Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Heuningkrans is ‘n mooi plek. Dit is ‘n gedeeltelik digbegroeide kloof met ‘n helder waterstroom wat in die berge ontspring en teen die masiewe granietkrans langs verbyvloei. Die krans self bestaan uit afwisselende loodreg granietmure wat met die verloop van milleniums horisontaal op drie vlakke geskuif het met digte bos wat geleidelik op elke breuk vastrapplek gekry het. Die kleur van die graniet is die kleur van heuning as die son reg daarop val. Maar, die kranse self is ook ‘n bron van wilde suikerbosheuning as jy dit kan waag om tot daar bo by die neste te klim.

Heuningkrans is verder ‘n plek met heelwat geskiedenis en historiese konneksies. Teen ‘n oorhangkrans, naby die stroom is daar unieke rotstekeninge waarvan die bekendste seker die sogenaamde “Man met die hoed” is. Die reuse wildevy wat skaduwee gooi oor ‘n groot plat klip, ‘n klip wat volgens oorlewering vir menslike offers gebruik was, was vir honderde jare ‘n heilige plek vir een van die plaaslike stamme - ‘n stam wat later feitlik heeltemaal deur die Mfekane van Shaka se voortrollende impi’s uitgewis is. Nader aan die hede was die moord op die groepie trekkers wat, asgevolg van herstelwerk aan ván die waens, verwyderd geraak het van hulle hooftrek. Tot tyd en wyl hulle kontak kon maak met die groter groep, het hulle tydelik in die beskutting van die krans, langs die stroom, laer opgeslaan. Teen ‘n rots het iemand, waarskynlik in daardie selfde tyd, die naam Gertruida en die datum 1836 uitgekrap. Dié ses mans, agt vrouens en veertien kinders is een oggend vroeg onverhoeds betrap deur ‘n groep rebellekrygers wat ‘n bestaan gemaak het uit moord en roof op van die swak en kleiner inboorlingstamme. Die trekkers se kruit en koeëls was min, en toe dit opraak, was daar geen uitkomkans nie omdat hulle teen die krans vasgekeer was. Daardie selfde groep krygers is later tydens ‘n strafekspedisie anderkant die huidige Ouhoutspos aangeval en uitmekaargejaag.

In die tyd van die destydse Zuid Afrikaanse Republiek was Heuningkrans ‘n polisiepos met ‘n tronkfasilitiete. Dit was daar waar ‘n ene Sarel Hougaardt opgesluit is nadat hy met gesteelde beeste in sy besit betrap is. ‘n Onbekende aanvaller het hom een aand van buite af, deur die tralies van sy tronksel, doodgeskiet. Die vermoede was dat Sarel by die jong vrou van ‘n boer uit die omgewing gekuier het en dié verantwoordelik was vir die moord. Voordat die saak egter behoorlik ondersoek kon word breek die Tweede Vryheidsoorlog uit. In die eerste jaar van die oorlog wissel die eienaarskap van die gehuggie elke nou en dan tussen die Boere en die Britte. Met die skaal wat egter later oorwegend in die Britse Ryk se guns geswaai het word die verhongerde en uitgeputte boere wat nog in die veld was hot en haar deur die Britte rondgejaag. In daardie tyd slaan ‘n Engelse transport beskermingseenheid kamp op by die krans. ‘n Baie waaghalsige Veldkornet Maans Uys en sy kommando betrap die ontspanne Engelse met die spreekwoordelike broek op die knieë. Dertien Britse soldate word daardie namiddag daar doodgeskiet en die oorblywende sewentien word van hulle klere, kos en wapens ontneem.

Die, op die oog af idilliese plekkie, was dus deur die jare die getuie van sinlose offerhandes, desperate gevegte, ‘n koelbloedige moord en ‘n eensydige veldslag. Hoeveel rustelose siele steeds, in hulle soektog na vrede, daar deur die lang gras rondgedwaal het, sal niemand seker ooit weet nie.

Vir baie lank na die oorlog was die vervalle geboue oorgelewer aan wind en weer totdat Petrus Roux die plek in 1924 vir ‘n appel en ei aankoop en ‘n winkel en handelspos daar begin. Drie jaar nadat hy sy deure vir besigheid ooppgemaak word, word hy een oggend deur ‘n werker op sy winkel se stoep aangetref met blou kneusmerke oor sy hele lyf. Sy gesig was so wit soos ‘n laken en die uitdrukking daarop het van iets afgryslik getuig. Hy was egter nie instaat om ‘n verklaring vir sy toestand te gee nie en het net daar gesit en bewe terwyl hy onverstaanbaar gemompel het.

Na daardie voorval het die plek op ‘n gereelde basis van eienaar verwissel met niemand wat enigiets meer wou sê as dat die omgewing daar vervloek was nie.

Ma se stiefbroer, Salvatore Diedericks, koop die plek en die sowat 20 hektaar waarop die krans en kloof geleë is, gedurende 1972 vir baie minder as wat grond in daardie omgewing daardie tyd werd was. Hy herbou die huis en bou ‘n werkswinkel en ateljee. Salvatore is die seun van my oupa se tweede vrou en hy is op die oog af heeltemaal eksentriek. Sy lang hare (deesdae silwergrys) is in ‘n poniestert vasgemaak en hy maak ‘n bestaan deur die maak en verkoop van baie eksklusiewe meubels en vreemde kunswerke. Verder hou hy hom besig met die bestudeer van godsdienste, kultusse, bygelowe en hipnose. Sy versameling religieuse voorwerpe uit verskillende beskawings is ongelooflik interresant en daar is selfs ‘n swaar koperbak met Hebreeuse inskripsies wat hy sweer uit Salomo se tempel moes gekom het.

Omrede Salvatore se voorkoms en vreemde belangstellings was hy vir lank die voorwerp van ondersoek en belangstelling vir agente van die Buro vir Staatsveiligheid. Vir ‘n hele paar jaar was daar gewoonlik ‘n voertuig met ‘n enjinprobleem in die omgewing van sy ingangshek opgemerk. Daar was soveel meeluisterapparaat op sy telefoonlyn dat hy nooit die telefoon kon gebruik nie – die ontvangs was eenvoudig te swak. Nadat een van die verveelde brandwagte in sy GM Ranger een koue wintersaand skynbaar deur “demone uit die hel” aangeval en beseer is, het die voertuie nie weer daar rond enjinprobleme ontwikkel nie.

Salvatore was, toe ek nog op skool was, nou nie juis die familielid waarmee jy by jou vriende gespog het nie. Hy’t van tyd tot tyd by ons aan huis gekom, maar ons kon sien dat hy en Pa nie regtig belangstellings gedeel het nie. Na skool het ek ‘n werk naby Pretoria gekry en ‘n ou huis op ‘n plot gehuur waar ek oor naweke en in my vrye tyd bietjie houtwerk gedoen het. Salvatore het, op Ma se aandrang, daar vir my kom kuier en, omdat hy my met die fyner kunsies van houtwerk kon help, het ons vriende geword. Dit wil sê sovêr as wat enige mens met Salvatore kon vriende maak. Die man het ‘n spreekwoordelike muur rondom hom gehad en die naaste wat mens aan hom kon kom was om deur die spreekwoordelike venster met hom te kommunikeer. Dit het nogtans beteken dat hy gewoonlik by my kom oorbly het as hy op pad was na of net teruggekeer het van die een of ander eksotiese buitelandse bestemming. Ek was naby genoeg om hom lughawe toe te vat of daar te gaan haal. As blyk van waardering het hy dan gewoonlik die een of ander vreemde bottel drank of likeur, as geskenk, vir my gebring. Nie dat dit my enigsins gebaat het nie, want ons het dit gewoonlik, op sy aandrang, die aand nadat hy terugggekom het gesit en uitdrink met al die logiese gevolge die volgende oggend.

Sowat twee jaar gelede moes hy op ‘n dag dringend Kaapstad toe en het iemand nodig gehad om op Heuningkrans deur te bring om na sy aangenome dogter om te sien. Behalwe vir die waarskuwing dat ek my moes gedra by sy dogter, het hy my ook laat belowe dat ek dit nie na donker buite die huis sou waag nie. Op my vraag hoekom nie, het hy bloot gesê dat alles buitekant die huis aan die geesteswêreld behoort het. En, of ek nou aan geeste geglo het of nie, dit was taboe om na donker uit die huis uit te gaan. Die manier waarop hy dit gesê het, het my oortuig daarvan dat hy baie ernstig was daaroor. Sy voorstel aan my was dat ek teen vyfuur namiddag die deure agter ons moes toesluit, die gordyne toetrek en dit nie weer voor sewe-uur die volgende oggend oopmaak en oopsluit nie. Ek moes my ook op geen stadium steur aan enige van die geluide wat ek dalk buitekant die huis mag hoor nie. Dit maak nie eers saak of dit soos iemand klink wat om hulp skree nie.

Wat buite was, sou buite bly solank daar nie ‘n opening was waardeur dit in die huis kon inkom nie. Daardie openinge was anders as die deure en vensters wat ons geken het, maar op ‘n manier was dit ook dieselfde. Sonder om in die detail te probeer ingaan oor dit wat hy aan my verduidelik het, kom dit basies op die volgende neer. Asgevolg van die hoeveelheid sinlose moorde wat op daardie plek gepleeg is, is baie van die siele onverhoeds betrap en is hulle natuurlike deurgang uit hierdie lewe na die volgende lewe geblokkeer. Dit veroorsaak dat hulle desperaat soekend is na ‘n medium om hulle deurgang te probeer fasiliteer. Die mens is die mees natuurlike medium en om dit te kan regkry moet hulle by hom kan uitkom. Salvatore het beweer dat sy huis, solank al die deure en vensters toe bly, veilig is teen die dwalende wesens. Ek was nie meer heeltemaal so begeesterd om na Heuningkrans toe te gaan nie, maar ek het tog gevoel dat ek die een of ander verpligting teenoor hom gehad het.

Vir die duur van die rit soontoe was ek vreemd nuuskierig maar terselfdertyd senuweeagtig oor dit wat vir my op daardie plek gewag het. Meer so nadat Salvatore vir my die tragiese geskiedenis van Heuningkrans vertel het.

Teen twaalfuur daardie middag ry ek die werf binne waar Salvatore se aangenome dogter, ‘n pragkind met die naam van Claudia, my ingewag het. Vandat ek haar die eerste keer gesien het, was dit vir my byna onmoontlik om haar met daardie plek te vereenselwig. Sy was alles wat sag aan ‘n mens kon wees. Haar voorkoms was sag, haar manier van praat was sag, haar optrede was sag en . . . wel, om dit in kort te stel, het sy my aan ‘n sagte wolspeelding laat dink wat jy net teen jou wou vasdruk.

Sy was sigbaar opgewonde oor my koms en kon nie wag om my al die pragtige plekke in en om die kloof te wys nie. Ons moes egter net eers my oornagtassie in my toegewese kamer gaan bêre en my kar in die motorhuis toesluit. Claudie het ‘n ding, wat soos ‘n visnet lyk, oor die kar getrek wat met ‘n elektriese koord aan ‘n kragprop verbind was. Oor die rede daarvoor het ek nie uitgevra nie. Dit sou in alle waarskynlikheid verhoed dat ‘n gees van ‘n onwillige offer uit die sewentiende eeu saam met my Pretoria toe ry.

Met die intrapslag in die huis het ek opgemerk dat die vensters van die woonhuis die voorkoms gehad het van die glas wat mens in die deur van ‘n mikrogolfoond kry. Die buitedeure het teen ‘n grys sponsagtige seël toegetrek en behalwe vir die gewone deurslot was daar boonop nog ‘n swaar grendelbalk. Salvatore het duidelik geweet watse goed in die nag buite sy huis rondgeloop het.

Die besigtigingstoer, aan die hand van die pragtige en lewenslustige Claudia, langs die stroom en deur die ou murasies was ‘n ervaring-en-‘n-half. Dit was asof die tragiese geskiedenis nuwe lewe gekry het omdat die gebeure aan plekke gekoppel kon word en ‘n mens jouself in die verwarring en die vrees van die slagoffers kon indink.

Op ‘n stadium waag ek ‘n vraag oor een van die goed waaroor Salvatore my gewaarsku het. “Die geluide in die aand, wat presies is dit?”

Dit was asof daar ‘n skaduwee oor haar toesak. “‘n Mens kan dit nie beskryf nie. Al wat ek kan sê is dat dit iets verskriklik is, maar dit is anders vir elkeen wat dit hoor. Ek is al drie jaar hier, maar kon nog nooit daaraan gewoond raak nie.”

“Is dit elke aand se ding?”

“Nee, dit gebeur gewoonlik wanneer jy dit die minste verwag. Dit het het te doen met die stand van die maan en sonvlekke en ander magnetiese goed, ek weet nie regtig nie. Salvatore is die kenner op die gebied.”

Voor vyfuur al het ek begin sekermaak dat al die deure en vensters dig toe was al het Claudia duidelik geweet wat sy doen. Die sagte gedreun van lugversorgers het sekergemaak dat ons nie doodgegaan het van die hitte nie en dat vars lug deur die huis bly sirkuleer. Die plek was duidelik die resultaat van kennis op die gebied van die paranormale en in alle waarskynlikheid dalk die gevolg van dure ondervinding.

Later het Claudia vir ons kos gemaak en ter wille van die geselskap het ek by haar in die kombuis gesit. Eintlik was ek eerder te vrek bang om alleen êrens in daardie groot huis te wees. As die dak net gekraak het, het my hare behoorlik orent gestaan. Na ete het ons na haar musiek gaan luister. Die klanksisteem was van so aard dat dit gevoel het jy sit midde-in die opname en omdat jy niks anders as net die musiek gehoor het nie, het ek geglo dat dit ten minste die geluide buitekant sou uitdoof. Ek was verkeerd.

Na ete sit ek en Claudia in haar slaapkamer en gesels terwyl sy my van haar foto’s wys. Teen tienuur daardie aand het dit eers geklink asof twee katte mekaar oor die dak jaag en kort daarna gil ‘n vrou in die verte. Net daarna begin daar stemme praat – dit het kompleet geklink asof die huis deur ‘n ontevrede skare omring is terwyl hulle stemme soos golwe in intensiteit toeneem en afneem. Dit verander later in ‘n konstante dreuning van mans en vroue stemme wat afgewissel was deur kinders wat lag en klink asof hulle rondhardloop en speel. Skielik was dit doodstil en dis mos asof jou ore, na die konstante geraas, gespits word om ‘n geluid te wil hoor. Die stilte het egter voortgeduur en geleidelik het ek begin ontspan. Dit was soos ‘n swaar kombers wat van my afgehaal word en ek kon weer vrylik asemhaal.

Ek het teruggesit en wou net iets vir Claudia sê toe ‘n vrou begin gil. Dit was egter nie net ‘n gil nie. Elke haar op my lyf staan orent want daardie gil kom diep uit die binneste van die slagoffer en dit verteenwoordig rou angs en wanhoop. Die ergste was dat dit reg voor die kamervenster was. Skielik word daar oral aan die deure en vensters geruk, sodanig dat ek in doodsangs daar gesit en wag het vir een van die vensters om te breek. Ek waag dit om op te staan en ek waag dit om deur die gordyne te loer. Die gesig wat ek daar gesien het, laat my steeds partykeer in die middel van die nag wakkerskrik. Dit was dié van ‘n jong man uit die vorige eeu. Die uitdrukking in sy oë smeek om hulp terwyl bloed uit ‘n kopwond teen sy gesig afstroom. Skielik word hy weggeruk en vervang deur ‘n gemaskerde figuur wat sy gesig met geweld teen die venster stamp. Ek strompel vervaard weg van die venster af en val terug op die bed terwyl my hart beangs in my keel klop.

Meteens begin ‘n stem vanagter my te praat. Dit was nie Claudia nie, die stem was dieper en die taal was vreemd. “Help me alsjeblieft, ik wil hier niet meer zijn.”

Baie, baie stadig draai ek my kop in die rigting van waar die stem vandaan kom. Dit was welliswaar Claudia wat daar gesit het, maar die uitdrukking op die gesig was nie sy nie.

Sy steek haar twee hande in ‘n smekende gebaar na my toe uit. “Help me alsjeblieft . . .”

Presies op daardie oomblik bars die slaapkamerdeur oop en ‘n mansfiguur strompel die kamer binne.

Dalk het ek in doodsangs gesit en hap na asem, ek weet nie, maar die volgende oomblik bars Claudia uit van die lag en die vreemde mansfiguur kom regop. Dit was Salvatore.

Sy’t so gelag dat sy skaars ‘n woord kon uitkry. “Ek wens jy kan jou gesig sien, jy’s so bleek soos ‘n laken . . .”

‘n Grap is ‘n grap, maar op daardie oomblik het ek gladnie gedink dit was snaaks nie. Ek was so kwaad dat ek daar en dan my tas gevat en huis toe gegaan het. Vir ‘n maand lank het ek alle kontak met hulle vermy totdat Claudia spesiaal namens haar en haar pa om verskoning kom vra het. Buitendien was ‘n maand heeltemaal te lank om vir Claudia kwaad te wees.
Teen daardie tyd was ek al darem sodanig afgekoel dat ek besef het dat dit bloot die twee se “weird” manier was om vir my te wys dat spoke en geeste slegs in ‘n persoon se gedagtewêreld bestaan. Salvatore het verder bewys dat daardie persepsie des te meer deur eksterne hulpmiddels versterk kon word.

Deur gerugte te versprei en vreemde geluide in die nag te speel is daar bowendien gesorg dat rondlopers en kwaaddoeners nie naby die plek gekom het nie.

O ja, voor ek vergeet. Ek en Claudia trou nou aankomende Saterdag op Heuningkrans. Ter wille van die gaste word die seremonie in die oggend gehou. Om logiese redes word die onthaal egter op die dorp gehou. Die gaste het geweier om na donker op die plaas oor te bly.




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Wonder
Nou wonder ek nog steeds wat met Petrus Roux gebeur het. Lekker gelees.
7 jaar 2 maande 3 weke 2 dae 18 ure oud


Heuningkrans
Wou eers nie lees toe ek sien die storie is bietjie lank, toe weer Bly ek lees, want storie baie interessant, toe weer spyt ek lees, want nou raak ek bietjie bang. Dankie tog ek het klaar gelees en die goeie nuus ontvang. Baie geluk en STERKTE met alles. Mag julle 'n wonderlike dag hê. En bewaar daai sagte wolspeelding soos goud...
7 jaar 2 maande 4 weke 1 dag 19 ure oud



DIE HIV MOORD

deur neels claasen

n Speurverhaal waarin moderne tegnologie n groot rol speel



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar