Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

In Villieria, in die noorde van Pretoria, woon ‘n man wie se omgewing sleg by hom aanpas. Alles aan hom dring in teen die grein van sy mede-inwoners. Sy banale haarstyl (kaalkop met net ‘n sliertjie gevlegde poniestert), sy bont beblomde draperings met klokkies wat alewig klingel-klingel wanneer hy verby kom, die eienaardige modder strepie op sy voorkop en daai verdomde kaal voete. Dis nou vir jou ‘n voël van ‘n ander kleur - veral vir die Villieria inwoners. Villieria is konserwatief, ou Hertzog mense wat nie vat kan kry aan die byderwetse eksentrieke nonsens nie. Snaaks genoeg is Villieria ‘n prominente “dyke valley” – of, soos die inwoners hulle noem, mannetjies meisies. Daar is der honderde Lesbos in Villieria, met hulle crew cuts en check hemde en houdings wat skree dat jy onder geen omstandighede met hulle moet oogkontak maak nie. Op een of ander manier het die inwoners met hulle gelief geneem.

In vergelyking met die dykes is Jogi Elu egter blerrie Boheems. Mense kan hulle oë nie glo nie. Om te dink dat hy nog die een oomblik ‘n prefek in Hoërskool Oos-Moot was en net die volgende oomblik ‘n seer-vir-die-oog kreatuur geword het wat met al die ongeïnhibeerdheid van ‘n japsnoet kleuter losbandig in die strate loop en sing. Tamboeryn en al. Soms het hy ‘n paar van sy maters saam met hom en dan gaan dit eers joviaal.

Villieria se tipiese inwoner is nie vreeslik welgesteld nie, maar een ding kan jy van hulle sê: Hulle het meer kerke as enige ander voorstad van Pretoria. Sout-van-die-aarde Christen Afrikaners wat vir jou hulle laaste paar skoene sal uittrek, solank jy by hulle inpas. Die kerke gaan egter erg gebuk onder die juk van die lidmate wat so swaar trek.

By die Gereformeerde kerk is Oom Danie en sy vrou, Tannie Nella, die kosters. Hulle sorg dat alles betreffende die kerk se geboue en bedrywighede glad verloop. Tannie Nella is ook verantwoordelik vir die uithuur van die kerksaal, wat vir die kerk ‘n goeie inkomste beteken. Van troues en begrafnisse tot kunsklasse, dansklasse en politieke vergaderings word hier gehou.

So klop Jogie Elu op ‘n dag al klingelende by die kerkkantoor aan om uit te vind of hy die kerksaal kan huur om sy joga klasse in aan te bied. Tannie Nella het behoorlik gewip van skok toe die vreemde man in die deur verskyn. Met haar mees diplomatiese voetjie voor gesit, het sy aangebied om sy versoek aan die kerkeraad voor te lê vir bespreking. Sy het ergerlik pyn in haar bors gehad toe die Jogi Elu daar weg is.

Die kerkeraad was dit eens dat die ure wat Jogi Elu wou bespreek nie net beskikbaar was nie, maar ook genoeg inkomste sou genereer om die skoonmaker se volle salaris te dek. Máár, was die vraag, is wat hy doen tot eer en verheerliking van die Koningkryk? Wat ‘n tameletjie. Waar trek ‘n mens nou die streep? Die enigste uitweg was om die man in te roep en die situasie met hom te bespreek. Die dominee moes dit eerder maar self doen. Sy besondere fyn aanvoeling en skerp onderskeidings vermoë was nodig om in die Gees te oordeel tussen wat ten goede van sy kudde sou wees en wat nie.

Jogi Elu daag toe voorkop bemodder en getooi in sy helder oranje draperings by die konsistorie op. Dominee De Jager was verras, maar nie geïntimideer nie. “Ons het nie soveel ‘n probleem met die joga nie”, het Dominee De Jager tot die punt gekom. “Dit is egter vir ons van deurslaggewende belang om te weet in wie se naam u dit doen”. “Ek doen dit in die naam van die Almagtige”, het Jogi Elu geantwoord. “Watter Almagtige praat u nou van, meneer?” het die dominee baie op die man af gevra. “Daar kan net een Almagtige wees – die Almagtige oor jou en my, die mensdom, die skepping en alles wat voor die skepping was en na die skepping kom. Die een wat vir ons almal ewe lief is”. “Meneer, praat u van Jesus of praat u nie van Jesus nie?” het die dominee konfronterend gevra. Jogi Elu het vir ‘n rukkie stilgebly en toe geantwoord, “Wanneer iemand vir jou na die maan wys, volg jy dalk die vinger maar kyk tog na die maan. Die gesig kan baie maskers dra; een vir elke geleentheid. Miskien soek julle in die takke na dit wat net in die wortels voorkom.”

Jogi Elu bied nou joga klasse by die gemeenskapsentrum aan.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Jogi elu
Ek hou regtig baie van die beskrywings van Villieria. Ek was nog nooit self daar nie,maar die beskrywing is so beeldend en so skerp dat dit voel of dit my geboortedorp kon wees! Die kortverhale is vir my ietwat verwarrend op die webblad geplaas. Ek is dus nie seker of dit wat ek as die slot gelees het,wel die slot was nie. Indien wel, voel ek dat ek meer van die innerlike stryd tussen Jogi en die inwoners sou wou weet. Die slot is vir my mooi ontplooi, maar eindig net te skielik. Ek dink ek het moontlik die kortverhaal net te veel geniet en wou sommer nog baie meer daarvan weet ... Toe is dit klaar! Hier is ongetwyfeld sommer baie talent!
5 jaar 6 maande 2 weke 3 dae 10 ure oud


Hoog in die takke
Nou wonder ek met reg, wie dra nou die masker?
5 jaar 6 maande 3 weke 5 dae 10 ure oud


hoog in die takke
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die MASKER projek.
5 jaar 6 maande 3 weke 5 dae 18 ure oud


Wortels en takke
Hoera vir Elu.
En hoera vir die dominee.
Dankie, hoor.
GvT
5 jaar 6 maande 3 weke 6 dae 4 ure oud



KIEKIES

deur Kiekies

'n Potpourri van aardse en menslike insidente, wat wissel van skreeusnaakse humor tot hartroerende tragedie.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar