Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

JANNEMAN BAK ‘N KOEK

Janneman loer skelm om die hoek, waar die grootmense in die eetkamer sit en praat. Sy Ma en Pa is daar, asook sy Pa se nuwe vrou, Tannie Rina.

Hy kan nie hoor wat hulle se nie, maar hy weet dis oor hom wat daar gepraat word. Vandag was daar groot moeilikheid by die skool. Miskien moes hy nie vir daardie hans Pieter de Koker geluister het en sy juffrou gevloek het nie. Maar dit was so lekker om Pieter se gevreet te sien toe hy dit regtig gedoen het! Nou sal Pieter nooit weer se dat hy ‘n moffie is nie!

Meneer Appelgryn is ‘n dodelike gevaarlike skoolhoof. Mens mors nie met hom nie, veral nie as jy ‘n graad tweetjie is nie. Meneer se snor het op-en-af gewip terwyl hy groot woorde, soos “skorsing”, gepraat het. Janneman was onbedaarlik lus om te lag vir die komieklike wip-snorretjie. Hy vryf aan sy linker oor waaraan Juffrou hom kantoor toe gesleep het. Dit voel nog steeds warm, seer en opgeswel.

Natuurlik het Meneer Appelgryn sy Ma gebel en sy Ma, weer sy Pa. Dis hoekom hulle nou by die tafel sit en praat. Janneman voel in sy maag, waar die klip le, hier’s nou groot moles.

Sy bene voel soos Sondag se rooi jellie, toe sy Pa hom roep. Sy Pa se stem klink kwaai en hy skuif vinnig reg op die oop stoel en knyp sy bene styf teenmekaar vas. Die grootmense staar almal na hom en hy voel soos ‘n interessante, bont gogga.

Hy verstaan nie so mooi as die grootmense praat nie, maar uit die gesels het hy iets gehoor van “afkoel” en ‘n tydjie by sy Pa gaan bly. Die klip in sy maag het sommer skielik verdwyn.

Janneman gee nie om om by sy Pa te gaan bly nie. Sy Pa en die Tannie neem hom baie uit na lekker plekke toe en koop vir hom Mac Donald’s. Sy Pa is oraait, maar vir die Tannie is hy ‘n bietjie bang. Sy kan nogals kwaai raak as hy Power Rangers op die muur teken, of vergeet om sy tande te borsel. Sy het hom selfs een dag met ‘n houtlepel geslaan toe hy die “F” word gese het, maar dit was alles oraait, want ‘n naweek gaan gelukkig gou verby.

Dis nie meer lekker by Pa-hulle nie. Dis al tien dae wat hy hier is en hulle het nog nie een keer Mac Donald’s toe gegaan nie. Dan se die Tannie ook hy mag nie stoei op TV kyk nie en elke oggend kom kyk sy, of sy kamer aan die kant is. Sy vra ook simpel vrae soos, of hy onthou het om sy gesig te was. Hoekom kan sy hom nie net uitlos nie? Hy is mos nie meer ‘n babatjie nie!

Hier by Pa is ook nie eintlik maats nie. Hy verlang na Giepie en Pieter en wonder of hulle nog die meisiekinders se hare so trek. Verlange maak sy kussing nat en Janneman besluit dat mens nie op grootmense moet wag om dinge reg te maak nie, hy sal maar self iets moet doen…

Inspekteur Bester is oppad na ‘n plaas toe, waar iemand, iemand met ‘n mes gesteek het. Dis amper tyd vir skofruiling en hy voel effens moerig oor hierdie uitroep, kort voor hy van diens moet gaan. By die plaas se afdraai, sien hy ‘n klein seuntjie in ‘n bedremmelde hopie sit. Hy roep oor die radio na die basis.

Janneman kan sommer dadelik sien sy Pa is kwaad, toe die polisie hom by die huis aflaai. Sy ore het bot toe geslaan vir alles wat sy Pa gese het. Sy Pa het hom kamer toe gestuur en nou le hy maar hier en wag…

Die Tannie is darem nie so erg nie. Sy het vir hom kos kamer toe gebring en hom later kom toemaak om te slaap. Sy Pa moet vreeslik kwaad wees vir hom, want hy het nie eens kom nag se nie. As die pad darem nie so ver was en sy voete so seer nie!

Die volgende oggend kyk Janneman die kat goed uit die boom uit. Sy Pa praat nie met hom nie, maar die Tannie het darem geglimlag toe sy sy bordjie pap aangee. Hy voel kriewelrig, so asof daar ‘n spinnekop in sy nek loop. Hy wag vir uitskel, of nog erger, die pakslae wat moet kom, maar daar gebeur niks nie. Hy besluit om hom maar dun te hou en in die kamer te gaan gesigte teken van rowwe ouens, soos John Cena van WWE Raw, wat vir niks en niemand bang is nie. Hy was net lekker besig om John Cena se ketting in die hand te teken, toe roep die Tannie hom.

Sy bene voel weer soos rooi jellie toe hy by die kombuis instap. Die Tannie staan alleen by die tafel en die tafel is toegepak met meel, eiers en allerhande koekgoeters. “Kom, Janneman,” se sy. “Vandag gaan jy ‘n koek bak.”

Janneman lek die versiersuiker van sy vingers af. Die koek smaak vrek lekker en hy kan skaars glo dat hy dit self gebak het. Die hele tyd het die Tannie vir hom vertel wat hy moet doen en hy moes alles self doen, sonder haar hulp, al het hy ‘n bietjie gesukkel om die eiers te klits. Die Tannie het baie gepraat terwyl hy gewerk het. Sy het gese ‘n mens se lewe is soos ‘n koekresep en dat Pa en Ma en al die ander grootmense, sy resepteboek is. Sy het gese dat as mens nie die resep volg nie en ‘n fout maak, soos om te veel sout in te gooi, sal die koek ‘n flop wees en in die vullisdrom beland. Niemand hou van ‘n koek wat sleg smaak nie!

Janneman wonder wat is dit met grootmense. Hy sal mos nie so stupid wees om te veel sout in te gooi nie!





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Dankie, ek het hierdie storie baie geniet.
12 jaar 4 weke 12 ure oud



Arhoma Gedigte

deur Aná Niem

Ses verhalende gedigte voorgedra: Identiteit, Hierdie kind, Uiterste Wil, Alleen-vrou, Leer van sukses, Lobola. Hierdie CD is die ideale geskenk vir iemand met diepte.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar