Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die prokureur sit agter haar lessenaar. Die vrou voor haar is oud voor haar tyd. Diep lyne sny haar gesig en die geheelbeeld is ‘n masker geëets deur pyn. Sy het ‘n storie om te vertel. Sy het ‘n paar briewe by haar. Die storie is nie oor haarself nie:

Sy is die enigste dogter tussen ‘n swerm seuns. Die produk van ‘n klein dorpie. Gebore in die dorpie en bly nog steeds in dieselfde ou dorpie.

‘n Groot kenmerk en bloudruk van die dorpie is snobisme. Kliekvorming waar jou posisie in die tennisklub en jou man/pa se sitplek in die kerk van lewensbelang is. Nee, nie net lewensbelangrik nie, jou plek in die hiernamaals is ook daarvan afhanklik. Jou man moet minstens die ouderling wees en sy inkomste moet minstens ‘n sekere kerf oorskry anders verdien jy nie die titel ‘mens’ nie.

Sy reken haarself ‘n mooi ou dingetjie en so ook haar pa wat haar met gereelde reëlmaat daaraan herinner (“oeeee ... my eie Gretha Garbo”). Haartjies blink en ogies flikker en tietietjies pas in ‘n DD koppie. Sy vind dit heel normaal om in haar evaspakkie voor haar broers en pa te paradeer en die tieties trots rond te swaai. Maar objektief beskou (dis nou suiwerlik die uiterlike in aggenome) is sy werklik nie so beeldskoon soos wat sy reken sy is nie. Van ver af vorm haar figuur ‘n plat vraagteken met ‘n bultjie weswaarts (dis nou die tietietjies) want die arme wese het geen boude nie. Stokkiesbene met geen kuite nie. ‘n Mens kan sê haar enkels beginne al by haar knieë. Maar sy is fyn gebou en het ‘n wye sensuele mond met definisie in haar cupid bogie. En sy het dit. Julle weet: daardie vermoë waaroor sekere mense beskik om net sexy te wees. Umpf noem hulle dit.

En soos die stories in die klein dorpie dit wou hê het sy daai umpf goed gebruik. Hey man, sy het dit gebruik. Beentjies selle bymekaar. ‘n Verdere kenmerk van die dorpie is dat sy nie alleen is nie. Vele dogters het die slagoffers geword van dieselfde sindroom: ‘n Dogtertjie word gebore om ‘mooi’ te wees. Sy hoef nie eintlik enige iets anders te wees nie. Solank sy net ‘werk’ aan haar ‘skoonheid’ en sorg dat sy sag val op die oog, doen sy die gemeenskap ‘n guns. Want haar doel op die aarde is om mans tevrede te hou en kinders te baar.

Hy weer was die oudste seun van ‘n diep verdeelde, maar tog ook hegte gesin. ‘n Klomp karakters. Die produk van ‘n huwelik waar die grade van verwantskap gevaarlik nabygeleë is. Die produk dáárvan weer hoogs intelligente, maar versteurde mense. Die woord ‘skisofreen’ sal nie onvanpas wees om veral die mans in die gesin te beskryf nie. Groot probleme met aggressie. Hy is geen uitsondering nie. Miskien is ek dalk te hard op die mans. Dalk het die vrouens dit ook nie ontsnap nie. Indien Van Gogh die geleentheid sou kry om hierdie individue te skilder, sou baie ore afgesny wees en miskien dalk ‘n paar hande en voete ook. Passievolle individue wat glo aan hulleself en nie maklik erken hulle is verkeerd nie. Geskool deur die ouers in die vermoë om jou eie paadjie deur die lewe te vind en getrou te bly aan jou eie individualiteit. Om nie in te gee aan die versoeking om eiewaarde in die dikte van jou beursie te vind nie. ‘n Vrou is nie ‘n man se speelding nie en die dogters is geleer om onafhanklik te funksioneer en hulle liggame te respekteer. Geen waarde is geheg aan sogenaamde ‘skoonheid’ nie.

Hy was nie van die klein dorpie nie. Hy het daar beland saam met sy gesin.

Hulle het nie geweet van snobisme nie. Die pa was wel ‘n ouderling, maar sy status het ook maar net daar gestop want sy inkomste was ver onder die kritieke kerf wat ‘n plek in die hiernamaals verseker. Aan die tennis- en golfklub het hulle verseker nie behoort nie, liewer die gesin gevat en in die berge ingevaar met ‘n piekniekmandjie. Hulle het hulle ook nie gesteur aan enige verdere vereistes van kliek-inpas nie.

Teen alle verwagtinge in het hierdie twee gesinne toe vriende geword. Jy sien: Hulle was in dieselfde kerk en albei pa’s was ouderlinge. As dit nie was vir dié toevalligheid nie, sou hulle mekaar nie eens geken het nie, so uiteenlopend was hulle onderskeie lewenssiening. Hy was besonders aantreklik en het ‘n manlikheid uitgestraal. Lang, lenige lyf met definisie in sy spiere. ‘n Bos blink, donker hare met penetrerende, amper swart oë. ‘n Sterk, maar tog vol mond. Op die oog af was hy ‘n ideale ‘vangs’. Dit sou seker so gewees het as hy nie die probleme gehad het met aggressie nie. Haar ma (en sy) het dit raakgesien (dis nou die uiterlike voorkoms en besonderse intelligensie – natuurlik was hulle onbewus van sy aggressie), en dit het gelei tot gereelde uitnodigings vir tee na kerk en later etes en nog later speletjies-aande en so meer. En hy en sy het beginne vry en is eindelik getroud. Nie te lank nie en daar was natuurlik kinders.

Dit was ‘n fout.

“Stefan,

Ek wou glad nie op al jou boodskappies en briewe antwoord nie maar jy laat my geen keuse nie. Hierdie is in ieder geval die eerste en laaste skrywe oor hierdie onderwerp. Ek hoop jy kan alles inneem.

Jy leef in jou eie droomwereld waar Stefan Grove al die reëls en regulasies maak, besluit wie of wat is reg en verkeerd en probeer beheer uitoefen oor alles wat vir jou belangrik is. Sterkte.

My sogenaamde ‘adviseurs’ weet glad nie dat ek vir jou skryf nie – so aanvaar vir eens en altyd dat wat hier staan my verantwoordelikheid en besluite is. Jou beheptheid met my sogenaamde ‘adviseurs’ – wie hulle ookal mag wees – is lagwekkend. ‘n Tipiese verdedigingsmeganisme van jou: dit wat verkeerd gegaan het is iemand anders se skuld.”

Wat het verkeerd gegaan? Laat ek verduidelik: Hulle was reeds veertien jaar getroud. Stefan was vir ‘n paar dae uitstedig as gevolg van werksverpligtinge en het onverwags tuisgekom. Gretha Garbo was lankal nie meer tevrede net met een soort seksuele resep nie, want sien, op skool het sy ‘n verskeidenheid ervaar (volgens oorlewering). In Stefan se afwesigheid het sy toe weer teruggekeer na haar ou (bekende) buffet spyskaart en het Stefan haar betrap met haar mond oop en die happie op die tong. In die middel van sy bed. Dit het hom redeloos woedend gemaak en hy het haar en haar happie letterlik uit die huis gegooi, klere en al. Haar verbied om ooit weer haar voete in sy huis te sit. Sy is na haar ouers en het daar gebly.

“Ek wou nie weer beledigend of vernederend (as mens van jou durf verskil is dit mos vernederend) wees nie, maar eerlik gaan ek beslis wees.

Die aanhef van jou laaste skrywe spreek boekdele – jy weet presies hoe ek voel? Jy het nog nooit in jou lewe geweet presies hoe ek voel nie – jy weet net presies hoe jý dink ek behoort te voel! Dis ‘n tipiese aanmatigende stelling.

Ons het goeie tye ook beleef, niks is ook nét goed of nét sleg nie. Maar, ek is jammer dat ek dit moet sê, ek het jou nie meer lief, lankal nie meer nie, miskien het ek jou nooit liefgehad nie. ‘n Mens is op negentien nog blote kind – ongelukkig. ‘n Mens kan seker vir ‘n leeftyd lank uithou en aanhou ter wille van ander dinge, maar as ek dink jy moet weer aan my vat (jammer) gril ek. Veertien jaar was genoeg, meer as genoeg. Ons kommunikasie op emosionele, geestelike en fisiese gebied is nul. Ons het hope seks gehad ja, blote meganiese aksie maar meer ongelukkig nie.”

In hierdie stormagtige paar weke het sy ontdek dat sy swanger is. Hy het die kind summier verwerp en beweer hy is nie die pa nie. Daar is met hom gepraat en hy is op die hart gedruk dat hy moet seker maak dit is nie sy kind nie want dis erg vir ‘n kind om verwerp te word. Hy het eindelik ingewillig om aan te dring op vaderskapstoetse.

“Wat die vierde een betref, jy sê mos jy twyfel of dit jou kind is, so, hoekom sal jy omgee? Ek sal nie laat toetse doen nie, jy kan gaan doppies blaas (jy kan op eie onkoste as jy so voel), jy wil net nie onderhoud betaal nie, of kan nie.”

In hierdie tyd het sy die kinders na haar ouers se huis geneem en hom toegang tot hulle kinders verbied. Radeloos het hy die huis besoek in ‘n poging om die saak uit te praat. Toe sy skoonpa die deur oopmaak en sien dit is Stefan, het hy gepoog om die deur in sy gesig toe te druk. Stefan het die deur oopgestamp en die huis binnegedring. Skoonpa het gereken dit is aanranding, en is polisie toe. Na ‘n volle verhoor (waar al die betrokkenes, Stefan inkluis, getuig het), het die landdros vir Stefan vrygespreek.

“Jy is jou ma uitgeknip: mal oor melodrama en skinder. As jy enige integriteit gehad het sou jy ter wille van jou kinders totaal anders gereageer het. Maar wat kan mens ook anders van ‘n man verwag wat blatant lieg onder eed. So, mens kan niks glo wat jy nog ooit gesê het nie. Jy lieg blatant of draai halwe waarhede soos dit jou pas. En die ergste van alles is jy glo jouself onvoorwaardelik. Dis ontstellend. Maar jy is net nie eers kwartpad die man wat ek nog altyd graag wou glo jy is nie. So, aanvaar dit nou maar, ek gaan nie terug na jou toe nie. En ek is nie onstabiel nie. In jou oë sal ek seker onstabiel bly totdat ek weer presies dink soos jy. Vergeet dit.”

Na lang, vieslike litigasie is hulle eindelik geskei. Vaderskapstoetse het bewys Stefan is pa van die laaste kind. Beheer en toesig is aan haar toegestaan met besoekregte en formele onderhoudsverpligtinge aan Stefan. Stefan het na ‘n stad getrek en het daar gaan bly en sy en die kinders het in die dorpie agtergebly. Die Groves het lank voor die verandering van spyskaart al die dorpie verlaat en hulle in ‘n stad gevestig met minimum kontak. Die minimum kontak was die gevolg van ‘n verandering van opinie deur Mev. Grove oor die karakter van Gretha Garbo tydens hulle verlowing al. Mev. Grove het om een of ander rede besluit Gretha Garbo is ‘n narcissistiese slet en gaan vir haar seun net hartseer besorg. Dit is onbekend of die skinderstories in die dorpie haar ore bereik het, en of sy maar net vir Grethatjie beter leer ken het. Sy was uitgesproke daaroor en het haar bes probeer om vir Stefan te laat sien wat sy sien. Gretha Garbo het bewus geword van die verandering van gesindheid en dit baie sleg hanteer (natuurlik mos – wie wil nou beskuldig word van sulke lelike eienskappe?). Hewige rusies het gevolg waarin Gretha Garbo deurgaans die sleutelrol vertolk het. Miskien het dit haar spesiaal laat voel om te sien hoe Stefan van sy familie vervreem word ter wille van haar. Stefan het nie sy ma geglo nie. Hoe het oorlede Salomo dit gestel: Iets van die misterie van ‘n man by ‘n maagd? Nie ore en oë nie, net hormone. Daar het ‘n breuk ontstaan en die Groves het feitlik alle kontak met hulle seun verbreek. Net noodsaaklike, hoflike kommunikasie het oorgebly. In die veertien jaar van hulle huwelikslewe het die Groves eenkant gebly.

Stefan het feitlik geen bande met die baba gehad nie. Hy kon nie pa wees vir die kind soos vir die ouer kinders gedurende die veertien huweliksjare nie. Die baba het vir alle praktiese doeleindes sonder ‘n pa grootgeword. Sporadiese besoekies bou geen vader-kind verhouding nie.

“Geagte Patrick

Ongelukkig het jy jou bemoei met die aangeleentheid tussen my en Stefan, so, die gevolge sal jy maar moet dra.

Ek het al ‘n paar keer gebel, maar soos met ander, normale gesinne is julle seker met vakansie. In ons getroude lewe (my en Stefan s’n) was ons hoogstens twee keer wildtuin toe. Die ander kere het ons op familie geteer. Veral sy skoonfamilie wat hy so haat. Vir sy inligting, ook die dele van sy familie teen wie hy niks het nie (hoe edelmoedig!) kon hom nog al die jare nie voor hulle oë verdra nie. Hulle het net die buffel verdra omdat hulle arme simpel sussie met hom getrou het.

Mag God die dag vervloek waarop die Groves my lewenspad gekruis het. Oor my en my kinders se lewens het hulle net nog smart en pyn gebring. Geen wonder dat nie een van hulle ‘n gelukkige, geseënde lewe lei nie. Laat mens dink né?

Voor die Troon van die Skepper staan jy ook, pasop!

Elkeen van daardie giftonge (Mev. Grove, Louise en Marianne by uitstek) kom dalk tot hulle verbasing agter hulle boekies is voller as myne.

Ek het owerspel gepleeg met Pieter (al sonde in die Groves se bybel). Stefan het my jare lank fisies, geestelik en seksueel misbruik (ek was mos sy eiendom), maar nee, dis sommer niks.

My familie doen meer as hulle deel. Vriende dra ou klere aan. Veral die oudste drie het nie meer klere wat nie gestop en gelap is nie. Gelukkig het twee vriendinne dogters ouer as Maryke wat hulle ou klere aangee. Kollekteer asseblief klere vir my kinders want hulle is vaderloos.”

Stefan het sy onderhoudsverpligtinge getrou nagekom, maar sy het aangehou met haar bewerings dat hy nie sy deel bydra nie. Dit ook vir die kinders vertel. Op advies het hy egter ‘n slim ding gedoen: Hy het aangedring daarop dat sy die onderhoud by die Landdroskantoor kollekteer. Later, toe sy oudste kinders hom met haar bewerings konfronteer, kon hy aan hulle bewys dat sy besig was met ‘n leuenagtige smeerveldtog teen hom. Sy was ook gekwalifiseer as ‘n onderwyser en het onderwys gegee. Dit was dus nie nodig dat sy enigsins finansieel ‘n agterstand hoef te gehad het as sy geweet het hoe om met geld te werk nie.

En so het baie jare verbygegaan en die kinders het grootgeword en die baba ‘n man. Die ouer kinders het hulle om hulle pa geskaar en by hom gaan woon. Kontak tussen die twee was uiters sporadies en beperk tot noodsaaklike kommunikasie. Hy het nooit weer getrou nie. Sy is weer getroud met ‘n baie stabiele karakter wat haar goed behandel (volgens die kinders).

Die baba was minder gelukkig. Hy noem sy pa “oom doos” en is tans ‘n dwelmverslaafde alkoholis. Hy het al gesteel en sit met ‘n kriminele rekord. Hy dink dis heel in orde om altyd een of ander chemikalieë in sy bloedstroom te hê.

Hy het ook by sy pa gebly vir ‘n rukkie, maar omdat hy gekondisioneer was om te verwyt en te verkwalik is die verhouding tussen hom en sy pa nie so lekker nie. Hy beskryf sy ma as ‘n “emosionele Godzilla” en verwyt sy pa omdat hy nie ‘daar’ was vir hom nie. Sy pa het hom eventueel weggejaag.

Onthou Stefan se humeur? Dit het toe – soos verwag – handuit geruk nadat baba weereens by die naburige swart mense gaan dagga koop het. Die daggarokery het aangehou ten spyte van twee vrywillige besoeke en ‘behandeling’ in inrigtings vir dié doel. Stefan het hom aangerand. Baba het die polisie gekontak. (Hoe durf oom doos my aanrand as ek dagga gaan koop, daar is niks fout met dagga gebruik nie en as ek te veel drink is dit my saak).

Dit is waarvoor die vrou voor die prokureur sit. Sy is ‘n vriendin van Stefan en Gretha Garbo en beskik oor eerstehandse kennis van die bewerings wat sy maak oor die geskiedenis tussen die twee families. Sy het dit as’t ware saam met hulle deurgemaak.

Sy is veral bekommerd oor baba. Hy is al diep in sy twintigerjare en toon geen tekens van rigtingkry nie. Hy beweer sy nering is om te skryf maar dit lyk nie of hy regtig werk daaraan nie. Hy het geen formele opleiding na matriek nie. Hy verwyl sy dae deur sy ma en pa te verkwalik oor sy ‘agterstand’ en sy sinne te verdoof met chemiese stowwe.

Stefan en Gretha Garbo is ook nie van enige hulp nie.

Stefan: “Baba moet voor vanaand van hierdie plek af wees. Ek is gedetermineerd. Ek is klaar met hom – soos in klaar. Lyk my baba verbreek mooi verhoudinge sover hy gaan. Vuilgoed. Ek gaan hierdie vent laat toesluit. Hy staan weer hier voor my deur en dreig. Hy het my huis se vensters gebreek en ingeklim. Ek het hom my huis belet. Hoe gouer hy permanent fokof hoe beter. Hy het ‘n gemors hier aangeland. Hy is nog presies dieselfde.”

Gretha Garbo (vanuit ‘n kliniek waarin sy vir die soveelste maal opgeneem is oor sielkundige probleme en pilmisbruik): “Mense laat dit klink of ek op die randjie van ‘certified as completely koekoes’ of op die randjie van die graf staan. Ek vra inniglik omverskoning dat ek Stefan Grove getrou het en baba, my kind ja, in die wereld gebring het, nou sit julle met die kak. Bliksemse aggressiewe common agterlike maplotters, my kinders se voorsate. Ek sal nooit jammer wees dat enige van my vier kinders gebore is nie, julle is my geskenke van God, vir ‘n andersins kak volwasse lewe. Dis julle besluit as julle ‘my ex’ en ‘my seun’ se stront wil gaan uitsort. Los die blerrie gemors dat hulle mekaar doodslaan. Baba moet hom net een keer goed donner. Die bliksemse poepol se ego en minderwaardigheidskompleks baklei vir eerste plek. Het jy al jou fetus letterlik met jou liggaam beskerm sodat die vark nie jou kind doodskop en dan seks wil hê nie????? Maar julle piep hom mos, sorg, skerm vir die bliksemse armblanke. I WILL survive sonder ondersteuning van enige bliksemse aard. Sal julle eendag weer sien, as daar ‘n God bestaan.”

Nadat die vriendin haar kantoor verlaat het, sit die prokureur en mymer. Die storie het haar ontstel, ten spyte van haar eie kondisionering om nie persoonlik betrokke te raak nie.

Dit is duidelik dat Gretha G haar eie kind beurteliks vervloek en omhels. Het dit so gegaan tydens die jare van opvoeding en versorging? Die Groves het haar lewe verlaat van vroeg af al, maar ten spyte van hulle afwesigheid hou sy aan om hulle te verneder, te vloek en te vervloek. Dieselfde met Stefan. Sy het vir baie jare net die allernoodsaaklikste kontak met hom gehad terwyl sy getroud is met ‘n goeie, gebalanseerde man, maar sy beskryf haar hele volwasse lewe as kak. Sy weerspreek haarself ook wat betref haar verhouding met Stefan. In die brief wat sy geskryf het direk na die ‘owerspel’ gee sy toe dat sy en Stefan ook goeie tye beleef het. Nou skielik het Stefan haar ook aangerand – iets wat sy nooit gemeld het in al haar vorige briewe nie. Is sy regtig versteurd? Sy is gekontak oor haar seun, maar instede van kalmte en besorgdheid oor hom, draai sy die hele situasie dat dit om haarself gaan.

Was dit regtig nodig vir Stefan om so gewelddadig op te tree toe hy haar in die bed betrap het met ‘n ander man? Dit is lekker om vanuit jou eie leunstoel andere se reaksies te kritiseer, maar sou die hele geskiedenis dalk nie anders – meer positief – gewees het as hy sy humeur beteuel en met groter selfbeheersing opgetree het nie? Hy distansieer homself van sy seun se dilemma – soos Pontius Pilatus was hy sy hande in onskuld.

Hoe nodig is dit nie vir beide hierdie mense om hulleself te bevry van blaam en verwyt en die bul by die horings te pak en hulle kind te red nie. Of is dit dalk te laat?

En Baba? Wanneer gaan hy besef hy is nie alleen as dit kom by traumatiese kinderdae nie? Wanneer gaan dit tot hom deurdring dat hy wel ‘n gelukkige lewe kan voer as hy die slegte dinge agter hom sit en konsentreer op die goeie? Hy is ‘n jong, (tot dusver) gesonde, intelligente man, hy kan ‘n sukses van sy lewe maak as hy wil.

Dit bring haar by die vraag: Wanneer is ‘n lewe nou eintlik suksesvol?











Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

godzilla
Inderdaad verskeie intiges hier neergepen. Dankie vir die deel.
4 jaar 6 maande 3 dae 2 ure oud


Godzilla en oom Boks
wat n deurmekaar en seer lewe het hierdie mense nie!!! Lekker gelees
4 jaar 6 maande 3 dae 22 ure oud



Reistog van Genade

deur Hannelie

My genade reistog van diagnosering van bipolariteit en my reistog na die veiligheid van God se Arms



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar