'n paar ou maats van skooldae nog. Toe hy by die deur instap sien hy haar. Dit is vir hom asof hy skielik afkom op 'n deel van homself, wat selfs meer deel van hom is as hyself.

Die aand verloop in 'n dwaal – laggende gesigte wat groet en gelukwens, skerts en vertel. Uiteindelik word dit vir hom te veel en hy vlug uit buitetoe. Op die grasperk gaan hy staan, trek diep longe vol naglug in, voel die koue winterlug op sy vel.

“Ek het geweet jy sal uitkom hiernatoe toe,” sê sy. Sy sit op 'n bankie teen die stam van 'n ou akkerboom. Haar stem donker, onseker, tog 'n tikkie geamuseerd.

“Waar is De Wet?” blaker hy. “Waarom is hy nie hier nie?”

“Ons het toe nooit getrou nie, Herman. Ek het vir jou daarvan geskryf. Verskeie kere. Maar ek het geen antwoord van jou gekry nie.”

“O. Okay.” Sy kop voel dof en seer. “Is jy dan nog ongetroud?”

“Ja. Ja, nog al die jare.”

“Nou hoe dan só? Wat’s fout?” Hy kan nie helder dink nie.

“Daardie aand voor jy weg is New York toe, Herman, daardie aand toe jou stem so op die verhoog gebreek het?”

“Ja?”

“Ek het daardie aand besef dat ek nie met De Wet kan trou nie. Ek het nog nie iemand anders ontmoet waarvoor dieselfde nie geld nie.”

In die donker onder die boom staan twee mense teenmekaar, arms styf om mekaar gevou. In die wolkelose hemel, vêr in die buitenste ruimte, skitter die sterre in swyende onverskilligheid.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Sterre
Kon die in en uit van die gety so duidelik voel. Aan die begin amper gevoel asof die spronge tussen gebeure te groot is, maar dit is so gebalanseerd dat dit heerlik lees.

Uitstekende skryfwerk.
5 jaar 3 maande 5 dae 21 ure oud


En die sterre het geskitter
Pragtige, pragtige, pragtige verhaal. Ek staan verstom oor die talent van skrywers hier op woes. Wow.
5 jaar 3 maande 1 week 2 dae 17 ure oud


sterre
Mooi opbou na treffende slot. Lekker gelees.
5 jaar 3 maande 1 week 4 dae 20 ure oud


die sterre het geskitter
Baie dankie vir hierdie pragtige bydrae tot die Buitenste ruimte projek
5 jaar 3 maande 1 week 5 dae 15 ure oud


En die sterre het geskitter
Ek het hierdie voorheen geplaas onder 'n ander titel. Ek herplaas dit om deel te neem aan die kompetisie.

My verskoning aan dié wat dit nou per ongeluk 'n tweede keer lees sonder dat hulle eintlik wou!
5 jaar 3 maande 1 week 5 dae 18 ure oud



Gedoria

deur Martha Maria Jones

Gedoria is my debuut digbundel. U kan dit koop by www.afrikaansenuusagentskap.co.za of u kan my kontak by 0760176453. Ek is tot alles in staat deur Christus.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar