Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

                  Dit is ‘n Saterdag oggend van die maand Februarie in die jaar 1937 en op Donkerhoek se plaaswerf is dit die ene konsternasie en bedrywigheid. Dis tyd vir romanse, want dis valentynsdag die naweek. Alles moet die Saterdagoggend op die plaaswerf eers vinnig klaarkom, want die baas van die plaas het planne om te gaan vry. Die voerkamer se deur is vroeg oggend donker reeds oopgesluit. Katsie storm by die voerkamer se deur uit en lig hier op sy arm met die lantern wat hy gegryp het vanaf die haak by die voerkamer se deur. Hy beskou die arm aandagtig en druk die vel met sy twee vingers om te kyk of daar bloed uitkom. Maar nee, gelukkig is daar niks bloed nie wat beteken dat dit defnitief nie die slang is wat hom gepik het in die voerkis waar hy besig was om voer vir die esels en perde uit te skep.
                  Katsie se regte naam is eintlik Floris, maar party noem hom sommer Floors en party noem hom Katsie. Sien daar is so baie boere met die naam Floors de Kock in die Overberg dat dit later verwarrend word en dan weet mens nie van wie daar nou eintlik gepraat, oftewel dalkies geskinder word nie. Die Katsie bynaam het hy nog op Laerskool gekry.
                  Dit was Engelse dag en hulle mag dan net Engels gepraat het in die klas. Dit was die skoolwet van daardie tyd. Sien Katsie was mos ‘n 1909 model toe Engels eintlik die onderrig taal was. Katsie het maar sy begin skooljare op die plaas by die goewernante skool gegaan en nie eintlik baie met Engels te doene gekry nie. So het dit gebeur dat dit die dag baie gereën het en hy by die klaskamer venster uitgekyk het. Hy sien toe ‘n ossewa verbygaan met ‘n hele span donkies wat die wa trek. Dit was nogal iets besonders omdat ‘n ossewa in daardie tyd, of deur osse, perde, muile of selfs esels getrek was, maar hy het nog nooit donkies voor ‘n ossewa gesien nie. Die twee lang rye donkies voor die wa het vir hom soos nat katte gelyk in die reën en hy roep toe klip hard uit om almal se aandag op die petalje te vestig “see the cats” het hy uitgeroep. Wel, miskien het hy dalk ook nie geweet wat ‘n donkie in Engels was nie. Wie sal nou ientlik weet. Dit was ‘n groot fout, want van toe af was sy bynaam Catsie of soos party gesê het, Katsie.
                 
                  Hy weet van die slang wat daar in die voerkamer hou en is altyd versigtig vir die slang as hy voer gaan uithaal vir die vee. Hy weet dit is ‘n fout om die slang daar te laat woon. Hy het egter ‘n goeie verhouding met die slang, aangesien die slang sorg dat daar nie ‘n muis lewendig by die voerkis kom nie. ‘n Voerkis lok mos altyd van die klein knaagdiere en dit is einste meneer slang se hoof dis. Toe die ding hom in die donkerte op sy arm pik was sy eerste gedagte, dis die verbrande slang en sien hy sommer klaar in sy verbeelding hoe sy lewe vanoggend met hom gaan klaarspeel. Dit is dertig myl na die naaste dokter en wat nog van sy planne om vannaand nog op Wellington te gaan vry by daai mooi skool juffroutjie. Ja alles flits so vinnig in oomblikke in sy brein verby soos ‘n rolprent kamera wat aanhoudend fotos neem. Hy draai terug en loop by die deur in en lig met die lantern in die voerkis en tot sy verbasing sien hy dit is die rooibruin werfhennetjie wat nou broeis is en haar nes in die voerkis kom maak het. Haar besitlike broeisheid op haar nuutgefonde nes in die hoek van die voerkis het haar laat besluit om ou Katsie se arm te pik toe hy sy hand te na aan haar durf waag het waar sy sit en broei. In sy haastigheid om alles klaar te kry en met die skooljuffroutjie se denkbeeldige gesig en lyfie wat heeltyd hier voor sy oë dans het hy skoon vergeet van die rooibruin hennetjie.
                 
                  Hy het al alles probeer om die hennetjie saam met die ander hoenders in die hok en hoenderkamp te hou , maar alles was te vergeefs . Sy het geweier om saam met die ander hoenders in ‘n kamp te wei en liewer haar kans gewaag met die misseljatkatte, muishonde en watter ander ongediertes ookal op die werf ronddwaal . Snags het sy in die akkerboom langs die plaas opstal geslaap totdat sy haar huis lekker in die voerkis ingerig het. Sommer lekker naby aan die kos ook en hoef mos nou nie te gaan soek vir kos nie. Hoe sy altyd uit die hoenderkamp ontsnap weet nugter alleen.
                 
                  Katsie se eerste foutjie van die Saterdag was om sy hand sommer so goedsmoeds in die voerkis te druk. Dit sal hom leer om meer versigtig te wees. Gestel nou dit was wel die slang wat hom gepik het sou hy mos nooit eens naby sy wens uitgekom het om die Saterdag nog na die skool juffroutjie te gaan vry. Hy sou sekelik eerder nader aan die langbome van die kerkhof verskuif het, dink hy by homself.
                  Later die dag besluit Katsie dis nou tyd om vir Kraai uit die waenhuis te gaan haal sodat hy gewas kan word. Kraai is sy tweesitplek, afslaankap, ses silinder Chrysler sportmotor. Kraai is amper meer masjien as motor, want die masjien is veels te sterk vir die klein tweesitplek prag motortjie. Katsie boer nou al vandat hy sestien jaar oud is alleen op die plaas en dit gaan maar swaar met die huishouding gedeelte en hy raak nou so aan die dertig. Dit het nou tyd geraak om ernstig vrou te soek. Om ‘n vrou te kry moet man darem ‘n ordentlike windmakerige ryding hê om ‘n meisie se hart te kan steel, het hy besluit. Hy hoor toe dat die Dungaye Park meisies se pa, Johny Viljee, vir hulle ‘n Chrysler motor vanaf Amerika ingevoer het en dat hulle nie belangstel of regkom met die motor nie. Die motor staan nou net en stof vergaar daar. So besluit hy toe om hulle te nader om die motor by hulle oor te koop. Dit is toe hoe Katsie sy Chrysler sportmotortjie met die nommer CAM 610 in die hande gekry het.
                  Hy snork vir Kraai op en was reeds besig om by die waenhuis deure uit te ry toe die volgende foutjie van die dag gebeur. Hy kon sy oë nie glo toe daar ‘n yslike rot hier onder die paneelbord uitspring en hier tussen sy pedale inhardloop nie. Hy probeer om met sy een voet die rot sommer met een hou kis te trap, maar rot se kind is rats laat hom nie sommer so onderkry nie en besluit hy moet nou ‘n gat vat. Die eerste en naaste gat wat hy kon vat is Katsie se broekspyp se gat en hy glip sommer daarin. Katsie skrik hom skoon boeglam want wat sal gebeur as die rot nou tot bo kom. Sê nou net hy raak honger en begin knaag hier aan sy , jy weet mos wat. Hy gryp die rot met sy linker hand mooi stewig vas hier teen sy bo-been waar dit sit aan die binnekant van sy broek en gooi kraai se deur oop met die regterhand en spring uit sodat hy van sy broek en rot ontslae kan raak. Hy skreeu vir Willem, die plaaswerker naaste aan hom om te kom help. Willem storm op Katsie af maar Katsie beduie hy moet vir Kraai gaan red. Kraai is besig om al agteruit te kruip, want in sy haastigheid om van die rot wat al krappende hier teen sy bo-been is, ontslae te raak, het hy nie kans gehad om vir Kraai te stop nie. Willem storm na Kraai se rigting en sien Katsie is besig om sy broek uit te trek, maar kry nie die belt los met een hand nie. Hy draai om sodat hy vir Katsie kan help, menende dat die baas dalk ‘n baie, baie groot nood het en vinnig van sy broek ontslae moet raak. Katsie beduie egter hy moet eers vir Kraai gaan red wat nou soos ‘n krap al agteruit beur en reg op die plaas se ringmuur afstuur. Gelukkig kry Willem darem vir Kraai net betyds ‘n paar tree vanaf die muur gestop. Hy snel Katsie daarna te hulp om sy belt los te kry sodat Katsie die broek met rot en al kan uittrek. Katsie bly egter steeds die rot krampagtig vasklem met sy een hand. Toe hy die broek uit het skud hy die rot uit die broek en sien dat hy die arme rot so plat gedruk het dat hy mors dood is en sy oë skoon na buite sy kop uitpeul.
                  Terwyl hy nog so in sy onderbroekie staan en hy en Willem die rot staan en aanskou hoor hy ‘n dreuning van die werfhek se kant en sien hoe sy buurman en sy jong getroude vroutjie inry en onder die akkerboom voor die plaashuis stop. Daar is nie nog tyd om sy broek aan te kry nie, want in die haas om sy broek uit te kry het hy sommer die broek oor sy skoene uitgetrek, maar om dit weer oor sy skoene aan te kry sal nogal ‘n moeilike takie wees. Hy kyk toe maar net of daar nie dalkies ietsie by sy onderklere uitsteek of uithang nie en probeer vir sy buurman beduie om asseblief aan die anderkant van die huis stil te hou. Maar wat, dis te laat, die buurman kruip al op die werf rond van die lag vir die petalje met die plaasboer en werker wat op die werf in sy onderjonie staan. Sy vroutjie lag so dat die motor eintlik skud op sy vere. Katsie in sy onderklere met die broek in die hand, Willem met ‘n rot wat hy omhoog hou aan die stert en Kraai wat daar onder amper teen die ringmuur staan en poef,poef, poef is nogal seker ‘n snaakse prentjie dink hy by homself. Amper was dit ‘n fout, want as Kraai deur daai ringmuur geloop het, of as die rot dalk honger was en hy hom nie betyds gevang kon kry nie dan was die Saterdagaand se vryery ook na die maan.
                  Later die dag word Kraai ordentlik gewas. Die speekwiele, twee spaarwiele met hul blink houers wat hulle in plek hou weerskante van die lang smal masjienkap, asook die groot blink koplampe word opgevryf. Die lang neus met sy kragtige sessilinder masjien met die Chrysler wapen voor op die masjienkap word ook ewe blink gevryf.
                  Nou nog net vir himself ordentlik maak. Hy bad, skeer en sit so bietjie oude cologne op sy wange en op sy lyf. Hy wonder wat hy sal aantrek. Hy dink dat die eerste indruk is altyd ‘n goeie een en besluit hy trek sy roomkleurige broek met sy Stellenbosch Paul Roos oudskolier baadjie aan. Die baadjie is ook roomkleurig met ‘n afwisseling van dun, dik en dun meroon strepies wat mooi sal pas by sy langbroek en sommer ook by Kraai wat ook roomkleurig is. Hy gooi vir die wis en onwis sy kisklere in ‘n koffer vir as die skool juffrou hom dalk vir Sondag oggend kerk toe nooi. Hy gooi die koffer in Kraai en gaan haal gou nog twee suikersakkies aartappels uit die aartappel kamer. Die aartappels is heerlik vars, want hy het net die week die aartappel land bygedam en alles uitgehaal. Die een sakkie is vir die tannie wat die losieshuis het waar die skool juffrou loseer, want sy gee hom altyd ‘n lekker bord kos as hy daar aankom en laat hom ook toe dat hy die juffrou darem bietjie later as gewoonlik losieshuis toe mag terugbring op die Saterdag aand. Die ander aartappels is vir die Haumans van La Provance. Daar gaan hy eers groet en koffie drink saam met sy neefs.
                  Vanaf Donkerhoek, deur Franshoekpas, is alles grondpad en mens se keel en lippe raak maar droog, want dit is warm en Kraai se kap is afgeslaan. Na koffie en bietjie gesels is hy sommer haastig, want hy wil nou ernstig by daai juffroutjie uitkom.
                  Alles het baie goed en voor die wind gegaan met die kuiery by die juffroutjie. Sy nooi hom toe wel vir kerk vir Sondag oggend. Hy dink toe hy kan nou terug ry Franshoek toe en by sy neefs op La Province gaan slaap en Sondag oggend vroeg weer in die pad val Wellington toe om betyds te wees vir sy kerk afspraak. Hy is egter moeg, want hulle het heel week gesukkel in die warm son om die aartappels uit te haal. Dit is al laat in die aand en hy besluit toe dat hy gesien het die losieshuis het ‘n groot agterplaas . Hy gaan sommer agter in die agterplaas intrek en in Kraai slaap en dan voor die losieshuis mense kan wakker word die volgende oggend hom sommer by die buitekraan ordentlik maak en aantrek. Hy trek toe in en sien ‘n groot ou bloekomboom in die agterplaas. Dit is so warm en hy besluit hy gaan nie eens sukkel om kraai se kap opgeslaan te kry nie. Hy gaan sommer so in die vars lug slaap en maak momself gerieflik op die sitplekke van Kraai. Kort, kort hoor hy blare en takkies of iets uit die boom val, maar hy is so moeg hy raak sommer dadelik vas aan die slaap.
                  Die volgende oggend voel hy hier aan sy gesig is iets en toe hy vee ruik hy dit. Dit is defnitief hoendermis. Toe sal hy maar eers agterkom dat Kraai en hyself vol hoendermis is. Hy kyk in die boom op en sien tot sy skok dat die boom sit vol hoenders. Hy het ‘n groot fout gemaak om onder die bloekomboom stil te hou, want die losieshuis het nie ‘n hoenderhok nie. Die bloekomboom is hul hoenderhok en Kraai en hy was ongelukkig hul teiken vanuit die boom. Nodeloos om te sê, hy het toe maar ‘n briefie geskryf en om verskoning gevra dat hy nie Sondag oggend saam met die skool juffrou kerk toe kon gaan nie omdat hy dadelik moet terug plaas toe en al stinkende teruggery.
                 
                  Gelukkig kom teespoed mos altyd in drieë en was dit nou sy laaste fout of teespoed van daardie Saterdag. Dit het begin met ‘n hoender en ge-eindig met hoenders wat hom skoon die hoenders in gemaak het.
                 
                  30/01/2014
             
      Foto 1 (Die vrou is my ma. Sy is 'n 1918 model en nou 95 jaar oud en nog springlewendig en gesond. Na my pa se bloutjie met die onderwyseres agv. hoendermis het hy my ma ontmoet en sy het pens en pootjie geval vir my pa, sy streep baatjie en sy Kraai. Hy het egter eers 'n resies met sy Kraai en PW Botha gehad deur Akkedisberg en eerste voor my ma se ouerhuis stilgehou en PW se hand sodoende in die as geslaan. Ha ha.)
     
      Foto 1 (Die man in die foto is my pa in sy Poul Roos oudskolier baatjie. Hy was 'n 1908 is reeds oorlede.)
     
       
 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

3 x foute
wat n kostelike verhaaltjie.. ek het my totaal ingeleef.. pragtig en meesleurend vertel Schatz
5 jaar 7 maande 2 weke oud


hoenders
ek het hierdie kortverhaal regtig geniet. lekker humoristies
5 jaar 7 maande 3 weke 1 dag 10 ure oud



Bertha se Stories

deur natasha dutton

"...my issues is maar soos joune, my vrese gegrond op ervarings, dinge waarvoor jy ook bang is. Die enigste verskil is, ek is 'n stort mens, geen badprop wat my geparfumeerde water in toom kan hou nie. Die lewe is nie 'n bad vol foam bath nie, nee jong, so maklik is dit nie. Die poepwalms laat jou verstik, nie eers te praat van die vloeistowwe nie! Maar dis die lewe." Wel, nou weet jy wat om van hierdie boek te verwag...



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar