Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Haar naam was Monica. Om die dood of ek kan onthou wat haar van was. Dit moes óf Wessels of van der Westhuizen gewees het, want haar pa het op ‘n tyd vir Wessies Panel Beaters and Body Repairs gehad. Dit was die plek doer onder in Monumentstraat, langs daardie ou Mobil vulstasie.

Ja man, dis dieselfde pad waarmee jy na Abel se “drive-in” buite op sy plot gery het - daar waar hy Vrydagaande fliek teen sy buitekamer se muur gewys het. Was jy nooit daar nie? Ek het vergeet, ja, julle het mos Vrydagaande kerk gehad. Man, die karre het so effens afdraand in ‘n waaiervorm voor ‘n witgekalkte buitegebou geparkeer gestaan en dan kon almal lekker fliek kyk en vry ook. Ek wonder partykeer hoeveel van Koedoesloop se onbeplande swangerskappe het sy oorsprong daar gehad. Die projektor was in ‘n ou pompkamer opgestel en ou Abel het sulke wit kalkstrepe op die grond geverf gehad waar jy nie kon parkeer nie. Ek sê mos kalkstrepe, of luister jy nie.

Dit was mos hoeka daar waar Klein Giel se meisie, of was dit dalk hy, in hulle oomblik van passie die handrem afgetrap het en die twee in sy pa se kar die hele fliek en die buitekamer in sy dinges in gery het. Dit was nou letterlik ‘n man met sy broek op sy knieë vang.

Monica? O, ja, amper vergeet ek van haar. Sy was regtig ‘n mooi kind, maar altyd so bietjie, hoe sal ‘n mens nou sê, bietjie opstêrs. Wat ek die beste van haar kan onthou was as sy saam met haar pa in daardie ou groen trokkie van hom daar by ons huis verbygery het. Sy’t so kiertsregop langs haar pa gesit en nie links of regs gekyk nie. In die begin het ek nogal vir haar gewaai, maar sy’t niks gesien nie. Ons het daardie tyd nog op die groot erf, met die laning kweperbome voor, gebly. Ek onthou hoe die mense ons gepes het as die kwepers eers ryp was. Ma het sommer weggegee want sy’t gesê hulle’t vanself gegroei en as die mense wil betaal, kan hulle die geld vir die sending loop gee. Ma het net nie daarvan gehou as die mense die bome se takke breek of as hulle haar op ‘n Sondagmiddag kom opklop om kwepers te wil pluk nie. Dan was sy behoorlik beneuk. Haar hare het in alle rigtings gestaan van die slaap en sonder haar tande het sy kompleet nes die heks van Endor gelyk. Nee, ek weet nie hoe die heks van Endor gelyk het nie, maar dis wat my ouboet altyd gesê het.

Na Pa se siekte het ons na een van daardie skakelhuisies naby die stasie toe getrek. Toe ons daar gebly het, het Ma ons gewoonlik in die winter gestuur om te gaan steenkool optel langs die treinspoor. Partykeer het oom Lood, die stasiemeester, vir ons daar kom jaag want dit was blykbaar gevaarlik - nie dat enigeen hom ooit daaraan gesteur het nie, want as hy sy rug draai was ons terug. Maar ek kan ook nie onthou dat iemand ooit seergekry het daar of deur ‘n trein raakgery is nie. Ons was heeltemaal te bang vir daardie stoomlokomotiewe. Die grond het mos behoorlik gebewe as hulle daar langs jou op die spoor verbygekom het. Ek kan nog daardie warm reuk van stoom en ghries goed onthou. Dit was so deurmekaar vermeng met die reuk van die rook van steenkool.

Die steenkool? Ons het dit gebruik om mee vuur te maak. ‘Skuus, ek het vergeet julle het mos nie vuur, soos ons armes, gemaak om op te kook nie. Die huise daar by julle teen die bult het seker almal elektriese stowe gehad. Ek dink julle het baie gemis. Daar was niks lekkerder as ‘n koolstoof in die kombuis in die winter nie. Dit was die kuierplek vir almal gewees. Die sitkamer was net vir die ouderling en die dominee. In die kombuis het ons vriende kom kuier en daar het ons gesit en luister na die vervolgverhale oor die radio en die huisgodsdiens. Saterdagaande was daar ‘n program wat hulle “radioteater” of so-iets genoem het. Lang stories vol aksie – ‘n hele storie in een episode. Lekker tye gewees daardie – lank voordat daar TV was.

Die tee wat hulle vanoggend vir ons gegee het was darem heeltemaal te flou, dink jy nie so nie? En nou nie eers ‘n ou koekie daarby nie. Monica? O ja. Na skool het Monica vir ‘n rukkie met Willem Tros van oom Jan Baard uitgegaan maar ek dink haar pa het betyds ‘n stokkie daarvoor gesteek. Dié Willem was ‘n regte windgat met daardie ou blou V8 van hom. Ek dink in elkgeval hy’t meisies soos trofeë bymekaar gemaak. As hy hulle eers in die bed kon kry was hy klaar met hulle. Nee, ek het die ou nie só goed geken nie, ek sê mos ek dink hy’t so gemaak en windgat is in elkgeval nie vloek nie. Jy’s darem weer dwars vanmiddag. Is dit die jig wat jou opkeil?

Maar ek praat mos nog die hele tyd oor Monica. Na skool het sy in ‘n pragtige meisiemens ontwikkel. Sy’t my nogal baie laat dink aan daardie vroumens wat saam met Humphrey Bogart in Casablanca gespeel het. Ag, wat was haar naam nou weer? Nee, ek vra nie vir jou nie – julle’t mos nie flieks gekyk nie. Ek wonder maar net hardop by myself.

Ek hoop ons gaan vanmiddag poeding kry by ons kos? Matrone het nogal laasweek so-iets belowe. Poeding laat my mos altyd aan ‘n kerkbasaar dink. Daar was darem niks lekkerder as ‘n basaarpoeding nie – so ‘n ietsie van als en so tussen al die lekkerte het jy gewoonlik iets raakgeproe wat lekkerder was. Deesdae hou hulle mos nie meer kerkbasaar nie. Ek sal nie weet hoekom nie, dit het sommer net op ‘n dag opgehou. Seker maar een van daardie sinodebesluite.

Hulle hou al vir die afgelope paar jaar dankofferfeeste waar hulle die hele voorkant van die kerk vol vrugte en groente en ander “groceries” pak. Dan ruik dit behoorlik soos ou Vierra se Market Gardens daar voor by die preekstoel. Dominee sê hulle gee die goed na die tyd vir die behoeftiges. Maar, ek dink as hulle teen Vrydag al begin pak het aan daardie uitstalling, dominee Burger speel mos Saterdae gholf, dan is die spul goed mos lekker verlep teen die tyd dat dit by die behoeftiges uitkom. Ons sing eers en dan preek die dominee so ‘n klein bietjie oor dankbaarheid voor hy bid en dan gaan sit jy jou koevert met geld op ‘n tafel daar voor in die kerk neer. Nee, hulle kom haal dit nie, jy moet self opstaan en die geld daar loop neersit terwyl die orrel sulke begrafnismusieke speel. Hoekom moet ek vir jou sê? Dis mos my en die Here se saak wat ek in die koevert sit. Nou hoe moet ek weet wat hulle met al die geld doen, dis mos hulle verantwoordelikheid.

Vir wat sal ek afdwaal? Ek vertel dan nog die hele tyd. Na skool het ek vir ‘n ruk op Boskop, op die plaas self, gewerk. Dit was ou Dik Hendrik se plek. Ons het hard gewerk daardie tyd en die geld was maar effens.

Daardie spesifieke aand toe ek huistoe kom het dit behoorlik katte en honde gereën. Om die waarheid te sê het dit die heeldag al gereën. Toe ek oor Velskoenspruit kom, onthou ek, het dié al kant en wal geloop. Dit was net na daardie paar jaar van droogte en toe die reën uiteindelik kom, toe kom hy mos behoorlik. Ek moes op pad nog eiers vir Ma by tant Hetta loop optel en toe ek uiteindelik die dorp binnekom was dit al sterk skemer. Miskien was ek bietjie te vinnig, maar ek was moerig oor die ge-draaie ryery en dalk het ek nie mooi gekyk nie. Monica was met haar fiets van die ander kant af op pad en toe sy die draai ingaan toe gly die fiets op die modder wat daar van Cohen se erf af oor die pad gespoel het. Ek het haar te laat gesien en toe ek wou briek trap toe gly die kar. Die pad was verdomp modderig en glad, man. Daar was wragtig niks wat ek kon doen om te keer nie. Die kar is met so ’n stampgeluid bo-oor haar. Agterna het hulle gesê sy’s op slag dood. Ek kon niks doen om te help nie en het maar net daar gestaan en kyk hoe hulle sukkel om haar sopnat en gebreekte liggaam onder die kar uit te haal. Die trane het sommer so vanself saam met die reën oor my wange geloop, maar dit het bôggerol gehelp. Al my trane en spyt na die tyd kon haar nie weer lewendig maak nie.

Dit was alles tog so blerrie onnodig want sy was rêrig ‘n mooi kind gewees met haar hele lewe nog voor haar. Nee, ek vee nie trane af nie, magtig, dis iets wat in my oog ingewaai het. Kom ons gaan eet, ek verbeel my die etensklok het dan al hoeka gelui.
 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

monica
Agge nee man! Dis so n tragies einde! ek het lekker gelees en die kweperstorie oulik. Ek onthou ook die kwepers wat ons bure gehad het as kind.
7 jaar 4 maande 4 weke 1 dag 4 ure oud


Baie geniet
Dis een van jou stories wat ek die meeste geniet het - en ek geniet meeste van hulle!

Het ek nou lekker gelag vir Giel se meisie wat die handbriek afgetrap het! Daar was seker 'n stylerige afdraand vanaf die pompkamer na die buitekamer.

Die kweperlaning het my behoorlik laat kwyl. In die 11 jaar dat ek nou in Engeland is, het ek slegs een keer kwepers in die supermark gesien - 'n hele boks vol, nogal by die afdeling EXOTIC FRUIT! Ek koop toe sommer die hele boks en lê dit in. Die werker wat dit geweeg het, het tog te dankbaar gelyk dat iemand dit wou koop!

Basaarpoeding! Goed beskryf! My Pa kon nooit genoeg kry daarvan nie. Met 'n skoolbasaar spreek die klomp onderwyseresse onder mekaar af om elkeen vir hom 'n bakkie te koop - so 20 minute uit mekaar. Hy het eers by die dertiende bakkie begin onraad bemerk.

Nou ja, hier skryf ek nou amper 'n storie onder aan joune. Verskoon maar.
7 jaar 4 maande 4 weke 1 dag 5 ure oud



BLIKeMMER

deur natasha dutton

"...BLIKeMMER is 'n keur van die beste gedigte van dertien opwindende digters wat skryf oor alledaagse dinge: drome en sprokies, verspeelde tyd en vrese, liefde en diepgewortelde smart, donkerdae en kindergeloof, gebede en godloosheid, omgeeflenters en somergeniet, introspeksie en nostalgie, migraine en stilte, genade en worsteling, selfs Lifebuoy en 'n huis in Vergeetstraat. 'n Bundel wat geniet en waardeer sal word deur die letterkundige, die filosoof asook die doodgewone mens op straat. Geniet dit!" (Lynette Beer: Inspirasie Spreker)



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar