Kortverhale

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

[Waarin die groot weerommeswaai voorkom, en die vraag ontstaan of die geselskappie onbesmet gaan oorleef, waarby die vraag, hoe om sout te wen aktueel is en bly. Waarin vertel word van ernstige beserings en die vraag kón ontstaan hoe dit behandel kan word. Of beter, óf dit behandel kan word. Waarin nog 'n nuweling in die gemeenskap sy aankoms aankondig.]


„BEDEK ALLES! Dek alles toe! Daar brou 'n storm saam! Bring alles wat buite lê in die skure! En bedek alles wat nog buite moet bly met 'n seil of 'n doek of planke. Met enigiets! Dit gaan reent, en ons het nie die Geiger nie.” Holger hardloop van een hoek van die akker na die ander en waarsku die mense: Hulle moet so gou moontlik onderdak kom, voor die reën, wat miskien besmet kan wees, op hulle neerstort. Die tuinboumense draf met volgelaaide kruiwaens kombuistoe, en kom terug om die kruiwaens oor die beddings om te dop met die hoop dat 'n ietsie van die oes nog eetbaar gaan bly. Die kombuis­personeel haal varswater in die grootste potte en kanne. Vir ingeval. Die bronne word so goed dit gaan toegedek; iemand het sy uniformbaadjie boöp die takke, planke en sakke op die een bron uitgesprei. Die moeders is lankal op pad om Berenice te help om die kleintjies huistoe te bring.

    Almal vergader in die saal, eintlik die groot woonkamer, buiten 'n groepie mans wat met speelkaarte om 'n tafel in die skuur die tyd wil verbring. Dit word toenemend donkerder. Of hulle nog lank die syfers op die kaarte sal kan sien?

    Almal? Wie is níé daar nie? Die vier kaartspelers in die skuur; die vier jong mans met die soutopdrag; Kobus en Klara  Kobie is saam met Elsatjie in die skoolkamer; vyf jong moeders met babas bly liewer in hul eie kamers; Georg en Dorit wat die meisies gaan soek het; Magda en Mirjam wat ook op soek is en nog nie teruggekeer het nie; maar waar blý Louise en Shivana tog?

    „Kinders, kom weg van die vensters! As die blits toeslaan... dan kom hy by die venster in!”

    „Ja, maar Mammie, Tannie Monika en Oom Maks sit mos buite op die stoep!”

    „Hulle moet dophou waar kom die storm vandaan en ander dinge van die storm. En buitendien is hulle oud genoeg om self te besluit. Kom jy nou eindelik wég van daai venster? Of moet ek jou kom haal?”

    „Ja, maar, Mammie...”

    „Ag Maks, ag Monika. Kom sit tog binne, anders kry ons nie ons rus en vrede nie!”

    Daar verskyn Shivana skielik op die stoep.

-----☼-----

„Daar kom reën ouens! Ons kry dit beslis nie reg om betyds by ons soutwerk uit te kom nie. Ons moet maar hier bly tot die reën ophou.”

    „Lyk my die huisie met die hoogstoep  waar die donkies nie kan opklim nie  is 'n soort winkel met kaffee. Miskien is dit wat ons soek.”

     „En ek sien die donkies soek ook skuiling, waarskynlik in die stalle agter die huise.”

     In die winkeltjie is allerhand toeristiekrommel, roomyskoelkaste wat warm geword het en stink, keppies met die wapens van voetbalklubs op en heelwat plastieknietighede. Daar is snoeperye in groot vierkantglas bottels, poskaartstanders, rakke vol kruideniers­ware van die soort wat vakansiegangers nodig mag hê, flitsbatterye wat al sedert twee jare afgeloop is. In die donker agterste kamers vind hulle die dinge wat die inwoners self sou wou koop: Sakke meel, suiker, rys; balle van verskeie soorte stof  ook garing  skoene, truie, reënjasse, skopgrawe, vurke... En 'n hele kamer vol visgerei en bootsbenodighede. „Dít alles kry ons nooit ofte nimmer in ons rugsakke nie!” roep Bas.   

     „Dan moet ons meermaals hierheen kom en iets haal. Ek kan my goed voorstel om hieronder te kom woon,” sê Matse met wawydoop oë en mond.

    Maarten is soos altyd eerder prakties: „Waarskynlik is hier 'n kampeerplek agter die huise aan die teerpad. En om daarheen te kom, is daar waarskynlik 'n paspad van bo af ondertoe  hiernatoe. Want so min huise kan nie die moeite werd wees  het nie soveel kamers te huur  vir soveel vakansie­­goeters nie. Ons moet die waentjies soek en die esels inspan en boontoe bring.”

    Boris staan by die venster en lyk of hy verdroomd die reën aanstaar. „En hoe,” vra hy, „en hoe gaan ons die esels inspan? Wie gaan hulle tem? Wie gaan hulle eers invang, hnnh?”

-----☼-----

„Bietjie oppas hoe jy klim, hoor? Die seuns het toue en klimgereedskap gehad, ons moet seker trap, seker vat en in een stuk seker onder aankom. Ek begin twyfel of die twee meisies hierdie roete gekies het.” Dorit en Georg het by die steil plek aangekom, waar die jong mans met toue afgeseil het. Een van die toue hang nog vasgekeil bo die laaste ent steilwand wat besonders glad is, vermoedelik gereed vir die terugklim. „Hierna gaan dit beslis gemakliker wees om vooran te kom. Die helling loop van hier af aan al hoe gladder, vlakker...”

    Skaars het hy dit gesê, of Georg se voet gly uit, hy verloor sy ewewig en val vier meters af op 'n klipbank. Daarby behou Dorit haar houvas en gly die tou af dat haar hande oopgevryf word en begin bloei. Sy kniel langs hom, „Georg, my lief. Georg, hoor jy my? Moenie nou weggaan nie, moenie my alleen laat nie!” Die eerste sagte druppels val op hul natgeswete liggame. Dit word sterker en alte gou piets heftige stormreën op hulle af.

-----☼-----

Shivana het die bewustelose Louise op 'n kruiwa moeisaam tot die hut gestoot waar Klara 'n lêplek vir haar op die vloer voor die vuur ingerig het. Klara wil net-net buk om te sien wat nog te doen is, en skree kort en skril, „Eina! O, ek dink hy wil kom. Kobus, waar is jy? Kobus!” Shivana spring op en hardloop Berenice en die kinders agterna. Blinde Kobus het Louise se arms en bene al afgetas, veral die regterenkel wat in die strik vasgevang was. Dis verstuit, maar origens niks gebreek nie. Hy dek haar toe en wend hom tot sy vrou. Hy was al 'n halwe eeu gelede nie by die geboort van sy kinders nie; destyds het die mans niks daar te soek gehad nie. Hoe moet hy nou maak? Wat is die eerste wat gedoen moet word? Warm water, warm water! Hoekom het hulle altyd warm water nodig? Hoeveel? Hy hang 'n ketel met twee, drie liters oor die vuur. Klara sê, „Daar's verbandmateriaal in die boonste laai regs. Links is die noodhulpkissie. Kobus! Kobus! Kom hou my vas! Kobus!”

    Af en aan kreun sy, geleentlik skreeu sy hardop, en dan sak sy suf inmekaar. Kobus soek vir haar 'n suiwer wit laken en was sy hande met 'n skeplepelvol van die reeds louwarm water. Hy stap na Louise oor en voel haar pols, haar voorkop. Hy merk dat haar ooglede af en toe flakker, dat daar sweet om haar neus en agter die ore is. Maar die pols is goed  reëlmatig en nie te vinnig nie  geen hoë koors nie; dit skyn of sy slaap. Onrustig maar slaap. Terug na Klara. Hoe lank duur  die barensweë? En hoe dikwels moet hulle kom? Ag, Shivana-kind, hoekom laat jy my so in die steek? En Louise, jy is mos die ene wat hierdie dinge geleer het. Waar is jy nou?

    Dit reën nou al hoe heftiger, en skielik staan Annagret sopnat voor die deur.


©.17e. Mei 2015.........................................-----☼-----.........................................................tje

(1240)(35620)



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

26
Ai jinne en nou gaan ons 'n geboorte ook nog waarneem!

Regstellings:
TOEDEK - bedek
wappens van voetbalklubs - wapens
ons nie ofte nimmer - ons nooit ofte nimmer
vakansie­­kraam?
voran - vooraan
verswete - geswete
Hy dek haar toe en wend hom aan sy vrou - hy bedek haar/maak haar toe en wend hom tot sy vrou
stetiger? - sagter?
5 jaar 8 maande 2 weke 3 dae 3 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    RANGEERWERF

    deur Johann P. Boshoff

    Hierdie selfpublikasie, met die volledige titel RANGEERWERF: DIE WAARHEID GELIEG, bestaan uit nege (9) homofiliese kortverhale met sterk biografiese inslag opgeneem. Dit is 'n rangering deur die lewe.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar