Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

My pa het die volgende staaltjie te vertelle gehad. Hulle het as kinders kinkhoes gekry en ou dokter Bennets van Caledon wat hulle op die plaas Noordekloof in die Overberg kom besoek het sou dan aanbeveel dat ‘n bietjie ander lug die kinders goed sal doen. Ja in daardie tyd het die dokter nog huisbesoek gedoen as daar siekte was. Vir die doel het hy dan ook op die voetskrop van die kar duiwehokkies gehad en kon altyd sy vrou laat weet waar hy in die wêreld is deur ‘n briefie aan die duif se been vas te maak en dan te laat vlieg. As die duif op die dorp by sy huis se duiwehok aankom het ‘n klokkie in die huis gelui en kon sy vrou die briefie lees. (LW. Kar was nie in toeka se dae ‘n anglisisme nie, omdat daardie tyd se ryrtuie iets tussen ‘n motor en perdekar was. Daarom praat die oumense nog altyd van ‘n kar)
Hoe oud my pa op daardie stadium was wis ek nie, maar dis seker genoeg om te sê dat hy ‘n 1909 model was. My oupa het ‘n Model T Fordjie gehad en die is toe opgepak met padkos en al die nodige dinge vir die lang reis. Hulle sou op Malmesbury op ‘n plaas by familie gaan kuier vir ‘n week om ontslae te raak van die laaste stuptrekkings van die kinkhoes. Ek weet nie hoe die Fordjie moes gelyk het nie, want daar was nie in daardie dae Venter waentjies wat jy kon aanhaak vir die bagasie nie. Nee, alles moes op die arme ou Forjie gepak word, plus hulle vier kinders, drie onhebblike broers en een suster. Daar was sekerlik nie eens plek vir ‘n klein muis nie. Nouja, uiteindelik durf hulle die langpad aan. In daardie dae was die meeste vervoermiddels nog perdekarre, ossewaens en was die N2 nog grondpad, selfs die berugte Sir Louwrys pas. Ja dit was nog die ou pad vol kronkels en draaie deur Houw Hoek en nie so mooi reguit soos nou nie. Die afdraande was ook ‘n bietjie meer stoets soos die ou mense dit genoem het. Dis juis hier waar die groot moeilikheid gekom het. Met Fordjie tot barstens toe gelaai word die stoetsgeit van Sir Louwrys Pas toe uiteindelik aangedurf.

My pa kon onthou dat hy gewaar het dat Fordjie al vinniger die afdraand aangedurf het en dat sy pa se nekare begin opswel het soos hy sukkel om Forjie in die pad te hou. Die wind het behoorlik begin huil om die ou karretjie. Sy ma het ook begin onraad merk en spreek my oupa aan: “Jakoos jy ry darem nou onverskillig en verskriklik te vinnig hier af, ons gaan sekerlik vandag nog verongeluk”. Waarop my oupa antwoord: “Vrou die brieks het gevail, die brieks dit het heeltemal gevail”. “Wel Jakoos maak ‘n plan anders gaan ons verongeluk op daai draai daar onder”. “Ja vrou ek dink nog”. “Jakoos as jy nog wil dink moet nou flink en vinnig dink daai draai kom gevaarlik vinnig nader”. “Ja vrou, ja vrou ek het ‘n plan wees net geduldig.” Watter plan en hoe ingewikkeld die plan was wat in sy kop begin posvat wis nie een van hulle nie.
Aan die linkerkant was daar ‘n loodregte afgrond en aan die regterkant net kranse. Aan die kranse se kant was daar ‘n diep sloot wat die stormwater moes afvoer. Die padwerkers het gereeld die sloot skoongehou van grond wat daarin beland en die grond wat hulle uit die sloot uitgooi het ‘n hele wal opgebou. Dis toe juis die wal en sloot wat hulle redding word, want my oupa keer die Fordjie se regterkantste twee wiele in die sloot en die grondwal vang die Forjie se vooras en daar ploeg hulle met ‘n ruk tot stilstand. Na ‘n rukkie se stilte en die stof wat nog om hulle warrel, wil almal tergelyk praat, maar my ouma se geskokte skirl stem styg bo almal syne uit met; “ Jakoos wat gaan ons nou maak”. “Toemaar vrou, moenie bekommerd wees nie”, kom my oupa se kalm stem, “ ek het mos gese ek het ‘n plan”. Die toue wat die bagasie vashou is losgemaak en alles is eers afgepak van die Fordjie sodat hy darem bietjie ligter is. Die wal is bietjie platgewerk met ‘n graaf. Die Forjie is met behulp van almal se mannekrag uit die sloot gehelp tot op die pad. (In daardie dae was ‘n graaf en byl seker standard toerusting by ‘n kar).
Die seuns is met die byl die berg ingestuur om ‘n hele klomp tolbosse te kap. Dit is met toue aan Fordjie se agterkant vasgemaak. Die bagasie is op die agtersitplek opgestapel en die seuns is aangesê om agter op die tolbosse stelling in te neem en daar gaan Fordjie toe die res van die pas af met stofwolke wat jy seker op ‘n mooi dag vanuit Kaapstad kon raaksien soos die slepend bosse dit opskop. Seker maar ‘n aardige prentjie vir enige verbyganger.

In daardie dae het die pad nog deur die dorpie Sir Louwrys pas geloop. Dit moet seker ‘n aardige gesig gewees het toe hulle deur die hoofstaat van die rustige dorpie ry met die stof oortrekte drie broers wat agter die Fordjie op die tolbos takke agterna sleep en klou vir lewe en dood. In daardie dae het jy nog mense gekry wat van plek tot plek geloop het en potte herstel het, of skoene reggemaak, of so iets en hulle het gewoonlik hulle gereedskap aan ‘n gordel om hulle lyf gedra. Dit is ook juis soos die toeval wil hê dat daar toe twee van die manne in die straat opgestap kom en die kontrepsie een kyk gee en die een kliphard uitroep: “O look at the baboons, look at the baboons behind the car”. Dit is toe dat die drie broers op die takke vir die eerste keer na mekaar kyk, want hulle het nog die heel tyd net moes klou vir ‘n vale om nie af te val van die takke af nie. Dit is toe dat hulle sien hulle lyk net soos drie bobbejane, asvaal van die stof. Nodeloos om te se dat die kinkhoes is toe skoon weggeskrik en vergete. Miskien is die stof al wat die kinkoes nodig gehad het om dit vir goed die trekpas te gee.

Ek dink my oupa moes ‘n baie flinke brein gehad het om al die planne uit te dink terwyl ou Fordjie met hulle op loop gesit het die pas af. Ja-nee ek dink die oumense het altyd ‘n plan vir alles gehad. Stel jou voor dat jy in vandag se tyd by ‘n pas afry en agterkom jou remme is kapot, sal jy aan so ‘n unieke plan kan dink. Of hou jy maar sommer reguit kranse toe en bid dat die lugsakke in jou voertuig werk. Of miskien afgrond toe as jy nie lugsakke in het nie, want solank die kar nog deur die lug trek het jy ‘n bietjie langer tyd om oor al jou sondes na te dink en vir die Liewe Heer om vergifnis te vra.
 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

---
“Vrou die brieks het gevail, die brieks dit het heeltemal gevail”. “Wel Jakoos maak ‘n plan anders gaan ons verongeluk op daai draai daar onder”. “Ja vrou ek dink nog”. “Jakoos as jy nog wil dink moet jy nou flink en vinnig dink daai draai kom gevaarlik vinnig nader”. “Ja vrou, ja vrou ek het ‘n plan wees net geduldig.” [Ek het nou so lekker gelag dat dit lyk asof ek huil!}

... en daai "Look at the baboons!" Ai schatz, dankie dat jy my na hierdie verhaaltjie toe gestuur het. Jy skryf amper asof dit nou gebeur waar ek dan ook pens en pooitjies op daai Model-T Fordjie sit.
5 jaar 10 maande 1 week 5 dae 20 ure oud


Fordjie
Die goeie ou dae, dankie vir die interessante vertelling :)
5 jaar 11 maande 2 weke 2 dae 4 ure oud


:D
Dit is nou 'n uitstekende storie! Dankie heerlik gelag!
5 jaar 11 maande 2 weke 2 dae 17 ure oud


Fordjie
Lekker gelees, knap gedaan.
5 jaar 11 maande 2 weke 3 dae 7 ure oud



Arhoma Gedigte

deur Aná Niem

Ses verhalende gedigte voorgedra: Identiteit, Hierdie kind, Uiterste Wil, Alleen-vrou, Leer van sukses, Lobola. Hierdie CD is die ideale geskenk vir iemand met diepte.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar