Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dis laterig Saterdagoggend. Erika kyk vanaf haar strykwerk op toe sy vir Gerhard in die oop deur van haar woonstel gewaar en wonder of daar ‘n probleem is. Sy sit die strykyster behendig op sy agterkant op die strykplank neer en met haar hand nog steeds op die yster se handvatsel, kyk sy vraend na hom. “Nee, daar’s nie fout met my vrou nie,” sê hy. “Ek is besig om die braaiplek hier langsaan skoon te maak vir vanaand – ek kan nie op die naam kom van die musiek waarna jy luister nie.”
“Dance Macabre van Saint-Saëns.”
“O ja.”
Gerhard kyk na Fritz, sy Duitse herdershond, wat met sy kop op sy voorpote half onder die strykplank by Erika lê. “Kom Fritz – jy hinder vir Erika.” Die hond piets eers met sy stert ‘n paar keer op die vloer. Staan dan traag op en volg hom onwillig, kop omlaag na buite. Erika glimlag. Sy wonder of hy jaloers is omdat sy getroue hond haar geselskap opsoek.

Gerhard dra die braaihout uit die motorhuis en pak dit sorgvuldig onder die braaiplek. Annabel, sy rolstoelvrou, het ‘n paar vriende oorgenooi vir die aand. Hy voel altyd half verleë as hulle so langs Erika se sitkamer braai en raas in die aand. Erika woon in die oumawoonstelletjie aan die agterkant van hul huis.

Sy hunkering na Erika sit soos ‘n fisiese pyn in sy borskas. Hy het haar redeloos en reddeloos lief en hy weet dit kan nie. Hy weet nie wanneer dit gebeur het nie; het net op ‘n dag geweet dis hoe dit is. Vir die soveelste keer wonder hy of sy dit weet. Natuurlik weet sy dit! Hy lees dit in die behoedsaamheid van haar optrede teenoor hom as hulle soms toevallig alleen saam is in die huis se kombuis. Of waar ookal. En dan is daar die aand toe sy haar kortmou truitjie in die huis oor die sitkamerstoel se leuning vergeet het. Hy het dit opgetel en gewonder of hy dit buite na haar woonstel moes neem. Toe daarteen besluit. Dit het na haar geruik en troetelsag en vroulik in sy hande gevoel. Hy het dit met beide hande teen sy wang gedruk. Toe hy opkyk, het hy haar in die middeldeur sien staan. Vir hoe lank? “Ek het my trui kom haal,” het sy gesê.
Terwyl hy die braairooster skoonborsel, weet hy dat hy haar sal moet laat gaan, want dis die regte ding om te doen.

Drie jaar gelede, na Annabel se onderlyf in ‘n perdryongeluk verlam is, het hy geadverteer vir ‘n versorger vir haar. Hy is dikwels uitstedig as gevolg van sy werk en het iemand gesoek wat haar nie net bedags kon versorg nie, maar ook snags kon inslaap as hy nie tuis is nie. Iemand wat die leë oumawoonstel langs die braaiplek op die agterstoep kon betrek. Te danke aan die ruim ongeluksdekking wat hy jare gelede vir Annabel uitgeneem het, kon hy ‘n baie aanloklike salaris aanbied.

Erika was die hoeveelste aansoeker met wie hy en Annabel ‘n onderhoud gevoer het. En ook die laaste een. Sy was alles waarop hulle kon hoop. Sy was pas terug uit Engeland waar haar werkspermit verval het. Sy het ‘n seun en ‘n dogter op universiteit gehad wat van haar afhanklik was. Sy het haar man verloor toe die kinders nog op laerskool was. Sy’t ‘n woonplek en ‘n inkomste gesoek. En ‘n plek waarheen haar kinders vakansies kon kom. Sy was goed opgelei en het uitstekende getuigskrifte gehad.

Terwyl Gerhard die spreier aan die tuinslang koppel om die gras nat te lei, dink hy daaraan dat sy vrou haar rystoellot bo verwagting goed aanvaar en hanteer. Om die waarheid te sê, dit wil soms voorkom asof sy dit geniet om van kop tot tone bederf en bedien te word. In hul huwelik van neëntien jaar was dit ook nooit eintlik vir haar nodig om ‘n vinger te lig nie. Hy het haar ‘n jaar na sy eerste vrou se dood ontmoet. Sy was klein en broos en beeldskoon. Energiek en lieftallig. Hy was mal oor haar en sou die wêreld vir haar versit as hy kon. Klein Johann, sy oogappel, was ‘n knapie van so ongeveer twee jaar oud toe hy met haar getroud is. Sommer gou het dit geblyk dat Annabel nie opgewasse was teen die eise wat ‘n ander vrou se kind aan jou stel nie. Hy was vir haar ‘n irritasie as sy ‘n storieboek moes neersit om aan sy behoeftes aandag te gee. Gerhard het vir Anna as voltydse kinderoppasser in diens geneem. Twee jaar later is sy en Annabel se tweeling, Pieter en Heinrich, gebore en Anna het in die rol van voltydse huishoudster ingegroei. Maar Gerhard het ook agtergekom dat Anna vir Pieter en Heinrich voortrek. Anna en Annabel het ‘n alliansie teen Johann vorm en hy het daar magteloos teenoor gestaan. Terwille van die vrede het hy maar dikwels stil gebly. En met ‘n ongemaklike skuldgevoel jeens Johann rondgeloop. Johann was ‘n buitestaandertjie in hul huisgesin. Soos hy ouer geword het, het hy toenemend sy eie gang gegaan. Hy was ‘n ernstige, skrander kind en het uitgeblink op skool.

Dit was gedurende die Desembervakansie na Johann matriek geskryf het dat Erika haar intrek by hulle geneem het. Wilhelm en Elisabet, Erika se twee kinders, het dadelik met Johann vriende gemaak. Toe Johann se matriekuitslae kom, wou Annabel nie meedoen toe Gerhard sy gesin wou uitneem vir ete om dit te vier nie. Gesê sy voel olik. Toe kanselleer hy maar die tafelbespreking. Elisabet, wat aan die einde van haar eerste universiteitsjaar was, het vir Johann ‘n sjokoladekoek gebak en ‘Slim Kjeend!’ daarop met pienk versiersuiker geskryf. Wilhelm, twee jaar ouer as Elisabet, het vir hom en Annabel die aand in die huis kom roep en gevra hy moet sy swembroek aantrek. Annabel het verkies om in die huis agter te bly om haar sepie te kyk. Erika het ‘n foto van hom en die vyf kinders, haar twee en sy drie, geneem waar hulle halflyf in die swembad staan, elkeen met ‘n sny sjokoladekoek en ‘n glas pienk sjampanje in die hand. “Is Pieter en Heinrich nie bietjie jonk vir alkohol nie?” het hy gevra. “Die alkohol is net om te pose vir die foto, Oom. Hulle cola-on-the-rocks staan gereed,” het Wilhelm hom gerus gestel. Fritz het opgewonde met sulke tjank-blaffies om die swembad gehardloop, sy draai te kort gevat om die hoek en ingeval net toe Erika die kamera se knoppie druk. Twee weke later het Erika vir hom die foto gegee. Netjies in ‘n raampie. Hy het dit vir Annabel gewys. “Jy moet besluit waar jou prioriteite lê, Gerhard,” het sy kil opgemerk.
“Wat presies bedoel jy, Annabel?” het hy oorbluf gevra.
“By my en my kinders of by haar en haar kinders. Ek was nie deel van daardie vrolike foto-opset nie.”
“Hierdie foto handel primêr oor my en my oudste kind. Die opset waarvan jy nog nooit deel wou wees nie,” het hy net so kil teruggeantwoord. Hy het die foto op sy lessenaar by die werk staan gemaak. As aktuaris is sy werksure dikwels lank en baie veeleisend, en die foto met die stomme Fritz wat op die voorgrond in die water plons, laat hom altyd gelukkig en meer ontspanne voel.
.
Asof dit so hoort, het Erika daardie Januarie Johann se tas saam met haar twee kinders s’n gepak toe die universiteit begin het. Johann is saam met Wilhelm en Elisabet met ‘n passasiersbus Stellenbosch toe. Gerhard en die tweeling het saam met Erika die bus met die drie uitgelate jongmense staan en agterna kyk. Hy het uitgesluit gevoel. Eintlik wou hy graag self vir Johann weggeneem het. Hy het uitgesien daarna om alleen met hom op die langpad in die motor te wees. Om ietsie van sy eie studentejare met hom te kon deel. Om vir hom te gaan wys watter koshuiskamer syne was en waar hy sy ma vir die eerste keer gesien het. Maar Johann wou nie. Laat daardie aand het hy uitgestap in sy agtertuin en in sy hart met die Here gepraat: “Ontferm U in U groot genade oor Johann. Loop die pad elke dag saam met hom. Ek het gesien hoe kyk hy na Elisabet, al is sy ouer as hy. Moenie dat sy hart so jonk al breek nie. Maak hom suksesvol in sy studies.”

“Ai, Fritz! Het jy al weer aan die tuinslang gekou?” praat Gerhard goedig met sy hond. Daar spuit twee straaltjies water kort agter die spreier uit. Hy sal ‘n stukkie van die pyp moet afsny en ‘n nuwe koppeling moet maak. Hy sal gou vir Erika gaan vra of hy die lekker groot, skerp knipmes waarmee sy die anderdag voor haar TV sit en biltong kerf het, kan leen. Dan kan hy haar sommer vra of sy nuus oor die kinders het. Dis November. Hulle eksamens behoort al einde se kant toe te staan. Wanneer kom hulle huis toe? Wanneer is Johann se gradeplegtigheid? Elisabet hou haar ma op hoogte van alles. Hy glimlag as hy aan Johann en Elisabet dink. Hulle het onafskeidbaar geword. Hy kon nie ophou om hom aan sy eie seun te verwonder toe hulle die vorige vakansie hier was nie. Johann wat ongesiens ‘n man geword het. Wat rustig en sorgsaam teenoor Elisabet was. Wat vir Elisabet in die drie jaar wat verby is in volwassenheid ingehaal het. Wat ongestoord sy gang in die huis gegaan het en vir Annabel ontsenu het met sy volwassenheid. En hom trots laat voel het omdat hy sy pa is. Is dit wat ‘n vrou se liefde, Elisabet se liefde, aan sy seun gedoen het?

Voordat Gerhard aan die oop deur klop, sien hy dat Erika besig is om die strykplank op te vou. Sy lyk jeugdig in haar wit toppie, jeans en kaalvoete. In teenstelling met klein, fyn Annabel, is sy ‘n lang vrou. Hy verwonder hom altyd aan die grasie en veerkragtige ratsheid waarmee sy, ten spyte van haar vol, vroulike figuur, beweeg. Aan die gemak waarmee sy in haar langbroek op haar hurke afsak as sy die rolstoel se voetplate moet verstel. Aan haar sterk arms wanneer sy vir Annabel uit die rolstoel help. Hy klop liggies aan die deur. “Gee jy om as ek gou daardie groot skerp knipmes van jou leen om ‘n stukkie van die tuinslang af te sny?”
“Dit was my man se jagmes – ek is nogal heilig daarop,” sê sy, maar trek tog ‘n laai oop. Sy staar fronsend na die inhoud.
“Dis nie in die laai nie!” sê sy ontsteld.
“Jy’t dit seker maar per ongeluk op ‘n ander plek gebêre.”
“Nee! Dit was definitief in die laai.”

Erika stap na Gerhard toe waar hy besig is om die swembad se filter skoon te maak. “Het jy tyd om na my te luister, Gerhard?”
“Praat maar. Wat pla?”
“Ek is feitlik honderd persent seker dat Anna my mes uit my woonstel verwyder het. Ek het haar gister uit my woonstel sien kom en nou dat ek daaraan terugdink, weet ek dat die laai oopgestaan het toe ek later daar ingegaan het. Sy’t gesê dat sy my pos gaan bêre het – iets wat sy nog nooit vantevore gedoen het nie. Ek gaan haar Maandag daaroor konfronteer. Of sal jy dit doen? Anna is die afgelope tyd om een of ander onverklaarbare rede ooglopend vyandig teenoor my.”
“Miskien moet jy dit maar doen.”
“Nog iets: jy moet vir Annabel by ‘n sielkundige kry. Haar optrede raak by die dag meer en meer irrasioneel. Soms… dink ek sy’s effens waansinnig.”
Gerhard kyk haar ongelowig aan. Hoe is dit moontlik dat hy self niks gewaar het nie?
“Gerhard, ek gaan bedank. Ek dink ek is deels verantwoordelik vir haar… waansin. Sy’s jaloers op my. Sy sien my ongelukkig as ‘n bedreiging vir jul huwelik.” Erika voel hoe sy bloos. “Anna kan haar versorg. Sy het al drie jaar lank by my afgekyk hoe. Ek kan vanaf Januarie ‘n pos as matrone by die siekeboeg van ‘n ouetehuis kry.”

Gerhard staan lank byna verstorwe oor die swembad en uitstaar nadat Erika geloop het. Hy dink aan Annabel. Hulle is nog steeds op ‘n manier maats. Vandat Johann die huis verlaat het, is daar minder spanning tussen hulle. Sy is ‘n liefdevolle ma vir hul twee seuns. Hulle kan ‘n goeie aftrede saam hê. Hy sal alles aanwend om aan hul verhouding te bou; om van Erika te vergeet… Sy hart krimp meteens ineen. Dit voel asof hy by die graf van ‘n geliefde staan.

Gerhard gaan staan by Annabel in die kombuis waar sy in haar rolstoel langs die kombuistafel besig is om slaaie vir die aand se braai voor te berei. Sy hou van onthaal en is ‘n goeie gasvrou. Hy kyk na haar met ‘n nuwe voorneme in sy hart en met ‘n nuwe deernis. Hy sit sy hand op haar tenger skouer. “Erika het bedank.”
“Dis te laat, Gerhard!” Verbeel hy hom, of is daar histerie in haar stem? “Sy sal vir altyd deel van jou lewe wees. Jou geliefde seun gaan immers met haar dogter trou!”


ERIKA skrik verward wakker. Gerhard, Elisabet en Johann staan langs haar hospitaalbed. Dan raak sy bewus van die pyn in haar linkerbors en sien dat daar bloedwatertjies deur die laken sypel. Daar’s ‘n drup in haar arm. “Hoe voel Mamma nou?” hoor sy Elisabet besorg vra. Hoekom lê sy dan hier? Dan flits flarde onthou deur haar brein. Sy het Maandagmiddag (watter dag is dit vandag?) half gebukkend ‘n skinkbord met ‘n glas yskoue koeldrank na Annabel uitgehou waar sy in haar rolstoel onder die bome in die agterplaas sit en lees het. Sy was opgewonde omdat Elisabet gebel het om te sê sy en Johann het besluit om haar te verras en ‘n dag vroeër huis toe te kom. Hulle het nou net vir Pieter en Heinrich by die skool se tennisbane opgelaai en sal binne die volgende tien minute tuis wees! Die daaropvolgende gebeure is een warboel in haar kop. Anna was skielik daar en het haar van agter af om die skouers beetgekry. Annabel het met die jagmes na haar borskas gekap en haar linkerbors oopgeklief. Sy het gegil en die skinkbord laat val en het gesukkel om uit Anna se greep los te kom. Anna het haar vorentoe gestamp terwyl Annabel haar regterhand met die bebloede mes hoog opgelig het vir ‘n volgende aanslag. Fritz het vanuit die niet deur die lug gespring en op Annabel geland. Hy het haar aan die keel beetgekry en die rolstoel het agteroor geslaan. Skielik was die kinders ook daar. Hulle het gespook om die verwoede Fritz van Annabel af te trek. Anna het na haar gewys en geskreeu: “Sy wou vir mevrou Annabel met daai mes van haar doodsteek! Mevrou het die mes by haar afgevat!” Erika het weggedryf in ‘n genadige swartheid.

“Hoor Mamma my?” vra Elisabet. Erika knik liggies. Die trane loop onbeheers uit haar ooghoeke en in haar nek af. Dis meteens vir haar duidelik soos daglig dat Annabel en Anna haar wou vermoor onder die voorwendsel van selfverdediging.

Sy draai haar kop na Gerrit. “Annabel?” vra sy.
“Oorlede”, sê hy.
“Johann, gaan saam met jou pa huis toe. Die tweeling het julle nodig. Ek bly by my ma,” sê Elisabet.


Toe Gerhard sy motor op die stil, donker parkeerterrein langs die hospitaal oopsluit, ween hy in sy hart. Hy ween oor die tweeling se verdriet, oor Erika wat so bitter hartseer en geskend is en oor die getroue Fritz wat deur die polisie weggeneem is. Hy kyk oor die motordak vas in Johann se oë. Tussen hulle op hierdie louwarm somersaand lê die onuitgesproke wete dat nie een van hulle twee oor Annabel ween nie. Hy kyk in die lug op en sien dat die sterre helder en pragtig skyn.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Kommentaar
Uitstekend!!!Ek is besig met 'n kortverhaal skryfkursus. Ai sal ek ooit so goed kan skryf??
7 jaar 10 maande 4 weke 1 dag 13 ure oud


Tuiskoms
Ja kyk, Jezebel het gekry wat haar toegekom het. Net jammer ou Fritz het nie die medalje gekry wat hy verdien het nie. Ek het die verhaal ingedrink, van die begin tot die hartseer einde. Goed geskryf.
8 jaar 5 maande 1 week 1 dag 16 ure oud


TUISKOMS
UIT-FLIPPEN-STEKEND!!!! Tema, dialoog, trant, tempo, aanhef, opbou, klimaks en 'n gerustellende opgewonde einde! Leer my om ook so te skryf, agge toe, seblief man!
8 jaar 5 maande 1 week 2 dae 22 ure oud


GERHARD SE TUISKOMS
'n Boeiende verhaal waaraan ek heerlik gelees het! Dit voel amper of jy my vertel het van iets wat met vriende van jou gebeur het; ek hoop van harte alles werk vorentoe goed uit vir hulle.
8 jaar 5 maande 1 week 3 dae oud


MY KOMMENTAAR
MY KOMMENTAAR

Hoeveel goeie Erikas is nie al in die wêreld geskend deur jaloesie nie?

Hoeveel Fritze het nie al aangevoel watter gees in die hater dormant wag vir ‘n slag op ‘n dag?

Hoeveel getroue Gerhards kon ongeskrewe drome nooit droom nie?

Ek het so lekker aan jou verhaal gelees dat ek selfs trane uit my oë moes vee.

Dankie Elise jou verhaal het my verhaal die lig laat sien:

- - - - - - - -

Hy word wakker, met ‘n naarheid in sy sy. Sodra hy omdraai, word hy so naar, hy wil opgooi, maar daar is niks in sy leë maag nie. Dan draai hy weer terug en die verskriklike naarheid verdwyn so effens.

Hy lê en dink aan skool vandag. Derde periode skryf hy wiskunde toets, die eerste hierdie jaar in standerd nege. Die skool het maar twee of drie weke gelede begin. Wiskunde is een van sy sterk vakke, en hy is goed voorberei, maar dis die ongemaklike wetenskap chemie wat hom effens pla. Hy het nie regtig lus om allerhande simbole en syfertjies in sy kop te druk vir geen doel op aarde nie. Hy het al byna alles by die groot mense gehoor, maar nooit van die kodes vir suurstof of waterstof of stikstof of stofstof nie.

Hoekom dit nou ewe skielik?

Sy naarheid dwel weer op en hy verban chemie uit sy kop. Hy staar na die klein venstertjie en sien die lig is besig om te breek uit die nag se duister donker. Hierdie O en H en N en Ca en Mg en Hg en Ag en Au en . . en wie weet nog wat, is mos maar net elemente en dit is al draaiend in sy kop. Wat gebeur as verkeerde O2 met ander O2 in sy kop slaags raak. Miskien vorm dit ‘n tipe van ‘n atoomoorlog. Wat doen mens om dit te stop. Dit kan mos ernstig wees en jou miskien mal maak. Meneer sê alles op aarde, organies en aonorganies, is maar net kunstige kombinasies van die 92 elemente of is dit 94? Om te dink die 92 elemente maak dat jy kan dink en voel en proe en sien en hoor en gedagtes maak en beelde kan skep. Hy wonder wat gebeur as die goed deurmekaar word. Nee dink hy; so iets kan nooit gebeur nie; anders sou almal al mal gewees het. Elke ou is mos in beheer van sy brein en niemand kan dit versteur nie! Sy kommer oor sy misterieuse pyn het nou al redelik bedaar.

Die deur gaan oop, en sy liewe Ma kom in met die heerlike koffiereuk.

“En nou my kind, hoekom is jy nie al aangetrek nie?”

“Ma, iets is fout. As ek op my rug draai, dan word ek, dan word ek, verskriklik naar en iets steek hier in my regtersy.”

“Sy Ma druk so liggies hier en daar op die maag en toe sy aan die sykant druk, toe skreeu hy: “Eina Ma, dis mos seer.”

Een week later is hy eers uit die hospitaal na die blindederm-operasie. Hy moes langer as die ander daar bly. By die huis was sy kamer langs ‘n ander meisie se kamer wat in die bank werk. Hulle het mekaar baie goed geken en altyd lekker gesêls. Sy was effens kort, blond, pragtige wit vel en soepel sagte rooi lippies en ‘n stewige paar borste wat met mag en krag onder die bra inforseer moes word. Sy het blykbaar twee kêrels gehad, een in die dorp en ‘n ander in ‘n ander dorp. Niemand het ooit geweet wat nou aan die gang is nie, maar as die ‘buitedorpse-ou’ kom kuier is ‘meneer-in-die-dorp’, skaars. Hy was dus, volgens afleidings, die buiteperd.

Hy staan by die venster, in pajamas, met die bepleisterde wond nog so ietwat stywerig, maar oral is daar ‘n gejeuk, duidelike simptome dat die wond vinnig besig is om te herstel. Hy het so pas geskeer, tande geborsel, bietjie naskeer aangesmeer net om die brand uit te trek en sy hare geborsel.

Die deur gaan oop met ‘n geruk, sonder klop of enigiets en sy kom in met ‘n geswaai en lawaai, en slaan die deur toe.

“Ek hoor jy is t’rug? Ons het jou gemis, ek kom jou net gou gou groet.”

Sy gryp hom vas om die middel in ‘n stweige klem en soen hom met ‘n oop mond en ‘n tong wat soos ‘n ratelslang se stert giftig in sy mond rondtas na iets wat verlore is. Die soen hou aan en haar arms gaan om sy nek sodat hy nie kan terugdeins nie en haar liggaam word al stywer teen sy wond en dan begin haar onderstewe onder teenaan hom doelbewus al die slapende erotika in hom wakker maak met ‘n reeks torsale stampe. Hy weet eintlik nie wat om te doen nie, maar die groet word al langer en meer aangenaam en toe begin sy hart klop soos ‘n tom-tom-drom, doef doef doef en sy hele lyf begin bewe en dit voel asof die sweet op sy voorkop wil uitdring op soek na ekstra vars lug. Sy brein het gestop! Dit staan stil!

Net so vinnig as wat sy ingekom het, los sy hom in hierdie passievolle droomwêreld en al heup-swaaiend is sy by die deur uit en klap die deur toe. . met ‘n “Sien jou na werk.”

Die volgende oomblik is sy Ma daar. “Sjoe, dit was amper!” . . . . dink hy. Sy moes seker voetstappe hoor aankom het terwyl hy in die verlore wêreld rondgedwaal het.

“Is jy oraait my kind? Jy lyk asof jy ‘n spook gesien het? Ek sien Rina was hier? Is daar iets verkeerd? Hoekom het sy hier uitgestorm? Wat het gebeur? Is jy nog seer? Moet jy nie bietjie gaan lê nie?”

Die masjiengeweervrae van sy Ma was ooglopend angstig om te bespeur wat het sopas hier gebeur.

Hy was altyd ongelooflik eerlik met sy Ma en ewe skielik weet hy, dat hy nie mag praat nie, en draai vinnig om en mompel. . . iets soos: “Ja miskien moet ek maar nog so bietjie lê.” Dit was eerder ‘n skaakskuif om uit skaakmat uit te skuif omdat hy sy Ma se oë wou vermy, want sy sou sekerlik in sy oë kon sien wat vandag met haar seun gebeur het. Hy neem doelbewus langer en stadiger om bed toe te beweeg om sy gedagtes en sy asem en sy bloed en sy brein en sy hormone en sy senuwees en sy ore en sy liggaam en sy siel en sy gees en sy bloos en sy heuk en sy wond en sy bewe en sy bene en sy hande en sy ervaring en sy skok en sy blydskap en wie weet nog wat se alles, tyd te gun vir herstel.

Hy ly aan bomskok!

Hy glip onder die laken in en besef dat hy ‘n ereksie het en hy voel hoe hy pers en rooi bloos, dinkende dat sy Ma dalk dit sou gesien het.

“Ek dink nie jy moes uit die bed opgestaan het nie. Dr Breedt het gesê dat dit ‘n lang operasie was met komplikasies en dat jy eers oor nog twee weke skooltoe mag gaan. Hier is jou kos.”

Toe eers besef hy wat om hom aangaan. Sy sit die kos neer en met opdrag: “Moet nou nie te haastig wees nie, moenie dat iets jou ontstel nie.” . . . is sy by sy kamer uit.

Sy vermoed iets, maar is diplomaties genoeg om die slagveld te verlaat. Hy is ge-offer! Is hy?

Sy brein is in eerste rat. Hy ruik haar heerlike parfuum aan hom vasklou en hy wonder of sy Ma dit ook geruik het? Hy proe nog haar sagte lippe en lipsel en wonder of dit nie dalk wys nie. Hy adem nog haar soet asem in sy longe. Dis hoe hulle een gees word, dink hy. Hy sak terug in die kussing en ‘n skelm glimlag draal om sy mond. Dit is iets wonderlik wat sy hom gegee het. . . . ‘n brein behandeling. Sy hele brein en lewe is in sekondes verander. In sekondes was hy in die volwasse wêreld. Nooit sal hy haar kan vergeet nie!

HOE

jy dit reg kon kry
my lewe wonderwerk verwerk onbeperk
jou siel op my kon instigeer
pienk tong angstig inforseer
begeerte na jou verewig
my balans versteur kleur en geur
warm vlees blonde haar bloue blou oë
is jy Delila, Lilla, Lillith, Incubus of Succabus, of net ‘n droom
my gedagte annekseer in nuwe liefde teer
vir ewig saam met my sal woon
hoe ‘delete’ ek ione protone en neutrone
of is dit ‘n sagte beeld van eva in quarks diep in my wese
eerste liefde laat ontdooi op soek na mooi
hierdie gedig is net vir jou
dankie vir skone beelde onthou ontvou ontbou
jy ewig in my regter sy.
8 jaar 5 maande 1 week 3 dae 22 ure oud


=0
wow wat 'n storie en 'n half.... jy mag maar hoor. ek like.
8 jaar 5 maande 1 week 3 dae 23 ure oud


Gerhard se tuiskoms
Sjoe, WOW, wat kan mens se?! Ongelooflik, aangrypend, pragtig, seker amper die beste wat ek nog gelees het, sommer net PUIK!!!
8 jaar 5 maande 1 week 4 dae oud


Kommentaar
'n Baie boeiende verhaal en baie goed geskryf.

Vonnie
8 jaar 5 maande 1 week 4 dae 1 uur oud



Sielswoorde

deur Driekie Grobler

Voedsel vir siel - 20 Christelik-geinspireerde gedigte voorgedra deur Jana Swart.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar