Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

‘n Meisiemens by die diensstasie sê nou die dag so terloops in Engels dat Vrydag haar tweede gunsteling “F” woord is, dis nou natuurlik Vrydag soos in “Friday”.

Ek sou nou nie sê ek is onkundig met die dinge van die wêreld nie, maar ek het later ‘n woordeboek nadergetrek, maar ek kon eerlikwaar nie ‘n “F” woord kry wat vir my soos ‘n gunsteling woord kon klink nie.

Vir my was dit natuurlik ‘n heel ander saak. Ek het sommer dadelik aan “fruegthüd” gedink. As die woord vir jou onbekend is, dan’s dit duidelik dat jy nog nooit op die Pampalonas-eilande was nie. Fruegthüd is dié tradisionele gereg wat tydens die “Hüdfesti” in alle Pampalonas huishoudings voorgesit word en is miskien net so tradisioneel soos “Beriuvin”, ‘n alkoholiese drankie wat van bessies gebrou word. Beriuvin is heerlik, maar dit het die skop van twee muile, muile soos daardie berugte span grys muile van Önkel Uljatin.

Fruegthüd word hoofsaaklik gemaak van gemaalde skaaplewer, niertjies, vars gemaalde groenmielies, hawermeel, brandrissies, bokmelkkaas, kweperkonfyt en ‘n paar ander geheime bestanddele. Dit word soos tradisionele mieliebrood gebak (in ‘n kastrolletjie binne in ‘n groter kastrol met water, binne in ‘n warm oond), verkieslik die oond van ‘n koolstoof.

Ewenwel, die Hüdfesti word jaarliks, net na die oes van die lande gehaal is, gevier en almal wat op die eiland is, neem daaraan deel. Die feestelikhede strek ook ‘n tydperk van agt dae en dis ‘n tyd vir almal om uit te hang en onderling besigheid te doen. Ietsie daarvan is verlangs sigbaar in deesdae se straatmarkte of Europese dorpsfeeste. Die sterkste jong man op die eiland word as FestiPreinz gekies en die mooiste jong maagd as FestiPreinzesa. Dis al amper voorspelbaar dat die twee ‘n jaar of wat later met mekaar sal afhaak en trou. Omdat die feesweek gekenmerk word deur kleurvolle optogte, straatpartytjies, deurnagdanse en ‘n oordadige geëet- en gedrinkery, is daar min mense wat werklik ongeskonde is na daardie agt dae van feesvieringe.

Die feesprins word aangewys na ‘n strawwe week van fisiese kompetisie wat paalgooi, armdruk, vaatjiedra, kajakroei, die klim van die Hüneigkrans en nog ander insluit.

Die feesprinses word deur ‘n paneel van beoordelaars aangewys wat bestaan uit die vorige jaar se prins en prinses, die oudste twee mans en vrouens, die jongste getroude paartjie en die paar wat die langste getroud is. Dan is dit natuurlik vanselfsprekend dat sy ook ‘n ekspert moet wees met die sprukne- of festiwalzi. Dis ‘n tradisionele dans wat vir sommige van die meer konserwatiewes dalk so ‘n bietjie té uitlokkend kan voorkom. Toe ek ‘n paartjie die eerste maal so gesien dans het, het ek gewonder of iemand nie dalk die dans summier gaan stopsit nie. Nie dat dit lelik of banaal is nie, dis net totaal anders as dít waaraan ons gewoond is. Dit daar gelaat, dis hulle tradisies en wie is ek om van buite af te wil oordeel of veroordeel. Sonder om groot te praat kan ek darem spog daarmee dat, voor ek van die eiland af weg is, ek self ‘n tekkie of wat kon uitpak op die dansvloer – net so spoggerig soos die beste van die Pampalonas mans.

Maar dis lank terug en dis deesdae met ‘n tikkie weemoed dat ek terugdink aan my elf jaar op die eiland.

Na ek met hoërskool klaargemaak het, het ek by die handelsvloot aangesluit met die doel om opgelei te word as skeepsingenieur. Dit is, vir die wat nie weet nie, van die strafste opleiding wat ‘n mens kan kry. Maar, ondanks die swaarkry het dit ook sy voordele gehad. Ek het baie van die wêreld te siene gekry toe ek uiteindelik toegelaat was om aan wal te kon gaan.

In my derde jaar van opleiding, was ons met die vragskip Panamian Queen op pad vanaf Mumbai via Durban na die besige hawe van Rio Grande in die suidelike staat van Brasilië. Die skip was swaar gelaai met ‘n verskeidenheid van goedere en met ‘n stormsterk suidwestewind teen ons, was ons vordering nie wat wonders nie. Twee dae nadat ons vrag afgelaai het by Tristan da Cunha, het ons in ‘n digte misbank ingevaar. Dit was die eerste keer dat ek so iets beleef het en selfs die ou hande op die skip was vreemd senuweeagtig. Daardie middag, teen vyfuur se kant, toe verloor ons alle radiokontak. Terselfdertyd begin die kompas amok maak. Dit was asof iemand ‘n magneet al in die rondte oor die instrument geswaai het. Van tyd tot tyd sou dit gaan stilstaan en dan het Kaptein Lemmon probeer om koers te hou en tyd in te haal. Dit was selfs onmoontlik om te bepaal vanwaar die son geskyn het omdat die mis so dig gelê het dat jy beswaarlik ‘n tree voor jou op die dek kon sien. Ons was, vir alle praktiese doeleindes, stokblind.

Vyf dae later trek die mis skielik weg en is dit windstil en die see spieëlglad. Daar was steeds geen radioverbinding nie en die kompas het nog altyd ‘n kotteljons gedans. Op die horison egter kon ons die groen berge van land uitmaak en ons het soontoe koers gekry. Die ouer seelui het begin om weddenskappe aan te gaan oor watter land of eiland dit kon wees. Dié een het die berge uitgeken as die een of ander berg in Suid Amerika terwyl ‘n ander een weer gereken het dat die landvorm baie duidelik dié van die een of ander vulkaniese eiland was.

Hoe dit ookal sy, geeneen was reg nie, want soos ons nadergevaar het, met meeste van die matrose op die dek, was dit doodstil behalwe vir die dreuning van die reuse dieselmasjiene. Die spanning tussen die manne was voelbaar want ten spyte van al hulle omswerwinge het niemand nog ooit daardie landmassa, wat voor ons gelê het, gesien nie.

Drie lang, wit roeibote met agt mans per boot het in ons rigting begin aankom en die kaptein het, gedagtig aan die moontlikheid van seerowery, anker uitgegooi. Omdat ek ‘n mate van taalvaardigheid gehad het, is ek en die Eerste Offisier afgevaardig om met die skip se motorboot die verwelkomingsparty tegemoet te ry.

Dit was in die eerste plek om uit te vind waar ons was en in die tweede plek om te hoor of hulle met ons wou sake doen. Ou kaptein Steward Lemmon het nie vreemdelinge op sy skip toegelaat nie, maar hy sou nooit nee dankie sê vir ‘n kansie om bietjie besigheid te doen nie. Omdat hy bewus was daarvan dat baie van die verafgeleë eilande nie gereeld besoek ontvang nie, ry hy altyd so ‘n klompie ekstras saam soos materiaal, gare, naalde, knope, tuingereedskap, potte en panne en so hier en daar ‘n luukse. In ruil vir sy handelsware het hy (somtyds rare) tradisionele kunswerk aanvaar wat hy, op sy beurt, weer teen ‘n aansienlike wins aan handelaars in Amerika en elders verkoop het.

Dit was dus met voorbeelde van die kaptein se handelsware wat ek en Jimmy, die Eerste Offisier, die bote tegemoet gegaan het.

Nog ‘n skok het op ons gewag. Behalwe dat die bote duidelik tuisgemaak was, het dit sterk herinner aan die Viking-bote van ouds. Selfs die bemanning, met hulle growwe, en amper aardse klere, lang blonde hare, weglêsnorre en outydse voorkoms, het soos mense uit die verre verlede gelyk.

‘n Kêrel, wat gelyk het asof hy jou met een klap van daardie hamme van hande, sou kon doodslaan was die hoofman oor honderd en die segsman vir die verwelkomingskomitee. Aanvanklik het die gepraat soos ‘n gebrabbel geklink, maar het ek tog na ‘n rukkie ooreenkomste met hedendaagse Noorweegs begin optel. Omdat ek en ‘n Noorweër, Leif Nillsen, lank saamgewerk en hy volstrek geweier het om Engels te praat, was ek op daardie stadium redelik kundig met die taal.

Na ‘n aanvanklike gebeduiery en gevoel-voel rondom die taal, het ek en die ou mekaar begin verstaan. Ons het die handelsware in een van hulle bote oorgelaai en daar is besluit dat ek saam met hulle land toe sal gaan waar daar oor die moontlike waarde van die goedere besin sou word. As hulle besluit het dat hulle daarvan gebruik kon maak, dan sou ons verder oor die terme onderhandel. Ek het agtergekom dat Jimmy tot die dood toe senuweeagtig was, veral omdat al die manne rondom ons gewapen was met groot swaarde en duidelik kundig was in die gebruik daarvan. Die enigste teëvoeter wat ek en Jimmy daarvoor gehad het, was ‘n “Swiss Army Knife”. En, ondanks die wonderlike eienskappe daarvan, sou dit ongelukkig nie hond haaraf kon maak tussen daardie Nordiese vegters nie.

Ek is saam met Hägar die Verskriklike en sy dapper duisend land toe terwyl Jimmy terug is skip toe om intussen nog handelsware te gaan oplaai.

Terwyl ek gestaan en kyk het hoe hulle die kwaliteit van die goedere belaglik maak deur die potte tussen hulle hande te verwring en die materiaal in repe te skeur kom een ou opgewonde van die hawe se kant af aangehardloop. Hy’t so deurmekaar gebrabbel en beduie dat ek g’n woord kon uitmaak van wat hy probeer sê het nie. Toe hy klaar is, kyk die ou klomp na my en begin een vir een uitbars van die lag. So tussen die lagbuie deur dring die realiteit van wat die hoofman vir my probeer verduidelik met ‘n nare gevoel op my maag tot my deur. Kaptein Steward Lemmon het met skip en al weggevaar. Ek hardloop vervaard na die uitkykpunt, so ‘n ent weg, en is net betyds om te sien hoe die skip om die eiland se verste punt verdwyn. Die verhaal wat Jimmy aan die kaptein vertel het was seker so vreesaanjaend dat die ou besluit het om maar een van sy bemanningslede op te offer ter wille van die behoud van sy skip.
Ek het sleepvoet en platgeslaan teruggestap tot daar waar die ou klomp nog steeds gelê het soos hulle lag. Kaptein Lemmon se handelsware het in frommels en repe op ‘n hoop gelê, alles behalwe ‘n groot driebeen gietysterpot. Dit was dié een item waarmee die ou klomp nogal heel beïndruk was.

En so het dit gekom dat ek totaal onbepland deel geword het van die vreemde eilandbevolking van die Pampalonas-eilandgroep.

Maar, dit was alles behalwe maklik. Ek het gedink ek het relatief hard en manlik grootgeword tot ek tussen daardie klomp beland het. Selfs die vrouens het my aanvanklik ore aangesit. Vir hulle het dit uit en uit oor fisiese krag, uithouvermoë en oorlewing gegaan. As daar ‘n klip in Olof se pad was, dan het hy dit verwyder, maak nie saak hoe groot of hoe swaar dit was nie. As twee mans mekaar om die een of ander rede misverstaan het, dan het hulle mekaar gevoeter totdat ten minste een van die twee aan die einde van die geveg wel die nodige begrip gekry het. Dit was die weë van die eiland, Vanaand het hulle met geswelde gesigte en stukkende lippe saam ‘n beker of ses beriuvin gesit en wegslaan en was hulle die beste van vriende.

Uit die stories wat saans voor die vuur in die “keukenhüs” vertel is, het ek mettertyd die geskiedenis van die mense en hulle herkoms agtermekaar gesit. Om en by ‘n duisend jaar tevore het dertig bote onder leiding van Thorfinn Karlsefni uit hulle tuishawe vertrek om nuwe handelsposte te gaan vestig. Veertien van die dertig bote het in ‘n storm van die ander verwyderd geraak en na hulle deur vele dae van windstiltes en digte mis koersloos voortgesukkel het, het hulle ten einde laaste op hierdie eilande afgekom. Hulle het beraadslaag en besluit dat die een handelspos so goed was soos die ander en daarom het hulle gebly en begin om die eilande te bewoon en te bewerk. Die eilandgroep bestaan uit ‘n hele reeks van eilande wat rofweg in ‘n noord-suid rigting gerangskik is. Daar is drie groot eilande en ‘n hele klompie kleineres. Die inwoners maak hoofsaaklik ‘n bestaan uit boerdery, visvang en al die verwante bedrywe wat nodig is om daardie aktiwiteite te onderhou. Dis nou ambagte soos die bou van bote, die maak van ploeë, die maak van klere, ens. Niemand kon my egter vertel waar die naam Pampalonas vandaan kom nie, want dit klink alles behalwe Noors, eerder amper soos Spaans. Hulle was skynbaar baie min gepla oor die naam of die oorsprong daarvan en was bloot trots om inwoners van Pampalonas te kon wees.

Ek is, nadat die raad van oudstes die gode geraadpleeg het, deur hoofman, Magnus Canute toegewys aan ‘n ou met die naam van Anund Húscarl wat op ‘n windverwaaide eiland met skape geboer het. Die gode, so tussen hakies, was die welbekende Noorse gode Odin, Thor, Freya en hulle somtyds onhebbelike metgeselle. Nie dat die klomp eilandbewoners baie ernstig was om in hulle gode se goeie boekies te bly nie. Die ou wat namens hulle met die gode moes onderhandel was die godis of medisyneman. Met sy lang wit baard het hy my nogals baie laat dink aan prentjies van die legendariese Merlin. So iets tussen ‘n priester en ‘n dokter was hy goed vetroud met die medisinale eienskappe van die plante op die eiland en daarom kon hy meeste kwale met redelike sukses behandel
Ewenwel, ek het sommer baie gou agtergekom dat my handjies nie harde werk gewoond was nie en dat Anund boonop ‘n slawedrywer was wat om die een of ander rede geglo het dat mens van ligdag tot skemeraand moes werk.

Op sosiale gebied weer, moes ek myself eers bewys voordat ek as as een van die eilandbewoners aanvaar kon word. Met rukke en stote, ‘n gebreekte neus, stukkende kneukels en ‘n broos gemoed, het ek geleidelik die lewenstrappies begin klim en ‘n plekkie vir myself in die rangorde oopbaklei. Na drie jaar is ek selfs toegelaat om ‘n stukkie grond vir myself te bekom op die hoofeiland met ‘n paar ooie en ‘n ram wat Anund vir my gegee het as wegspringkapitaal. Ek moes self vir my ‘n huis pak van klip, self die kalk brand vir die sement en pleisterwerk en self die riete gaan sny en aankarwei vir die dak.

Dit was in daardie tyd dat ek besluit het dat die sleë waarmee hulle tot nog toe oor die weg gekom het, ‘n mors van energie was. Met die insette van Harald, die beste skrynwerker op die eiland, het ek en hy ‘n wa geprakseer met houtwiele wat met ysterbande rondom versterk was. Aanvanklik het die mense vir my en my wa gelag, maar nadat ek ‘n muil ingespan het en klippe sonder moeite van vêr af begin aanry het, was daar skielik belangstelling. Behalwe vir my skaapboerdery het ek en Harald waens begin bou.

Kort daarna ontmoet ek vir Signe. Ek het ‘n wa gebou vir ‘n ou met die naam van Yngvi en die dag toe ek die wa gaan aflewer, toe ontmoet ek sy suster. Signe was nie soos die deursnee maak-of-breek vrouens van die eiland nie. Sy was fyn, stil, sag en pragtig en dit was ‘n plesier om tyd in haar geselskap te kon deurbring. Yngvi het waarskynlik gesien dat daar elektrisiteit tussen ons twee was en hy het die groeiende aangetrokkendheid van sy kant af soos ‘n vuur aangeblaas. Omdat die meisiekind totaal “anders” was as die gemiddelde boervrou, was dit ongelukkig so dat daar nie juis baie jong mans op daardie huis se drumpel geboer het nie. Yngvi het, as oudste broer, die verantwoordelikheid gehad om vir sy susters te sorg totdat hulle getroud was. My koms het vir hom die potensiaal ingehou om daardie verantwoordelikheid te kon aanskuif.

Alhoewel ek baie lief geword het vir my blonde engeltjie, kon ek tog nie help om agterna te wonder of my swaer daardie tyd rêrig ‘n wa nodig gehad het.

Ek en Signe is, drie maande nadat ons ontmoet het, getroud en getrou aan die tradisies van die eiland, is daar vir ‘n week lank, na die troue, fees gevier. Skaars nege maande later is klein Tore gebore. In retrospeksie was daardie paar jaar seker die gelukkigste tyd van my lewe. Ons het hard gewerk en somtyds bitter swaar gekry ook, veral as die reën nie betyds was of as ‘n onbekende vrekte onder die skape ingevaar het. Maar, ondanks die af en toe se teëspoed, was ons dolgelukkig in daardie klein kliphuisie van ons teen die skurwe Revetrante. Twee jaar na Tore is ‘n dogtertjie gebore wat ons Verna genoem het. Albei van hulle was gesonde en lewendige kinders wat Signe laat ontpop het in ‘n wonderlike ma en ongelooflik liefdevolle eggenote.

Volgens eilandtradisie, moes alle seuntjies, sodra hulle die ouderdom van ses bereik, na die Treite eiland gebring word waar hulle ‘n tipe van skoolopleiding moes ontvang. Die voorbereidings vir Tore se skooltoegaan het my baie laat dink aan die tipiese gebak en gepak voor my eie koshuisdae.

Omdat meeste eilandbewoners tussen eilande gereis het vir handel en om familie te besoek, het baie gesinne hulle eie bote gehad en het meeste mense van kleins af geweet hoe om ‘n boot op die oopsee te hanteer. In ons geval was dit ook nie anders nie, en alhoewel ek nie op ‘n boot grootgeword het nie, was ek heeltemaal kundig in die hantering daarvan en met Signe se kennis daarby, was dit formaliteit. Twee dae voordat ons sou vertrek het ‘n snaakse weer egter oor die eiland begin inbeweeg. Die ou mense het dit die “groetweer” genoem omdat dit saamgegaan het met ‘n baie onvoorspelbare see waarin bote maklik deur die maalstrome teen die rotse gedryf kon word.

Toe dit tyd word om te vertrek wou ek dat ons liewer ‘n dag of twee wag, maar Signe het gesê sy ken die see en het daarop aangedring dat ons die rit agter die rug kry. Sy wou die afskeid nie té lank uitstel nie. Ons het die vrag gebak, drinkgoed, klere, komberse en watookal nodig was hawe toe gekarwei en, op Signe se aanwysings, in die boot gepak voordat ons die see ingevaar het.

Ek moet sê dat ek verbaas was oor die behendige manier waarop my vrou die boot in die deurmekaar water hanteer het. Ons het welliswaar gespook teen die seestrome en die wind, maar ons vordering was bo verwagting goed. Toe ons by die tweede eiland verby is, het die wind meteens gaan lê en was die see ook baie meer genaakbaar.

Totdat ‘n digte mis skielik oor ons toegesak het.

Een-en-twintig dae later is ons deur ‘n verbygaande vragskip raakgesien en opgepik. Danksy die kosvoorraad wat vir Tore ingepak was, kon ons wonderbaarlik daarin slaag om te oorleef. Ons het die eiland nooit weer gesien nie.

Die oorgang vanaf die ou na die moderne wêreld was vir Signe heeltemaal onmoontlik. En, al het ons by my ma op die plaas gebly, was dit asof die groot ooptes haar eenvoudig versmoor het. Baie keer het sy my snikkend vasgehou en gesmeek om haar terug te vat. Maar verdomp, wat kon ek doen? Dit was kompleet asof jy ‘n plantjie uit die groen heuwels van Ierland uitgetrek en in ‘n somerstuin in Karasburg kom plant het. Al gee jy dit hoeveel water, liefde en sorg sal dit eenvoudig nie groei nie, dit gaan uiteindelik vrek. Haar liggietjie het geleidelik al flouer en flouer geword het totdat dit uiteindelik heeltemaal doodgegaan het. Drie maande nadat ons uit die see gered is, is sy een aand stil in haar slaap oorlede.

Die dag na haar begrafnis het Ma my kom roep. Op haar graf het ‘n seemeeu gesit. ‘n Seemeeu? Ek meen ons was omtrent drie-honderd kilometer van die see af. Terwyl ons albei nog so sprakeloos gestaan en kyk het, het die meeu gekrys, opgevlieg en na ‘n paar draaie oor die werf koers gekies see se kant toe. Signe het huistoe gegaan.

Was dit nie vir my ou weduwee ma nie, dan sou ek en die twee kinders baie moeilik ons hartseer kon verwerk het. Met eindelose geduld het sy die rol van die twee se ma ingeneem en hulle, op haar knieë, begin voorberei vir die lewe. Toe ek uiteindelik na ‘n maand en ‘n half weer die wêreld in die oë kon kyk, was die twee alreeds op die regte pad.

Ma is intussen lankal dood en die twee kinders is albei uit die huis uit. Verna, die pragtige blonde een met ‘n wil van yster, onthou bitter min van die eiland en selfs vir Tore, die sterk en stil een, het die herinneringe grootliks vervaag. Soos ek egter oud word, kom lê die onthou van die vreugde en die vrede in die primitiewe eenvoud wat ek en my blonde Signe op Pampalonas beleef het somtyds baie swaar op my gemoed.

Hulle sê mos die kruis van oudword is dat jy begin om al hoe meer in jou verlede te leef. Dit help gladnie om daaroor te probeer praat nie. Die meeste mense skud net hulle koppe en jy kan aan hulle gesigte sien dat hulle dink jy moet eerder ‘n sielkundige gaan spreek. Daarom dat ek dit op skrif gesit het - dan kan jy mos maar glo wat jy wil.





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Herinneringe
Moes eers sekermaak daar's nie regtig so plek of 'n woord met 'n betekenis nie. Die plek self is rofweg op die Faroe Eilande gebasseer omdat dit vir my lyk soos een van daardie plekke waar jy moet draai voordat jy eendag jou kop neerlê. Groete en dankie vir die lees daarvan.
7 jaar 3 maande 3 weke 6 dae 4 ure oud


Pampalona
Jy het my lekker uitgevang - ewe simpel gan google ek toe Pampalonas nadat ek die eerste paar paragrawe gelees het en my mond gewater het vir die gemmalde lewer, niertjies, groenmielies en kweperkonfyt(!) met die interessante Germaanserige taal - en kry toe natuurlik NIKS! Lag toe lekker vir myself toe ek die res vn die boeiende verhaal lees! Regtig geloofwaardig vertel!

7 jaar 3 maande 4 weke 1 dag 7 ure oud


Dog, dog,
Ek glo jou.

Hart en siel.
7 jaar 4 maande 3 dae 4 ure oud



Van liefde en so ...

deur Robelle

Verse oor liefde in blom, in krisis, verlore ... verwerkte grappies in digvorm



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar