Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Erik stop voor die donker venster van die restaurant en maak eers seker dat sy voorkoms is soos hy dit wil hê. Beïndruk met homself, loop hy tot by die deur en verwag dat een van die kelners van binne die deur moet oopmaak.
Hy betree die restaurant en kan voel hoe alle oë na hom gerig word. Hy glimlag heel in sy skik. Dis mos hoe dit moet wees. Hy spandeer nie verniet so baie tyd in die gym nie. Soos hy na sy tafel stap, kan hy sien hoe elke vrou daar oor hom swymel.
‘Ek sal persoonlike sekuriteit moet aanstel om hulle van my af te hou,’ dink hy terwyl hy vir ‘n blondine oogknik. Hy’s seker daarvan dat sy flou geval het.
‘Verskoon tog, meneer,’ sê ‘n jong man vir Erik.
Erik kan sommer sien dat die laaitie nie baie tyd spandeer op sy voorkoms nie. Die baadjie wat hy aan het is ten minste ‘n dekade oud. En defnitief nie van die voorste modehuis van Europa soos syne nie.
‘Wat?’ vra hy nie baie vriendlik nie.
‘Hierdie is nie jou tafel nie. Ek het dit weke terug al bespreek,’ sê die jong man ferm.
‘En jou punt is?’ Erik kan nie glo dat die snuiter nog daar rondhang nie.
‘Hierdie is ‘n restaurant waar jy ‘n bespreking nodig het om ‘n tafel te kan kry,’ gaan die jong man voort.
‘Ek was eerste hier. Buitendien, jou van is duidelik my van ook. Jy moet trots daarin voel,’ sê Erik met ‘n glimlag wat bedoel is om vriendelik te lyk soos ‘n haai s’n.
Die jong man trek sy mond ongelukkig en loop weg.
Heel gelukkig maak Erik die spyskaart oop.
‘Ahem,’ maak iemand sy keel skoon.
Geïrriteerd kyk Erik op. ‘n Middeljarige man, deftig gekleed in ‘n swart aanpak met bypassende das, staan langs die jong man wat weer daar is soos ‘n muskiet.
‘Kan ek jou help?’ vra hy die ouer man.
‘Ek hoop so,’ antwoord die welgekleede man beleefd. ‘Is u Martin le Roux?’
‘Natuurlik nie! Ek is Erik le Roux,’ stel hy homself voor en steek sy hand uit. Die ouer man skud sy hand.
‘Aangename kennis. Ek is die bestuurder van die restaurant. Ek’s bevrees hierdie tafel is bespreek in Martin le Roux se naam. Ek sal u moet vra om te loop. Die restaurant is vol bespreek.’
Erik kan voel hoe sy wange vlam vat. Almal in die restaurant hou hulle dop. Hy skuif sy stoel hard terug en staan op.
‘Ek’s in elk geval te goed vir ‘n plek soos dié,’ sê hy soos hy die restaurant uitstorm.
Hy loop te vinnig en bots met ‘n kelner wat ‘n skinkbord vol drinkgoed dra. Hulle val en al die glase breek. Erik in sy duur ontwerperspak is deurnat met verskeie drankies. Hy staan op. Al die gaste van die restaurant klap hande en lag vir hom.
Erik storm by die restaurant se deure uit wat ‘n kelner vir hom oop hou. Hy ruik soos ‘n distilleerdery. Hy was nog nooit so in sy lewe verneder nie. Hy sal hulle almal terug kry. Al vat dit ook hoe lank.
Hy jaag weg in sy Maserati, die donker nag in.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Erik se delusies
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die LIEFDE projek.
3 jaar 10 maande 1 week 6 dae 18 ure oud


jaag
Pragtig so kom hoogmoed tot n val
3 jaar 10 maande 2 weke 1 dag 3 ure oud


En hy jaag weg...
Het ons hier die ,trailer' van jou volgende lang verhaal mag beleef?

Gaan hy van hier aan in sy opgeblase verwaandheid van die een geselskaps-miskoek tot die ander strompel...?
Is daar lig aan die einde van die tonnel vir hierdie arme blinde...?
Sien ons uit na 'n Hollywood-happy-ending...?
Skakel oor 'n week om dierie tyd weer in!
-----
Om meer te ervaar oor die verneukthede van Erik!!!
-----
(Of hoe? Lyk veelversprekend.)
Mooi skoot, raak geskiet.
GvT
3 jaar 10 maande 2 weke 1 dag 7 ure oud


Soeka! (Lekker!)
het ons altyd gesê na aanleiding van die Duits vir suiker (Zucker).

Hy willl mos!
3 jaar 10 maande 2 weke 1 dag 8 ure oud



Volg net die Skoenlappers

deur Anria

Volg net die skoenlappers ... Binne jou hart is daar vrolike fladderende skoenlappers. Vir elke gevoel, ’n skoenlapper van ’n ander kleur. Wanneer jy gelukkig is, vlieg jou skoenlappers vrolik en vry rond net waar hulle wil wees. Hulle vlieg buite jou hart en reis die wêreld vol. Hulle bring vir jou geluk terug. Nou en dan ontmoet mens iemand wat jou skoenlappers vang en in ’n hok sit. Die helderkleurige skoenlappers vervaal dan ... hulle raak dof en vol stof en as jy nie self besluit om die hok se slot af te breek en jou skoenlappers weer los te laat nie, word hulle almal swart. Maar sodra die son weer ingelaat word, sodra ’n ligte windjie oor die swart skoenlappers waai ... sal die stof sommer self besluit om af te klim en jou skoenlappers se vlerke sal groot oop sprei en hulle sal weer die wêreld invlieg en jy ... dan sal jy weer weet hoe om te lag. Daar is altyd hoop.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar