Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Elke dorp het maar sy karakter en storie vertellers. So was daar in ‘n Overbergse dorp ook twee manne wat gereeld saam gaan jag of beeste koop het. Hulle was nie broers nie maar het mekaar boet Jimmy en boet Nikie genoem. Baie mense het hulle aangesien vir broers omdat hulle twee so baie saam was en ook so half na mekaar gelyk het wat postuur aan betref. Hulle kon dan ook ‘n storie met kleur, geur, valletjies en frilletjies vertel en miskien so ‘n klein bietjie spekskiet. Lieg! Nooit gesien nie. Hulle lieg nie hoor, dis die waarheid. Ja- nee hulle praat net die reine waarheid hoor, maar oordeel maar liewer self as julle nie my wil glo nie.

Op ‘n dag vertrek hulle Vrystaat toe om te gaan beeste koop, of altans so se hulle. So bietjie nuwe bloedlyn moet blykbaar ingebring word. Die eerste nag slaap hulle toe op Hanover. Hulle vertel hulle het so klein bietjie gekuier in die whisky bottel daardie aand om van die verskriklike rymoeg ontslae te raak. Hulle kry toe ‘n kamer met twee enkel bedjies in die hotel en ‘n badkamer met ‘n bad. Eers het boet Jimmy gaan bad en toe het boet Nikie gaan bad. Toe boet Niekie gaan bad het boet Jimmy begin met sy aand se huis godsdiens. Nadat hy die Bybel halfpad deurgelees het en vir sy hele famielie, vriende en mense met wie hy saam werk ‘n gebed opgese het en reeds ‘n stukkie gedut het kom hy agter dat boet Niekie nog nie uit die badkamer sy verskyning gemaak het nie. Hy gaan toe ondersoek instel en tref boet Niekie aan waar hy in die bad aan die slaap geraak het met ‘n koerant wat hy besig was om te lees wat so taamlik pap nat op die water dryf en ‘n gesnork wat klink of dit ‘n beurvark is wat besig is om ‘n modderbad te neem. Hy maak hom wakker en boet Niekie ontken dat hy geslaap het. Nee hy was besig om die koerant te lees en het selfs al die advertensies, klein advertensies, sport en doodsberigte gelees.

Nou is dit boet Niekie se beurt om sy Bybel te lees. Nadat boet Jimmy al ‘n hele tydjie geslaap het kom hy agter die lig in die kamer brand nog en kom agter dat Boet Niekie nog steeds besig is om die Bybel te lees maar so half hardop en baie eentonig. Na verdere ondersoek kom hy agter dat boet Niekie is vas aan die slaap. Hy maak hom wakker, maar boet Niekie hou vol hy was besig om die Bybel van voor tot agter te lees en nog net die laaste paar blaaie van die Bybel moet lees.

Dit is nou baie laat maar boet Niekie moet nog sy gebedjie opse en kniel by sy bed. Boet Jimmy het intussen weer aan die slaap geraak en word wakker van hierdie onaardse geluid en besef dit is nou Boet Niekie wat so snork op sy kniee langs die bed. Hy besluit weereens om hom wakker te maak, maar boet Niekie hou vol dat hy nie geslaap het nie. Boet Jimmy hou vol om te se “ Maar boet Niekie jy bid dan nou al ten minste ‘n uur lank”. “Maar boet Jimmy jy weet ek het baie plaaswerkers op my plase, hulle het vrouens, die vrouens het kinders, die kinders, het wederhelftes en hulle het kinders en ek moet aan elkeen dink.

Uiteindelik raak hulle aan die slaap, maar in die middel van die nag word boet Jimmy wakker van ‘n verskriklike geraas. Hy sit die lig aan en kom agter boet Niekie is nie meer in sy bed nie. Hy klim uit sy bed en loer by die kamerdeur uit wat die vorige aand toe was en nou oop staan . Hy loer in die gang af en tot sy groot verbasing sien hy boet Niekie hang so horisontaal in die gang in die lug en is besig om na die onder end van die gang af te dryf. Hy dog toe eers dit is die Hanover hotel se spook wat boet Niekie gesteel het. By nadere ondersoek kom hy agter dat dit helse groot muskiete is wat besig is om boet Niekie in die gang af weg te dra. Hy moes gou ingryp om boet Niekie te red. Na ‘n geweldige onrustige nag verlaat hulle na ontbyt vir Hanover en besluit net daar en dan om die dorp te herdoop na Hangover.

Hulle kom uiteindelik in die Vrystaat aan by die groot beesboer waar hulle dan nou ook gaan beeste kyk en bekyk het. Oor die beeste se bekyk en gekykery was daar ook nog baie stories wat ek liefs nie hier sal herhaal nie, veral as dit kom by die bul kykery nie. Die aand het die boer dan ook nou soos ‘n gasvrye man betaam van sy bure oorgenooi om die manne wat dan nou spesiaal van die Overberg af gekom het om te kom bees kyk te ontmoet en bietjie vleis saam te braai. Dit het natuurlik ook nie net by vleisbraai en pap eet gebly nie. Nee, die voggies het seker maar ook goed gevloei.

Op ‘n stadium gedurende die aand het boet Niekie ook dan ‘n lang ware storie te vertelle gehad. So halfpad deur die storie het boet Jimmy sommer die storie oorgeneem en verder klaar vertel. Die aand toe hulle nou weer in die kamer kom neem boet Niekie vir boet Jimmy voor stok. En wil weet, “Jimmy hoe is dit moontlik dat jy sommer my storie oorneem en verder vertel, terwyl jy nie eens by was toe dit gebeur het nie en niks van my storie af weet nie”. “Wel ek het nie ‘n opsie gehad nie, want jy het so sleg en blatant in jou storie gelieg dat enige mens met ‘n stomp stok kon voel jy lieg dat ek moes oorneem en beter lieg dat dit darem klink na die waarheid” was boet Jimmy se verduideliking.

Wel soos ek gese het dit is alles die waarheid, julle hoef my nie te glo as julle nie wil nie, maar ek se julle dis die waarheid dis net dat die manne die gawe gehad het om ‘n storie so bietjie in te kleur om die storie aantreklik te maak.

Op die Overbergse dorp was daar ook ene met die naam van Tonie. Tonie was nooit getroud nie en het somtyds prisoniers opgepas en per trein vergesel na die Pretoria sentrale gevangenis. Tonie het so effens gelisp en as hy die bandiete kom oppas op die plaas as hulle die leiwater vore kom oopmaak het ons as kinders altyd aan sy lippe gehang, want hy kon altyd ‘n storie so lekker vertel. Somtyds het hy van daardie lekkertjies gehad wat so ‘n boodskappie op geskyf was soos “I love you”. Tonie het dan die lekkertjies uit sy sak gehaal en die twakkies wat in sy sak was en op die lekkertjies vasgesit het afgelek sodat hy die boodskappie wat al so bietjie verdof het van die gevryf in sy sak mooi kon lees. Die boodskappie gelees en dan die lekkertjie vir ons gegee. Dit was altyd in die middag uur as hy aan tafel kom eet het en eers die groot rewolwer wat hy aan sy sy gehand het losgespe en op die kombuiskas neergesit het. Dan moes my pa eers ‘n ogie hou oor die bandiete dat een nou nie besluit om weg te hol terwyl Tonie sy bord boere kos wegslaan.

So vertel hy eenkeer dat hy moet ‘n gevaarlike prisonier na Pretoria sentraal toe neem met die trein vanaf Caledon. Hy pak toe vir homself ‘n trommeltjie met ‘n padkossie soos ‘n broodjie in vir die lang pad as ekstra proviand. Toe hulle op Caledon se stasie kom koop hy vir hom ‘n pakkie tien Cavalla voor hulle op die trein klim. Die trein vertrek vandaar na Kaapstad waar hulle dan ook moes wag en oorklim op ‘n ander trein wat hulle deur Worcester deur die Groot karoo na Pretoria moet neem. Dit was ‘n dag se reis met die trein net vanaf Caledon na Kaapstad en met al die passe en so aan. Toe ons Touws Rivier in stoom toe se ek; “soetland Tonie nou gaan jy die Vrystaat in”.

Dit was ‘n gevaarlike prisonier en my senuwees was klaar en ek het properlies sigarette gevreet, want toe ons op Baufort Wes kom het ek nog net 5 sigarette oor gehad in my pakkie van tien. Dit was toe al die derde dag op die trein, wat by elke stasie en siding stop om goods op en af te laai. Hy voel toe so bietjie honger en besluit om sy maag so bietjie aan te vul uit die trommeltjie. Jou wrintiewaar toe ek die trommeltjie oopsluit en oopmaak toe is daar ‘n pursykat in. Toe het my broodjie hare gekry.

By een stasietjie het die trein lank gestaan en kon ek en die prisonier bietjie bene rek. Toe ons so rondstaan en die op en aflaaiery en geshuntery van trokke bekyk kla die prisonier dat hy moet nou by ‘n toilet kom. Daar is toe een van daardie sink buite huisies wat nog met die emmer werk sien en ek vergesel die prisonier soontoe. Hy gaan sit binne en ek neem toe stelling voor die deur in. “Jong en daai prisonier moes seker ‘n groot nood gehad het, want hy sit en hy sit en hy sit en hy ssiiiiittt”. Later wil die trein trek en ek roep; “Prisonier kom uit”, maar hy sit. Ek roep toe ‘n paar keer; “prisonier kom uit”, maar hy sit. Ek se later; ”prisonier as jy nie nou uitkom nie gaan ek inkom, want die kondukteur roep ons al, want die trein wil trek en die trein kan nie wag vir so ‘n groot opelyf nie”.

“Jy sal my nou nie glo nie, maar dit is die reine waarheid”. “Wat dink jy sien ek toe ek daai kleinhuisie se deur oopskop”. “Die nagvuil emmer is mooi voor neergesit en die deurtjie agter waar hulle gewoonlik die emmer uithaal staan wawyd oop en die prisonier is skoon veld tot vandag toe nog weet geen mens wat met hom gebeur het nie”.

Op ‘n dag het ‘n bekinde boer hier van die distrik my mos gevra of ek nie sy plaas sal oppas as hulle met vakansie gaan nie. Tonie stem toe in, hoekom dan nie, dis dan so ‘n gawe en ordintlike boer. Hat ek maar toe geweet waarvoor ek my inlaat. Sien sy vrou vra my toe of ek nie na die hoenders sommer ok sal kyk en in die oggende ‘n pitkossie sal gee nie. Dit is ok nou om hulle in die middag so bietjie te laat uitloop om te skrop en so aan en dan vroegaand weer op hok te sit. Ek moet tog die eiers so by 12 uur uithaal voorlat die hoenders uitloop anners vreet die ongediertes dalk die eiers op. Sy se toe nogal ek kan maar vir my so ‘n ou eiertjie neem om te eet. Nouja Tonie het mos ‘n goeie aptyk en ek slaan daai eiers toe sommer so twaalf innie pan lat hulle vir my le en loer soos uil oe as dit etenstyd is.

“Maar sal so ‘n gawe man nou so ‘n duiwel van ‘n vrou he, want toe hulle terugkom van die vakansie roep sy mos vir my en se; “Tonie, dit lyk my hier was ‘n ongedierte wat die eiers ge – eet het, want is dit al paar eiertjies wat die hoenders in die hele tyd gele het”.

“Glo my as ek se ek sal jou wrintiewaar nooit weer gaan plaas oppas vir daai ordintlike boer met so ‘n duiwel van ‘n vrou nie”.

Wel Boet Niekie, Jimmy en selfs Tonie is ongelukkig nie meer vandag met ons nie, maar van hul stories is nog in omloop in die Overberg.
 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ano
Glo
Oe, hehehe. Hoe heerlik was hierdie stories dan nou nie! 'n Vreeslike, baie dankie :-D
5 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 3 ure oud


glo my
hehehe.. lekker gelees aan hierdie groot "waarhede" Kan jy glo my kinders besit nou dieselfde hotel op Hanover!!! Hulle het 1 Mei 2014 oorgeneem
5 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 3 ure oud


lieg
Schatz, ek het dit baie geniet en lekker gelag. Mooi storie en baie goed geskryf.
5 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 8 ure oud


lieg
dit was nou n lekker lees bydrae hierdie at ek intens geniet het
5 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 11 ure oud


:-D
Hehe. Ek het nou lekker gelees aan die stories!
:-D
5 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 15 ure oud


lieg
Haha maar natuurlik glo ek hul stories, haha. Lekker gelees en geniet dankie.
5 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 16 ure oud


Glo my dis absoluut die waarheid

En so bly elkeen se waarheid, vir hom die reine waarheid.
5 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 16 ure oud



Gebroke Harts Gebede

deur Anze Bezuidenhout

Gebroke Harts Gebede is ‘n digbundel oor die einas van die lewe. ‘n Soeke na liefde op ‘n stormagtige pad. Mag hierdie bundel vir die leser ‘n pad na herstel aanwys. Die diepe besef dat jou krag van Bo kom. Ja jy is tot alles in staat deur Christus wat jou krag gee.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar