Kortverhale

Titel: Kasterolie
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Tant Corrie … sy was 'n dierbare mens. Sout van die aarde. Moeder van die volk. Altyd besorg oor ander. Kinders was vir haar besonders. Sy was lief vir hulle. As sy jou soen groet kry jy so iets van 'n suigsoen in jou nek. Dit het altyd gevoel sy wil so 'n paar druppels bloed uitsuig. En dan druk sy vir jou. Sy vat jou gesiggie so tussen haar twee hande en druk jou aan haar bors … so dat dit voel daai twee massiewe boesems versmoor jou … ek het al gesien as sy vir boetie soen … dis net so klossie kroontjie hare wat uitsteek. Dan kry jy 'n klapsoen op die wang. Jy deins so bietjie terug want haar snorbaard gaan jou in die oog steek. Maar Tant Corrie was dierbaar mens. Altyd 'n koekie of stukkie melktert as jy net iets praat van honger.

Sy en oom Jannie het in die ver wereld bosveld gebly. So entjie van Marnitz. Hulle het ook nooit kinders van hulle eie gehad nie, maar 4 aanneem kinders het hulle harte bly gemaak en al hulle liefde is op die 4 kinders uitgestort. Snaaks ook hoedat die lewe 'n pad loop. Een van hulle is later jare as 'n gewoontemisdadiger verklaar en het sy lewe in die tronk geslyt. Een van die aangenome kinders was Sus. So omtrent ons ouderdom en ons het nogal saam geoefen hoe die soen ding werk. Sy het gehoor van French kiss en sy het my en boetie gewys hoe dit werk. Ons het so dan en wan gesê ons het nou al bietjie vergeet en sy moet weer wys.
Die ander een was weer vreeslik dom. Kon nie by standerd 4 verby kom nie. Heeltemal toegeslaan. Seker ook nou nie reg om te praat oor ander se aansienlikheid nie, maar die knaap het bietjie skeef uitgekom. Klein koppie aan hom gehad. Sy bynaam was Stoof … of was dit dalk sy regte naam?

My pa hulle het so nou en dan vir hulle gaan kuier en dan kon ons gaan springhase jaag. Maar eers moes oom Jannie vir die groot mense 'n blok-en-tekkel gooi. Oom Janie het so 'n Chev bakkie gehad. Ons is almal agterop … elk met sy knopkierie en dan so teen middelaand ouland toe met die skietlamp. Die klein heks (my sussie) was nogal goed met die skietlamp en ons seuns spring dan af sodra sy 'n springhaas in die ligkol het. Dan is dit jou bene afhol om die haas ingehardloop te kry. Sus het tree vir tree saam gehol en as sy die knopkierie hier van bo begin swaai, moes jy koes want dan raak sy moordlustig. Wonder vandag nogal oor haar … dink sy het haar man lank terug in orde getik.

Ewenwel … Tant Corrie … ek en boetie moes een vakansie by hulle deurbring … pa en ma moes Rhodesië toe … na oupa en ouma en het gevlieg. En dis waar ons die ander sy van Tant Corrie leer ken het. Iets in die oumens het gemaak dat sy elke 3de dag vir al wat kind was kasterolie moes voer. Die eerste keer het ek weggehardloop. Sy het die kombuisouta gestuur om my te vang en my op die rusbank vasgedruk en die goed in my keelgat afgegooi en heeltyd gesis deur haar tande dat dit goed is vir my. Maar die eerste lepel kasterolie het ek so 'n boog gespoeg regoor haar rug dat dit soos 'n fyn sproeireën oor ons beide neergesif het. Met die twee probeerslag het sy my neus toe en ek moes sluk, maar spontaan het dit weer teruggekom en het ek 'n boog gekots … die keer was daar nie 'n sproeireën nie, maar iets soos 'n haelstorm soos vanoggend se stukkies wors oor ons neersak. Met die derde probeerslag is my neus toegedruk en mond toegehou. Dis was vir my 'n bitter ondervinding. En die naarste van alles was dat ek moes skoonmaak rondom die rusbank terwyl die ander kinders deur die venster vir my loer en Sus vir my lag.

Dis was dalk waar die wraak gedagtes al begin het. Dit was ook nie lank hierna dat ek moes hol vir die buite gerief. Dit het gevoel ek vergaan daar in die buite gerief. Maar het ook geweet dat die wraak soet sal wees.

Ek het boetie bymekaar gemaak en ons is alleen veld toe met die .22 Dit was agter die ou kraal waar alles skielik in mekaar gepas het. Dit was 'n groot likkewaan wat in die sonnetjie lê en bak het. Ek het 'n patroontjie die loop ingestoot. En stadig regop gekom. Hy het stil gesit en mooi kom lê hier in die V van die .22 Ek het my asem stadig uitgeblaas tot net so anderkant halfpad en stadig stukkend geknyp. Die likkewaan het nie eens geweet wat hom tref nie, en met die kyk na die dooie likkewaan het die plan my hier teen die bors kom klop.

Tant Corrie het elke agtermiddag die mandjie gevat en hoenderhok toe geloop vir eiers uithaal. Die paadjie het verby 'n merske kremetart geloop en die paadjie was nou gewees tussen die kremetart en draad. En dit was hier waar ek besluit het om haar voor te sit en straf uit te deel. Boetie het 'n bolletjie van haar hekel wol gaan zooi. Ons het die wol aan die likkewaan se stert vasgemaak en het die ou die boom ingehys … reg bo-oor die paadjie na die hoenderhok. Die plan was om hom te laat val so entjie voor haar en dan sal sy skrik. Ek en boetie het dit 'n paar keer geoefen en ons merke gemaak waar sy moet wees en wanneer ons moet laat val. Ons was gereed. Huiswerk gedoen en netnou maar sal sy die mandjie vat en eiers gaan haal. Met ons agter die kremetart en die likewaan wat wag. Daar het, onthou ek goed, sulke groot bloeddruppels by sy mond uitgedrup drup grond toe.

Tant Corrie het met die paadjie afgestap gekom. Soos gewoonlik Ges 177 gesing, so amper uit volle bors. "Ek sien 'n nuwe hemel kom" se klanke het ons begroet.

Maar iewers het daar 'n problem ontstaan. Ek kon die merke nie meer mooi sien vanwaar ons weggekruip het nie en moes skat wanneer om die likkewaan te laat val. En soos die duiwel dit wil hê, die dooie likkewaan nét te laat gelos. Ek onthou die geritsel van die stukkie wol tou soos hy oor die tak seil, die dooie stuk vleis oppad ondertoe. Die likkewaan het mooi hier op haar skouer kom val.

'n Groot chaos het losgebars. Tant Corrie se blaas het padgegee. 'n Goot poel water het skielik hier om haar verskyn. Sy het nuwe woorde gesê wat ek nog nooit vantevore gehoor het nie. Ek het dadelik geweet hier kom 'n helse moeilikheid. Ons het gehardloop …. Boetie met so 'n huilstemmetjie hier kort agter my met "vandag bliksem hulle ons dood."

Miskien is dit beter om die storie hier af te sluit. Die uiteinde was toe glad nie mooi nie. Die klein heks het saamgestem dat ons 'n wetterse pak verdien. Tant Corrie het haarself vir 3 dae in haar kamer toegesluit. Oom Jannie het net kop geskud en gevra hoekom. Gepraat van smaad. En probeer om die klomp kinders se honger te stil . Ek het probeer beduie van die kasterolie. Tant Corrie se soet stem het vanuit die kamer gekom as sy sing dat Heer by haar moet bly terwyl die skemer daal.

Dit was drie dae later dat Tant Corrie uit die kamer gekom het. En in haar regterhand was daar 'n bottle kasterolie.



Spaar Geld op Versekering

Kommentaar

Kasterolie
Ek neem aan Piet Visser en Meerkat is een en dieselfde mens, want Meerkat het die symste storie vertel op 3 Augustus. Verduidelik asseblief.
6 jaar 10 maande 4 weke 1 dag 21 ure oud


Ek het GANIET!!
Wil net kom getuig dat ek hierdie lyne GANIET het! Wanneer jy in die buiteland honger na Afrikaans is die ure se gewag om op Woes in te kom, die moeite werd wanneer daar bydrae's te lese is soos hierdie!!
Doet asb voort. Wanneer tyd toelaat sal ek kom loer of daar nog beskikbaar is en so boek ek dan ook hier op jou erfie vir my die boom in die linkerhoek met die dukke tak vir lekker hang terwyl ek wag vir nog!
6 jaar 11 maande 7 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Meeste gelees in die laaste 24uur
(2014-07-29 09:00:00 - 2014-07-30 09:59:59 )

Meeste kommentaar ontvang in die laaste 24uur

Stromateia: 'n Lappieskombers van Gedigte

deur Vesting

Op aandrang is die gedigte van Vesting wat op Woes gepubliseer is, in boekvorm uitgegee (A5, slapband, 28 pp). Navrae: 072 4078561



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar