Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

            Deel 3: Pa se stories wat ek kan onthou.
     
            My oorle pa was ‘n 1909 model en my oupa ‘n 1864 model en het die volgende staaltjie te vertelle gehad oor lank lank gelede.
            My oupa het ‘n strandhuis op Hermanus gehad. Wel, ek sê strandhuis maar dit was ook ‘n oorbly plek vir hom, want hy het baie besigheid op Hermanus gedoen. In daardie dae was daar nie bougenootskappe nie en as iemand ‘n huis, besigheid, kafee of hotel wil koop en begin het hy baie keer mense gehelp deur die finansiering voor te skiet.
            Dit was so ‘n skakelhuis wat hy gehad het. Die een was sy strandhuis en die ander een het hy verhuur. Die huise was regoor die Swallow park. Toe was dit nog ‘n regte park waar mens kon stap en waar twee heuwels gebou was met ‘n paadjie al in die rondte om tot bo vir ‘n uitkyk punt. Daar was ook ‘n visdam met lelies en visse in. Die park was omhein met ‘n plankies heining aan die buitekant en ‘n geplante heining aan die binnekant wat altyd mooi vierkantig geknip was. Daar was altyd ‘n opsigter en as jy te wild tekere gegaan het is jy gou aangemaan en op jou plek gesit. Jy was altyd vir die norse omie so bang soos die duiwel vir ‘n slypsteen. Die park het sekere ure gehad en was ook gesluit in die aande en gedurende die middaguur. Vir die kersseisoen is die bome in die park opgemaak met gekleurde liggies en gekleurde spreiligte en het plante en dies meer in die park verlig. Dit was altyd ons kinders se speelplek as ons by my oupa en ouma gaan kuier het nadat hy afgetree het. Die skakelhuis bestaan vandag nie meer nie en is afgebreek om plek te maak vir ‘n woonstelblok. Die park deesdae, nouja ek wil liewer nie uitwei daaroor nie.
            Wat ek eintlik wil vertel is dat my oupa toe hy nog geboer het en my pa nog kind was daar vakansie gaan hou het as die graan oes klaar afgehaal was vanaf die lande. Dan kon hulle seuns ook vir ‘n klein rukkie see toe kom voordat die drie seuns moet teruggaan plaas toe om die plaas op te pas terwyl die res van die familie, my ouma, oupa en my pa se suster bietjie langer vakansie hou. Dit was dan gebruiklik dat na ete almal bietjie moet gaan skuinslê. My pa was die jongste van die drie seuns en het nie lus gehad vir die skuinslê storie in die middae nie en deur die kamervenster geklim om te gaan kyk as die visserskuite uitkom by die ouhawe. Somtyds het hy die vissers gehelp om hul skuite uit te sleep teen die sleephelling. Hy het geweet wanneer dit opstaan tyd is en dan gesorg dat hy betyds terug is om weer terug te sluip in sy bed en te maak asof hy geslaap het.
           
            Alles het goed verloop by die ouhawe en die skuite was reeds almal in en hy was net op die punt om terug te gaan huitoe. Hy het reeds gekyk hoe van die skuite vol vis een na die ander by die ouhawe inkom. Dit was nogal nie so ‘n maklike taak as wat dit klink nie. Eers word die seil laat sak, dit wil sê, as daar die dag wind was anders moes die skuit vanuit die diepsee ingeroei word. Die roeispane word uitgehaal, dan gewag dat die branders reg is om die skuit in te neem hawe toe en dan die skuit nader geroei. Elke skuit moes sy beurt afwag totdat die branders net reg is om in te kom by die mond van die hawe. Die skuit kom dan op die rug van die brander ingeroei. Die dag was die see ook nog baie rof en die branders redelik hoog. My pa het met sy rug na die see gestaan en na die binnekant van die hawe gekyk, onwetend van ‘n abnormal hoe brander wat in aantog was. Hy was so verdiep in die toneel hier voor hom waar die laaste skuit besig was om uit te kom en die vissermane gestoei het om die skuit veilig teen die helling uit te kry dat die brander my pa onverwags van agter af inhaal. Die brander slaan hom skoon van sy voete af en was hom in die see in. Gelukkig kon hy goed swem, danksy sy plaasdam swem oeffeninge, anders het hy sommer net daar en dan verdrink. Seewater is egter nie so stil soos ‘n plaasdam nie en daar was die dag sterk seestrome wat hom al dieper insleep ten spyte van sy geswemmery. Toe hy so eenkeer moedeloos raak en opkyk sien hy dat ‘n skare mense reeds bo-op Deering se punt vergader het om te sien wat met die seun gaan gebeur. Gaan hy verdrink of gaan hy die see baasraak. So tussen die mense sien hy daar is ‘n ou man met ‘n wit baard en wit sakdoek wat aan ‘n stok vas is en die man beduie iets vir hom. Eers kon hy nie verstaan wat die man vir hom beduie nie. Dit het hom ‘n tydjie gevat om te besef die man wys vir hom wanneer om te swem en wanneer hy hom net moet oorgee aan die stroom. Die man beduie eers hy moet ophou swem, hom oorgee aan die stroom en net water trap. Hy voel hoe die stroom hom dieper see insleep. Instinktief wil hy egter prober swem maar besluit om lierwer die man se tekens te volg. Na ‘n rukkie voel dit vir hom hy word nie meer so vinnig die see ingesleep nie. Dan sien hy daar kom weer ‘n groot brander aan en die man wys hy moet nou swem. So het dit aangehou en wat vir hom soos ‘n ewigheid gevoel het kom hy agter hy is darem nou stadigaan op pad na die ingang van die hawe. Daar is altyd drie klein branders en dan moet hy net water trap. Dan volg drie groot branders en dan wys die man hy moet nou swem. Toe sy voete die grond amper kan raak binne die hawe kom daar nog ‘n laaste groot brander en spoel hom op sy maag oor die hawevloer binne.
            Nodeloos om te sê dat toe sy voete grondvat hardloop hy die heuwel uit en laat spaander teen ‘n stink spoed huistoe. Sy bene, arms en kniee basaf en bebloed. Van die huismense het natuurlik onraad bemerk, maar hy het volgehou hy het gehardloop en toe so geval. Sy pa het aan die aandete tafel na godsdiens geskimp dat hy hoor daar was ‘n seun van die hawemuur afgespoel. Hy het egter niks geweet van my pa se beserings wat sy ma stilletjies verbind het nie. Sy ma het dus goed geweet maar niks gerep nie uit vrees dat haar jongste spruit dalk nog ‘n loesing bo-op sy beserings kan kry.
            My pa en sy ma het die ouman se humeur goed geken en geweet jy moet lig loop vir hom. Toe hy kleiner was het ‘n goewernante vir hulle kinders skool gegee en die klaskamer het uitgeloop op die stoep van die huis sodat as jy op die stoep staan of deur die klaskamer venster kyk kon jy uitkyk oor die landerye voor die huis. Daar was boontjies geplant op die een land en daar was skape wat in ‘n aangrensende kamp gewei het. Soos met enige trop skape is die weiding mos groener aan die ander kant en is daar altyd ‘n ou voorloper ooi wat ‘n opening in die heining kry en so was dit ook hier. My pa kon onthou dat sy pa gevra het hy moet ‘n ogie oor die skape hou sodat hulle nie in die boontjieland beland nie. Die onthou het egter nie lank gehou nie en skoon vergete geraak toe dit speeltyd is en almal dit afsit, hy inkluis, na die peerbome om pere te gaan pluk. Toe hy terugkom merk hy dat die trop skape heerlik wei in die boontjieland. Hy het skielik onthou van sy pa se opdrag en hulle uitgejaag, maar dit was reeds te laat. Die skade was reeds gedoen en net die boontjiestompies het nog bly staan. Sy pa het met sy terugkeer by die klas ingekom en hom kom uithaal. Tot by die boontjieland geneem en hom met ‘n kweperlat geslaan van sy nek tot by sy waaie van sy bene dat die bloed loop en hy vir vyf dae in die bed moes deurbring sodat sy ma sy wonde kon dokter. (Dit het my pa so ‘n renons in lyfstraf gegee dat hy nooit ooit sy hand vir ons as kinders opgelig het om te slaan nie en onmiddelik op sy agterpote was met ‘n onderwyser wat onnodig die lat inlê of te hard inlê op ons as kinders)
           
            Straf was daar wel. Die drie seuns is nou uitgerus genoeg na die harde oesseisoen as hulle kans sien om nie in die middag te slaap nie, want dit het sy pa wel uitgevind. Hulle moet nou uit plaas toe dat hulle kan werk om hulle uit die kwaad te hou.
            Op die plaas aangekom dink my oupa gou ‘n klomp werk uit wat die drie seuns moet doen, asook nog ekstra werk sodat hulle dit onmoontlik sal kan klaarkry voordat hy weer terug is op die plaas na sy vakansie by die see. My oupa was ‘n slim ou kalant en besluit dat as al die ander werk klaar is moet hulle die nabank klip eiland wat in die middel van die werfdam is met die pikke uitkap en met die kruiwaens wegry. Die laaste werkie was sekerlik net om dood, dood seker te maak dat hulle onmoontlik ledig sal kan rondsit en dalk kattekwaad kan aanvang. ‘n Pa ken sy kinders net soos ‘n hoenderhen haar kuikens ken.
            Maar my oupa was seker nog nie op Hermanus nie toe die drie besluit die werk moet so gou moonlik afgehandel word, want hulle het ook nog ‘n paar dingetjies op die agenda wat hulle self ook graag wil uittoets en doen. Die ligte werkies is gou ingedeel en afgehandel. Dan kom daar die jaarlikse werk om die buitegeboue almal af te wit met gebrande gebluste skulpkalk. Dit word altyd voor die winter gedoen om die rousteen mure te beskerm teen nattigheid anders word die mure nat en tuimel hulle inmekaar. Toe hulle met al die werk klaar was kom daar nog die laaste werk, naamlik die groot werk van die eiland in die dam. Maar elke slim pa het mos ‘n slim seun wat nog slimmer is as sy pa en beter weet hoe om ‘n ding gou, gou in ‘n japtrap op ‘n kortpad manier af te handel. Nie altyd die beste en gouste manier volgens die pa nie. Wie kan dan nou in elk geval ‘n yslike eiland van klip in die middel van ‘n dam met pik en graaf uithaal. Hulle sal mos tot volgende jaar hiermee besig wees word toe geredeneer. My pa kom toe met hierdie briljante oplossing vir hul problem.
            Sien my pa het altyd vir ou Moddermannetjie gehelp. Ou Moddermannetjie was ‘n dammaker van beroep. Hy het nie kruiptrekkers en damskroppe gehad soos nousedae nie. Nee, hy het met denamiet gewerk. Denamiet ladings is gestel waar die dam gemaak moet word en die grond en nabanke is dan losgeskiet. Esels is dan ingespan met ‘n skrop agter met twee handvatsels wat deur ‘n person vasgehou is en dan is die grond uitgery tot waar die wal opgebou word. My pa was ‘n baie oplettende mens en het baie mooi gekyk hoe ou Moddermannetjie die denamiet kerste stel en afskiet. (Terloops Moddermannetjie was net sy bynaam nooit die ou se regte naam by my oorle pa gekry nie).
            Gewoonlik het ou Moddermannetjie kom help plaas oppas en dam maak as my oupa strand toe gaan en dan terselfdertyd ‘n ogie oor die drie seuns gehou en hulle in die werk gesteek. Die vorige jaar het daar egter ‘n ding gebeur wat ou Moddermannetjie nie aangestaan het nie en hy het besluit hy is nou vir goed klaar om die drie onhebbelike mannetjies op te pas.
            Ou Moddermannetjie het altyd saam met die seuns in die buitekamer geslaap en so het dit ook die vorige jaar gebeur. Hy het egter die gewoonte gehad om in sy slaap te loop in die nag as almal slaap, veral as die ou die aand kwaai weggelê het aan die lekker skaapvleis wat ou ai Katrien op die houtstoof gaarmaak. Die aand was die drie musketeers egter gereed en toe ou Moddermannetjie weer begin prewel in sy slaap en opstaan volg hulle hom om te kyk waarheen hy so in die nag rondloop. Hulle wis egter nie die ou loop in sy slaap nie. Hy stap toe tot by waterblommetjie dam en buk vooroor om ‘n waterblommetjie te pluk of iets te doen. Wat een van die musketeers besiel het weet niemand nie, maar hoe dit ookal sy voordat enigeen iets kon doen het hy ou moddermannetjie een stamp gegee en daar val ou Moddermannetjie pens en pootjies, met sy meelsak nagkoebaai en al, binne in die dam. Voordat ou Moddermannetjie tot verhaal kon kom het hulle al die hasepad gekies kamer toe. Moddermannetjie het later druipnat die kamer al mompelend ingesstrompel en sy goed begin pak. Hy het nie ‘n woord met hulle gepraat gesê nie, hoe meer hulle kamtig by hom wil uitvind wat dan nou gebeur het dat hy so nat is. Die volgende oggend vroeg is ou Moddermannetjie sak en pak daar weg. Toe my oupa hom die volgende jaar weer vra om die plaas op te pas het hy volstrek geweier en my oupa kon gelukkig niks uit hom uitkry hoekom nie, anders het die drie musketeers se sitvlakke letterlik gebrand. Ek vermoed ou moddermannetjie het geweet iemand het hom in sy slaap gestoot tot in die dam en dat dit een van sy drie kamermaats was.
           
            Nouja, soos ek gesê het, my pa kry toe die blink idée. Dit is om die eiland in die dam met denamiet op te blaas instede daarvan om dit met die pik uit te kap. (Daardie dae het niemand nog geweet van die Big bang teorie nie, maar hulle het sommer besluit om hulle eie Big bang teorie te skep of onwerp.) Hulle weet waar die sleutel van die brandkluis is omdat my pa al geloer het waar sy pa dit wegsteek as hy die kluis gesluit het en hy weet die denamiet kerse en lont is in die brandkluis. Die swaarste deel was om die gate in die eiland te maak waar die denamiet in gelaai word. Omdat hulle seker wil wees die eiland skiet sommer met een slag heel weg word hierdie deel baie goed en sorgvuldig gedoen en word daar meer as genoeg denamiet gelaai en gelont. ‘n Entjie vanaf die dam is daar ‘n vierkant gat in die nabank waarin daar altyd akkers gegooi word en water op getap word om uit te swell as kos vir die varke. Dis nou hierdie gat wat gebruik sal word as bomskuiling as die helse big bang skoot afgaan. Daarvoor is daar sinkplate aangedra om bo-oor te sit vir beskerming van alle vallende goeters en rotse. Ou ysters, ploë, blikke en alles wat hulle in die hande kon kry op die werf is bo-op die eiland geplaas, want dit moet mos nou ‘n helse big bang ontploffing maak.
            My pa het die lont gaan aansteek en seker gemaak hy het genoeg tyd om tot by die akkergat te kom waar die ander twee broers reeds in die bomskuiling skuil. Hulle het ‘n rukkie gewag en toe bars daar ‘n gewldige ontploffing los wat die aarde skut en die sinkplate bo hulle koppe laat skut en bewe. Al drie lê reg by die loergat om die skouspel te kan waarneem toe die skoot afgaan. Dit was blykbaar eers doodstil vir ‘n paar sekondes na die onploffing toe my pa sê: “Sjoe! dis darem ‘n vaal helse big bang ontploffing”. Nadat die stof gaan lê het begin hulle hul vernuftige werk te aanskou. Nodeloos om te sê dat dit hulle stoutste verwagtings oortref het met die helse big bang ontploffing. Die hele eiland het uit die dam uit verdwyn en daar was ‘n tamaai diepe gat in die grond waar die eiland oorspronklik gestaan het. Aanvanklik was hulle baie in hul noppies totdat hulle sien hoe die werf besaai lê met alles wat hulle op die eiland gelaai het plus klippe en rotse wat voorheen deel van die eiland was. Dit was egter niks in vergelyking wat my pa volgende ontdek. Dit is toe dat hy opmerk dat die hele plaashuis se vensters aan die dam se kant ook daarmee heen is van die slag en vlieende klippe. Asof dit nie genoeg is nie is die hele eenkant se muur vol merke soos die klippe die witsel afgeslaan het. Nou moet daar ‘n vinnige plan gemaak word, want dit is ‘n groot werk om al daardie vensters se ruite te vervang. Dit was nog skuifraam vensters ook met daardie honderde klein ruitjies. Die stukkies glas is tot diep in die huis ingeblaas.
           
            Die perdekar is ingespan en een is inderhaas dorp toe met die ruite se maate om ruite, stopverf en verf te gaan koop op ‘n spesiale rekening waarvan hulle pa niks mag weet nie. ‘n Onderhandeling is met die winkeleienaar aangegaan dat hulle elke sent sal terugbetaal en ook met die verstandhouding dat hy nie ‘n word hiervan teenoor hul pa mag rep nie. Daar was tot diep in die nagte gewerk om alles klaar en reg te kry voor hul pa uit die strand terugkom.
            Hul pa kon sy oë nie glo toe hy sien al die werk klaar is en dat hulle nog ekstra werk gedoen het deur die huis ook af te wit aan die noorde weer se kant, sowel as die venster rame geverf is en dat die eiland ook sommer uitgehaal is. Hulle het egter hul pa baie goed dopgehou en gesien hoe hy mooi na die huis se agterkant kyk wat naaste aan die dam is en dat hy buk en ‘n paar klein stukkies van die blou nabank klip optel en bekyk. Daarna is hy na sy studeerkamer waar hulle soos wafferse speurders deur die stoepvenster loer om te kyk wat hy maak. Hulle het yskoud geraak toe hulle sien hoe hy die kluis oopsluit en die denamiet kerse wat nog oor is in die kluis tel. Hulle het gewonder of hulle pa weet hoeveel van die denamiet ou Moddermannetjie die vorige jaar gebruik het. Maar hulle weet ook dat hul pa presies weet wat hulle aangevang het. Die aand aan tafel kon nie een eintlik sy kos inkry nie, want hulle het geweet hulle pa weet wat hulle ook weet en dat die helse big bang bom gaan bars net na aand se godsdiens. Daardie aand lees hulle pa die bybel en dit smaak hulle hy lees hom van voor na agter en weer na voor. Met die gebed is hul kneie later seer maar hul pa hou net nie op met bid nie. Toe weet hulle hier kom ‘n groot ding aan vannaand. So het dit vir die res van die week aangehou met hul pa wat net die nodigste met hulle praat dat hulle senuwees dit later net nie meer kon hou nie en hulle begin bid het dat die vakansie moet verbygaan dat hulle kan skool toe gaan. Later het hulle besef dat dit hulle pa se manier was om hulle te straf en hulle in toom te hou, want hulle het dit nie gewaag om een voet skeef te sit nie. Dit sou beteken dat hulle sommer vir die helse groot big bang ontploffing oortreding ook gestraf word saam met dit wat hulle nou weer aangevang het en daarvoor het hulle nie kans gesien nie.
           
            Hy het nooit weer met hulle oor die eilandjie gepraat nie en hulle ook nie met hom nie. Sodoende was daar net die een helse big bang ontploffing op Noordekloof en gelukkig geen big bang bom wat daarna ontplof het nie.
             
      My pa het nooit gevloek nie en die naaste wat hy daaraan gekom het was om te sê “vaal hel” of “jou vaal hel” en ek glo dit kom van daardie helse ontploffing dae af. Toe daardie slag afgegaan het was dit net een vaal stofbank en hy het sekerlik gedink dat dit vir hom soos een vaal hel gewees het tesaam met die nagevolge van die ontploffing.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

O
Pragtig onderhoudend en so menslik ....dankie
5 jaar 10 maande 2 weke 2 dae 5 ure oud


---
Ou Moddermannetjie! **LAG**

Jou verhale is 'n aboslute lees`fees! Vanaf die amperse versuip af tot by die gat`velle wat waai in die boontjie lande tot anderkant uit by die stukkies blou nabank klip en die eindelose ge`bid.

!!APPLOUS!!
5 jaar 10 maande 2 weke 2 dae 17 ure oud


big bang
ag maar jy vertel so mooi en lekker ... ek sien die spulletjie voor my oe afspeel ...
5 jaar 10 maande 2 weke 2 dae 17 ure oud



Suid-Afrika in die Eerste Wêreldoorlog

deur Francis Gillieron

Kroniek van die rol van Suid-Afrika in Eerste Wêreldoorlog. Gedenkuitgawe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar