Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

02:03 Saterdag 8 September 2001, Bloemfontein

Goed, Here. U wen. Ek praat uiteindelik weer met U. Kyk! Die laaste inskrywing was op 13 Augustus. So lank gelede. So lank verby. Met net een woord groot in hoofletters: “REBOUND!” – 'n laaste woord. Toe.

Wel. Wat ’n dag, Here. Wat 'n dag! Helaas, dis onherroeplik, nee, onherhaalbaar verby. Maar dit wil my nie los nie. Dit laat my sleg voel oor ek so goed daaroor voel. Geïnternaliseerde Calvinistiese twak! Wel 'n goeie Vrydag, wat al die ongeredde dae in hierdie verdomde ersatz-stad kom verlos het. Spesiaal net vir my, dink ek. Dankie.

Ek het regtig uiteindelik geen sweem van die groter sin van my verblyf hier oor nie. U weet. Veral nie ná April, Mei en Junie nie. Bestekopname: dit was nie om vir U ’n gemeente te plant nie, maar waarom dan? Beslis nie oor Bill nie. Hoe stik ek in die mislikheid wat saam met my gevoelens vir hom in my keel kom sit! This too shall pass. Dankie dat die gemors wat Saterdag 7 April so bedrieglik goed begin het, amper verby is .... En gaan agterbly in Memoriam-begrafplaas, by Pa, maar nou soek ek geen lyke om my nek nie.

Travel lightly.

Vyf-en-veertig jaar en sewe maande later, tot op die dag.

Gisteroggend het ek vir die hoeveelste keer weer die ongestrykte hope wasgoed op die rottangstoele bekyk, die stof orals op alles en die ongewaste skottelgoed in die opwasbak gesien, dit alles geïgnoreer. Omdat die wanneer van huishouding nie saak maak nie. Omdat “Duet vir drie” my besig gehou het. Refleksief gebad, my laaste skoon klere aangetrek en my goed in my skouersak gepak, en die taxi Mimosa Mall toe bestel. Ek het geweet ek moet ’n brief pos, dus skryf, en die faks aan die mediese fonds stuur, dus opstel.

En toe ek by Café Rossini se rokerseksie instap, het die ou by die tafel reg voor my opgekyk, oogkontak gemaak en het ek agendaloos "dag" gesê. Agendaloos? Vervloekte Gatsby-vloek. Sat verskoning! Nietemin, hy’t teruggegroet buitengewoon vir hierdie verdomde plek.

Papiere uitgehaal, leesbril, pen. Koffie bestel. Begin skryf. So dan en wan opgekyk en gesien hoe sien die man my. Een keer het hy by homself gesit en glimlag. Be that as it may. En ek het aangegaan met my besigheid, die brief toegeplak, 'n adres daarop opgeskryf. Sonder verwagting. Nee, ek lieg. Geagiteerd oor hierdie Gatsby-ding in my, wat ek nie meer wil hê nie, oor die siklus van herfste en winters in my lewe.

Hy staan toe op. Ek het vir hom gekyk en hy vir my. Toe groet ek en hy groet terug. Toe’s hy weg. Too bad. My koppie was buitendien leeg en ek het ’n hervul en my rekening bestel.

Toe word die appel bo my kop middeldeur gekloof: “Die man wat daar gesit het, het reeds vir jou koffie betaal,” het die kelner half ongemaklik, half geamuseerd gesê.

En die twee helftes val vrugtig tot in my hart. En droog my woorde op. So iets gebeur met ander; nie met my nie. Maar nou het dit. Vyf-en-veertig jaar en sewe maande later, tot op die dag. In hierdie verdomde plek.

Toe vra ek uit.

Hy kom gereeld daar. Heino, so iets. En ek skryf dankie op ’n koevert en los my naam, nommer en tyd. Oor die Gatsby-ding. Besluit om iets uit Stasies in die koevert te sit. Besluit om ietwat moedswillig, ietwat uitdagend te wees. Ek het buitendien niks gehad om te verloor nie. Soos Sybrand wat alleen koffie sou drink in “Boekwinkelblues.” Of is dit “Die kelner” se Wikus wat al geleer het toe om "nee" te sluk, te verteer en uit te skei? Dalk Hardus wat geleer het dat manuskripte, soos 'n lewe, deur vuur tot as en roet gereduseer kan word? Nee, eerder Ernst, wat geweet het dat sekere goed gewoon nie saak maak nie:

      my lippe
      hand
      en tong
      steek die lamp van jou lyf aan

      kyk hoe straal jy
      in die dye van my donker


Ek het dit vir Bill geskryf, maar wie gee regtig om?

Goed, ek weet nie wat om met die gevoel te maak nie. Dis hoekom ek wakker is, nie mág slaap nie, met U praat, nie waar nie? Maar moet ek opsluit enigiets daarvan maak? Net U weet.

Min wetend wat wag. Maar U het geweet. Van ewigheid tot ewigheid. En waar U is, is niks toevallig nie. En U is orals.

Rossini’s en Mimosa en sommer hierdie hele stad het vir my benouend klein geword. U weet dit. Of is ek gewoon te groot vir hierdie stad? Nee, dis te verwaand. En dit maak seker nie saak nie, nè, Here?

Ek moes die brief gepos en die faks versend het. Was ek by die internetkafee? Ek weet nie. Al wat ek weet, is dat ek by die Waterfront se House of Coffees gesit het. Moes om en by twaalf gewees het. Ek het mineraalwater, ’n glas rooiwyn en ’n bruschetta bestel. Daar moes swaeltjies oor die water geflits het. Dit tydelik versteur het. Ek het oor die detail van die oggend gebroei. Detail verklap die geheel.

Dis toe dat 'n jong man asof uit die niet voor my oog kom staan, maande later. Hoekom was hy destyds nie toegelaat om my te bedien nie? O, ja, hy was net ’n runner. Runner. Naamloos.

En hy’t die kelners gegroet, my raakgesien, gekopknik, geglimlag. Die kelner het die wyn voor my neergesit. Why not? Ek het hom nader gewink.

Toe kom groet hy my. Met “Oom”. Nie dat hy so jonk is nie. Of ek so oud nie. Ek het hom verniet daarmee gekonfronteer: Oom! Hierdie verdomde plek. Dis daarom seker maar oukei. Hy’t op my handgebaar gereageer en oorkant my kom sit. Hy het klaar gewerk, buitendien niks gehad om die middag te doen nie.

"Riekie," het hy my herinner. En ek het hom wyn aangebied. Myne. Hy’t aanvaar. Ek het my onaangeraakte glas na hom toe oorgeskuif. Nog een bestel. Vir my.

Dis toe dat my gawe, of vloek, who cares? – inskop. Hy’t oopgemaak. Binne die eerste vyf minute. Soos al die ander. My kos met my gedeel. Vertel. Soos al die ander. Van die twee kinderhuise en van sy studies. Nog wyn gedrink. Van waar hy bly en ongelukkig is, en van sy drome. En ek het my meestermasker opgesit wanneer ons kelner vergeet het: two is company ... Meestermasker vir melancholie? Aangevuur deur die een of ander boy band wat legitieme emosies goedkoop maak. Oor en oor. My masker vir hom afgehaal. Oor hy so ernstig was. Gesê het dat niemand hom verstaan nie. En ek het geluister. Hier en daar iets gevra, gesê, vertel. Sonder die masker.

Hy’t vertel. Dat hy gemaklik is met en by gay mense, maar self nie is nie, wat – no strings attached – my woonstel wil sien. Diepte wat om diepte roep? Die wesenlike om die wesenlike? Who cares?

Wát my dit laat doen het, sal ek nie weet nie, maar in my woonstel het ek Isak Roux se Ritueel: Dans vir twee Kkaviere gespeel. Sou dit iets met minimalisme uit te waai hê? Iets van redusering tot essensies en dan die ontginning van daardie essensies? Maar dis te doelbewus. Te manipulerend. Te akademies. Wat as dit die spontane wesensaard van die oomblik was? Dat die oomblik homself kon reduseer tot die onreduseerbare?

Hy het teen die stoel op die mat gesit, bene gekruis. En ek het sy spieëlbeeld geword. Met iets so dun en deursigtig soos ’n vlies tussen ons. En woorde het nie meer saak gemaak nie, al is dit gebruik, wanneer nodig, soos deur u man van Assisi met u evangelie. Sy handpalms het mekaar ontmoet in 'n gebaar van droewe gebed. Wat ek wou troos. Waaroor ek my eie twee gebede gevou het. Pelgrims, soos in Romeo and Juliet.

“Nie nou nie. Ek’s nog nie reg hiervoor nie.” Nog nie. Openlik, eerlik. Die terloopsheid van woorde wat weet. Soos ek geweet het.

Riekie het van die musiek gehou. Roux se ritueel het ’n onwaarskynlike sentiment geword. Onwaarskynlik, want ontdaan van sentimentaliteit. Nogtans gedeelde sentiment geword. Sonder die noem. Maar wel om te besit. Glaukus wat uit iets soos diep water kon klim.

Duimpunt het om duimpunt begin sirkel.

“Hectic.”

En die res van die ander se hand bevriend. En "Oom" het "Johann" geword. Oor die vlies sinnebeeldig was. En weet wéét was. Sonder woorde.

“Ek soen nie.” Hy.
“Reg met my; soen is intiem.” Ek.

“Ons kan later lê.” Hy. Terloops. Want weet is wéét. Sonder woorde.
Hoekom voel ek nou weer hoe sag sy maag, sy bors, sy nek onder my vingerpunte is?

“Hoe voel dit?” Ek. Sagter as ’n fluister.
“Kom ek wys jou.” Hy. Nog sagter.

Ek het gaan lê soos hy dit wou gehad het. My oë toegemaak. En gevoel wat hy gevoel het, dink ek, met sy vingerpunte wat my maag, my bors, my nek laat aangeraak het.

“Kom ons haal saam asem.” Sy versoek.
“Kom ons probeer.” Myne.
Asems sinchroniseer eintlik net in stories.

Toe lê hy teen my met sy kop in my nek. En Riekie word puer aeternus, Here, net vir my. Vir my ...

Die detail verloor volgorde hier, maar die belewenis het aangegaan ... Want Antjie Krog se jeugdige woorde kom lê my toe op die tong. En ek praat vir my puer ’n vers: As ek eendag ’n seun het, sal ek hom Riekie noem, oor hy teen my bors gelê het, sy krulle teen my wang en sy ooglede twee bruin oë vermoed het .... bruin oë wat reg in my hart ingekyk het ... So iets. Who cares?

“Dankie. Dankie.” En my puer het my vasgehou. Oor weet wéét is. Ondanks woorde.
“Jy wil nie hê dit moet ophou nie.” Hy.

O, Here, die ure was minute, was sekondes, was ’n ewigheid. Waarom kon dit nie maar duur nie? Dwase vraag. Toe moes hy gaan. Hy’t geweet ek kyk hom vanuit die kosyn agterna. Geweet, want by die trappe het hy omgekyk.

Gewaai.
Runner.
Gewaai.

Ek sal hom nie weer sien nie. Oor weet wéét is. Ten spyte van my telefoonnommer wat hy ingetik het op sy selfoon. “Johann met twee n'e.”

Tony O’Conner se “Wisdom Keepers” het my gestreel.

      my lippe en hande
      hét die lamp van sy lyf aangesteek
      ...
      kyk hoe straal hy steeds
      in die dye van my donker


Want sy reuk was aan my hande soos Gabriël s’n aan Thomas s’n was. Of soos ’n klewerige spinnerak wat onsigbaar oor Sybrand se pad deur Naval Hill se nanagbosse gespan was. Dit probeer versper het.

Goed. U wen, Here. Ek weet nie wat om met hierdie gevoel te maak nie. Dis hoekom ek nog wakker is, nie nou al mag slaap nie, steeds met U praat, nie waar nie? Moet ek opsluit enigiets daarvan maak? Net U weet.

Detail vervaag, dus die geheel ook.

Ek moes gaan uiteet het, gaan fliek het, want hoe anders het ek van halfsewe by halfelf uitgekom? En by Roxy’s se vlammekas.

Min wetend wat wag. Maar U het geweet. Van ewigheid tot ewigheid. En waar U is, is niks toevallig nie. En U is altyd orals. U was nog nie klaar met my nie, was U? Is U ooit klaar met iemand wat in u rigtende hand rus, dit soek?

Bill se kar oorkant die straat. Ek by die sydeur. Bill by die kroeg. Teen dieselfde muur as ek. Met ons groet het ons soos Lucas Malan ’n sarsie afstand gevuur. Banaal. En iets in my het begin pleit: Onthou vanoggend! Onthou vanmiddag!
Dans is terapeuties.

Goed, U weet alles. U wéét ek het nie vir myself gedans nie.

I will love again, even though my heart is breaking. Leuen. Onthou vanoggend. Iets was stukkend. Dis nou heel. Onthou vanmiddag.

Twee fok-jou-vingers in die lug: onthou vanoggend, onthou vanmiddag.

These boots are made for walking. They’re gonna walk all over you. So iets.
Onthou vanoggend. Onthou vanmiddag.

Daar was ’n dun draad tussen my, voor die deejay se hokkie, en die blou rolkraaghemp. Weet is weet. Ten spyte van woorde.

’n Mens moet leer ironies lewe en binne ironie nog liefde hou. Van Wyk Louw. Want dit was bedompig warm.

Ek het my trui uitgetrek, om my middel geknoop. In my frokkie gedans. Nie vir myself nie. Die oggend onthou. Die middag onthou. Toe was daar skielik net een roete deur die massa vanaf die badkamer kroeg toe. Reguit op my af. Bill moes terug kroeg toe. Of moes hy?

Nietemin. Waarom was hy verbouereerd? Waarom het ek begin glimlag oor hierdie absurditeit? Waarom het ek en hy, toe hy by my kom, mekaar in sy beweging aan die bo-arm gevat en ons hande laat afgly tot die een die ander gevat het? Waarom het dit reg gevoel? Ek weet nie. Net U weet. En weet is wéét.

En waarom het hy, toe ek twee ure gelede my taxi buite moes haal en my trui begin aantrek het, nie meer by die kroeg gestaan nie?

Be that as it may. En waarom kon ons oë blikke nie aan mekaar s'n ontsnap nie? Be that as it may.

Al wat ek weet, is dat ek geweet het wat ek gaan doen. Toe wuif ek hom ’n rituele soen toe. Ietwat moedswillig. Ietwat uitdagend. En dit voel goed. Soos die oggend. Soos die middag. Want die draad was gespan. Klewerig. En weet bly wéét. Ten spyte van.

This too shall pass.
“You can’t repeat the past.” The great Gatsby. Oor romantiese gereedheid. Romantic readiness. Engels III. Of was dit II?

Nou weet ek nog minder wat ek wil sê, Here. wát ek moet maak van 7 September 2001. Maar U weet. En weet is wéét. Sonder woorde.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Weet . . .
één ding weet ek: jy mág maar skryf!
3 jaar 3 maande 3 weke 4 dae 4 ure oud



Kroniek van die Suid-Afrikanse Weermag (1912 - 1994)

deur Francis Gillieron

Beskryf die geskiedenis van die ou SA Weermag vanaf sy stigting in 1912 tot sy ontbinding in 1994. Die SA Weermag se voorgeskiedenis word ook weergegee.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar