Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

‘n Hoogepunt in my skool loopbaan, was die kadet orkes. Musiek is vir my tweede natuur, en ek snap dit gou, gouer as wat ek wetenskap, algebra of vroumense snap.
Die kadet orkes was die enigste ligpunt in die eindelose donker tonnel van skoolgaan. Elke oggend as ek my oë oopgemaak het, en besef het dat ek weer in ou Swart Sarel se klas moes dinge verduidelik waarvan ek niks weet nie, of na ou Baber se blokkies hout vloer moes staar terwyl ek wag vir ses van die bestes omdat ek vir die geskiedenis onnie gesê het dat Jan van Riebeeck die eerste man op die maan was, dan skep ek moed as ek die ou silwer ingeduikte trompet op die spieelkas sien lê het, waar ek dit die vorige aand neergesit het nadat ek die honde goed opge-‘alley’ het. Hule het altyd aan die tjank gegaan as ek die derde lipspanning slaan. My familie het nie net getjank nie, hulle het sommer blatant geskel, omdat dit met Popshop of Heidi gebots het.
Dan lig ek my lyf uit die hol bed uit, trek my aan, vee my hare plat en gaan eet weetbix met karringmelk. Ek weet nie wat die ergste was nie, om my gesig elke oggend met koue water te was, of om die karringmelk af te wurg omdat my ma gedink het ek hou daarvan, nes sy altyd gedink het, ek van die hoender se nekkie hou en niks wil weet van die boudjie nie… Dan gooi ek my verslonsde boektas oor my skouer, vat my trompet en klim op my fiets, en ry twaalf kilometer skool toe op stof paaie waar trekkers met swaar sleepwaens my senuwees tot op die uiterste beproef het. Ek moes met die fiets ry as daar orkes oefening was, omdat die bus te laat by die skool aangekom het, al het dit nie gebreek nie. Ek kan onthou hoe ons hele orkes al ses-dertig in die oggend op die rugbyveld was, en dan het ons geoefen. Mr. Visser, of ou Vlam, (Sy hare was bloed-rooi) het die orkes afgerig saam met juffrou Roodt. Hy was ‘n kort outjie, met ‘n kort humeur. Dit was altyd die ongemaklikste ding om daar met jou trompet of beuel te staan en te speel, en jy kan nie sien waar hy is nie. Hy was korter as die meeste ouens in die orkes, en het soos ‘n skim tussen ons deurbeweeg. Groot is jou verbasing as jy jou oë oopmaak nadat jy hulle die hele tyd styf toegeknyp gehad het omdat jy verbete spartel om by die vyfde lipspanning uit te kom, wat onmoontliker lyk as om ‘n proefbalans aan die einde van ‘n boekhou oefening te laat klop, en dan sy refleksie in die instrument te sien, net voordat die rottang die stof uit jou vaal broek laat spring.
Ou Vlam het ‘n ‘slag’ gehad met ‘n rottang. Hy het die dinamika van rottangswaai verstaan, nes ou Saagsels, die houtwerk onnie, die dinamika van ‘n kiaat plank se swaai verstaan het.
Die winter was die ergste. Om daai koue monstuk teen jou mond te druk half sewe in die oggend, in Julie, was nie maklik nie. Jou lippe voel soos 4x4 bande en die vog kondenseer so vinning in daai trompet dat jy aan die spoegklep moet hang om die instrument droog te kry. Jou voete fries deur die veiligheidskoene wat jou pa vir jou by die myn gekry het en dit voel of die hardgerypte gras reg deur hulle steek. Baie kere, as iets met my fiets, of die trekkers op die pad, of die bus gebeur het, het ek net betyds daar aangekom om die laaste noot van die laaste liedjie te speel, voordat ons verdaag, en dan het ou Vlam net sy kop geskud en gesê:” My heerlikheid van der Westhuizen” Dit het my laat besef dat hy my met ou Baber (Izak Cronje, die skoolhoof) bespreek het, want Baber het ook altyd net gesê:” My heerlikheid van der Westhuizen”, (omdat hy nie mag gesê het:” My fok van der Westhuizen!”) as ek iets gedoen het, of iets nie gedoen het nie, soos huiswerk. Die laaste keer wat Baber dit gesê het was aan die einde van my matriek jaar, toe my sussie wat net ‘n jaar agter my was, verkies is as onderhoof meisie vir die volgende jaar. Die arme ou kon net nie aanvaar dat ek en my sussie van die dieselfde vlees en bloed is nie.
Met tye het ons gaan optree by die skou op Klerksdorp, saam met die Trompoppies van Milner High School. Nou, in daai dae het die engelse meisies se ‘kunsmatige’reputasies, die boerseuns se belangstelling erg geprikkel, nes die afrikaanse meisies dit weer vir die rooinek seuns gedoen het. Dan wou almal in die orkes wees, vir die trompoppies! En ‘n trompoppie se uniform is ‘n snaakse ding. Dit transformeer ‘n plank-dun sproetgesig dogtertjie met poniesterte soos Harley-Davidson handvatsels, en kniee koppe soos ‘n Ellis Chalmers trekker se kopligte, in Christina Aquileria.
Juffrou Roodt was altyd so presies gewees….. ‘n Perfektionis. Sy het geskiedenis ook gegee, en dit was ‘n probleem, want sy het geweet dat ek nie tyd in die oggend sou hê om huiswerk af te skryf nie, dan gaan sy my boeke na om te sien of ek op datum is. En dis mos waaroor geskiedenis gaan, datums. Huiswerk afskryf was seker die meeste van die orkeslede se grootste tydverdryf. Ons moes uitmaak van huiswerk afskryf omdat ons nie so baie tyd soos die ander kinders gehad het om dit te doen nie. Ou Krappie, my ander beste vriend, het sy boekhou so afgekryf in die oggende. Sy pa was die wetenskap onnie, wat beteken het dat al die onderwysers vir Krappie geken het. Nou, as daar een ding van boekhou is, is dit dat jy alles van die selfde stel boeke moet afskryf. Moet om hemelsnaam nie Piet se grootboek, en Gert se Kasboek, En Linda Bloem se inkope boek gebruik nie…. Wel, As jy By Linda Bloem ‘n boek kon kry om af te skryf, sou die onnies jou beslis uitgevang het, want hulle het altyd hulle eie foute reggemaak nadat hulle haar werk nagegaan het. So het dit dan gebeur dat ou Krappie reg onder die boekhou onnie se neus gesit het (want dis waar al die onnies hom gehad het) met ‘n oefening wat hy afgeskryf het van nie minder as vyf verskillende ouens nie. Jy moet verstaan, as daar groot afskrywery benodig word deur dertig ouens, en daar is net ses wat die werk gedoen het, raak dinge taai en jy vat maar wat jy kan kry. Daardie dag het Krappie verduidelikings geverduidelik soos wat die ouens van die waarheids komissie nie eers kon doen nie, om Baber se hout blokkies vloer vry te spring. Fairy, die boekhou onnie vra vir Krap:” reg Willem, transaksie nommer 1, in watter boek moet dit wees?” “Grootboek meneer” Vat Krap ‘n kans. Dan word daar nagegaan en wonder bo wonder… is die transaksie ingeskryf. Maar dan…”En waar moet dit nog ingeskryf wees Willem?” Vra ou Fairy dan. Ek sweer die klas kan hout ruik brand soos ou Krappie dink.”Inkope boek meneer….” Waag hy. En dis net hier waar die dinge so skeef loop soos Pearl Harbor. ”Hoekom is dit nie in jou inkope boek nie Willem!?” En al wat ou Krap kan sê is: “Nee jissie meneer, nou weet ek self nie meer nie….” Weg is jy jou bliksem, gaan kyk blokkies vloere in die hoof se kantoor!
En toe die orkes kompetisie ‘n item begin raak het, het ou Vlam kampe vir ons gedurende die Julie vakansies gereel, op Venterskroon, ‘n N.G. Kerk kampeer terrain Tussen Potchefstroom en Viljoenskroon, langs die vaalrivier. Ons het hard geoefen, reg deur Lady Diana en prins Charles se troue, en ons het hard gespeel ook. Lantern bekruip, berg klim, kleilat… Die oorgrote meerderheid van die outjies het nie uitgemaak van kleilatte nie en Paul de Bruyn, die dokter se seun, het sy eie span maat, Hansie Bronkhorst, reg agter die oor gegooi laat sy oor sommer so voorentoe teen sy kop toegevou het soos ‘n cowboy se hoed waarvan die rand opgeslaan is. Hansie Bronkhorst het ‘invloed’ gehad. Hy kom uit ‘n groot familie met baie boeties en sussies. Om elke hoek en draai in Stilfontein, het jy jou vasgeloop teen ‘n Bronkhorst, en hulle was n woelige klomp hoor. Nou, as jy moeilikheid het met een Bronkhorst, het jy moeilikheid met almal van hulle, soos Paul toe nou uitgevind het.
In die aand het ons sulke wrede spookstories vertel dat groot uitgevrete matriekseuns in hulle slaapsakke gelê en huil het, en sommer so in die chalet se deur gestaan en urineer het omdat hulle te bang was om toilet toe te gaan. Die volgende oggend het dit gelyk of iemand ‘n drom ou diesel voor die deur uitgegooi het…

Nog ‘n mylpaal in my lewe, wat deur die orkes moontlik gemaak is, was my eerste date. Ons het ‘n braai by Vlam se huis gehad aan die einde van ons matriek jaar, en ek het besef dat dit about die enigste keer in my skool loopbaan sou wees wat ek die kans sou kry om ‘n meisie uit te vra. Net die idée het die koue sweet teen my voorkop laat uitslaan. Ek het gedink dat ek dit maar veilig sou speel en een van my sussie se vriendinne sou vra, maar hoe? Elke keer as ek met die skoner geslag wou praat, het als verkeerd om uitgekom, agterste voor, en omgekeer, soos Shakespearean English…’Wherefore art though a boereseun???” En dan moes ek dit boonop so ongesiens doen as moontlik, want ai, die elendige vernedering van afsê, of jou vriende wat uitvind dat jy ‘n date probeer reel, is ondraagbaar. Soos ‘n gesoute struikrower wag ek toe vir Carina Langenhoven in, na skool, een middag oppad huistoe. Dit was nou of nooit! Sy was ‘n mooi meisie, en lank, omtrent net so lank soos ek. En haar ouers was streng…. Daar staan ek, agter ‘n boom, en loer net so nou en dan verby die dik stam om te sien of sy al op pad is. Toe sien ek haar en o gaats, sy’s saam met ‘n klomp vriendinne. Hals oor kop vlieg ek agter die boom uit en val oor my tas wat ek skoon van vergeet het en spring so vinnig op dat dit lyk op die straat ‘n trampolene is. Daar staan ek voor haar en grou in my oor met die een vinger van pure verleentheid terwyl ek met die ander hand probeer om my tas wat oopgegaan het en al my boeke in die straat uitgestort het, weer toe te kry. Kop onderstebo, tuurend na my afgesakte kouse en ‘n skoenpunt wat genadeloos in die teer in boor, vra ek haar toe of sy saam my na die braai se orkes toe sou kom…die orkes sou gaan braai… die orkes se braai toe sou kom. Gelukkig was ek so besig om te konsentreer op die gat wat ek in die teer maak met my voet dat ek nie gehoor hoe die klomp meisies giggel nie. Sy was baie bedagsaam en het dadelik ingestem, seker maar in ‘n poging om my ongemaklike situasie so kort as moontlik te maak. Ek het hals oor kop, vinnig “dankie’ gemompel terwyl ek my hemp ingesteek het, en myself toe uit die voete uitgemaak het sonder om eers vir haar te sê hoe laat, waar en wanneer. Wel, die groot dag het aangebreek en ek was aangenaam verras om haar te sien, met grimering aan. Sy het so vroulik as wat moontlik was, agter op my fiets geklim nadat haar pa tevergeefs probeer het om ons te vat met sy Chef Constantia, so ‘n lang metallic bloue, met swart rims, sonder wieldoppe. Die laaste ent teen die bult uit in Keurboom straat, moes ek staan en trap, en die are wat uitgebult het in my nek, het geblink van die sweet. Ek was behoorlik gedoop in lekker ruik goeters en na-skeer, en ek wonder of dit nie eerder die rede was vir haar rooi tranerige oë nie, en nie die wind van die vinnig jaag nie. By ou Vlam se huis aangekom, het ek haar gevra om vir my by die voordeur te wag terwyl ek die fiets gaan bere. Sy;t so ‘n bietjie langer gewag as wat ek beplan het, want dit het my ‘n hele rukkie geneem om daar agter die bediendekamer se muur, kop-onderste-bo, my asem terug te kry.
As ek terug kyk na die kadet orkes en wat dit vir my beteken het, besef ek dat ek dalk al sommer einde standerd sewe uit die skool uit sou gewees het, as ek nie maar ter wille van die orkes, in die oggende skool toe gegaan het nie. Die orkes het my geleer om op my voete te staan, selfs na matriek in die weermag my man kon staan, my karakter kon ontwikkel, en my selfvertroue kon versterk sodat ek eendag die tuig sou kan vasvat om vir my familie ‘n toekoms te bou.
Al wat ek onthou van Lady Diana en Prins Charles se troue, is die bottel Bells whiskey met hulle foto op, wat in die vertoonkas in die eetkamer gestaan het.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Die Lied van Lorelei

deur Rachelle du Bois

Mikrobioloog Talana de Waal keer na haar familie se sitrusplaas in die Laeveld terug om navorsing te doen. Sy bring haar vriendin en kollega, Dr Lerina Keyser saam. Alles gaan voor die wind tot haar kleinboet en sy vriend besluit hul ouer broers, Marius en Armand se liefdeslewe het 'n hupstoot nodig. Die misverstand wat volg het katastrofiese gevolge. Die vreeslike flater laat die wraak van die meisiekinders vlamvat. Tot die bye swyg en die swartvlieë hou op eiers lê . . .



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar