Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Chris val oor ‘n skoen en vloek hardop.

“Negatiewe vibrasies is so nie goed vir jou karma nie,” kom dit vanuit die donker hoek van die kamer.

Hy kan sien hoe sy sussie, Kattie, onder die kerslig glimlag. Sy skryf haar outobiografie. Dit moet by kerslig wees, want “Dit skep die nodige atmosfeer om spiritueel in kontak met jou skryfvermoëns te kom”, soos sy dit stel. Hy’t al te veel keer in sy lewe gewonder hoe ‘n 13-jarige so baie het om oor te skryf. “Wat kon daar nou eintlik met haar gebeur het wat ek gemis het?” wonder hy as hy sy kamera gryp en buitentoe strompel.

Kattie is ‘n wonderkind. IH hoër as wat Chris kan tel. Hy’t al so baie kere gewens dat daar twee in ‘n familie gebore word. Kattie sê hy ly aan ‘n minderwaardigheidskompleks. Hy vat sy kamera en kies koers karnaval toe. ‘n Nikon met 15 000 mm lens. ‘n Geskenk van sy pa.

“Ek wonder of Pa nou beter doen met sy besigheid?” Wonder hy terwyl hy oor ‘n klip spring. “Nikons is duiur.”

Hul huis was ‘n ou karnavalmeester s’n wat langs ‘n vervalle karnaval gebou is. Al wat oor is, is ‘n paar gebreekte pretritte en klomp stofballe. “Wie sou ooit ‘n karnival in die middel van die Karoo wou bouj?” dink hy terwyl hy met sy kamera peuter en op ‘n klip gaan sit. Kattie is mal daaroor. Sy sê dis die perfekte plek vir ‘n Calvinistiese intellektuele hawe wat teen die materialistiese vraag van die wêreld moet kompeteer. Chris het maar net sy kop geskud en gewonder of dit haar enigste manier van oorlewing is by die ‘niks’ van die Karoo. Myle en myle van stof. Nie sy idee van ‘n ‘intellektuele hawe’ nie.

Hy gaan lê op sy rug onder wat eens op ‘n tyd die ferris-wiel was. Snaaks om te dink dat daar lank terug mense was wat daarop gery het. Hy neem ‘n foto. Swart en wit film. Dis altyd lekkerder so – meer dramaties. Hy was eens op ‘n tyd baie lief vir dramaskote. Net nadat die kamera in soveel opsigte sy lewe gered het. “Ek was seker die enigste druggie wat hierdie distrik al ooit gesien het,” lag hy vir homself. Almal soek ‘n wegbreekplek en in ‘n verlate plek word dit net meer belangrik. Meer intens. Later is jou wegbreekplek al wat jou keer om mal te word.

Hy ontwikkel sy films, maar wys hulle nie maklik vir iemand anders nie. Was maar altyd bang dis iets wat Kattie ook sal probeer. Iets sal wees waarin Kattie weer wonderlik is. Weer iets wat “net natuurlik kom”. Hy verpes daardie woord. Natuurlik. Dis die soort woord wat mense altyd sê as hulle jou goed wil laat voel. “Jy’s goed, maar jou sussie is ‘n natuurlike wonder.”

Dis nogal ‘n winderige dag en hy voel terneergedruk. Skool is ‘n nagmerrie. Sy huis is ‘n nagmerrie. Sy brein is ‘n nagmerrie. Skielik is die fotonemery nie meer lekker nie. Hy begin sy kamera oppak. Groot, swart wolke woed in die verte en hy sien elke nou en dan ‘n weerligstraal. Hy vee elke stukkie toerusting af en pak dit versigtig terug op sy plek.

Dan vang iets sy oog in die weerkaatsing van die lens. Die monster...

Die karnavalmeester het gesê dat dit die grootste aantrekkingskrag was vir die karnaval. ‘n Rit wat jou met intense spoed in die lug in gegooi het terwyl jy net te bewus raak van die breekbaarheid van jou waentjie. ‘n Groot gesig van ‘n monster met geel oë bewaar die ingang. Groot en donker en net meer angswekkend as dit so verlate is. Van waar hy staan, lyk dit soos ‘n outydse bangmaakfliek, die weerlig en dié uitdagende kyk van die monster.

Die kyk boei hom en hy haal sy kamera weer versigtig uit. Stadig. So asof die monster hom sal aanval as hy beweeg. Dis die eerste keer vandat hy begin het dat hy foto’s so versigtig neem. Alles moet perfek wees. Weerligstraal op die regte plek. Op die regte tyd. Die monster word ‘n model wat in ‘n storm staan met reën wat oral val. Die nag verander in ‘n skouspel waar hy nie meer Chris is nie en die monster nie meer bangmakend is nie. Dit eindig met Chris, wat nat en droewig in die bed val. Dronk van uitputting.

**

Hy staan op met ‘n hoofpyn en dit voel asof die hele aand ‘n droom (of ‘n nagmerrie) was. Hy onthou net stukkies en dié feit laat hom dink aan sy slegte jare. Hy loop na waar sy kameratas onskuldig op sy lessenaar lê. Hy gooi gou die film in sy sak en maak reg vir skool. In die middag loop hy nie na die bushalte soos altyd nie, hy kies koers dorp toe en gee die film in by hul foto-ontwikkelingsplek.

Die vrou by die toonbank glimlag as sy die foto’s vir hom teruggee. Hy’t die hele uur lank op die bankie gesit en wag. Met bewerige hande maak hy die pakkie oop. Die ferris-wiel. Nie sleg nie, dalk moes hy net meer links gestaan het. Die skulpies, die stampkarretjies... die monster. Dit was asof iets hom klap toe hy na die foto’s kyk. So intens word die gevoel oorgedra. Die monster is tog so ernstig in die middel van ‘n lagwekkende karnaval. Perfek.

Toe hy buitentoe stap, vang die plakkaat sy oog. Snaaks dat hy dit nie gesien het toe hy ingekom het. “Fotokompetisie – Groot pryse te wen”. Hy’t nooit regtig geglo in bonatuurlike kragte nie, maar dit was te veel: Hy koop ‘n koevert net daar en pos sy foto saam met sy inskrywingsvorm.



Die weke daarna voel soos die langste in sy lewe. Hy wonder of dit is hoe dit voel om verlief te wees. Elke gedagte gerig op een ding. Hy hoor nie meer as sy ma roep of sy sussie praat nie. Maar dit kon hy lankal al doen. Mense se stemme uitskakel as hulle praat of skree of huil. Na twee maande wonder hy of sy inskrywing in die pos weggeraak het. Na drie maande gee hy op. Hy pak sy kamera weg, bo in die kas by die wintersklere. Kattie sê wenners maak nie so nie. Hy voel nie baie ‘wennerlik’ nie.

Dan lui die foon. Hy lê op sy bed en staar dak toe.

“Chriiiis! Telefoon! Dis so ‘n upperclass ou,” breek Kattie se stem die stilte en hy wonder vir die soveelste keer of alle wonderkinders so sosiaal gebreklik is. Sy hart het ophou spring as die telefoon lui en hy wonder of dit die ou oom is wat oorkant die skool bly wat hom alweer blameer vir sy vertrapte blomme.

“Mnr Brits!” Die stem aan die anderkant het ‘n versigtige aksent. “Ek’s Danny Rogers van C&C Holdings. Ek het toevallig by my vriend op jou foto’s van die pretrit afgekom. Ek was baie jammer dat jy nie gewen het nie, maar dis nou maar hoe die lewe werk. Nietemin...” Die man hou sy asem met opset op vir ‘n dramatiese pouse, “ek het vir jou ‘n proposisie.”

**

‘n Jaar later en Chris en sy familie se huis bestaan nie meer nie. Geen verlate ferris-wiel, geen stofballe om ‘die monster’ nie, niks nie. Die grootste aantrekkingskrag in daardie distrik is nou ‘Monsterwêreld’. Die mees intense pretpark suid van die Sahara (of so sê die plakkate). Mnr Rogers, die bestuurder, het die geld gehad om die vorige aantrekkingskrag raak te sien en net beter te maak. Maar as iemand hom vra hoe hy dit reggekry het om die potensiaal te sien en soveel genot aan mense te gee, gee hy net ‘n kopknik na die noual beroemde foto teen sy muur. Een van ‘n verlate monster pretrit – met oë wat ‘n mens so boeiend aankyk.

Nielen Bottomley



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ek het van die een gehou.

Ek het ook op skool begin skryf en onthou nog hoe ene Mnr Pretorius my aangemoedig het. Meestal was dit stories wat geen sin gemaak het nie, maar later het dit al hoe beter gegaan.

Lees gerus my verhaal - Rots van my lewe. Geskryf vir tieners oor die probleme en lewe van tieners.

Groetnis
Mrs T
12 jaar 7 maande 4 weke 20 ure oud



BEGRAFNIS OF VERASSING - Wat se die Skrif daarvan?

deur Spannie

Hierdie baie kontroversiele vraag van ons tyd rakende die hantering van die menslike liggaam na afsterwe word onomwonde en baie duidelik aan hand van die Skrif en geskiedkundige bronne uiteengesit in hierdie volledige studiestuk. Liggaamsverbranding is baie duidelik 'n suiwer heidense gebruik en streng verbied in die Woord. Vloeiend geskryf, met baie interessante gegewens uit die geskiedenis van ons tyd is hierdie 'n boek wat mens moeilik neersit na jy begin lees het. 'n Moet vir elke ernstige gelowige van ons tyd.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar