Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

[Waarin getoon word hoe iemand wat 'n koel kop behou onder moeilike omstandighede ook die oorhand kan behou. Waarin ons stadjapies nogiets van en in die natuur ontdek. En alweer grootmensgeswafel... Of tog 'n ernstige gesprek onder volwaardige burgers?]


„HELP! HELP! O, help my tog, iemand! He-elp! He-elp!” Shivana hou vas aan die een einde van 'n tou en probeer om met een been aan 'n boom ook nog vas te hou terwyl die tou stadig maar onwrikbaar deur haar reeds bloedige hande boontoe getrek word. En om haar een voet krul 'n lissie uit die res van die tou wat onder haar voete lê, en dreig om haar saam in die lug op te trek. Die tou loop twaalf meters in die lug op tot dit oor 'n tak omdraai en weer afkom.  Aan die ander einde van die tou hang koponderstebo Louise, wie se voet in juis so 'n strik vasgevang is. Sy is skynbaar bewusteloos want sy maak geen poging om weer regop te kom nie. Haar ander knie is geknik, en sy lyk soos 'n balletdanseres wat stadig-stadig piroeëtte draai; haar hande hang aanmoedig na binne gedraai. Haar gesig is onsigbaar want haar „lugtige somerrokkie” trek na onder en verdek haar kop.

    Oom Kobus kom in 'n boxer-broekie en onderhemp uit sy woonhut wat half-klaar gebou is, met skeerseep op sy kinnebak en 'n kierie in sy hand. „Wat gaan hier aan? Wie skreeu so?” vra hy blind in die rondte.

    „Help, Oom! Help tog! Louise hang in die boom, en ek is te klein om haar vas te hou. Sy trek my met haar gewig boontoe. Netnou val sy op die grond. Ek kan nie meer lank vashou nie!”

    Oom Kobus bly kalm. „Praat met my kind. Moenettie skreeu nie. Ek kom na jou toe...  Aag, jy's by die heuningboom. Ja, ek weet waar jy is. Ek kom so gou ek kan.” Hy ken sy tuin en kom sonder veel moeite gou by haar uit.

    „Hier's die tou, Oom.”

    Hy laat sy kierie los. „Ja, ja. Hettom.” Hy gryp behend na die tou, wikkel dit gekonnt om sy arm. „Laat jy nou los, en trek al hierdie oortollige tou onder my voete uit. Sovér jy kan, weg van my af. Agter die boom. Sê nou, hoe hoog hang sy?”

    „Ek, ek weet nie...”

    „Wat skat jy dan? So hoog soos ek? Tweekeer so hoog? Vyfkeer so hoog? Helemal bo in die boom?...”

    „Ek, ek sou sê drie, viermaal so hoog, Oom...”

    „Goed dan. Ek laat haar langsaam afkom. En jy sê my altyd hoe hoog sy is, hoor? Geskat. En as jy my die tou aangee, sê jy wanneer daar 'n knoop of 'n konkel in is. Is nou als onder my voete weg?”

    „Oom kan begin. Ses meters bo die aarde.” Shivana het tot besinning gekom.

    „Kobus! Waar is jy? Wat maak jy daarbuite? O, gonna!” Klara keer swaargewigtig om en loop terug in die hut om die noodhulpkissie en 'n kombers te haal.

    „Kinders,” klink Berenice se stem, „kom ons gaan andersom in die tuin. Kom, hier­langs, agter die bessiebosse om.”

-----☼-----

„Kyk hierso, ouens!” Matse hurk oor 'n uitgedroogde rotspoeletjie en roer met sy vinger aan 'n stuk droë tang wat met 'n fyn lagie poeiersout bedek is. „As ons iets, soos 'n stuk tang byvoorbeeld, natmaak en laat uitdroog, ontstaan 'n poeierlaag wat ons dan kan afstroop... in 'n sak of soiets... Miskien loop die proses vinniger af. Ek gaan eenvoudig tang en bossies en boomblare natmaak en hier in die son uitlê, dat dit uitdroog. Ag ja! En wie het Karel se ,apparaat' soos hy dit noem, met die skotteltjie en kladpapier?”

    Maarten snork net. Tussen al die geswafel het hy stil-stil net dít gedoen wat hulle eintlike voor­gehad, maar weens die kletsery vergeet het. Elkeen sou 'n saamgerolde kladpapier uit Meneer se kantoor in sy sopbord staan maak en daarin soutwater invul. En in die son en wind laat staan. Die ander drie sien dat hy hulle borde geneem en die vier ,apparate' reeds opgestel het. „Ek is daarvoor dat ons hierie droogmakery so laat staan soos dit is,” sê hy, „en die ent afstap tot die naaste huisies. Daar kry ons miskien iets wat nuttig kan wees. Elkeen het klippe op die vier hoeke van sy swartsak gelê om te keer dat dit nie wegwaai nie. Dus is hier in elk geval niks om te doen nie. Nie tot vanaand nie, dan kan ons sien met watter metode kom die meeste sout saam.”

    Op die harde sand naby die water loop die vier voormalige kannoniers
ouder­gewoonte in pas. Hulle weet nie wat om te verwag nie, en elkeen het sy rugsak op met 'n bottel water, 'n mes, 'n beker, 'n stuk brood en 'n appel of 'n paar geelwortels vir later. Soos hulle nader kom, merk hulle dat dit presies so 'n verlate niedersetting is soos wat hulle kon verwag het: Byna alles is uit hout, oud en verweer maar deeglik gebou; alles staan bokant die hoogwaterlyn, dig aan die eerste duin. Niemand te sien of te hoor nie.

    „Ek wou net sê, 'n kaal, onberoerde strand sonder voetspore. Maar ky'daar!” Boris wys na 'n ry verdiepings, en nog 'n ry, en nog... Hulle gaan kyk. Dis in elk geval nie spore van mense nie. „En hierie misbolle? Watse diere is dit?” Net dan hoor hulle 'n gebrul, hardop en naby. Tussen die houthuisies. En nog 'n lang uitgestrekte gebrul, gevolg deur 'n soort hikgeluid.

    „'n Leeu!”  „'n Beer!”  „'n Tier!”

    Hulle staan vasgenael; die hare op hul arms staan penorent. Dit kielie onaangenaam. Regs-agter hoor hulle 'n beweging in die sand agter die hutte, vorentoe ruis dit waar sand­lawine tussen die geboue van die duin af afvloei. En hier in die huis waarvoor hulle staan, stamp dit onheilspellend. 'n Reusekop verskyn in die stoep­venstertjie en twee yslike ore klap na voor uit. „Graa-aah-kie!”

    „'n Donkie!”

    Nie te lank nie en hulle is omsingel deur 'n dosyn grysdiere, oud en jonk, wat afstand hou maar tog nuuskierig 'n halwe stappie vorentoe snuif en weer terugdeins. Tot die deur van die huis met die stoep oopgaan, en twee besonders ou esels statig uitkom en die drie houttrappe afstap. Hulle skyn geen vrees te hê nie  minder as die jong mans, soos dit blyk  en stoot met die neus teen die rugsakke. Boris vryf oor die sydige snoet en growwe hare tussen die oë van die dier wat voor hom staan. Bas maak 'n paar treë in die rigting van een van die donkies wat ringsom staan. Maar hy skrik terug, maak groot oë en klap sy ore na vore.

    „Wee'julle wat,” sê Matse ingedagte, „Dis mos die werkdiere van die mense wat hier gewoon het. Daar onder die hoogstoep van die tweede huis is so 'n eselskarretjie, waar­skynlik vir die kinders van vakansiegangers. Strand-op en strand-af. En hierie oubaas en ounooi ken van mense  kyk hoe hulle bedel. Hulle weet, ons het iets lekkers in ons rugsakke! Die ander diere is eers gebore nadat die mense weggetrek het. Daarom is hulle so sku.”

„Hoe nou gemaak? Neem ons een van die huise as woning oor en werk van hier uit as hoofkwartier, of trek ons terug, en die donkies kom saam en verwilder geheel-en-al? Vat ons die donkies terug boontoe? En hoe bring ons hulle die berg uit? Of laat ons hulle hier agter vir 'n latere ekspedisie?”

    „Tja, wat maak ons met honderd donkies daarbo, waar die kos vir ons self skaars is? En waar kom skielik vandaan, hnnh?”

    Maarten trek sy skouers op. „Daar's 'n paadjie deur die duine tot die teerpad wat ons gekruis het om by die water te kom. Van daar af moet tog êrens 'n plek wees waar dit nie so steil is nie, 'n pas of soiets na bo. Ons pad ondertoe was miskien toevallig die steilste aan die hele kus.”

-----☼-----

„Hierdie ding van Marxisme en godsdiens laat my nie los nie: Dit pla my nog of ons dit nie tot die religies sou tel of nie. Kyk, hy het 'n hele reeks aanwysings gegee wat 'n aangename saamleef van die mense sou meebring  mening na. Ek meen Bahá'u'lah het ongeveer dieselfde tyd geleef en het 'n nuwe religie gestig.”

    „Dis 'n moeilike vraag. Rondom die middel tot einde van die neëntiende eeu, na westerse telling, was daar 'n hele ry mense wat vernuwings gebring het, maar geeneen het beweer dat hy 'n nuwe godsdiens stig nie. Slegs Bahá'u'lah word daar erken.”

    „Wat vir vernuwers was daar dan? Met so 'n hoë aanspraak?”

    „In die ou Kurdistan, 'n reuseryk in die westelike uitlopers van die Himalaja was iemand namens Gurdjieff wat waarlik voortstrewend was, alhoewel ek nie veel van hom weet nie; Rudolf Steiner in Oosterryk en die duitssprekende ruim, later die hele wêreld; Mohandas Ghandi, wat die titel Mahatma gekry het, met sy geweldlose weerstand; Mau Sedong, wat sy volk  volke moet mens sê  in die moderne wêreld hooggetrek het. Om nie te praat van dosyne ander reformators en vernuwers wat nie die paal gehaal het nie. Maar soos gesê, niemand wat 'n nuwe religie gestig het nie. Nie waarvan ek weet nie.”

    „Waarskynlik sou Marx dit ook nie wou hê om so genoem te word nie.”

     Hoewel dit nog nie winter is nie, is die abende al heelwat korter en koeler as 'n maand gelede, en die groepie op die stoep gaan in die halfdonkerte terug na hul kamers.

    Daar word werklik nie meer in die nag soveel gehuil en geskreeu nie.

©.14e. Mei 2015....................................-----☼-----..............................................................tje

(1610)(33850)



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

25
Ek gaan sommer daelik na die volgende hoofstuk.

Moontlike regstellings:

verdek haar kop. - bedek
konkel - kinkel
geswafel ?
verdiepings - holtes/merke
wat ringsom staan - in 'n sirkel staan?
voortstrewend - vooruitstrewend
reformators - hervormers
abende - aande
5 jaar 8 maande 5 dae 20 ure oud



Gedoria

deur Martha Maria Jones

Gedoria is my debuut digbundel. U kan dit koop by www.afrikaansenuusagentskap.co.za of u kan my kontak by 0760176453. Ek is tot alles in staat deur Christus.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar