Projek: Kombers
Weergawe: 1
Aantal woorde: 1318
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 14 May 2013
Nanna Skouwie sleep haar swaar lyf deur die nou paadjies van die blikhuisies. Sy ruik nie meer die vullis en stank van die “informal settlement” nie, dit is deel van hulle daaglkse bestaan. Sy sukkel om die deurslot van die sinkhuis oop te kry. As die gangsters weer by haar huis kom peuter het is die hel los! Sy het nie meer krag om hulle met die besem agterna te sit nie sy sal hulle onder die klippe moet begin steek! Na ‘n dag se harde char-werk, die stap huistoe, en haar geswelde bene, is sy iesegrimmig. Sy wonder as ‘n mens weer terugkom aarde toe of jy dan ‘n keuse sal kanl hê om ‘n man te wees. Die deur kraak oop. Sy skrik toe sy Mieta se gesig sien. Die oudste meisiekind van haar is papnat gesweet en sy snak na haar asem. “Ma help, help tog, die pyn, ek gaan dood ”! Sy besef die kind is in kraam. Haar vrugwater het al gebreek en sy is half histeries. Antie Sêra die vroedvrou, moet gehaal word, hospitaal toe is uit, hulle gaan dit nie betyds maak nie en die woord “statutêre rape” laat sien haar hofsake en vergeldingsaksie teen haar en haar twee kinders. As sy daardie drek vandag in die hande kry, span sy die stomp broodmes in!
Die besoeke aan haar blikhuisie, die beloftes van die man met met die wye lag, Vrydag pay, geskenke en TV wat hy aangedra het, was alles net om haar meisiekind by te kan kom. Dat sy so onnosel was om te dink dit was agter haar lyf wat hy aan was! Wat ‘n fout! Dit is eers toe Mieta vyf maande swanger was dat sy onraad vermoed het. Toe moės die kind praat. Nou sit haar meisiekind met die gebakte pere, en sy met ‘n vrag probleme, nog ‘n bek wat moet kos kry. Die staat se kindergrant sal skaars genoeg wees om ‘n sak of twee mieliemeel te koop met die pryse wat so die hoogte in geskiet het, wat nog te sê vir ‘n baba voorsiening te maak. Dan moet Mieta ook weer terug skool toe gaan. Hoe die kleintjie grootgemaak gaan word weet net die Vader! Dat die vuilgoed nou haar minderjarige kind op die paal moes sit en toe die pad vat , missing soos in missing, niemand weet waarheen hy is nie. Mans! Sy roep haar jongste dogter. “Toela, loop roep vir antie Sêra” …… “Ma ?” ….. “Toe, moenie staan en vrek nie!, nou net baar Mieta en ek kan nie die kleintjie alleen vang nie” Toela huiwer nog toe klap Nanna haar tussen die blaaie. “Is jy doof? hardloop en hou jou bek, ek wil nie die hele joint hier hê vir ‘n gratis show nie”. Toela se kaal voete jaag stof uit die paadjies. Sy hoop die klomp orige klongens keer haar weer soos verlede week voor nie. Sy is nie lus vir hulle rofgeit nie, sy wonder oor die baar. Gaan sussie se baar saam met die kleintjie uitval? Sy haas haar, nou sommer erg benoud vir ma se part. “Ek sê klimmyt, waar hol djy soe met daardie wippende sondaars heen, kom hier lat ‘n man bietjie die goetertjies kan betas. Djy is hoeka te opstêrs djy sal ingebreek moet word soos daai lekka sussie van djou” Die jong manne fluit en sit haar agterna." Los my uit….!" Sy lê rieme neer, die gomsnuiwers skreeuend agterna. “Kom hier, vang haar, die oester moet oop gemaak word!”. Vrees sit vlerke in haar voete en sy val byna die blikdeur van antie Sêra se blikhuis uit die draadkosyn. “Help antie help, Mieta se baar val uit, die kleintjie……ma sê…..” “Toela, shuddup en kom” . Sêra gryp haar sak en hulle vat pad. Onder die beskerming van antie Sêra kom hulle vyftien minute later by die blikhuis aan.
Om die huis staan ‘n laer kinders, dit giggel en stamp aan mekaar. Vrek nuuskierig. Mieta se gille weerklink bo die gedreun van musiek en dawerende TV uitsendings uit die omliggende huise. Van die kinders probeer by die venster inloer. Sêra is bekend daarvoor dat sy heelwat van die kinders in die gemeenskap, die lewe ingehelp het en sy stuit nie om hulle weer daaruit te help as dit moet nie, daarvoor slaan sy ‘n doodskoot. Haar oorlede man sou daarvan kon getuig, ongelukkig kan die dooies nie praat nie. “Voertsek julle klomp gemors, waa’s julle se ma’s, het jullie nie maniere nie! Gee pad hier, voorlat ek julle almal vrek slaan! “ Die kinders het al gehoor die grootmense fluitster so onder mekaar van antie Sêra se ou man Jakop wat so skielik stil geword het nadat hy een aand lekker dronk en vol bravade aan haar geslaan het. Oor die res van die gebeure word daar liefs geswyg maar dit is bekend, antie Sêra se slaan is soos ‘n muil se skop. Jou kanse op oorlewing… nul. Haar hande sterk van al die koppies vasvat en die kleintjies lang-nek die lewe in-trek. Van keisers en komplikasie was daar nog nooit sprake nie. Hulle spaander jillend uitmekaar: “Mieta kry ‘n baby, Mieta kry ‘n baby” skreeu hulle. Sêra klap die houtdeur van die sinkhuis toe, haar aandag word nou binne benodig. Met die spulletjie se ma’s sal daar vorentoe’n appeltjie geskil word. Of dit gaan help….. nouja dit is ook ‘n ander storie! Die lewe is maar rof en onbeskof hier in die states!
Mieta brul nou soos ‘n jong leeu. Nanna wil weghol, haar kind se pyn ruk aan haar. Haar ouma het altyd gesê as ‘n vrou kraam staan sy met die een voet in die graf en die ander voet op ‘n piesangskil. Toela sit bene opgetrek, grootoog in die hoekie van die kombuisgedeelte, doodsbeangs. Antie Sêra vat oor. Met jare se ervaring ondersoek sy vinnig vir Mieta . Sy is vol in kraam. Die volgende pyn laat Mieta weer gil: “Eina hooooooeeeee my maaaaaaa, help, einaaaaaaa.” “Haal asem Mieta en hou eers terug, die kop kroon, haal asem …….” praat Sêra vir Mieta die kraamproses in. Mieta gil nou so hard dat al wat ‘n maer hond is, stert tussen die bene op vlug slaan. Gedagtig aan vele moleste met erge gevolge vlug hulle, kruip onder plank skuilings en ou petroldromme in, ingeval kookwater of sambokhoue hulle kant toe kan val. “Hou djou blêrrie bek” skreeu die dronk buurman “Hoe de ma se hel wil ‘n mens TV kyk met so ‘n geskrou! Sy moes gawiet het daardie issie piesang speletjies nie, dit is doringdraad se kjind!” Antie Sêra brul terug: “Stefaans hou jy jou bek, as ek hier uitkom pos ek vir jou vir ‘n gratis visit na oom Jakob toe!” Doodse stilte daal oor die buurman se huis, vir permanente vakansie sien Stefaans nie kans nie. Hy sit die klank van die TV harder en vat ‘n paar ekstra slukke van die papsak om doofheid aan te help.
Nanna kyk met deernis af na haar eerste kleinkind. Hy is snoesig toegedraai in ‘n warm kombersie en sy vergewe alles en almal om haar. Soen die ou gekreukelde handjies, vryf die swart donsies plat en help om hom aan Mieta se bors te sit. Sy haal die swaar gespaarde honderd Rand uit, betaal antie Sêra met die wete, haar kleinseun is welkom. Alle kinders is ‘n geskenk van Bo! Sy sien Mieta is rustig en roep vir Toela. “Kom Toela, kom kruip agter ma se rug in, more is nog ‘n dag. Toe die slaap haar bekruip stuur sy ‘n dankgebed op. “Vader dankie dat my kind leef, dankie vir my kleinkind ………. Draadkar……sy glimlag….. vir sy asempie ok”. Dankie dat ons daagkliks soveel genade van U ontvang, ek weet, U sal voorsien”. Toe slaap sy sag en rustig, die tevrede slaap van ‘n nuwe ouma.