Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Drien is ‘n wilde merrie van kleins af. Sy màg maar ‘n perd opsaal en ry, tot ontsteltenis van tant Sofia wat kerm oor haar vel wat so deur die son verinneweer word en haar kanse op ‘n huwelik gaan benadeel. Oom Stoffel het haar maar al die jare laat begaan. Drien moet na sy dood die plaas oorneem want Sofia se vrugbaarheid is na die geboorte van Drien saam met die nageboorte onder die peperboom begrawe en van ‘n seun of enige verdere kinders was daar geen sprake nie. Wat verkeerd geloop het weet hy nie maar Sofia was na die geboorte van Drien in die kamp van die giskoeie, ál sy pogings tevergeefs. Hy wonder of dít nie die oorsaak is dat hy so erg rumatiek in die lae-rug se kant het nie.

Hy kom agter die jong buurman Manus wat ou Gerhardus se plaas gekoop het, kom deesdae nogal tydig en ontydig gou inloer en dan verdwyn hy en Drien te perd….. waarheen sal net hulle weet. As die man tog maar net ‘n sinnigheid in Drien kan kry! Hy het ‘n vermoede dat Drien nie ‘n maklike katjie is om te hanteer nie en die man murg in sy pype sal moet hê om by haar by te bly. Vrouens wat perdry! Nouja!...... Hy hoop darem sy sal ‘n groter spannetjie die wêreld inhelp as haar ma en Manus is nie ‘n onaansienlike mannetjie nie. Bak ore kan ‘n mens met ‘n hoed platdruk. Sy beswaardheid gaan oor Drien en hy wat Stoffel is, se nageslag. As Drien nie aan’t troue kom nie, gaan die plaas na haar dood na vreemdelinge toe. Stoffel gaan sit op die houtbankie op die stoep. Sy kop werk oortyd, hy maak somme. Nie dat somme sy sterkpunt op skool was nie maar as dit kom by boerdery, ken hy sy somme. ‘n Perdemerrie bereik haar toppunt van vrugbaarheid op ongeveer ses tot sewe jaar. Dan begin vrugbaarheid afneem tot rondom vyftien jaar … in menselewe is dit so 43 jaar…. Middeljarig…..en haar kanse om ‘n vul in die wereld te bring is skraler en natuurlik risiko vir komplikasies, groter. Drien het so pas 28 jaar oud geword, in perde-ouderdom is sy in haar 7de jaar. Stoffel kou aan sy pyp en dink diep. Hy is bekommerd, sug en druk nog ‘n stopseltjie tabak in die pyp. As Sofia hom nou sien kerm sy weer oor sy gerokery. Hy wens hy het ‘n stywe dop brandewyn gehad om die are in sy brein oop te maak. Die denkproses aan te wakker. Hy wonder of hy nie skelmpies in die spens moet gaan loer nie. Sofia hou altyd so ‘n half jacky vir die sterilisasie van die Consol glasdeksels wat sy saam met die waspapiertjies gebruik om die ingelegde bottels vrugte en konfyt te seël. Hy besluit om liewer oorlog te vermy, Sofia is onverbiddelik as dit by drank kom. Nagmaalwyn is al wat hom beskore is en so nou en dan ‘n knertsie as daar rede is om fees te vier maar onder Sofia se wakende oog! Voordat Drien se bekken verhard moet daar ‘n plan gesien word. Sy is al vier jaar oor haar “perde vrugbare tyd” om ‘n goeie nageslag te kan gooi en hy wil darem die vreugde van ‘n paar kleinkinders, ook in sy leeftyd ervaar.

“Moedertjie”……… Stoffel se stroperige stem verwar Sofia vir ‘n oomblik. “Jaaa Stoffel, wat soek jy nou weer?” “Nee vroutjie ek wonder maar net oor daardie vet hameltjie in die kraal, ek het darem so ‘n lustigheid oor my vir ‘n gebakte skaapboud en jou héérlike bykosse. Geen vrou sal ooit soos jy kan kosmaak nie my lief”. Sofia ontspan die vlytaal gaan goed af. “Nouja my man, dan moet jy maar vir Kerools kry dat hulle kan slag, ek sien juis dit is die laaste vleis wat ek vandag uit die koeler gaan haal het.” Soffel gee ‘n hoesie. “Vroutjie, kan ons nie maar vir Manus more oornooi vir ete nie. Die stomme man so op sy eie, kry seker nie elke dag ‘n gekookte bord kos nie, foeitog….. en Drien kry ook maar min jongmens geselskap…..” Sofia frons, sy ken vir Stoffel. Na dertig jaar van getroude lewe weet sy Soffel se brein werk in ‘n rigting. “Middag middag”…. Manus se stem laat hulle ruk van die skrik….. “My magtig man hoe kom jy kan so stil hier op die werf aan? Kom binne, kom binne….. ek sien die koffieketel sing op die stoof. Kom drink ‘n koffietjie saam met ons. Ons is juis besig om van jou te praat. Ek laat slag vanmiddag die ou hameltjie en as hy nou vannag winddroog gewaai het, gaan tant Sofia vir ons more ‘n feesmaal voorberei en jy moét net kom proe hoe hierdie tante kan kook! En haar ingelegde perskes met room!..... onvergeetlik!” Sofie skink glimlaggend die koffie en Manus gaan sit by die kombuistafel. Hoed in die hand en lyk effe gespanne. “Oom…. Tannie….. dit is juis hoekom ek vandag hier is”. Hy stotter effens “Ek wil vra …….of ek vanaand die…… die opsitkers kan kom aansteek met Drien”. Stoffel gee ‘n groot sluk aan die warm koffie in die blikbeker, verbrand sy lippe en tong, hy gee nie om nie dit is pyn van vreugde. “Kind, ek en die tante het nie ‘n probleem nie”, hy knik na Sofie se kant toe, “maar wat sê Drien?”…… Manus gee ‘n droë hoesie. “Dit is juis die probleem oom, Drien is halsstarrig sy sê sy soek nie ‘n nagslag met bak-ore nie. Ai oom, hoe maak ons nou?” Manus het die hoed nou al in ‘n wors-vorm op sy skoot opgerol.

Stoffel is net daar erg omgekrap. Sal Drien dan nou vir haar aanstellerig hou en dit oor ‘n man se ore! Goeie genugtig dit is mos nie die ore wat ‘n stoet bou nie!..... Sofia sal met die kind moet praat! Vanaand word die kers brand gesteek, en sommer ‘n laaaaang kers ook!

Sewe maande later kyk Stoffel af na die klein gefrommelde babagesiggie van sy kleinseun. Hy begin weer somme maak. ‘n Merrie is elf maande dragtig….. ‘n mens nege maande…. Elf minus nege is twee…… nege minus twee is sewe…… ag nee wat, hy was nog nooit goed met somme maak nie. Tog wonder hy oor die bak-oor-storie …. Hy het ‘n vermoede Sofia, Drien en Manus was kop in een mus, wetende van sy vurige humeur as dit by sy dogter kom  ………… Die jeug van vandag kan ‘n mens nogal ore aansit……!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

So het ons geleer...
...Geleer om met die oumense om te gaan.
Die koning op sy planeet het vir die klein Prinsie gesê dat hy sy onderdane slegs beveel wat hulle in elk geval wou doen.
Mooi skoot!
GvT
6 jaar 5 maande 1 week 4 dae oud


Opsitkers
hahaha, die spulletjie het vir oom Stoffel ore aangesit. Ag dit was nou lekker lees genot, baie dankie.
6 jaar 5 maande 1 week 4 dae 14 ure oud


Hiehiehie!
Maar kyk nou net vir tant Sofia!
6 jaar 5 maande 1 week 5 dae 5 ure oud


haha
Soos gewoonlik lekker humor.
6 jaar 5 maande 1 week 5 dae 11 ure oud


Ore . . .
Dit is aljimmers
'n wille perd word sommer aan die maanhare gegryp as hy spoed vat . .
Ek dink ore gee ook maar vashou plek as die fyndfraai naderkom . . .

Dan kom die garage mos maar saam . . .
6 jaar 5 maande 1 week 5 dae 14 ure oud


In ons dae
Baie goed geskryf, en sommer 'n lekker lees stuk, dankie :)
6 jaar 5 maande 1 week 6 dae oud



DIGSELS: 'N LEWE IN VERSVORM

deur Johann P. Boshoff

Hierdie bundeling van die digter se "oorgeblewe" Afrikaanse nie-opdragwerke sedert die 1970's is bedoel om biografies gelees te word. Wat 'n reis!



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar