Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Rooi staan vir gevaar en gevaar laat jou kriewel. ‘n Rooi lap is soos om ‘n bul te terg, maar ‘n rooi lig beteken dubbel gevaar. Moenie ‘n rooi BMW weggooi nie oooo neeee. Vra my ek weet, Net die blote gedagte daaraan laat dit steeds kriewel hier agter my rug. Gevaar kom nie altyd met enige rooi waarskuwing nie. Somtyds is daar ‘n groen lig vir jou wat veiligheid beteken en ‘n ander iemand ignoreer sy rooi gevaar ligte en dan beland jy saam met hom in die gevaar. Ja-nee ‘n gevaar oorval jou soos asof jy skielik wil naar word in ‘n besige inkopie sentrum. Maar wag laat ek nou nie die gevaar storie van sy gatkant begin nie. Laat ek die gevaarte van sy tande kant aanpak.
Sien die dag se dinge het alles so begin. Dit het begin om 2h30 in die nag toe ek wakker word van die telefoon se aanhoudende gelui. In daardie dae was daar nog nie selfone nie, net landlyne. Schatsie (vir die wat nie weet nie, is my lieflike wederhelfte) het die vorige dag die kamer se meubels verskuif, gevolglik staan die bed nou nie meer soos hy gewoonlik staan nie en die kas ook nie. Die kamerdeur is nou eintlik heel uit posisie en in ‘n ander rigting van my normale koers. Waarom die meubels omruilery weet ek nie. Seker maar ingebou in die eva geslag se dinge. Half deur die slaap en droomwereld spring ek op uit die bed, en bestorm die telefoon wat in die voorportaal staan, want as die telefoon daardie tyd van die nag lui beteken dit mos net een ding. Dit is mos nou doodsake aan die anderkant van die lyn. Ek loop my egter amper disnis teen die kas vas. My een groottoon tref dit eerste en toe my voorkop met ‘n knal dat dit klink of ‘n geweerskoot afgaan. Schatsie skakel haar bedliggie aan sodat ek darem die padkaart na die deur kan kry om die luiende telefoon te beantwoord. Ten spyte van die knop wat besig is om te groei op my voorkop en my toon wat pyn asof dit afgesit is, probeer ek my pose hou toe ek die telefoon antwoord met so ‘n vriendelike stem wat onder die omstandighede moontlik is.
In daardie tyd was ek ‘n Stadsklerk, Stadstesourier en sommer “jack of all trade” van ‘n klein Overbergse dorpie met die naam van Greyton en as iets iewers verkeerd geloop het in die dorpie was ek sommer die nr 1 om te skakel.
Die gesprek oor die telefoon was egter soos volg: “Hallo” antwoord ek heel vriendelik “Where is my leiwater?” hoor ek die ou op die anderkant van die lyn. Ek hoor hoe dit reen buite en verduidelik dat as dit reen sluit ons die leiwater , want anders loop die slote oor en veroorsaak skade, maar die persoon aan die ander kant gee nie bes nie. “Well I like the sound of the leiwater running past my house”. “Well sir you can now listen to the sound of the rain”, antwoord ek, baie voldaan en eerbiedig. “But my ducks like to swim in the leiwater”, kom sy antwoord so ‘n taamlike bietjie ge – irriteerd. “Well sir that is firstly illegal and secondly I think you must fill your bathtub and put your ducks in your bathtub, good morning as it is now nearly 3h00”, antwoord ek taamlik ge –irriteerd terug en sit die gehoorstuk neer.
Ek keer terug kamer toe om my welverdiende nagrus verder voort te sit.
Ek was weer net lekker in droomwereld toe ek met ‘n gepomp hier in my ribbekas wakkerskrik uit my droom op ‘n kritieke moment. Die droom kan ek nie nou hier oorvertel nie, want anders klassifiseer Woes dit dalk as pornografie. Om uit my pornografiese droom wakker gemaak te word met ‘n pomp in die ribbes was egter net die voorspel tot iets baie ergers die Maandag oggend.
Ek gryp die paaltjie wat altyd hier langs my bed staan en wil koers kies na die deur, maar loop my weereens vir ‘n tweede keer amper disnis teen die kas. “Wat makeer jou nou” roep Schatsie my tot bedaring. “Man ek dag daar is ‘n inbreker in die huis soos wat ek wakker word van jou gepomp in my ribbekas wat nou seker ook blou moet wees”.
Wel, sy vertel agterna dat ek sulke rukkings, voetskoppings en onaardse geluide gemaak het dat sy gedink het haar man is besig om die emmer te skop sonder dat hy sy “bucket list” voltooi het. Wel, na daardie woeste droom kon ek, dalk maar die emmer geskop het, net jammer ek het nie die droom kon klaar droom nie. Wie weet wat dan nog kon gebeur het.
Op ‘n vorige keer wat ek gedroom het, het ek my verbeel ek is ‘n resiesperd wat wortels gevoer word en op een of ander wyse was Shatsie se een vinger toevallig hier naby my mond se kant rond. Hoe dit ookal sy, ek het haar vinger toe in my droom aangevoel as ‘n wortel en ‘n lekker vet hap gevat. Schatsie het gevolglik gegil van pyn en skrik. Met haar gil het ek self uit die droom wakker geskrik en besef daar moet sekerlik ‘n inbreker in die huis wees dat sy so ‘n gil gee dat ek uit my diepe slaap wakker skrik en uit die bed gevlieg het.
Sy het toe die lig aangesit . “ Wat de josie gaan met jou aan “, wou sy weet. “Nou vir wat gil jy so asof daar ‘n inbreker is”, wou ek toe weet.
Uiteindelik het die gevaarlike nag gewyk en word dit dag. Plaas dat ek die gevaarlike dag net in die bed gebly het dan sou ek al die gevare misgeloop het wat daardie dag nog gebeur het.
Ek staan egter op uit die gevaarlike nag met ‘n nog steeds pynende toon, kloppende twee knoppe op my voorkop en blou gestampte ribbekas. Daardie dae het ek nog das gedra werk toe. Ek sit toe my mooi rooi das aan, menende dat almal moet sien ek is gevaarlik en hulle moenie vandag met my staan en sukkel nie.
Dit het nie veel gehelp nie. Die eerste probleem kom toe die kantoordame by my kantoordeur verskyn en se. “Meneer die rekenaar het ‘n duiwel in sy ingewande vanoggend en die duiwel homself vloek vir my”. “Ontkoppel die helsim en laat hulle dit in my motor plaas dat ek dit na die rekenaar dokter toe kan neem sodat hy die duiwels kan uitdryf”. Dit is natuurlik op ‘n groter dorp en ek sal dit maar bietjie later in die dag moet doen nadat ek eers al die dag se gevaar vure doodgeslaan het.
Dan laat weet die kassier ou auntie Bessie is hier voor en wil meneer sien. Sy wil nie se wat en waarom nie. (Sy is ‘n oujongnooi en die dorp se grootste ou skinnerbek en koerant op twee bene.) Stuur haar tog maar deur laat weet ek die kassier.
“Meneer” val sy weg met eers ‘n sug, “die jeug van vandag laat my sommer kriewel.” “Miems se dogter is mos nou innie annertyd sien en die jeugdige knapie wat daarvoor verantwoordelik is, die is nou skoonveld.” “Dominee het ook al probeer help.” “Ek se vir dominee dis oorlat daar nie meer deesdae sensuur is nie lat die jeug so jeukerig en kriewelrig raak”. “Maar wag laat ek nou nie meneer ophou nie, jy het seker baie anner werk sien”. “Meneer weet die Pieterse het mos sewe kinners almal opmekaar soos orrelpypies.” “Arme vrou wat ok so ‘n kriewelrige mansmens het”. “Nou meneer sien ek het mos ‘n straatlig voor my huis, maar dit is al die afgelope drie dae uit en nog nie reggemaak nie.” “Dit het vantevore ok gebeur en nou het ek mooi gekyk innie aand as ek die orrelpypies sien speel in die straat. Jou wrintiewaar terwyl ek hulle so deur die venster dophou sien ek hoe gooi die langste enetjie van die orrelpypies die lig met ‘n klip uit nadat hy eers ‘n hele paar oeffenhoue gegooi het.” Aai meneer die jeug van vandag laat my sommer kriewel. Ek weet nie wat in hulle ingevaar het nie.” “Nouja meneer sal nou seker sorg dat geregtigheid geskied met die jonge jeug en sien lat my straatlig sal regkom.” “Is ma al wat ek self vir meneer wou kom se.” Met die geselsie is aunt Bessie weer vort op haar rondtes.
Die werkevoorman is volgende op die radio. “Meneer die polisie sersant het die trekker wat die riool uitsuig tenkwa trek gestop hier in die hoofstraat en alles deeglik ondersoek en weier nou dat hulle verder daarmee ry, want die een voorwiel kan dalk bars asgevolg van ‘n knop daaraan. “Man se vir hom ons sal ‘n ander band optrek, maar hulle moet nou eers ontslae raak van die riool”. “ Meneer ooo gaats!, die trekker het nou net hier weggetrek en tien tree gery toe bars die wiel”, kom dit oor die radio.
Die kantoor dame herinner my daaraan dat voordat ek ry ek eers die tjek vir die lone moet teken en ‘n handtekening by een van die 6 raadslede moet kry. Omdat ek die oggend vir oefening en bietjie vars lug gestap het is my motor by die huis. Ek kan nie nou die voorman pla om die tjek te laat teken nie, omdat hy besig is met ‘n noodtoestand om die stank uit die hoofstraat te kry. Hy is besig om die riooltrekker se band te herstel sodat die reuk waaroor daar sekerlik ‘n klagte sal kom uit die hoofstraat verwyder kan word.
Ek sal maar gou dapper en stapper moet gebruik om die tjek te laat teken by die naaste raadslid. Toe ek voor by die Munisipale kantoor uitstap sien ek die meterleser se fiets daar staan. Hy het gevra dat aangesien die fiets nou al afgeleef is en sy beste dae gesien het of daar nie ‘n nuwe fiets aangeskaf kan word nie. Verkieslik ‘n bergfiets aangesien die dorp sulke skuinstes het waarteen mens nie so maklik met ‘n gewone fiets kan uitkom nie. Die raad het egter sy versoek na lang beraadslaging by die begrotings vergadering afgekrap om uitgawes tot ‘n minimum te beperk. Belastings moet so laag as moontlik gehou word. Nou boikot hy die fiets en stap liewer sy meterlesing rondtes.
Ek gryp die fiets en sit af na die raadslid vir die handtekening op die tjek, want ek is haastig. Ek ry op volle spoed die afdraentjie af toe ek by die stopstraat op die hoek kom gewaar ek die fiets het geen remme nie. Al genade is nou om so ‘n wye draai om die hoek te sny en bid dat daar nie ander verkeer op die rustige dorpie is nie. So gemaak so gedoen, maar dit is mos nou my gevaar dag en ek het my nuwe werkspak en rooi das aan wat hier agter my nek iewers wapper as ‘n gevaar teken. Toe ek so in die draai is verskyn die polisie wa gedoriewaar hier skuins voor my waar ek die draai wil sny met einste dielselfde sersant agter die stuur. Genadiglik mis ek hom met so ‘n voet of twee en kry nou nie meer my draai nie. Ek beland gevolglik met my fiets en al binne in die leiwatervoor aan die anderkant van die straat reg voor tant Miemie se Indraf kafee. Ek sien die sersant klim uit die wa en gewaar aan sy rooi gesig en uitdrukking hy is vandag op die oorlogspad met die Munisipaliteit se Stadsklerkie. Ek kry daardie snaakse gekriewel hier op my maag wat na my keel toe opstoot.
Verdediging is die beste verweer en ek trek sommer eerste los. “Hoe kan jy met die polisie vangwa teen so ‘n gevaarlike spoed hier in die strate ry”, val ek weg met die deur in die huis. “Die pad was skoon toe ek opkyk en afkyk in die straat en toe ek weer sien is jy op my”. Ek skud die water van die leivoor uit my skoene en broekspype. “Ek kan ook nie help dat die fiets se remme gevaal het nie, dit het die ander dag nog gewerk”. Die sersant het egter gesien hy beter niks se nie en omgedraai, in sy voertuig geklim en gery. By daardie tyd het almal uit die kafee gestorm om te sien waaroor die groot herrie gaan.
Die polisie sersant het lankal sy mes in vir die munisipaliteit. Dit het ‘n hele tyd gelede ontstaan deurdat ek en hy koppe gestamp het. Daar was ‘n groot poel in die rivier op die munispale meentgronde en hy het altyd ‘n man gehad wat die waterblomme daar gepluk het en dan het hy dit op die buurdorp, Caledon gaan verkoop. Sommer in die poeliesvan deurgevat as dit hofdag is daar. Die Raad het toe besluit dat die Munispaliteit dit self moet pluk en dan deur die kantoor moet verkoop aan die plaaslike inwoners.
So gemaak so gedoen en ‘n kanoe is by een van die raadslede vir die doel verkry. Dit was ook nie lank nie toe roep die voorman my op die radio. “Meneer die sersant het die twee manne wat waterblomme pluk se kanoe en waterblomme gekonfiskeer en hulle het die kanoe na die polisie stasie laat dra deur die hoofstraat.” Ek skakel toe die polisie stasie en versoek dat die sersant na my kantoor kom om die saak te bespreek. Maar nee, ek moet na hom toe kom. Nouja hy is dan nou die gereg. So, gewapen met my Munisipale ordonansieboek sit ek toe af soontoe. Daar gekom vertel hy my dat die munisipeit nie ‘n lisensie het om handel te dryf nie en daarom nie die waterblomme mag pluk en verkoop nie. Ek slaan toe die ordonansieboek oop en wys dat daar staan dat ‘n munispaliteit het nie ‘n handels lisensie nodig nie.
Ek vereis toe dat hy die kanoe in die vangwa laai, my manne terugvat en die waterblomme teruggee anders kla ek hom aan in terme van die ordonansie dat hy die munisipaliteit verhinder in die uitvoering van sy pligte. Nodeloos om te se dat toe was die sersant so kwaad soos ‘n gevaarlike slang wat jy aan sy stert vang en wil gif spoeg. Nou moet hy in die hoofstraat afry ten aanskoue van die hele dorp om te verhoed dat hy nie self aangekla word nie.
Die volgende is ‘n telefoon oproep van die aanvallige geskeide vroutjie. Sy het haar wasgoed opgehang op die wasgoed draad en ‘n rukwind het van haar onderkleertjies en haar sykousbroekies opgeraap en in die groot akkerboom wat voor haar huis langs die straat staan se takke ingewaai. Dit lyk nou baie sleg en onooglik. “Sal die voorman dan nie met daai lang uitskuif stok van hom dit uit die boom kan haak nie,” wil sy weet. “Jy weet daai stok wat hy die krag by die kragpaal aan en afskakel.” Ons noem dit ‘n link stick korigeer ek haar toe en verduidelik dat dit nou nie eintlik die munisipaliteit se werk is nie, maar aangesien die kledingstukkies nou onooglik in die straat gaan vertoon sal ek hom vra of hy kans sien vir die gevaarlike taakie.

Die volgende is die waterfiskaal en skutmeester wat na die leiwater en rondloper diere in die dorp moet omsien wat my wil spreek. “ Nou wat is die probleem Basil?” wil ek weet. “Meneer sien, die probleem is dat daar is ‘n man wat kla dat meneer se een raadslid leiwater steel deurdat hy ‘n klippie sit onder die plankie in die sloot wat by sy dam verby loop sodat daar durentyd water in sy dam inloop en nie net die ure waarop hy geregtig is nie.” “Nou wil hy meneer se raadslid inwag en met die graaf slaan as hy die klippie insit.” “Nou Basil is dit werklik so”, wil ek weet. “Ja meneer dit gaan al lankal so aan.” “Goed Basil ek sal dit by die volgende raadsvergadering onder die raad se aandag bring vir die gepaste stappe en optrede en hoop hulle slaan nie intussen mekaar dood met die grawe.”
“Nou het ek ‘n ander probleem Basil, tannie Groenwald het my geskakel en gal gebraak oordat mnr. Le Roux se koei al haar groente en blomme deur die nag afgevreet het en nog steeds in haar tuin wei in pleks daarvan om op meneer le Roux se erf te wei”. “Jy moet nou die koei gaan skut en bepaal wat die skade aan Mev. Groenewald se tuin is”. Met ‘n, “goed meneer”, is hy daar weg.
By myself wonder ek wat hierdie gevaarlike dag dan nog gaan oplewer.
Nou moet ek die rekenaar wat nou verander het in ‘n neukenaar terugneem na die verskaffer, aangesien dit nog onder waaborg is voordat daar enige verdere gevaartes sy kop uitsteek of vure uitslaan in die dorp, besluit ek.
Nog voordat ek voor die verskaffer kan stilhou moet ek eers deur ‘n robot kruising beweeg. Die robot lig wys eers oranje en toe vir my rooi wat gevaar beteken en ek stop soos ‘n wetsgehoorsame burger. Die lig gaan oor na groen en ek staan heel voor in die string voertuie wat wag. Ek beweeg so ‘n halwe meter vorentoe en slaan remme aan, want amper sien ek nie die rooi BMW gevaarte wat oor die oorbrug teen ‘n stink spoed aankom nie. Teen daardie spoed weet ek dat hy onmoontlik by die rooi robot betyds kan stop. Intussen het al die motors agter my begin toet vir die dom plaasjapie wat remtrap vir ‘n groen lig. Die een agter my het amper my agterent gesoen.
Die BMW slaan te laat remme aan dat die rook onder die bande uitslaan en skuur met skreuende bande so ‘n meter voor my motor se neus verby. Die BMW staan einlik so op sy neus met die agterstewe in die lug soos ‘n skerpioen wat gevaarlik reg is om te steek. Die vrou wat aan die linkerkant voor sit het so half onder die paneelbord verdwyn en die kind op die agtersitplek se kop het ook iewers heen verdwyn. Hy kom so ‘n ent verder tot stilstand en begin agteruit stoot deur die rook newels. Dit ruik die ene asof daar ‘n betoging aan die gang is en hulle bande brand so stink dit. Die man hou so reg voor my stil en beduie ‘n verskoning. Ek wou eers uitklim en hom ‘n stukkie van my breinuitspoeling gee, maar besluit dit sal nie nodig wees nie. Sy vrou het weer terug gekruip in haar sitplek en die manier wat sy haar vinger onder sy neus rondswaai en die oop en toegaan van haar mond soos ‘n guppy vissie op droe land laat my besef hy sal nie ligterlik van die foutjie van hom afkom nie. Hy is in vir ‘n groter gevaar van sy vrou se kant af.
Intussen het die getoetery agter my genadiglik opgehou, want almal het nou besef wat gebeur het, of wat nie gebeur het nie. Die groen lig het intussen oorgeslaan na oranje en toe weer rooi vir gevaar. Toe hy weer groen word kon ek darem wegtrek met ‘n voet wat liggies bewe op die brandstof pedaal. Die gekriewel op my maag begin eers toe ek besef hoe naby aan bokveld toe ons was. Schatsie het op die laaste besluit sy en die kinders ry sommer saam as ek die neukenaar gaan laat herstel. Sy het gese,”Ek wou nog vir jou vra hoekom stop jy by die groen robot lig.” “Sjoe! Dit was amper of ons was bokveld toe” is al wat my Shatsie kon uitkry toe ons uiteindelik wegtrek. Ja gevaar is nie altyd rooi nie, somtyds is hy groen ook.
Ek het gehoop dit was die laaste gevaar, maar helaas ek was heel verkeerd. Ons het ‘n klein brakkie gehad wat in die nag in die huis geslaap het, maar bedags was sy maar buite op die erf. Omdat dit reeds donker was toe ons terugkeer van ons rekenaar herstel uitstappie kry ek ‘n buurman op my perseel se oprit na die motorhuis. Ek het geweet hy was bietjie baie lief om die arm te lig. Hy kla toe dat my hond aanhoudend geblaf het en hy kom ondersoek instel het. Ek kon ruik aan sy asem dat die whisky bottel die aand redelik gesak het. Ek kom toe agter dat daar twee werkers is wat tuinmaak op die langsaanste erf en dat dit nou hulle leibeurt is en hulle besig was om met ‘n lantern die aartappels nat te lei. Ek wou nog verduidelik, maar besluit daarteen toe ek voel die man druk nou iets hier teen my ribbekas wat steeds blou is van die oggend. By nader inspeksie en latere ondersoeke blyk dit ‘n .38 rewolwerloop te wees. Ek versoek toe vinnig vir Schatsie om die kinders dadelik in te neem huistoe terwyl ek so versigtig moontlik met my buurman na sy huis beweeg en inhaak sodat hy nie dalk struikel en ‘n skoot deur my ribbekas jaag nie. Ek voel die koue sweet tap my af en ek kry daardui naare gekriewel op my maag en agter my rug. Nadat ek hom veilig by sy voordeur in het en in sy vrou se sorg gelaat het skakel ek die polisie met my tuiskoms en verduidelik. Die volgende dag het hulle sy vuurwapen verwyder en hy het vir my kwaad gebly totdat ons die dag verhuis het na ‘n ander dorp.
Toe ek daardie aand my kop op die kussing neerle en die gekriewel hier agter my nek uiteindelik bedaar se ek vir my Schatsie dat ek hoop nie ek kry ooit weer so ‘n gevaarlike kriewelrige dag nie.

 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Gevaar
Dankie vir hierdie lekker lag vanoggend, nou begin my dag ook sommer lekker. Jou vertelling is puik ek het dit vreeslik geniet Schatz.
5 jaar 3 maande 2 dae 15 ure oud


gevaar
hehehehe... ek het lanklaas so lekker gelag!!! Skies maar jou vertelling is soooo komies vertel!!!! Dit was nou sommer n baie lekker lees hierdie
5 jaar 3 maande 4 dae 7 ure oud


gevaar
Baie damkie vir hierdie bydre. jy skuld my n box tissues wat ek gebruik het om die lagtrane af te vee. Sjoe het dit werklik geniet. het my baie aan kooperasiestories, die tv reeks laat dink
5 jaar 3 maande 5 dae 14 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar