Kortverhale

Titel: KATTE HELD
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende



Herman kyk gesteurd op van sy motortydskrif. Ella is vandag weer in haar element. Klets al die hele dag met haar suster oor die foon. Haar stemtoon, skril lag en hoesbuie so tussen die sigaretrook begin aan sy senuwees torring. Hy kyk af na die motors op die glanstydskrif. Die antieke modelle wat gerestaureer is vang sy oog, laat hom onwillekeurig aan haar dink. Eens blink en begeerlik, nou ‘n duur stokperdjie onder lae verf, maar die model bly dieselfde.

Ella het met die jare gemaksugtig en baie krities geword. Kerm gereeld oor mans wat vrouens nie verstaan nie, selfsugtig is en hulle oë nie van die jong lywe kan afhou nie. Dit is dan wanneer dit heldemoed kos om nie sy brein toe te laat om sy testosteroonvlak so die afgrond in te jaag dat hy permanente skade opdoen nie.

Die naaste wat hy aan passie en vuur in die huwelik kom, is haar passie vir kos en die vuur is vervang met hout en kole vir nog ‘n bord vet gebraaide skaapvleis. Die gebraaide skaapvleis is nie ‘n probleem nie, maar die vis wel. Sy gek na vis. Dit word met uitsondering van Sondae feitlik elke dag as maaltyd of bykos bedien. Dit het hom ‘n weersin in seekos gegee. “Herman”…. Ella skree uit die sitkamer…..”Lettie sê daar het ‘n nuwe eetplek by die hawe oopgemaak, die heerlikste seekos om van te kies en te keur en die pryse is glo baie billik. Ek het vir haar gesê om vir ons plekke te bespreek vir Saterdag. Jy beter nie reëlings tref of verskonings soek nie.” Herman skud sy kop moedeloos….. vis…. alweer vis. “Maar Ella, eet ons nie genoeg ….” Sy val hom in die rede. “Sien, dit is waarvan ek praat, as dit by rugby en karre kom, is mans voor in die ry, maar as dit by hulle vrouens kom word daar altyd verskonings uitgedink en van sit voor die rekenaar sal ek nie eers praat nie, dit is mos deesdae jou nuwe liefde ” Herman besluit om kalm te bly, hy is nie weer lus vir rusie nie. Die papegaai Peet het al die helfte van sy vere uitgeruk van spanning as Ella begin skree-praat en vir ‘n kaal voël met bronghitus sien hy nie kans nie, dan is dit ook weer sy skuld. “Nou goed dan, maak maar so”. Herman staan op, stap kombuis toe, sny ‘n blikkie sardiens oop en gaan sit dit in die garage op die vensterbank. Die namiddagson sy handlanger, medepligtig in voorbereiding vir Saterdag se planne. Hy gaan ‘n einde maak aan haar vislus, hy kan die reuk en smaak van vis nie meer verduur nie.

Herman voel aan die verseelde plastiese sakkie in sy broeksak. Toe Ella met die tweede bord seekos by die tafel aankom besluit sy en haar sus Lettie om nog ekstra kalamari ook te gaan haal. Dit gee hom die geleentheid om gou die sardientjies tussen haar kos in te werk. Toe drink hy rustig aan sy glasie wyn en wag op die reaksie van die songebakte sardiens. Hy hoop sy word so siek dat sy nooit weer vir vis kans sal sien nie dan het hy darem een ellende uit sy lewe. As sy glo sy het allergies vir seekos geword, is sy saak gewonne! Oppad huistoe hou hy Ella fyn dop vir enige reaksie maar gewaar geen tekens van ongesteldheid nie. Hy frons, sou sy dan immuun wees teen songebakte sardiens?

Hy ruk soos hy skrik toe sy sê: “Herman, dit lyk my jy wil nou die straatkatte se held word. Jy is regtig besig om oud te word, jou kop begin aankap. Ek het dan gedink jy hou nie van katte nie? Al die jare het jy ‘n keel opgesit as ek ‘n kat as troeteldier wou hê. Toe ek Woensdag middag die stofsuier uit die garage gaan haal het, het ek gesien jy het ‘n blikkie sardientjies vir die katte uitgesit, maar vergeet om die venster oop te maak. Herman sweet nou, verdomp, moet sy ook met alles inmeng! Ella skree-praat sonder om asem te skep. “Het jy gedink die katte sal versadig raak deur net na die vis te kyk? Toe dink ek maar weer soos altyd namens jou en maak maar die venster groot genoeg oop sodat hulle darem die vis kon bykom. Ek het net voor ons gery het vir hulle weer ‘n blikkie vis oopgesny en op die vensterbank gesit.” Skielik besef Herman waarom die ‘songebakte vis’ toe nie enige effek gehad het nie. “ Onthou tog om die venster weer effens oop te maak as ons nou by die huis kom. O ja, jy sal maar vroeg moreoggend vis-gegeurde katkos moet gaan koop anders gaan ek nie genoeg sardientjies vir die voorgereg vir middag-ete en die katte se aandete hê nie” Sy kyk om half verwonderd aan. “ Lyk my ‘n man beteken darem so nou en dan iets”.

Herman voel naar, nou het hy nog ‘n klomp vis-vretende katte ook saam met die viswyf op hande. Hy wonder waarom is daar nie ‘n tweedehandse handelaar waar vrouens ingeruil kan word nie. Vir Ella sou hy sommer verniet gaan skenk het.

Toe gee sy manlike hormone geheel en al in, soos ‘n ou tjor wat sy laaste piston verloor!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

katte
Wys jou nou net, n man het nie n kat-se-kans nie,haha, het heerlik gelees en dit terdee geniet, dankie.
6 jaar 8 maande 4 weke 1 dag 21 ure oud


Katte
Baie oorspronklik voorwaar!
grou 'n gat en val self daarin soos die Spreker gese het.

Lekker geniet!

6 jaar 8 maande 4 weke 1 dag 22 ure oud


***
Lekker gelees, dankie!
6 jaar 8 maande 4 weke 1 dag 23 ure oud


Katte
Kostelik met 'n verrassende wending.
6 jaar 9 maande 1 uur oud


Katte en vir
Ag, die arme, arme man! Ek het vir `n oomblik daar gedink ou Ella gaan die gees gee van die vis, maar jy het die slot mooitjies anders beplan as wat ek kon raai! Knap gedaan!
6 jaar 9 maande 4 ure oud


Kat
Omtrent katkenades. Lekker gelees dankie.
6 jaar 9 maande 5 ure oud


Ano
Kat
Jammer om te hoor dat jy nou ook 'n dieretuin moes bykry! Baie geniet, dankie :-)
6 jaar 9 maande 7 ure oud


katte
hehe, dit sommer baie geniet. Goed vertel :)
6 jaar 9 maande 7 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar