Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hier so in die vroeg vyftigs boer daar ‘n oom Helmut Veenstra in die Njelele vallei. Nog nie elektrisiteit van Eskom af nie en die toilet is buite oor ‘n diep gat, want die Veenstras glo nie in spoeltoilette nie. ‘n Mens k** nie in jou huis nie, glo hulle.
Oom Helmut het verskeie plase en die bankbestuurder op Messina is baie gedienstig as die oom in sy kantoor instap. Hy en sy vrou, tant Lenie, het twee jong dogters - so mooi vrybaar al, bekwaam, soos die mense sê - maar nog nie uit die skool uit nie. Oom Helmut is 'n vriendelike joviale man - soos 'n man moet wees as jy die partykandidaat vir jou streek is en in die volgende verkiesing jou staal moet wys.
Tant Lenie is 'n ander saak. Kyk, jy moet sorg dat jy nie aan haar verkeerde kant kom nie. Sy het 'n redelike skerp stem en 'n tong soos 'n skeermes - dis nou as dit nodig is. "Ek sê 'n ding soos hy is!" sê sy partykeer en die bure wat al deurgeloop het, bly wyselik stil, want oor die algemeen is sy 'n goeie mens met 'n empatie vir die nood van ander.
'n Fris, ietwat mollige dame, met 'n stywe bolla en 'n kersregop figuur - veral as sy sit, want die borstrok laat nie toe dat sy baie buig nie. Swart oë flits oral rond as daar jongmanne naby haar dogters kom, kyk niks mis nie en die dogters en die jongmanne trap versigtig in hulle spoor. Baie versigtig. Sy is baie lief vir haar dogters.
Tog, so by wyse van hoë uitsondering, is daar een of twee van die jongmanne wat terugpraat. Om dit later te berou, veral as hulle sleg verlief is op een van die dogters . So loop Toffie Ackermann hom ook en aand vas.
Die aand toe Toffie vir Betsie gaan kuier, is tant Lenie siek in die bed. Dit pas hom natuurlik uitstekend. Daardie bekkie van Betsie vra al lankal om deeglik gesoen te word. Maar op die rusbank in die sitkamer, woel Betsie haar los uit die omhelsing. "Wag," fluister sy sommer goed uitasem, "my ma kan enige tyd hier inkom. Jy ken haar mos." Op geen manier kan sy oorgehaal word om die heerlike kuier op die rusbank voort te sit nie. Die Veenstras het baie streng reëls en as jy daar welkom wil wees, moet jy die genoemde reëls gehoorsaam. Een van die wette is dat daar nie na tien uur gekuier word nie en dat die lamp nie doodgemaak mag word nie. Dis nou hoekom Toffie tienuur opstaan om te ry.
Die verlange lê nog vlak in Betsie se mooi ogies en sy stap saam kar toe. Om hom af te sien, buite die gesigsveld van haar ma. By die kar neem hy haar weer in sy arms en net toe hy die sagte, gewillige bekkie onder sy lippe voel, kom die stem uit 'n venster agter hulle - skel, skerp soos 'n geroeste hoepel wat oor 'n sinkplaat getrek word. Dit dring deur murg en been.
"Betsie, wat maak jy daar!" kom dit. "Wat soek jy daar buite!"
Toffie is normaalweg 'n gemoedelike man, maar hierdie keer laat daardie stem die hare in sy nek rys. "Sy sê vir my nag, tant Lenie," antwoord hy ontstoke.
"Maar siejy dadelik inkom huistoe," kras die tannie weer. "Dadelik, of ek kom haal jou!"
"Dit sal maar bra onbeskaaf wees, Tannie," antwoord Toffie, nou behoorlik kwaad. "Het Tannie dalk gedink ek wil haar ..."
"Loop, Maaifoedie! As ek my sonde nie ontsien nie ..." sy stik en begin hoes. Teen hierdie tyd is die Ackermanntjie hoog die moer in en hy ry weg terwyl Betsie beteuterd huistoe drentel. Wel, hy het gesoek daarna.
Vir dae lank het tant Lenie nie vrede nie. "Onbeskaaf," mompel sy so deur die beskuitbakkery en afvalkrappery deur. "Wat dink hy van homself? Is dit miskien die gopse hierdie? Is ons miskien onbeskaafde mense? Nee verdomp, die dogters moet manne ontmoet van die stad af. Dokters of predikante of sulke soort. Nie plaasjapies soos Toffie Akkerman nie."
En toe lui die telefoon. Dis tant Susan, haar suster. Sy noem haarself Suzanne, of Suzên, soos tant Lenie dit uitspreek - dis glo deftiger as die kommon Susan. Sy kan haar mond ook nie beteuel nie, dis seker 'n familietrek, en meeste van die tyd is hierdie deftige suster se opmerkings teen tant Lenie gemik.
"En toe," vra tannie Suzên, "Hoe gaan dit met julle klomp daar in die gopse?
Tant Lenie antwoord nie dadelik nie. Die suster karring nou op 'n teer plekkie in haar siel. "Goed dankie," sê sy naderhand ysig.
"Ek kom kuier," kondig tannie Suzên aan. "Moet bietjie rus en vrede kry. Uitkom hier uit die stad uit."
Laat daar tog nie gesê word die bosveldmense is nie gasvry nie. Tannie Suzên was nog nooit, vandat tant Lenie met oom Helmut getroud is, in die bosveld nie. Die suster moet welkom gemaak word, al lê die ergenis dik in tant Lenie se keel. "Nouja, kom," antwoord sy effens flou. En toe, bietjie hoopvol, voeg sy by: "Onthou net, ons het nie hier die geriewe wat julle in die stad het nie."
"Is orraait, as jy kan regkom, kan ek ook. Hoe loop die pad?"
'n Week later hou die kar op die werf stil. 'n Deftige dame klim uit, sorgvuldig gegrimeer met 'n kapsel wat net die vorige dag in 'n salon in Pretoria gedoen is. Onder haar arm hou sy 'n klein hondjie vas, soos 'n kosbare handsak. Die hondjie het 'n welriekende haarbedekking wat ook net die vorige dag in 'n hondesalon aandag gekry het. Aan sy oortjies het hy/sy pienk strikkies en die wit lyfie lê tevrede in tant Suzên se arms. Tant Lenie en haar twee dogters is buite toe die kar stilhou en hulle vergaap hulle aan die dingetjie in die tannie se arm.
"Hallo, julle," sê tannie Suzên. "Aarde, Lenie, dra jy tog nie 'n borstrok nie? Dit lyk kompleet of jy oorkook op plekke! En daardie bolla! Waar is jou grimerig? Toemaar, ek sal jou onder hande neem ... en dis nou die dogters? Mooi meisietjies. Ook al reg vir liefde maak, kyk dan net! Hoe lyk dit, vry julle al? Ag, wat praat ek nou - die jongmanne hier in die bosveld weet seker ook maar niks van vry af nie, nê? Waar het jy gesien 'n boslanser is romanties!"
Sy steur haar gladnie aan tant Lenie se stroewe gesig nie en beduie na die hondjie wat intussen begin spartel. "Dis Fybie. Waar is julle toilet? Mamma se ou doggie wil seker poefies, dis hoekom sy so woelig is."
"Nou maar sit die brakkie neer, dan kan sy sommer tussen die rose kakkies," sê tant Lenie leedvermakerig en die dogters begin proes.
"O nee!" roep tannie Suzên geskok uit en druk die hondjie teen haar wang. "Sy is nog maar vier maande oud en vandat ek haar gekry het, het ek haar geleer om net in die toilet te poefies."
Betsie en Susan druk hulle monde met hulle hande toe om die onbedaarlike lagbuie te bedwing en net die skerp kyk van hulle ma verhoed dat hulle totale beheer verloor. Tant Lenie beduie na die buite- kleinhuisie wat 'n entjie van die huis af staan. "Daar," sê sy "Daar langs die huis. Maak gou, ons wag hier."
Tannie Suzên bekyk die geriefie wantrouig. "Is daar nie slange nie?"
"Ja," sê Betsie wat haar lag nou onder beheer het. "Maar tannie moenie worry nie. As daar een is, sal my pa hom kom skiet."
Tannie Suzên word bietjie bleek, maar sy stap dapper na die kleinhuisie toe en maak die deur agter haar toe.
"Nou hoekom maak sy die deur toe?" wonder tant Lenie. "Is sy bang ons sal die brak se skaamte sien, of wat?" Toe tannie Suzên uiteindelik weer verskyn, sê tant Lenie: "Kom ons staan maar nader, Sus. Helmut is ook al hier. Kom ons gaan eet 'n stukkie."
Aan tafel hou die tannie nog steeds die hondjie op haar skoot vas. "Hier is nog pap in die kombuis," sê tant Lenie. "Kom ons gaan skep bietjie in vir jou hond. Hier is baie melk ..."
"O nee," reageer tannie Suzên vinnig. "Bring net 'n bordjie vir Fybie, dan skep ek sommer hier vir haar kossies in. Betsie, my hartjie, gaan haal vir ons 'n bordjie, toe?"
Betsie verdwyn kombuis se kant toe. Toe sy met die bakkie terugkom, verskyn die huishulp met die middagmaal. Skottels groente word op die tafel staangemaak, en dan 'n groot opskepbord wat met 'n deksel toe is. Tant Lenie haal die deksel af en twee groot, gebraaide skaapkoppe pryk op die bord in al hulle glorie met starende oë in die kaste en tande duidelik sigbaar waar die wange effens weggekook het. Tannie Suzên word bleek. "Wat is dit?" vra sy bewerig. "Moet ons dit eet?"
"Heerlik," sê oom Helmut joviaal. "Gebakte skaapkop. Daar is niks lekkerder nie. Hou Sus, lat ek vir jou inskep. Wat fênsie jy - die wange is baie lekker." Hy breek 'n stuk van die onderkaak met 'n paar tande af en kyk afwagtend na tannie Suzên. "Hou jou bord."
Tannie Suzên spring op. "Ek voel nie so lekker nie," sê sy met 'n dun stemmetjie. "Dis seker van die ry. Ek gaan maar 'n bietjie lê ..." Sy verdwyn met haar hondjie na die kamer toe.
Die volgende paar dae gaan vir tant Lenie maar traag verby. Sy weet nou dat haar suster soggens vrugtesap en roosterbrood wil hê wat eers teen nege uur bedien word, lank nadat die huismense hulle ontbyt gehad het. Sy bedien nie meer skaapkoppe of afval vir ete nie en die hondjie in haar suster se arm raak sy ook mettertyd gewoond. Haar groot vreugde is om haar suster dop te hou as sy die kleinhuisie wantrouig nader en eers kyk of daar nie slange is voordat sy die deur toemaak nie. Maar daar word kwaai eise aan haar selfbeheer gestel as tannie Suzên, sorgvuldig gegrimeer in haar deftige klere, begin torring. "Jy moet weet," sê sy een oggend, "daardie borstrok laat jou lyk soos 'n piesang. Jy moet liewer gewig verloor, Sus Lenie. Wil jy nie maar hê ons moet die bolla losmaak nie? Dan vat ek jou dorp toe en ons laat doen jou hare. Is hier darem 'n salon in die dorp?"
Soos reeds gesê, tant Lenie is 'n "reguit" mens en sy sê 'n ding as hy gesê moet word, selfs al is dit nie regtig nodig nie. Toe haar suster nou begin skimp oor beskaafde kleredrag en so aan, en hoe beskaafde mense hulleself versorg, toe strip tant Lenie. Daar is woorde - gelaai met statiese elektrisiteit en goed gepekel van tant Lenie se kant af. En toe besluit tannie Suzên sy het nou genoeg ontspan hier in die bosveld, waar mens nie op 'n behoorlike toilet kan sit nie en waar slange en ongedierte dalk jou op ongemaklike plek kan bykom en waar jy jou snags met kerse en lampe moet tevrede stel. "Ek kry jou dogters jammer," sê sy gekrenk. "G'n ordentlike jongman sal naby hulle kom nie - nie met die ma wat hulle het nie! Jy jaag seker almal weg? Ek sweer jou dogters dink kinders kom met windbestuiwing!"
Die volgende oggend, toe tant Lenie wonder of sy nie maar haar suster moet gaan paai voordat sy klaar gepak het nie, kom tannie Suzên baie bekommerd uit haar kamer - heel vroeër as gewoonlik en tref die Veenstras by die ontbyttafel aan. "Fybie makeer iets," kondig sy aan. "Sy is 'n paar dae al rusteloos en nou lyk dit my sy het dalk pee-em-es. En ek het nie eers geweet sy menstrueer al nie. Foeitog, ek dink sy het koors." Sy druk die hondjie teen haar wang en koer: "Toemaar, Mamma se ou doggie, ons sal 'n plan maak, hoor!" Die brakkie spook intussen om uit "mammie" se arms te kom. "Is hier 'n dokter?" vra tannie Susan.
"Dokters hier rond lol nie met honde nie," antwoord oom Helmut. "Daar is 'n veearts op Messina. Ry maar soontoe - sy plek is reg langs die hotel - jy kan dit nie mis nie."
Dokter Steyn, die veearts, is 'n boer in murg en been. Hy dokter wel nou en dan 'n hond, gewoonlik grotes soos boerboele en so, maar sy groot liefde is beeste en hy is besig om die nodige te pak om 'n stoetbul te gaan behandel toe tannie Suzên instap.
"Ag Dokter," lamenteer die tannie sonder om te groet, "my ou kindjie makeer iets. Sy is so rusteloos en ek dink sy het dalk koors."
"Nou maar sit die brakkie hier op die tafel neer," sê dr Steyn ietwat ongeduldig. Daardie stoetbul het dringende aandag nodig en die boer se plaas lê ver ... Hy voel aan die hondjie, druk hier en daar en lig naderhand die stert op om 'n koorspen te gebruik. "O," sê hy. "Jou brakkie is op hitte, Mevrou."
"Ja, ek het gedínk sy het koors," antwoord tannie Suzên. "En dokter, ek beskou haar nie as 'n brakkie nie."
"Dis doodnormaal," antwoord dr Steyn vies. "Die bra.. hondjie makeer niks. Sy is net op hitte. Tefies maak so."
Tannie Susan kyk onbegrypend na dr Steyn. "Op hitte? Maar sy het nie koors nie?"
"Sy wil man vat," sê hy ergelik. "Verstaan jy nie, Tannie - sy wil paar. Sy is op hitte. Dêmmit, Tannie - honde is mos so!" Nou is hy deeglik ongeduldig, maar toe hy die ontsteltenis op tannie Suzên se gesig sien, vervolg hy kalmer: "Tannie kan haar laat regmaak, as dit Tannie hinder."
"Regmaak?" herhaal tannie Suzên verdwaas.
"Ag deksels, Tannie! Regmaak is om die brak te ... om haar te opereer sodat sy nie kleintjies kan kry nie."
"Histerektomie, Dokter?"
"Noem dit maar so, Tannie. Noem dit maar so. Tannie kan haar hier los, dan doen ek dit more. Ek het nie tyd vandag nie. Nou moet Tannie my verskoon. Die brak makeer niks, Tannie kan maar gerus wees."
Tannie Suzên kom ontsteld op die plaas aan met 'n wriemelende hondjie in haar arms wat aanhoudend spook om los te kom en te verkas na waar sy die plaashonde agter die huis kan ruik. "Ag Fybie, sit tog stil, my ou dogtertjie," troos sy. "Sy moet 'n histerektomie, kry, foeitog," sê sy ontsteld vir tant Lenie. "Ek dink sy wil toilet toe gaan - sy kriewel so ... verskoon my ..."
Vandag werk die afhou van Fybie nie so lekker nie. Sy stel gladnie in hierdie gat belang nie, sy wil uit, na die ander honde toe. Toe tannie Suzên haar hondjie se agterstewetjie regdraai sodat sy haar ding kan doen, wikkel sy haar los - en val binne in die gat.
Tannie Suzên se verskrikte gille laat die hele Veenstrahuishouding na buite storm. "Sou 'n slang dalk ..?" wensdink tant Lenie en gryp 'n besem so in die verbygaan na die kleinhuisie se kant toe.
"Fybie het in die gat geval," kreun tannie Suzên toe die ander by haar kom. "Sy het so gekriewel, toe glip sy uit my hande ..."
Uit die gat kom daar 'n benoude getjank. "Toemaar, ou Sus, ons sal haar gou uitkry," troos oom Helmut. “Betsie, gaan haal 'n flitslig. En my skepnet wat ek gebruik vir visvang. Roer jou!"
Die gat is goed vyf voet diep en die steel van die skepnet is te kort. Oom Helmut las dit vernuftig aan die besem wat tant Lenie nog steeds vashou. Dan buk hy weer oor die gat. "Deksels," brom hy naderhand, "Die brak wil nie stilstaan dat ek hom kan skep nie ... kom hier, jou bleddie klein stront ... daarsy!" Hy kom triomfantlik met 'n besmeerde hondjie in die net te voorskyn. "Poe!" sê hy toe hy die net op die grond neersit en 'n snikkende tannie Suzên naderwink, "so 'n brak stink darem nou van die ka ... um!" Die hondjie spook haarself uit die net los en die ogies soek na "mammie." Toe sy vir Tannie Suzên gewaar, vlieg sy met een sprong van blye verligting in die tannie se arms, die stertjie waai geesdriftig en sy kruip op tot teen haar "mammie" se wang waar sy altyd vertroos word. En besmeer vir tannie Suzên deeglik met onnoembare materiaal uit die kleinhuisie se gat. Haar modieuse rok, deftige kapsel, grimering, alles loop deur.
"Susan, bring daardie tuinslang nader," beveel oom Helmut sy oudste dogter. "Toe, moenie net daar staan en lag nie! Sus, kom staan hier op die gras met jou hond. Ek gaan julle afspuit met die tuinslang - julle kan nie so in die huis ingaan nie."
Susan en Betsie vou dubbeld soos hulle lag, maar tussen die twee van hulle sleep hulle die tuinslang nader en draai die kraan oop. Oom Helmut is nie lus vir die reuk van kleinhuisie in sy huis nie en hy doen deeglike werk. "So ja," sê hy toe hy klaar is. "Nou kan jy gaan afdroog, Sus. Ek laat vir jou water warm maak vir 'n bad."
Toe tannie Suzên 'n uur later uit die huis kom, het sy 'n tas in die een hand en die vryerige hondjie onder die ander arm. Kort daarna dreun haar kar by die werf uit.
"Betsie," sê tant Lenie toe die stof gaan lê. "Bel vir daarie Toffie Ackermann. Sê hy moet vanaand kom kuier. Sê vir hom ek en Pa gaan vroeg slaap vanaand ..."



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Fybie en die longdrop
hehehe.. dit was kostelik!!!! Heerlik gelees
4 jaar 4 weke 1 dag 1 uur oud



Toe Snoeks nog Snoekie was

deur Manie Jackson

“Toe Snoeks nog Snoekie was” Is ‘n storie wat vertel word deur die klein malteser, Snoekie. eindlik is die storie vertelle my ma , Babs Lourens. Dit is die storie van al haar mense en die ander diere wat op die kleinhoewe net buite Pretoria saam met haar gebly het. Dis werklike gebeure en mense, dit begin ongeveer in 1995 – oor ‘n tydperk van ongeveer 6 jaar, geen fiktiewe karakters nie, net die gebeure uit die jong hondjie se oogpunt.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar