Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

HOOFSTUK 1
Die motor draai vinnig om die hoek en die rooi ligte verdwyn. Ek staan op die trappe voor die gebou en kyk na die laning dennebome wat dreigend wieg in die Kaapse Suid-Ooster. Die Kosmos in die beddings buig hul slanke nekke nederig voor die wind. Iewers krys ‘n tarentaal ‘n hees kreet. My arms hoenderspoor en ek stap by die gebou se ingangsportaal in.

Die portaal se vloer is groen geverf, soos die dak. Die gordyne wat wulps die oop vensters terg, is ook groen. ‘n Ander, meer afgewaterde soort groen. Die stoel langs ‘n tafeltjie met hangoor tydskrifte is ook groen. Selfs ‘n varing in die hoek van die vertrek wat wroegend yl stingels uit die droë grond stoot, is ook groen. Ek wonder of daar een of ander jolige binnenshuise versierder was wat op ‘n dag verskriklik groen gevoel het om te pas by die groen dak?
Ek kyk af en sien die groot knope van my trui. My trui is ook groen. ‘n Donker, blink, bottelgroen, ‘n byna onstigtelik vrolike groen vir Neuro A. Dis waar ek is, die plek waaroor ek en my vriende ligsinnige grappies gemaak en gegiggel het. Ek wil nie dink hoe ek hier beland het nie. My brein het afgeskakel. Sommer so opgehou met werk en ek kan nie dink nie. Ek kan ook nie ‘n woord uiter oor my droë, opgeswelde lippe nie. My kop voel soos ‘n reuse, leë boerpampoen.

Dit was al vanoggend so gewees toe my man die huisdokter gebel het. Ek het op die smal ondersoekbed gelê met opgeswelde oë, terwyl die trane geloop het. Ek het nooit geweet dat een mens so baie trane kan bymekaarmaak en op een slag uitstort nie. Die dokter het diplomaties probeer uitvind wat aangaan, maar ek kon nie praat nie, net gehuil.
Hy en my man het later saggies eenkant met mekaar gepraat en na my gekyk asof albei ewe onseker is oor wat om te doen. Ek het nie omgegee nie en net gehuil. Ek het geen begeerte gehad om hulle te vertel dat my brein afgeskakel het nie. Hulle sou nie verstaan nie.

Ons het in stilte huistoe gery en by die huis, het my man die boonste kasdeur oopgegooi en die groot, rooi tas uitgehaal. Onbeholpe hope klere van die hangers gestroop en my onderklere bymekaar geskraap asof dit iets is wat hy nie mag sien, of aan raak nie en dit in die tas gebondel. Toe ry ons weer, maar hierdie keer die lang pad Kaap toe. Hy het probeer gesels, maar ek het na die koringlande gestaar, die koeie en skape wat langs doringdrade wei en na die berge wat onversetlik blou bly staan waar hulle staan. ‘n Stilte het tussen ons kom lê wat net so onversetlik soos die berge in my vensteraam is.

Nou is ek in die “malhuis” met my rooi tas langs my en die rooi ligte wat so vinnig as wat hul kon om die hoek gejaag het. Probleme afgelaai en stof van die voete afgeskud.
‘n Verpleegster kom met haastige tjier-tjier skoene om die hoek gestap.
“Kom, Mevrou, ons moet ‘n paar observasies doen.” Sy klink saaklik, soos my ginekoloog as hy ‘n papsmeer moet doen.
Ek kyk na my tas, onseker of ek dit moet saamneem, maar sleep dit tog agter my aan. Ons staan in ‘n vertrek waar nog ‘n verpleegster agter ‘n lessenaar sit en deur lêers blaai. Sy kyk op en glimlag. Ek kyk af na my tas want ek kan nie meer glimlag nie. Die verpleegster rammel ‘n klomp dinge af wat ek hoor, maar nie verstaan nie.
Ek laat my lei na nog ‘n ander kleiner vertrek. Daar word ek ‘n houer gegee vir ‘n urienmonster. Hulle meet my lengte, bloedruk en laat my op ‘n skaal klim. Hulle bly gesels en vraend na my kyk asof hulle ‘n antwoord verwag. Hulle verstaan seker nie, ek kan mos nie praat nie. Uiteindelik gee hulle my ‘n klomp dokumente wat ek moet teken en hang daarna ‘n rooi, woltoutjie om my nek met ‘n sleutel aan.
“Dis jou kassleutel. Hou dit maar gesluit en dra dit om u nek. Ongelukkig is hier al voorvalle van diefstal aangemeld.” Waar is ek? Pollsmoor?
“Ek pleit skuldig edelagbare. Skuldig skuldig skuldig…”

Hulle lei my af in ‘n lang, blink gang. Ons stap verby pasiënte wat sit en rook, ander blaai belangeloos deur ou tydskrifte. Hulle staar na my met groot deursigtige oë. Die nuwe opname wat bietjie opwinding onder die groen dak verskaf.

In ‘n saal staan twaalf wit, sindelike bedjies in ‘n ry. Dekens met presiese hoeke gevou en ingedruk. Hulle wys na ‘n bed in die hoek.
“Dis jou bed en jy kan maar gou uitpak voor die teeklok lui, maar onthou, geen skeermesse, naelvyltjies of enige ander skerp voorwerp word toegelaat nie. As jy so-iets het, moet jy dit asseblief kom inhandig by die kantoor. Ons sal dit vir jou toesluit.”
Ek gaan sit op die bed met my tas langs my en swaai my voete wat nie aan die grond raak nie. Dis ‘n helse besigheid hierdie. Ek moet seker maar uitpak.
Die hangkas het nie hangers nie. Die klere wat my man ingepak het, pas nie bymekaar nie. Niks pas bymekaar nie! Ek bondel die klere drifting oormekaar en sluit die kas. Ek sal more dink oor wat om te doen met die klere.
‘n Klok het onder in die gang gelui want ek hoor pasiente met mekaar gesels en die stemme raak sagter soos hulle wegbeweeg. Ek stap soos ‘n weerlose kuddedier agterna. My maag maak draaie soos ‘n dwergmotorfiets wat daarin romtomtalie. Ek is bang. Verskriklik bang vir dit wat ek nie kan sien nie, vir dit wat ek nie kan hoor nie en vir dit wat ek nie kan verstaan nie. Vrees hang soos ‘n swaar wolkombers oor my skouers. Ek ken hierdie kombers, elke tekstuur, elke kleur en die gewig daarvan. Ek ken die kombers al vandat ek klein was…



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

!
Ek wag vir die opvolg....
8 jaar 6 maande 2 weke 3 dae 16 ure oud


Geniet
Ek het dit nou baie geniet om dit te lees - nie net oor die goeie Afrikaans nie, maar ook omdat die onderwerp my interesseer. Ek sien uit na hoofstuk 2.
8 jaar 7 maande 4 weke 12 ure oud



Plek van die Flaminke

deur Rachelle du Bois

Delia Kriel is mede-eienaar van die vakansieoord Zeesig. Haar eerste ontmoeting met Alex Vorster, haar sexy nuwe buurman, laat haar hare rys. Hy jaag haar kat die skrik op die lyf en hy jaag haar die harnas in. Kortom, hy pla haar, vreeslik, aanhoudend. Hy het haar rustige bestaan hier op Zeesig kom versteur en sy is vies, baie vies. Alex se broer, Xander, is die diep een, die stil musikant wat sy hart op Delia se vriendin, Madeleen, verloor het. Hy is koppig en hy weet wat hy wil hê, maar sy is versigtig vir die liefde, want net 'n donkie sal twee keer oor dieselfde klip struikel. En sy is nie 'n donkie nie. Hy is egter die ideale model vir haar beeldhouwerk en haar kunsuitstalling lê voor . . .



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar