Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Maans se gedagtes hardloop lang paaie vanoggend. Hy kan nie meer vir Letta hanteer nie. Hy trek nadenkend aan sy snor. As skoonpa nog gelewe het, het hy verseker vir Letta by haar ouerhuis gaan aflaai. Die pienk strik styf om haar nek vasgeknoop met ‘n kaartjie daaraan wat lees. “Beskadigde goedere”. Die pienk strik. Hy sien haar in sy geestesoog. Jonk, aanvallig met die tuitende mondjie en pienk strik wat losweg haar blink bos hare vashou. Met die jare, soos die geur van haar hare verslaan het uit die pink strik, het Letta se lag minder geword en haar ongeduld groter.

“Maans, waar is jy? Jy gaan laat wees vir jou vergadering… Kyk waar sit die son al! Na die vergadering moet jy nog die inkopies gaan doen en by Sarie die koek vir die kerkbasaar gaan afgee. Goeie genade ek raak nou moeg om vir jou ma te speel. Eers was dit die kinders wat ek met stokke en klippe uit die bed moes kry – nou is dit jy. Maar,dit is mos laataand sit en rekenaarspeletjies speel en die volgende oggend is dit my werk om ‘n lewende lyk uit die bed te kry. Toe-toe roer jou.”

Maans is maar te bly dat sy darem haar stem terug het na gister se rusie. Letta se vorige stilstuipes in die huis het tót die vlooie van die hond af laat vlug. Permanent aan die wegspring… die gebergtes in… vreesloos tussen die bobbejane in om die ystydperk in die huis te ontkom, ‘n Moeilike vrou is ‘n anderste merrie. “Ek is oppad vrou”. Hy gryp sy motorsleutels en maak hom half verlig uit die voete voordat daar weer oorlog is. As Letta eers dáárdie kyk in haar oë kry … haar mond op ‘n dun strepie getrek en haar linker wenkbou lig, dan moet ‘n man liewer pad vat. Hy wil nou nie na gisteraand nog soos Goliat van ouds dalk ‘n klip tussen die oë kry en neergefel word nie. Letta is buite haarself vanoggend. Ai tog die Pilates storie! Het hy tog liewer die gesprek anders hanteer en die probleem meer taktvol benader. Eers die verskille tussen Pilates, joga en tai’chi uitgewys, dan was hy nie so diep in die moeilikheid nie.

Letta is briesend. Vandag is dit Pilates-oefening-dag in die buitelug. Gholf-Pilates. Sy sal vir Maans wys wat pilates is! Toe Maans se kar by die hek uitry, roep sy die tuinman Johannes nader. Mieta die huishulp sien hier is vandag groot moeilikheid. Die mure het ore en die storie oor die groot rusie van gisteraand het soos ‘n veldbrand onder die plaaswerkers versprei. Almal loop op eiers. Mevrou Letta is ‘n moeilike mens en duld nie skinderstories nie. Al wat sy weet is dat daar oor die Bybel gestry is – iets van Pontius Pilatus. Mieta gryp die mop, gooi ekstra ontsmettingsmiddels in die emmer en begin verwoed die vloere skrop en skoonvee. Haar ore gespits. Sy hoor Letta se skerp stem bevele uitdeel en vir Johannes roep.

“Johannes, jy is vandag my caddy. Gaan haal die graaf en die gholfstokke uit die garage. Ek sal vir jou wys waar jy die gate vir my moet grawe.” Putjies. Vandag speel ek op nege putjies - mik elke keer vir ‘n hole-in-one. Die Gary Player putter, Greg Norman en PGA-ysters gaan warm geslaan word …. Fonke gaan spat! Yster-en-klip-Pilates! Met ‘n 32 voorgee is daar ‘n kampioen in wording. Gmf… Maans…. het hy hómself al in ‘n spieël bekyk…?” Johannes is uit die veld geslaan. “Hoe meen mevrou nou Kêddie? Is dit nou my nuwe job-description om die tuinwerk te doen … en die spieël ….?”Moet ek nie gou my oorle oupa se knopkierie ook gaan haal nie? Daai ding slat sommer ‘n lekker hou! Letta betig hom kortaf. “Vergeet van die spieël en knopkierie … weet jy nie wat ‘n Caddy is nie Johannes?” …. “Nee mevrou”
Letta raak ongeduldig “Dit is ‘n persoon wat die gholfsak dra en die gholfstokke vir die gholfspeler aangee.
“Gholfstokke?..... gaan ons gate grawe met meneer se gholfstokke?”
“Johannes, moet nou nie vir jou onnosel hou nie, bring die graaf soos ek gevra het. Jy gaan vir my teen die afdraande van die berg se kant af - hier bokant die huis - nege putjies in ‘n halfsirkel met verskillende afstande grawe. Die gaatjies moet nie te groot wees nie ,maar ek sal vir jou wys wat jy moet doen. Daar mag nie ge-draw of ge-fade word nie en die klippe moet hoë spoed optel met die afslaan, om reguit putjie toe te kan gaan. Sorg jy net dat die jy regte stokke aangee.” Johannes is verstom. ”Klippe?”
Presies …. net soos ek sê, jy moet hulle vir my bymekaarmaak. So groot soos hoendereiers. Hope van die goed.”
Johannes lag. “Dit kan nie te moeilik wees nie” Hy stoot sy bors uit. Hy voel ge-eerd om die nuwe gholfbaan te kan help aanlê. Hy ‘n Caddy? Verbeel jou! Dink net die aansien wat hy nou gaan verwerf! Dit klink na ‘n verhoogde posbeskrywing… wie weet dalk word die pay nog ook aangepas. Tye is rof. Hy dink aan die oulike Fytjie met haar plat neusie en blink swart ogies en tel spoed op. Wie weet, ‘n man kan dalk nog ‘n gelukkie slaan met die ekstra randjie of twee in die hand!

Mieta staan verstom. Die mop in haar hande lyk soos ‘n geweer wat aangepresenteer word. Sy verwonder haar aan die bedrywighede buite. Wat is vandag hier aan die gang? Van wanneer af speel Letta golf? en dit hier tussen die klippe, bosse en berge agter die huis? Sy loer nuuskierig deur die kombuisvenster en luister na die instruksies aan Johannes. Sy wonder of die gholfstokke nie dalk as bakens geplant gaan word nie. Sy ken nie die gholf-besigheid nie. ‘n Gholfbaan, hier op Kaïnklip? en Johannes bou dit met ‘n graaf berg-op?

Laatmiddag storm Maans die kombuis in. “Mieta, wat de duiwel is hier buite aan die gang? Wat se stofwolke en klippe trek oor die bloekombome in die rigting van die buurman se huis en waar is mevrou Letta?”
“Meneer,,,,,,, mevrou Letta speel gholf…. Johannes het haar gehelp om ‘n gholfbaan te bou.”
Maans kry byna ‘n oorval van skok . Verstik half en brul:
“Speel gholf? …’n Gholfbaan? Het Letta nou stapelgek geword….. my gholfstokke…! Ag Vadertjie, asseblief tog, net nie my gholfstokke nie!” Hy begin hardloop. Hy vat kortpad langs die lyndraad by sy buurman se huis verby. Die klippe suis en dreun op die buurman se dak. Ou Petrus Vermaak harloop met sy geweer in die hand om die huis. Paraat om die aanval af te weer. Die huis se sinkdak is vrot van die gate en die helfte van die ruite aan die sykant van die huis is aan flarde. “Maans” Skreeu hy…. Die hel is los! ‘n Klip het Ant Trya se leesbril skoon van haar kop af geslaan. Haar oog is toegeswel, sy is half blind. Die ouvrou en al ses die plaashonde kruip nou onder die katel weg. Drie hoenders is op slag dood en die beeste het die kampdraad gebreek op vlug na veiligheid. Ek het al gehoor van manna wat uit die hemel val … maar buurman … dit reën klippe. Klippe so groot soos hoendereiers. Jy moet kom help!...... Genade…. Wag…. dit is moontik ‘n plaasaanval!” Gedagtig daaraan trek ou Petrus so in die hardloop ‘n skoot met die haelgeweer af. Hy skiet die punt van ‘n bynes in die droë boomstam, die verskiet in. Net daar verklaar die bye oorlog.

Ou Petrus is met veelvuldige bysteke die dam in waar hy tot donker geskuil het. Letta en Johannes het die gebergtes ingevlug om die bye te ontkom.

Maans het gelukkig as held uit die geveg getree nadat hy in die donker vir Letta en Johannes opgespoor het. Nooit weer sal hy vir Letta sê sy moet ‘n plan maak om by die Pilates oefen-klub te gaan aansluit omdat sy ‘n bietjie dik geraak het ruglangs en dat haar bo-arms nie meer so goed lyk nie. Die gholfstokke wat permanent tot niet is, asook die skade wat ou Petrus buurman gely het, is nou wel ‘n groot hap uit sy sak maar Letta is darem nou weer mak. Hy sal liewer in die toekoms met maer oë na Letta kyk …..terwille van sy ou karretjie. Net íngeval sy dalk besluit om dit vir ‘n stootskraper te gebruik om die “greens” van die berg-gholfbaan oop te stoot. Hy moet tog onthou om vir die brandwag bobbejaanmannetjie en sy familie, so ‘n ou sakkie lemoene daar in die berg te gaan los. Hy was die voorbok en het vir Letta en Johannes tot laataand laat gholfstokke swaai om die trop van hulle af weg te hou – Vir Letta mak gemaak.






Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Gholf
Ja-nee, wees maar versigtig wat jy vir 'n vrou sê. Sy mag dalk net besluit om vir jou te wys waar Dawid die wortels begrawe het... mmm... of waar Pilates geoefen het...

Lol!
6 jaar 10 maande oud


gholf
Dankie vir hierdie baie lekker lag. Sien nou sommer kans vir die dag wat wag.
6 jaar 10 maande 2 dae 1 uur oud


golf
oe haha, dankie vir hierdie lekker giggle so vroeg in die oggend, jy maak my dag. Ek het dit nou onsettend baiee geniet, baie bankie.
6 jaar 10 maande 2 dae 4 ure oud


golf
hehehehehe.. ek sien die hele spulletjie voor my oe gebeur... ja n man moet sy woorde maar mooi kies anders verander alles in n konsternasie!!! Puik geskryf ek sien uit na nog n paar prettige vertellings uit jou pen!!!
6 jaar 10 maande 2 dae 20 ure oud


Ano
Gholf
Whahaha. Ja-nee, bly liewers in die vroumense se goeie boekies - dis heelwat goedkoper!
6 jaar 10 maande 2 dae 20 ure oud



Dagboek van die tuinvoëls

deur http://www.woes.co.za/

Spesiale gevalle van interaksie wat tussen die tuinvoëls onderling asook met ander wesens plaasgevind het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar