Kortverhale

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Rina sit kind-klein in die bruin verslete stoel van die polisiestasie. Haar blinkbruin hare met die nuwerwetse sonstrepe lê deurmekaar om haar kop. Sy vat kort-kort aan haar wang en geswelde oogbank. Sy kyk af na haar goedversorgde hande met die blink diamant en troupant. Daar is ‘n paar bloedvlekke op die regterhand toe sy vroeër die bloed van haar mond afgevee het. Sy vee saggies oor haar lippe en die droeë bloed skilfer tot op haar skoot. As sy aan die gebeure van die oggend dink voel dit asof sy haarself nog kleiner wil maak. Sy verbeel haar hoe sy verdwyn tussen die materiaal van die stoel sodat sy langs die pote afgly, in die besmeerde vloer insmelt en iewers tussen die krake van die hout insypel tot in die sand daaronder. Sy word een met die klam muwwe grond todat sy….. “Mevrou de Kok, probeer asseblief konsentreer! Ons is amper klaar en dan kan u gaan.”

Die sersant se streng stem kom soos ‘n ton bakstene op haar af en sy ruk terug na die oomblik. Die man is onmiddellik spyt oor sy harde stem en vervolg heelwat sagter. “Ek is jammer mevrou, ek dink ek kan verstaan hoe u voel, maar ek wil die verklaring so gou moontlik afhandel vir u eie beswil.”

Justice Ngobeni is al ‘n jare verbonde aan die Welkom polisiekantoor en het al heelwat smart en drama in sy loopbaan gesien. Maar elke keer as ‘n vrou voor hom sit na ‘n aanranding, moet hy homself hard aanspreek om professioneel te bly en nie die strate in te vaar opsoek na wraak nie. Hy voel elke vrou se pyn asof dit aan homself gedoen is. Saam met hulle voel hy weer die sweep op sy rug en bene en proe hy sy eie bloed waar sy tande losgekom het nadat….. Hy voel skielik hoe sy hande styf saamtrek om die pen en sy gedagtes hardloop saam met die woorde oor die wit papier. Hy kyk af na die letsel om sy regterhand se kneukels en hy is weer twaalf jaar oud…

“Jou gemors vandag slaat ek vir jou dood!” Justice se stiefpa staan wydsbeen oor die tengerige seuntjie met die sweep in sy hand. Die splinternuwe radio lê stukkend in die hoek van die karig gemeubileerde kamertjie. Justice wens hy het die lig in die kamer aangesteek toe hy vanoggend opgestaan het. Hy wou egter nie sy kleiner sussie wakker maak nie en het in die donker sy pad na die venster gebaan om die gordyn so effens oop te trek vir bietjie lig. In die proses het hy die tafeltjie omgestamp met die nuwe draagbare radio op. Asof in ‘n droom het hy gesien hoe tuimel die radio grondwaarts en sy hart het ophou klop. Hy het oombliklik geweet wat kom en het nie eers probeer om die skade te verbloem of herstel nie maar net geduldig gewag vir sy stiefpa om huistoe te kom.

Die stiefpa wat hul ma op haar sterfbed belowe het dat hy na hulle sou kyk. Die man met die sweep in sy hande. Die man wat eers drank gekoop het en dan kos. Die man wat eers geslaan het en dan gepraat het. Die man wat sy frustrasies, drange en dronkenskap op klein Justice en veral sy klein sussie uitgehaal het. Haar so geslaan en mishandel het dat sy ophou praat het. Tot vandag toe.

Maar daardie dag het iets in Justice geknak. Klein Justice se hande het krag gekry en hy het die sweep vasgegryp. Hy het hard getrek en die leerbandjies om sy hand gedraai dat dit in sy vleis gesny het. Sy stiefpa het nie hierdie weerstand verwag nie en was klaar onvas op sy voete as gevolg van die middag se kuier in die kroeg. Hy het met ‘n harde slag op die vloer beland. Justice het die sweep nog stywer om sy hand gedraai en toe afgekyk na die bloed wat deur die leer begin slaan. Hy het die sweep opgelig en sy stiefpa het sy hande voor sy gesig hou om die onvermydelike te probeer keer. Ou, verweerde hande wat baie son gesien het en stukkend was van werk in die ondergrondse myn. Hande wat eens op ‘n tyd ‘n klein seuntjie s’n vasgehou het as hulle oor die damwal loop. Dieselfde hande wat gewys het hoe om aas aan ‘n hoek te sit en saans die koerant vasgehou het en vir die gesin voorgelees het uit die dag se gebeure.

Die klein seuntjie het die sweep stadig losgedraai en eenkant toe gesmyt. Hy het woordeloos omgedraai en sy verskrikte sussie se hand geneem en by die kamertjie uitgestap, verby die bure se huis, die skool, die kerk, tot by die polisiestasie. ‘n Welsynwerkster het hom en sy sussie kom wegneem na ‘n plek van veiligheid. Hy onthou haar uitgestrekte hande en hoe sy saggies oor sy sussie se hare gevryf het.

Justice kyk weer af na sy hande en moet sy oë knip om te fokus. Hy is verbaas toe ‘n traandruppel op die hand met die letsel val. Hy het in jare nie gehuil nie!
Dit is baie stil in die vertrek en Rina kyk verbaas op na die sersant. Sy sien ‘n ou krom swart man met trane oor sy wange en skielik weet sy wat om te doen. Sy staan op en sit haar twee sagte wit hande met die bloedmerke op syne. Sy voel die letsel oor sy kneukels. Justice hoor haar saggies prewel “dankie sersant.” Dan gaan sit sy weer. Hierdie keer regop in die stoel met die rugleuning vas teen haar geneusde lyf. Sy begin in ‘n duidelike, sterk stem praat.

“Sersant, my verklaring is as volg. My naam is Rina de Kok. My man is Dokter Jan de Kok. Vanoggend het my man my aangerand en met sy kaal hande probeer verwurg. Hierdie was nie die eerste keer nie.” Met hierdie woorde haal sy haar ringe met een beweging van haar trouvinger af en staar na die kaal linkerhand. Dis asof sy haar hande vir die eerste keer raaksien.

Sy het mooi hande, dink Rina.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Hande wat heelmaak
Hard, eerlik en opreg... Mag almal die moed en krag kry om op te staan teen geweld.
3 jaar 11 maande 3 weke 4 ure oud


Hande
Gesins geweld is 'n gruwelike euwel.
3 jaar 11 maande 3 weke 5 ure oud


hande
Dis nie almal wat die deursettingsvermoë het om te laat los en vry te raak nie. Mens verduur tot op 'n punt. Boeiend en inspirerend gepen.
3 jaar 11 maande 3 weke 5 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar