Kortverhale

Titel: GEKAAP
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dit is vir Arina Gouws al of die verkeer teen haar is op hierdie Saterdagmore. Sy kom nou net van die supermark af waar sy n paar inkopies gedoen het en is haastig oppad huis toe. Sy wil gaan wasgoed was, haar woonstel skoonmaak en dan net lekker ontspan na n week se harde werk en nou vang sy al wat robot is rooi. Gelukkig die laaste robot voor waar sy afdraai en trek sy in die linkerbaan in met haar linkerflikkerlig aan om voor die rooi robot tot stistand te kom.

Sy loer vinnig in die truspieël en lag vir haarself, sy moet nog hare doen ook en haar lang golwende swart hare vereis baie aandag. Oor die radio speel een van haar ou gunstelinge en is haar aandag vir n paar oomblikke aan die dwaal terwyl sy die robot stip dophou en met die vingers op die stuurwiel tyd hou op maat van die musiek wat oor die radio kom.

Uit die hoek van haar oog sien sy die drie mans vinnig van die sypaadjie aftree en dink sy eers dat hulle oor die straat wil loop voor die robot rooi slaan. Dan swaai hulle vinnig in en verskyn hulle by haar deur. Sy skrik haar asvaal toe sy sien die een het n pistool in sy hand en die volgende oomblik hoor sy net glas breek soos hy die venster stukkend slaan. n Reën van veiligheidsglas spat in die motor in oor haar en dit is of haar brein weier om te registreer wat besig is om te gebeur.

Die volgende oomblik word daar n hand ingesteek en is die hand dadelik op die sleutels om die voertuig af te sluit en blitsnel verskuif die hand om die deur van binne af oopgemaak
Alles gebeur so vinnig, voor Arina iets kan doen leun hy oor haar om die veilgheidsgordel los te knip en haar in dieselfde beweging vas te gryp sodat sy haarself nie kan verweer nie.

Sy ruik die stink asem toe die een oor haar leun om haar veiligheidsgordel los te maak en dan word sy met geweld uit die motor uitgepluk.
Sy hoor hoe die materiaal van haar bloes skeur soos hulle haar uit die motor uitruk. Motors om haar kom in beweging, die robot het dus groen geslaan. Agter haar blêr n toeter van n motor ongeduldig terwyl hulle haar op die harde teer neergooi. Die volgende oomblik is hulle in haar motor, skakel dit aan en trek met n vaart weg, sommer reguit aan, swaai voor n ander motor in, vermy dit rakelinge en jaag weg.

In n patetiese bondeltjie sit Arina op die teer met die motors wat verbyjaag, niemand steur hom aan die patetiese bondeltjie wat haar geskeurde bloes met een hand probeer toehou op die teer nie. Dan slaan die robot rooi en kom sy regop. Niemand steur hom aan haar nie en strompel sy tot op die sypaadje. Dan kom die motors weer in beweging en jaag verby.

“My God het ons so harteloos geword. Hier het tog mense gesien wat gebeur en het hulle nie daaraan gesteur nie. Nou jaag hulle by my verby en kyk net anderpad. Hulle kan mos sien ek het hulp nodig”.

Die motors kom weer by die rooi robot tot stilstand en stap sy nader om hulp te vra. Sy klop aan die venster van n motor maar die man maak of hy haar nie hoor nie. Die robot kan nie vinnig genoeg groen word dat hy kan wegkom nie.

Arina voel sy kan nie meer nie en bars in trane uit. Haar handsak, haar beursie, haar selfoon haar inkopies, haar motor, net verlede maand klaar betaal, haar alles binne n minuut van haar geroof en nou jaag almal by haar verby, te bang om betrokke te raak..

Hoe lank sy daar gestaan het weet sy nie maar besef sy dat sy nie die hele dag daar kan bly staan nie. Sy sal maar moet loop na haar woonstel toe al is dit nog ver.

Sy wil net begin loop toe n verkeersmotor by die rooi robot stop. Sy stap dadelik nader om hulp te vra, n man van die gereg sal tog help.

Die verkeersinsekteur het die vrou langs die pad gesien en het dadelik besef dat hier n probleem is. Hy het nou net oor die radio gehoor van n wilde jaagtog op die hoofweg waar van sy kollegas n Chevrolet Aveo agterna sit nadat hulle die voertuig van die pad af wou trek omdat hy oor n rooi robot gejaag het. Toe hy vir Arina langs die straat sien het die gedagte dadelik pos gevat of dit nie haar motor is wat gekaap is nie. Geen vrou sal net so langs die hoofweg staan nie en sien hy dadelik dat daar n probleem is.

Toe sy teen die venster wil klop is die venster klaar oop en die verkeersman leun na haar kant toe terwyl hy die deur oopmaak; “Klim in dame dat ek net oor die robot kom as die robot groen slaan. Ek sal daar stop en dan kan ons verneem waarmee ek kan help.

Sy klim in en net na die robot stop die man net toe die radio weer begin uitsaai: “Charlie Bravo Delta aan hoofkwartier. Die verdagte Chevrolet Aveo is besig om op sy spore terug te kruis na die hoofweg toe in die rigting van Soweto. Verlang bystand asseblief”.

Arina hoor net Chevrolet Aveo en gil; “Dit is my kar wat hulle jaag meneer”.

Die verkeersman gryp sy mikrofoon: “Bravo Sugar Alpha aan Charlie Bravo Delta, gee posisie asseblief ek kan hom dalk afsny”.

Arina hoor vaagweg hoe die ander verkeersmotor hulle posisie aangee ne dan vlieg die kragtige BMW weg met flitsende blou ligte en blêrende sirene terwyl die verkeersman sê: “Sit aan jou veiligheidsgordel. Dit kan rof raak maar ons gaan jou kar haal”.

Arina kry nog n waarskuwing uit; “Oppas hulle is gewapen”.

Die kragtige BMW klim op die Soweto hoofweg net toe die Aveo verby beweeg met die ander verkeersmotor op sy hakke. Die verkeersman gryp sy mikrofoon: “Ek gaa verby beweeg en voor hom insny en dan druk julle hom van agter af vas. Die eienares is hier by my in die motor en sê hulle is gewapen. Ek het haar te hulp gesnel na die kaping”.

Die Aveo het nie n kans teen die BMW nie en skiet die verkeersman voor hom in terwyl die ander verkeersmotor hom van agter af afsny. Die kapers het nie n keuse nie, die BMW is al voor hom in en dwing hom na die kant van die pad en tot stilstand.
Toe die Aveo staan staan die verkeersmotors saam met hom. deure vlieg oop en die skakers begin in die oop veld inhardloop.

Die verkeersmanne is ook dadelik uit en toe maak die een skaker n fout toe die manne agter hulle begin aan hardloop. Hy skiet in hulle rigting. Die verkeersman wat Arina te hulp gesnel het sak op sy knieë neer, neem korrel met sy vuurwapen wat blitssnel in sy hand verskyn het en neem korrel. In n sekonde druk hy die sneller en die man slaan neer, getref. Die verkeersman hardloop nader en sien hy het hom in die been geskiet. Boeie verskyn dadelik en die man word geboei. Die vuurwapen word met n stokkie opgetel en deur die een man aangedra na die motors toe terwyl die ander man die gewonde boef stut en ook naderbring.

Die ander twee kom weg want die twee verkeersmanne kan hulle nie agterna sit nie. Hier is nou ander dinge wat aandag vereis. Die polisie moet ingeroep word.
Die een man is ook dadelik op die radio om n ambulans en die polisie te ontbied.
Dit is terwyl hulle op die polisie wag dat Arina agterkom dat haar geskeurde bloes darem baie meer vertoon as wat dit moet. Haar verkeersman kom haar dillema agter, haal sy uniformbaadjie agter uit sy motor uit en gee dit vir haar. Sy trek dit dankbaar aan en dan stel sy haarself voor terwyl sy die verkeersmanne hand gee: “Baie dankie menere. Julle weet nie hoe waardeer ek wat julle gedoen het nie. My naam is Arina Gouws”.
Haar verkeersman neem haar hand: “Dit is maar ons werk Arina. My naam is Frikkie Groenewald en my kollega is Jan Breedt, die platjie onder ons verkeersmense”.

Jan staan nader: “Maar jy lyk te oulik in die baadjie. Jy wil nie dalk n verkeersbeamte word nie, jy sal die mooiste verkeersbeampte in ons departement wees”.

Arina bloos bloedrooi en stap na haar motor toe om te kyk vir haar handsak. Sy slaak n sug van verligting toe sy dit op die agtersitplek sien lê. Sy wil net die deur oopmaak toe Frikkie haar keer: “Aan niks raak nie Arina, jy kan vinger afdrukke vernietig”.

Die dag loop en na die aankoms van die polisie en die ambulans wat die gewonde onder polisie begeleiding verwyder is dit nog meer as n uur wat dit neem om verklarings af te neem en vir die forensiese mense te wag vir vinger afdrukke lig maar hoor Arina uiteindelik die welkome woorde: “Jy kan jou kar maar kry”.

Eerste wat sy gryp is haar handsak en is dit n sug van verligting wat ontsnap toe sy sien dat alles nog in haar handsak is.

Jan groet om weer met patrolliewerk te begin. Frikkie bied aan om haar huis toe te neem, n aanbod wat sy met dankbaarheid aanvaar.

By haar woonstel nooi sy Frikkie in want sy wil net gou iets anders aantrek sodat sy sy baadjie vir hom kan terug gee. Dit neem n paar sekondes en dan is sy terug in die sitkamer met Frikkie se baadjie in haar hand wat sy aan hom oorhandig: “Weereens baie dankie Frikkie. Ek weet nie wat ek sou gedoen het as jy my nie kom help het nie”.

Frikkie glimlag skamerig: “Is my werk Arina”.

Dan kom die gedagte by Arina op: “Kom eet jy en jou vrou vanaand by my. Dit is my manier van dankie sê vir jou hulp vandag”.

Frikkie glimlag: “Arina ek aanvaar die uitnodiging graag maar ek sal maar alleen kom, daar is nie n vrou wat kan saam kom nie”.

Skielik kyk Arina met nuwe oë na die aantreklike man, nog meer aantreklik in sy uniform. Haar hart bons skielik en haar kop sing tot haar ergenis. Sy bloos en sê dan; “Dan sien ek jou seweuur vanaand”.

Vir Arina word dit n dol middag om alles reg te kry vir die aand se ete. Tussen die kosmaak deur dek sy n aantreklike tafel met kerse, sit haar beste eetgerei op en gaan stort, was hare en trek aan in n rekord tyd.

Toe sy klaar aangetrek is bekyk sy haarself in die spieël en is sommer vies vir haarself : “Jy het die man net genooi vir ete. Mens sal sweer jy is verlief op die man soos jy jou beste voetjie wil voorsit”, baklei sy met haar self.

Sewe uur lui die klokkie en toe sy die voordeur oopmaak staan hy daar, netjies uitgevat in n swart langbroek en n wit hemp met n yslike bos blomme en n bottel wyn in die hand.

Sy sluit die veiligheidsdeur oop en Frikkie stap in en hou die bos blomme na haar toe uit: “Spesiaal vir jou om dankie te sê vir die uitnodiging”.

Arina neem die blomme, druk haar gesig daarin en trek die aangename geur diep in. dan kyk sy vir Frikkie: “Baie dankie Frikkie hulle is pragtig”.

Sy tree vorentoe en plant n piksoentjie op Frikkie se wang en dan kyk hulle vir mekaar. Dadelik weet albei dat dit die eerste van baie heerlike saam wees aande gaan wees want albei van hulle weet dat hulle mekaar beter wil leer ken.




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Kaping
Baie oulik geskryf, Neels, maar is dit nou dit? Of is daar 'n opvolg?
1 jaar 4 maande 6 dae 18 ure oud


Kaap
Wat 'n heerlike leesgenot!
1 jaar 4 maande 1 week 2 dae 21 ure oud


GEKAAP
Nou wonder ek wie het wie se hart gekaap.

Daar is seker 'n opvlog.
1 jaar 4 maande 1 week 3 dae 5 ure oud


gekaap
Soms gebeur dinge vir 'n rede,in die geval het liefde mekaar gevind... lekker gelees
1 jaar 4 maande 1 week 4 dae 17 ure oud


Gekaap
heerlik gelees, ja so gebeur dit elke dag, mense is tog te bang om betrokke te raak in ander se nood.. darem het die storie n positiewe einde... Dankie Neels
1 jaar 4 maande 1 week 4 dae 17 ure oud


Gekaap
Goed geskryf. Mooi einde. Sou net meer karaktersketse wou sien. Dit kon die storie verleng na 'n tydskrif kortverhaal.
1 jaar 4 maande 1 week 4 dae 18 ure oud


gekaap
Mooi opbou na hierdie voortreflike slot. Ja toe kaap sy sommer summier ou Frikkie se hart ook. Knap gedaan.
1 jaar 4 maande 1 week 4 dae 21 ure oud


Gekaap
Pragtige storie Neels. Dit bevat al die bestandele vir 'n goeie storie.
1 jaar 4 maande 1 week 5 dae 10 ure oud


kaap
'n lekker invalshoek waarmee jy die ontmoeting begin, vol aksie en geweld.
Gaan 'n lekker sorie word, dink ek!
1 jaar 4 maande 1 week 5 dae 17 ure oud


gekaap
Dis nou 'n lekkerlees storie vol spanning en romanse. Ek het dit baie geniet.
Dis eintlik ongelooflik hoe mense hulle self kan verontskuldig terwyl hulle by so n toneel verby ry. Ek wonder of ek self die moed sal hê om te stop?
1 jaar 4 maande 1 week 5 dae 21 ure oud


Gekaap
Mense wil nie meer betrokke raak by ander se probleme nie.Bang hulle word beseer of gedood indien hulle sou wou help. Ek ken daardie gevoel van absolute hulpeloosheid. In 6 jaar is 4 van my motors gesteel.
Hierdie was sommer 'n lekkerlees verhaal met 'n gelukkige einde.
1 jaar 4 maande 1 week 5 dae 23 ure oud



Die legkaart van ons lewe

deur hopeanointed

Jare se ervarings van diepe seer het ons geleer dat ons lewe ṅ legkaart is in God se hand wat Hy spesiaal uitgesoek het deur Sy liefde en genade om te voltooi. ṅ Legkaart, kosbaar en uniek waarvan elke stukkie sorgvuldig met tyd en geduld uitgesoek word om presies in plek te pas. ṅ Legkaart in bou om aan ṅ gebroke wêreld te wys dat Jesus Leef!



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar