Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Frok en Frak is baie besig. Dis winter en hulle werk hard om die sneeu wit en skoon te hou. Elke dag, voor hulle uitgaan om te werk, waarsku Pa Frot, dat hulle veilig moet werk want die sneeu en ys is baie glad, en ʼn Irk kan maklik gly en seerkry.

‘Moenie bekommer nie, Pa,’ sê Frok, ‘ons sal versigtig wees.’
‘Ja,’ sê Frak, ‘is altyd versigtig.’ Hy kruis sy vingers agter sy rug want dit is nie altyd waar nie. Partykeer vat hulle kanse.

Hulle trek hulle warm sneeubaadjies aan, want, al bly hulle onder die sneeu, word dit maar lekker koud in die berge, veral as die wind ook waai. Hulle vet pensies is vol ge-eet aan die lekker snertels-pap wat Mamma Frat vir hulle van sneeu en bevrore bessiebos-wortels gemaak het.

Hulle gaan na die stoor en kry hulle verfkwassies en ʼn blik wit verf. Hierdie keer maak hulle seker dat hulle nie weer per ongeluk die verkeerde kleur verf vat nie, en dan kruip hulle deur die tonnel onder die sneeu uit.

Frok en Frak werk fluks en verf die dowwe kolle weer mooi wit. Hulle lag en gesels vrolik en die tyd vlieg verby. Teen twaalfuur se kant is hulle moeg en dors. Hulle gaan sit op die sneeu en drink ʼn bietjie snuiker, ʼn mengsel van sneeu en suiker – dit gee vir Irks baie energie en proe baie lekker, veral as Mamma ʼn bietjie sjokolade stroop bygooi.

Na ete gaan hulle voort met hulle werk. ʼn Hele ent weg van die tonnel wat na hulle huisie lei, sien Frok ʼn vuil sneeukol wat bo-op ‘n hoë rots lê.
‘Frak, dit gaan vrek moeilik wees om by daardie stukkie sneeu uit te kom.’
‘Verseker,’ sê Frak, ‘dit gaan vreeslik moeilik wees.’
Hulle beloer die vuil sneeu en wonder wat om te doen.
‘Wag,’ se Frok, ‘daar is ʼn afgebreekte bessie-tak. Kom ons gebruik dit soos ʼn leer, Frak.’
‘Jong ek weet nie,’ sê Frak. ‘Miskien moet ons liewer ʼn leer by die huis gaan haal.’
‘Frak, dis te vêr om te loop en ek is moeg en os moet klaar maak voordat dit donker is.’
‘Ok, maar dan moet ons baie versigtig wees.’ stem Frak in. Hulle sleep die tak nader en laat dit skuins lê teen die rots.
‘Dit lyk soos ʼn regte leer,’ se Frak. ‘Laat ek opklim, dan gee jy vir my die verf aan. Dan kan ek verf terwyl jy die tak vashou sodat dit nie omval nie.’ Hy klouter teen die tak op maar, toe hy bo kom, kan Frok nie die verf so hoog optel nie.
‘Wag, ek klim ook op,’ stel Frok voor.
‘Is dit veilig?’ vra Frak.
‘Ek hoop so,’ antwoord Frok. Hy klim ook op, met die verf in die een hand, terwyl hy aan die tak vashou met die ander hand. Hy is amper bo toe Frak nies.
‘Fratisjoe!’
‘Gesondheid, Frak,’ sê Frok.
‘Dankie. Fra…, fru…, fre.., fra…tisjoe!’, nies hy weer, en, met die genies, begin die tak van die rots af gly.
‘Hou vas,’ skree Frok, maar dis te laat!
Die tak gly van die rots af en Frak val karploeks op die sneeu. Net sy boudjies en blou sneeuskoene steek bokant die sneeu uit. Frok skrik so groot dat hy die blik verf laat val. Hy knyp sy oë toe.
‘Pasop Frak!’ skree hy. Dan hoor hy die blik op die sneeu val met ʼn slag. Versigtig maak hy sy oë oop en skrik hom lam – Frak is nêrens te siene nie. Hy kyk om hom rond maar sien net hope en hope sneeu.

Frok hardloop huis toe so vinnig as wat sy vet beentjies hom kan dra. ‘Pa! Pa!’ skreeu hy, ‘Frak het verdwyn!’

Pa Frot probeer hom kalmeer maar Frok is baie benoud. ‘Ek belowe Pa, die een oomblik was Frak nog daar, kop in die sneeu en pote in die lug en die volgende oomblik was hy weg!’

Pa Frok vat sy hand. ‘Kom gaan wys my waar dit gebeur het.’

Frok loop tot naby by die rots waar die ongeluk gebeur het.
‘Sien Pa, daar lê die tak en die blik verf.’
Pa Irk stap nader. Hy tel die leë verfblik op. Dan draai hy sy kop skuins en hou sy hand bak teen sy oor.

‘Luister,’ sê hy vir Frok. Frok spits sy klein oortjies. Dan rek sy oë.
‘Ek kan Frak se spook hoor roep,’ sê hy verbaas. ‘Dit sê: Help, help!’
Sy pa lag. ‘Daar is nie so iets soos spoke nie.’ Hy buk in die sneeu en begin die sneeu met sy hande uitgrawe. Sommer gou sien Frok iets wat sy hart baie bly maak – ‘n ronde, pienk pensie. Hy help sy pa om vêrder te grawe en dan trek hulle vir Frak uit die sneeu. Hy skud die sneeu van sy kop en bolyf af. Van sy boudjies tot by sy skoene is hy spierwit.

‘Fik, hik, fik, hik, fik, hik,’ lag hy. ‘Dit lyk my die verf het op my uitgeval.’
‘Ja,’ lag Frok verleë, ‘en ek kon jou nie sien nie omdat jy net so wit soos die sneeu was - miskien moet ek vir my ʼn bril kry.’
‘Nou sien julle hoekom ek julle elke dag waarsku om versigtig te wees – ʼn ongeluk gebeur baie vinnig,’ sê Pappa streng.
‘Ja, Pa. Jammer, Pa,’ sê Frak en Frok gelyk.
‘Gelukkig het niemand seergekry nie.’ sê Pappa Irk. ‘Kom ons gaan huis toe - Mamma Frat het warm sneeu-sop op die stoof. Dit sal ons lekker warm maak.’

Die ander Irke gaan my lekker spot, dink Frok maar, voor hy te veel daaroor kan bekommer, skreeu Frak laggende: ‘Laaste een by die huis is ʼn vrot Irk.’
‘Nie ek nie!’ antwoord Frok en begin ook hardloop.

Pappa Irk lag en begin dan ook stadig draf – hy gee nie om om ʼn vrot Irk te wees nie, want Frok en Frak is veilig, en dis al wat saak maak.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Van liefde en so ...

deur Robelle

Verse oor liefde in blom, in krisis, verlore ... verwerkte grappies in digvorm



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar