Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Kallie voel rusteloos. Hy kan nie sy bene beweeg of selfs sy vlerkies sprei nie. En hy kry warm. Dis nou hoogtyd dat ek gebore word, dink hy. Hy pik saggies met sy bekkie teen die dop maar dit help niks. Dan pik hy 'n  bietjie harder. Kraak! Met nuwe moed pik hy weer en weer. Die eierdop kraak nog verder. Dan skyn 'n ligstraaltjie die dop in. Kallie is moeg en kry warm maar uiteindelik het hy 'n groot genoeg gat oopgepik om deur te kruip. Gebore, uiteindelik!

Die vroeë more son skyn helder en warm op sy goue donsies. Hy hoor vir die eerste keer voëltjies sing en êrens blêr 'n  skaap en bulk 'n koei.

Kallie se ma, Henna Hen, kop roep hom al kloekende. “Kom kruip onder my vlerke in,” beveel sy, “anders kan ek jou nie beskerm nie.”
“Waarteen?” wil Kallie weet.
“Baie goed. Soos katte en honde en valke en arende en slange. Hulle sal jou almal baie graag vir ontbyt wil eet.” Sy verduidelik vir hom watter diere gevaarlik is en watter nie. “ Dis baie veiliger as jy hier onder my vlerke bly,” eindig sy.

Kallie maak so maar, na 'n  rukkie, begin hy weer rusteloos word. Hy loer onder sy ma se vlerke uit. Die wêreld buitekant die hok lyk so mooi en aanloklik. Dalk oordryf sy ma so bietjie van die gevare, dink hy. Hy kruip onder Henna uit.

“Waar gaan jy heen?” var sy ma.
“Ek is honger, ek gaan kos soek,” antwoord Kallie.
Hy stap in die hok rond en kom op 'n groot bak met mieliepitte af. ©° Klomp hoenders staan en pil-pik in die bak.
“Versigtig wees, Kallie,” sê 'n groot haan met 'n woeste rooi kam. “Jy moet net klein pitte eet anders gaan jy verstik.” Kallie soek vir 'n  klein pit en pik dit op. Hy sluk versigtig.
“Ga, dis sleg,” sê hy, “hoe kan julle die goed eet?”
“Dis wat hoenders eet,” sê 'n ander hoender. “Hoenders eet mieliepitte. Dis nou behalwe as hulle lekker sagte wurms in die hande kan kry – dan is dit sommer 'n fees!”
“Waar kry ek wurms?” vra Kallie
“Nee wat, jong,” sê die groot haan, “wurms is maar skaars. Daar is baie wurms in die tuin en in die groentetuin maar ons kan nie uit die hok kom nie. Ons moet maar met die paar wurms, wat dom genoeg is om onder deur die draad te kruip, tevrede wees.”

Kallie dink 'n bietjie daaroor. Dit klink maar vir hom effens onregverdig dat hulle so min wurms kan kry as die tuin vol is daarvan. Hy loop en soek die hok vol maar kry nie 'n enkele wurm nie. Dan loop hy al met die ogiesdraad van die hok af, eers teen die een kant, dan teen die anderkant, totdat hy reg rondom die hok geloop het.

Hy kry 'n idee. Miskien kan hy oor die draad vlieg, hy het mos ook vlerke. Hy klap sy vlerke so paar keer.
“Wat doen jy?” vra Henna.
“Ek probeer vlieg sodat ek in die tuin kan inkom om wurms te eet. Ek hou niks van mielies nie.”
“Kloek, kloek kloek,” lag Henna. “Hoenders kan nie baie goed vlieg nie en jy is nog hopeloos te klein en te swak om dit nou al reg te kry.”
“Is nie,” sê Kallie. Hy klap weer sy vlerke maar niks gebeur nie. Dalk, dink hy, as ek vinnig hardloop en in die lug opspring sal dit help.

Hy gaan staan teen die draad en spring dan weg. Vinniger en vinniger, so vinnig as wat sy pootjies hom kan dra, hardloop hy. Dan gee hy so sprongetjie in die lug in en klap verwoed sy vlerke. Vir 'n° oomblik dink hy dat hy dit reggekry het – sy pote raak nie aan die grond nie en sy vlerke maak 'n woef-woef geluid in die lug. Maar dan tref hy die grond met 'n slag en hy rol kop oor stert in die stof.

“Kêkke re kê kê,” lag die hoenders. “Koekeroe-koe koe!”, kraai die haan.
Kallie stom homself af, vies vir die hoenders en vir homself. “Julle sal sien,” sê hy, “ek sal uit die hok kom al is dit die laaste ding wat ek doen.”
“Dit sál dalk die laaste ding wees wat jy doen,” sê 'n kapokkie.

Kallie loop na die verste hoek van die hok en gaan sit in die skaduwee van 'n boom wat teen die draad groei. Hy probeer dink aan 'n manier om uit die hok te kom maar die draad is baie hoog, nog hoër as die dak van die broeihenne se hok. As hy op 'n manier op die dak kan kom kan hy dalk van daar af op die draad vlieg, dink hy. Hy stap nader maar besef gou dat die dak ook te hoog is. Sy kop hang van teleurstelling. Dan sien hy iets wat hom opgewonde maak. Teen die hok is daar 'n klein opening in die ogiesdraad, klein, maar dalk groot genoeg vir hom om deur te klim.

Hy gaan lê op sy maag en probeer om onderdeur die gat te seil. Dit gaan moeilik want sy vlerke haak aan die draad vas maar Kallie gee nie op nie. Hy steun en hy kreun soos hy probeer en dan, ewe skielik, is hy deur! Die anders hoenders staan teen die draad. Hulle is verstom dat hy dit reggekry het om uit die hok te kom.
“Mooi so, Kallie,” kraai een jong hennetjie. “Wel gedaan!” sê 'n ander.
Hy skud sy donsies, wat rooi van die stof is, reg. Hy is baie trots op homself. Nou kan hy die tuin gaan verken en hopelik ook 'n wurm te ete kry.

Kallie loop ewe dapper oor die grasperk. Hy pik-pik so tussen die gras deur in die hoop dat hy 'n wurm in die bek kan kry maar kry elke keer net 'n bek vol sand. Sy nek is naderhand styf.
Hy stap na die groentetuin maar ook hier kry hy niks wurms nie. Die son brand op sy kop en hy gaan sit in die skaduwee onder 'n tamatieplant. Ek is sommer 'n mislukking, dink hy, ek kan nie eers ©° wurm vang nie. Hy voel baie hartseer. Ek moes nooit uit die hok geklim het nie – daar was darem kos, al was dit net simpele mielie-pitte. Hier is daar niks wat ek kan eet nie. Sy magie grom van die honger en hy is dors. Hy pik 'n aan 'n vrot tamatie wat op die grond lê maar spoeg dit onmiddellik uit. Dis nog slegter as 'n mielie!

Dalk moet ek maar terug gaan hok toe, dink hy, daar is ten minste kos en water. Hy kyk om hom rond maar kan die hok glad nie sien nie. Sy hart klop doef-doef-doef in sy borskas. Watter kant toe is die hok? Hy weet nie! Bly kalm, sê hy vir homself en die trane wil-wil loop. Loop net al langs die huis se muur totdat jy weer die hok kan sien.

Dan, ewe skielik sien Kallie iets wat hom baie opgewonde maak. 'n Wurm! 'n Lang, wit wurm lê oop en bloot op die sement langs die asblik naby die agterdeur. Kallie vergeet sy moegheid en bespring die wurm. Die wurm is amper twee keer so lank as wat Kallie se lyfie is. Ek gaan lekker smul aan jou, dink Kallie en gryp die wurm aan sy stert.

Die volgende oomblik voel Kallie 'n hou teen sy kop en hy slaan neer. Sy kop draai maar hy hou die wurm styf in sy bekkie. Dan voel hy nog 'n hou. Hy kyk om en sien 'n harige gesig met groot oë en 'n plat neus met baie snorbaarde reg teen hom. 'n Kat!

Hy wil my wurm steel, dink Kallie. “Gaan weg, jou vieslike ding,” piep hy. Hy hardloop vinnig weg. “Jy gaan nie my wurm kry nie.” Die kat bespring hom weer maar Kallie sien dit oor sy skouer en gee so vinnige treetjie links. Ploef, klap die kat se pote sentimeters van sy lyf af.

“Los, my! Los my! “ piep Kallie benoud. Weer spring die kat en sy pote druk vir Kallie vas sodat hy nie kan beweeg nie. “Jy gaan nie my wurm kry nie,” dink Kallie weer. “Dis myne.” Die kat se oë is wreed en Kallie sien die hoe die kat sy lippe aflek.

“Dis my wurm, jou lummel,” piep hy. Die kat se mond gaan oop. Kallie sien die groot wit tande. Dit blink en dit lyk baie, baie skerp. Dit sal maklik die wurm dubbel deur kan byt, dink hy, en vir my ook. Hy besluit dat aanval die beste plan is om te keer dat die kat sy wurm eet.

Hy los die wurm vir 'n oomblik en spring in die lug. Hy gryp een van die kat se snorbaarde in sy bek. Miaauuu!!! skreeu die kat van skok as Kallie op die grond beland, die snor nog in sy mond. Die kat se oë traan van die seer. Kallie gryp gou sy wurm en laat waai, weg van die kat.

Toe hy om die hoek van die huis hardloop, sien Kallie die hoenderhok. Nou moet ek net 'n plan maak om in die hok te kom met my wurm. Waar is die gat nou weer? wonder Kallie maar hy besef dat hy nie betyds daar sal kom nie want hy is skoon flou van die honger en dan moet hy nog die gewig van die wurm ook nog dra. Hy hoor 'n geluid agter hom en kyk om.

Die kat het oor die skok gekom het van 'n kuiken wat sy snor gepluk het en bons-spring agter Kallie aan. Sy kat se oë blits van die kwaad. Hy wil nog steeds my wurm vat, besef Kallie. Hy hardloop so vinnig as wat hy kan en klap sy vlerke vergeefs. Die kat is besig om hom in te haal.

Dis die einde van die wurm, dink hy. Hy gebruik sy laaste krag om
vinniger te probeer hardloop maar dan voel hy hoe iets hom teen die lyf tref. Hy klou aan sy wurm en maak sy oë toe –hy wil tog nie weer daardie groot, skerp tande sien nie. Hy voel hoe iets hom in die lug in swaai en hoor 'n onaardse geluid.

“Ha, ha, ha,” hoor hy. Hy maak sy oë versigtig oop. Voor hom sien hy 'n seunsgesig. Kallie kyk af en sien dat hy in die seun se hand staan. “Ha, ha, ha,” hoor hy weer, “dis die eerste keer in my lewe wat ek sien hoe 'n kuiken 'n kat se snorbaard trek.

“Hie, hie, hie,” lag 'n ander stem, die van 'n jong meisie, “en dit om 'n stukkie spaghetti te beskerm. Hy het seker gedink dis 'n wurm!”

“Ja,” lag die seun. ”Hy weet seker nie eers dat die kat eintlik agter hom aan was nie. Amper het hy die kat se middagete geword.”
Die twee stap saam tot by die hoenderhok. Die ander hoenders het die lawaai gehoor en staan nuuskierig nader. Die meisie maak die knip van die hek op en die seun sit vir Kallie op die grond neer. “So, ja,” sê hy vir sy sussie, “nou is die kuiken darem weer veilig.”

“Wat het gebeur?” vra die ander hoenders gelyktydig as hulle Kallie se vuil lyfie sien. Kallie bloos en kry baie skaam omdat hy gedink het 'n stukkie spaghetti is ©° wurm.

“Sommer niks,” sê hy en stap na die voerbak. Daar lê nog so paar klein mieliepitte in die bak. Hy pik vinnig en sluk vinnig 'n paar in. Dis eintlik glad nie so sleg soos ek eers gedink het nie, dink hy, en dis baie minder moeite as om 'n wurm te probeer vang!

Dan hop hy na waar sy ma lê en kruip onder haar vlerk in. Dis lekker snoesig hier, dink hy. En veilig. Met die gedagte, raak Kallie aan die slaap.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Kallie
Lekker gelees.

Groetnis.
11 jaar 5 maande 1 dag 16 ure oud


heerlik...! gaan hierdie bêre
11 jaar 5 maande 2 dae 7 ure oud


nou ja.ek het die karnallie(karkallie?)se avontuur geniet.
11 jaar 5 maande 2 dae 11 ure oud


Pragtig
Ek het jou storie geweldig baie geniet. Dit is regtig goed geskryf en jy kan maar want jy weet hoe.
Hartlike groete,
PM
11 jaar 5 maande 2 dae 14 ure oud



Ontdek die Siel in my

deur helna

Dis vir my 'n eer om my eerste digbundel te kon uitbring. aangesien ek 'n passie het vir die kunste is die omslag een van my eie werke! "Ontdek die Siel in my" het sover net positiewe kommentaar ontvang, kom deel asseblief hierin.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar