Kortverhale

Titel: JANE DOE
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende



Sy word wakker soos iemand wat vas geslaap het, maar ooo! haar kop pyn verskriklik. Sy gly haar hand agter oor haar kop waar die pyn die ergste is. Haar hand is vol bloed. Op daardie oomblik praat ‘n manstem langs haar. “Dame, is als reg? U sal nou moet afklim. Die trein gaan nie verder nie.”
“Trein? Waar?” stotter sy. “U is op Kaapstad Stasie, Dame, kan ek … ” Die man sluk die res van sy sin in en begin op n tweerigting radio praat. Sy probeer volg wat die man praat, maar haar kop pyn en haar ore suis te veel.

Sy neem aan dat sy weer geslaap het of flou geword het, want toe sy weer wakker word, lê sy op n harde trollie in n lang, wit gang. Sy voel weer na waar die pyn vandaan kom, maar nou voel sy net verbande. Sy maak al haar krag bymekaar en probeer regop sit, maar die swerm bye in haar kop het wakker geword en dit doof alles om haar uit.

“Dame, dame lê stil asseblief. Wat is u naam ? Ons sal u familie ook wil kontak as u net asseblief vir ons u besonderhede kan gee. Nou goed laat ons gou al die ou vormpies invul,” praat ‘n vrouestem hier langs haar.

Dis die eerste keer dat sy besef sy het nie die vaagste benul wie sy is en waar sy vandaan kom nie. Sy onthou die eerste keer toe sy wakker geword het, het die man iets gepraat van ʼn trein en van Kaapstad Stasie, dis al wat sy kan onthou.

Sy kyk op in twee kwaai, groen oë van n rooikop suster met n kraakwit uniform aan. “ U naam en van asseblief? … Dame, werk asseblief tog saam, want in die hospitaal gaan dit woes vandag..”

“Ek’s jammer, ek kan nie, ek weet nie. Ek’t myself verloor, totaal en al.” Trane begin soos twee Nylriviertjie oor haar gesig vloei.

“Ag toemaar ,skatjie, alles sal regkom, jy het ʼn baie harde hou agter jou kop weg.”

Die suster met die rooi hare verdwyn weer in die lang, wit gang af. Sy keer terug met n naambandjie wat sy vinnig om Jane se arm sit . Sy kyk nuuskierig na wat op die naambandjie geskryf is. Sy lees : “ Jane Doe Nr.18754/ 2012/23/05”. Sy gril tot in haar tone. Sjoe, dit laat haar dink aan die speurstories wat sy al gesien het op televisie. Al daai Jane Doe’s het in ʼn lykshuis iewers gelê. Sy is so verslae en verward, sy wonder by haarself hoe dit moontlik is dat sy die televisiestories kan onthou, maar nie haar eie naam nie. Sy probeer nie verder dink nie, want die swerm bye hier binne haar kop is nog steeds ontstoke en die naarheid is verskriklik.

Jane word wakker van ’n koue waslap deur haar gesig.
“Ag nee sies, man, wat doen jy?” protesteer sy.

“Hallo dame ... Suster Steyn, ons Jane Doe is uiteindelik wakker.”

“Geen mens sal slaap as jy ’n koue nat lap deur sy gesig vee nie,” kla sy weer.

“Wel, dame, ek vee al dieselfde koue lap deur jou gesig vir sewe dae.”
“ Sewe dae ? “ Sy onthou die kwaai groen oë wat nou intens na haar kyk.

“Wel dametjie dis hoog tyd. Hier lê jy nou al sewe dae sonder om ’n toon te roer en jy wil jou wip as ons jou winterslaap waag versteur.” Jane het haar praat skoon weggeskrik , maar sy het nie die vonkel in suster Steyn se groen oë gemis nie.

Jane wend haar weer tot die plomp jong verpleegstertjie wat haar nou in ’n leunstoel geprop het. Jane se kop voel nog so effe lig, maar die vreeslike pyn het verdwyn.
” Hi, kan jy my meer sê wat gebeur het terwyl ek, wel, soos suster Steyn sê, my winterslaap geslaap het?”

“ Al wat ek weet, is, jy is hier in die saal opgeneem vanaf die teater met ’n hegting aan jou agterkop, met so twaalf steke in. Ek dink suster Steyn sal die steke vandag kom uithaal.”

Na suster Steyn die steke verwyder het, sê sy. “ Nou goed, jong dame, as die dokter met my saamstem, is jy gereed om môre huis toe te gaan.” Agter suster Steyn verskyn ’n Adonis van ’n man. Hy het ’n groot bos swart krulhare met twee blou oë wat haar laat dink aan die see op ’n mooi sonskyndag. Sy liggaamsbou is liewer die van ’n plaasboer as die van ’n bleeksiel dokter. Jane het skoon kontak verloor met haar omgewing.

“Hi., Jane Doe, waaroor droom jy so helder oordag ?” probeer dokter Piet Ferreira haar terug bring na die hede.

“ Ag tog, ek’s jammer dokter! “
“Ja, ek is dr. Piet Ferreira. Dis ek wat jou die anderdag aanmekaar probeer werk het. Kan jy al iets onthou van jouself en van wat met jou gebeur het?”

“Nee, ek kan nog niks onthou nie.” Jane se oë begin dadelik swem.

“Suster Steyn het ingestem dat jy vir ’n rukkie by haar aan huis kan bly, tot tyd en wyl ons meer inligting in verband met jou het of tot jy jou geheue terug het. Gewoonlik kom die geheue terug sodra die breinswelling geheel en al verdwyn het.”

Twee groot trane biggel uit haar heldergroen oë. “ Ag vrek, sê nou ek onthou nooit nie.” Suster Steyn sit haar hand liggies op Jane se skouer en gee dit ’n ligte drukkie.

**************

Jane is nou al drie weke by suster Steyn se huis, sy begin al tuis voel. Sy is besig om na ’n klassieke musiekprogram op die radio te luister. ’n Pragtige deuntjie begin in haar kop maal. Sy het reeds tee vir haarself gemaak, rose in die tuin gaan pluk en in ’n mooi glasvaas in die voorportaal gaan sit, maar die deuntjie bly deur haar kop maal en maal. Sy het al ’n paar keer na die pragtige donkerhoutklavier geloer, gelos, weer geloer, maar sy het geen idee of sy dit kan bespeel nie. Die versoeking word vir haar net te groot. Sy klap die klavier oop en gaan sit op die klavierbankie wat met pragtige donkerrooi fluweelmateriaal met pienk blomme en groen blaarpatrone oorgetrek is. Sy hou van suster Steyn se kleurkeuses in haar huis. Sy gly haar regterhand oor die klavier se note, dan die linkerhand. Sy maak haar oë toe en laat haar vingers toe om die deuntjie soos ’n helder stroom water wat oor rivierklippies spoel uit die klavier te laat stroom. Die musiek sluk haar vir ’n paar minute in.

Toe sy weer haar oë oopmaak, staan dr. Piet en suster Steyn daar by haar. “ Bravo, meisiekind, nou het ek hoendervleis tot op my kleintoontjies.”

Sy bloos bloedrooi wat haar groen oë vir Piet nog groener laat lyk. Hy weet dokters mag nie emosioneel by hulle pasiënte betrokke raak nie, maar die meisiekind kruip elke slag ‘n bietjie dieper onder sy vel in. Sr. Steyn probeer die stilte wat skielik oor die vertrek toegesak het, verbreek.” Ja wel, jy moet iewers in die musiekkringe bekend wees as jy ‘Eine kleine Nachtmusik’ so kan vertolk en dit sommer so uit jou kop! Wil gedoen wees nê!”

“Wag n bietjie, ʼn vriend van my reël ʼn musiekkonsert vir Vrydagaand ten bate van kinderwelsyn. Sal jy belangstel om daar te gaan optree ? Met ʼn talent soos joune moet iemand daar jou ken,” se dr. Piet.
“ As julle dink ek sal ʼn bydrae kan lewer, sal ek graag deelneem, maar of ek nou eintlik so bekend is in die musiekkringe ,twyfel ek.”

*******

Jane leen ʼn lang swart aandrok by sr. Steyn. Dit pas haar soos ʼn handskoen. Sy het ’n halssnoer om wat dr. Piet vir haar gegee het. Dis gemaak van gepoleerde perlemoenskulp. Jane is gek daaroor; dit vang al die kleure in die omgewing vas en stuur dit weer in reënboogkleure uit. Sy gee hom ʼn skraps soentjie op sy wang. Sy merk sy lekkerruik naskeer- middel. Sr. Steyn lyk amper vreemd in haar aanddrag aangesien Jane haar meestal in haar uniform sien. Sy’t ʼn pragtige donkergroen rok aan met ʼn growwe silwer ketting om die hals. Die groen rok vestig jou aandag op haar lewendige groen oë.

Jane se maag gee ʼn paar draaie toe sy op die verhoog stap en die groot gehoor sien. Sy weet nou is daar geen kans om kop uit te trek nie, so sy druk maar deur. Sy buig sierlik en gaan sit agter die groot vleuelklavier. Daar sak ʼn stilte oor die groot teater uit wanneer die musiek fluweelsag deur die teater begin spoel. Dr. Piet sien hoe die gehoor saamleef met die musiek. Die meisiekind maak sy knieë lam; hy hoop tog net iemand hier ken haar. Die gedagte vlieg vir ʼn oomblik deur sy gedagtes: “Sê nou sy is verloof of getroud of iets...” Hy gooi die gedagte amper dadelik weg, want hy weet hy het geen aanspraak op haar nie.
Na haar klavierspel is dit grafstil tot Jane opstaan en haar buiging maak. Sy ontvang ʼn staande toejuigingvan die gehoor.

Na ʼn heerlike aandjie uit is die drie in ʼn gesellige luim. Net voor hulle die teater wil verlaat keer ʼn lang, lenige man met ʼn poniestert, ʼn heldergeblomde hemp en klein maniertjies, Jane voor. “Isabella, Isabella, hoekom het jy nie vir my gesê jy gaan deelneem nie. Jy’t sowaar net die kuns om my lewe op te kikker, net wanneer ek dink jy het gevlug vir my of liewer vir ons groot planne...”

“ Isabella ...groot planne?” Die lang, lenige kêrel se lyf het skielik minder beweginkies toe hy Jane se effense afsydige houding sien. Dr. Piet vra: “ Meneer, ons moet dringend met jou gesels; sal jy ons kan vergesel na die klein restaurantjie hier skuins oor die pad?”
Francois se wind is duidelik uit sy seile uit, hy knik net en loop stil agter hulle aan. Jane loop stil en tob by haarself; “Isabella, Isabella...? Ja vrek man, ek is Isabel Maria.
” Hulle gaan sit by ʼn tafeltjie in die hoek by ʼn venster wat uitkyk oor die stadsliggies. Die waarheid oorspoel Isabel soos ʼn brander met springgety.
“ Jane, ag ek meen Isabel, is jy ok, jong?” vra dr. Piet.

Isabel se oë ontmoet vir ʼn oomblik die van Piet. “Francois, ek vermoed iemand het my oor die kop gefoeter op die trein en al my bagasie gesteel. Ek kon glad nie onthou wie ek is nie, tot jy my herken het.”
“ Ek sal graag wil weet wat soek jy op ʼn trein, hoekom het jy nie met jou motor gery nie?” wil Francois weet.
“ Isabel ons kan julle alleen laat, dit klink of julle persoonlike dinge het wat julle wil uitgesels,” kom Piet tussenbeide. Isabel se oë ontmoet weer die van Piet, maar sy sê nie ʼn woord nie. Piet lees die boodskap in haar oë: “ Waag dit net mansmens.”

“ Ek het tyd nodig gehad om oor jou vraag en die toekoms na te dink. Ek het die trein gekies, dis altyd vir my so kalmerend. Ek sal nie my lewe met jou kan deel nie; ek sien net eenvoudig nie kans vir so ʼn gerondritsery heeldag nie en ek...”

“ Wat van jou talent, Isabelle? Jy’t tog vanaand gesien hoe meegevoer die gehoor vanaand was met jou musiek.”
“ Ag jong, ek gaan sommer privaatklasse aanbied. Iemand moet kyk na al die Liberace’s van môre.”
“ Ag Isabella, Isabella, jy gaan jou talente verspil op ʼn klomp ondankbare kinders.”

“ Petronella sal graag saam met jou wil toer. Jy weet hoe talentvol is sy met die viool.”
“Jy breek my hart, maar ek sal seker met tweede beste tevrede moet wees.” Francois buig galant en soen Isabel op haar linkerhand. “Au revoir, my darling.”
Francois draai om en stap met lang hale weg sonder om ʼn verdere woord te sê.

Net iets in sy optrede verseker haar sy het die regte besluit geneem. Wanneer haar oë die van Piet Ferreira ontmoet, sien sy iets daarin broei.
Isabel is ietwat verleë; daarom vestig sy dadelik haar aandag op sr. Steyn. “ Lyk my jy is uiteindelik ontslae van my, Suster.”
Sr. Steyn kom gespanne voor; iets wat glad nie by haar selfversekerde, streng geaardheid pas nie. “Isabel, wat is jou van?” “ Steyn? Jou ouers, Herman en Hester ?”
Isabel kyk sr. Steyn met duisend plooie tussen haar oë aan. Al wat sy kan uitkry, is: “Ja.”
“Van Kleinrivier ?”
“Ja ..., maar ...” Sr. Steyn is nou skielik baie haastig huis toe. Kom ons moet huis toe, ek en jy moet praat, Bella.”
Piet sit sy arm om Isabel se skouer en lei haar die restaurant uit.

’n Ietwat gelaaide stilte het oor die drie toegesak. By sr. Steyn se huis aangekom, gaan hulle soos gewoonlik om die groot kombuistafel sit. Elizabeth Steyn haal ’n ou foto- album uit. Vir die eerste maal sien hulle trane oor haar wange biggel. “Kyk hier, Bella, dis jy toe jy net vyf jaar oud was.”
“ Nou waar kry jy ...”

“Sjuut, Bella luister net. Ek en Jan, jou pa, was net tieners en baie verlief. Twee maande voor jou geboorte is ek en hy getroud. Ons het op sy pa se plaas, Kleinrivier, gaan woon, maar jou pa het nie erg gehad aan die boerdery nie. Hy en jou oupa het baie gestry, want hy het die meeste van die tyd in die dorp se kroeg deurgebring.”
“ My pa, waar is hy nou?”

“ Oorlede. Lewerkanker, die alkohol het sy tol geëis. Jou ouma en oupa het besluit om jou groot te maak op voorwaarde dat ek nooit met jou mag kontak maak nie. Sien ek het geen opleiding gehad nie en kon nie vir ’n inkomste sorg nie. Ek’t my hier by die hospitaal kom inskryf as leerling- verpleegster en hier is ek nog steeds.

Isabel se trane vloei nou onbeskaamd oor haar gesig. “ Hulle het gesê my ouers is albei oorlede in ’n motorongeluk. Isabel slaan haar arms om Elizabeth se nek.
“Ek dink dis tyd vir ’n soetwyntjie; hoe lyk dit sr. Steyn? Is daar so iets te vinde in die huis?” onderbreek Piet die emosiebelaaide oomblik.

“ Ek kan beter doen as dit, sjampanje!” Elizabeth verdwyn in die gang af om die sjampanje en glase te gaan kry. Wanneer sy terugkom, vind sy Isabel in Piet se omhelsing. Elizabeth staan versteen in die deur met ’n effense glimlag.
“ Sr. Steyn, ek wil jou om jou dogter se hand vra.”
Elizabeth wat duidelik gloei van geluk, antwoord hom gemaak kwaai. “ Dr. Ferreira, ek’t haar nou net teruggevind, nou wil jy haar by my steel?”

“ Ek het myself tydelik verloor om my regte lewe te vind,”straal Isabel



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

---
Ek het jou storie baie geniet Katinkas! Genoeg drama, genoeg opwinding, genoeg "stress" (Ek dink ek sal mal word as ek nie weet wie ek is nie!) en dan die romantiese slot .. **MWAH** Net wat ek nou nodig gehad het. (",)
4 jaar 3 maande 1 week 6 dae 13 ure oud



MAMMON

deur Piet Schoombie

Mammon handel oor 'n beroepsgholfspeler se lewe en ervarings plaaslik en oorsee. Soos die boek se naam aandui, speel geld deurgaans ’n belangrike rol..



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar