Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dit is mos maar so by kerkraadvergaderings - die broeders ouderlinge verskil van mekaar - almal kan mos nou nie elke keer saamstem oor 'n saak nie. Maar een ding kan jy van seker wees: In enige meningsverskil, sal oom Buks en oom Abram mekaar opponeer.

In die gemeente was dit die gewoonte dat die diakens elke kwartaal die lidmate besoek en dan sommer die kerklike bydraes ook in ontvangs neem.

Maar die diakens sukkel. Die boere sê maklik hulle moet ná die oes kom, of ná die vendusie, en die salarismense wil wag tot hulle bonusse gekry het By die kwartaallikse vergadering moet die diakens dan verantwoording doen, want die inkomste is nie na verwagting nie. In die kerkraadvergadering een Donderdagaand heers daar 'n bedrukte stemming. Die Dominee se vergoeding kon nie alles betaal word nie.

"Miskien moet ons weer 'n basaar hou," dink oom Abram hardop.
"Dit is 'n langtermyn oplossing, broeder," antwoord dominee Visagie. "Die lidmate moet hulle kant bring! Daar by my vorige gemeente het ons 'n ander sisteem gehad, en dit het gewerk!"
"Vertel, Dominee," sê oom Buks.
"Elke lidmaat het 'n paar koevertjies gekry," verduidelik die dominee. "Dan sit hulle die bydrae daarin, en dan kom gooi hulle dit in 'n kassie wat ons in die voorportaal aanbring."

"Not 'n dêm, Dominee. Ja Dominee." Dis oom Abram wat protesteer. "Dis die diakens se werk om die bydrae by elke lidmaat te kry. Met hierdie nuwe gedoente gaan ons nie regkom nie. Dis onbybels. Ja, Dominee. Jesus het nie vir sy dissipels koevertjies gegee nie. Ja Dominee."

Nou het oom Abram standpunt ingeneem en oom Buks vlieg op.
"Ek stem saam met Dominee," kondig hy aan en gee oom Abram 'n wrede kyk der kyke. "Ons moenie almelewe wegskram van 'n goeie plan nie. Party broeders dink hulle ken die Bybel ...."
"Ek p-protesteer!" Oom Abram vlieg ook op. Hy hakkel aljimmers as hy opgewonde word. "Ons d-doen dit al jare soos nou. Dominee moet net 'n slag die gemeente w-wakker preek hierso! Ja, Dominee!"

By hierdie kerkraadvergadering, na baie bespreking en opgewonde beduie, onstaan daar twee kampe: Die pro-koevertjiemense en die anti-koevertjiemense. Gelei en voorgegaan deur oom Buks en oom Abram. Die pro-koevertjiemense is egter in die meerderheid en daar word besluit om sommer die volgende dag al 'n kassie in die voorportaal aan te bring. Daar word ook besluit om 'n basaar te hou oor twee maande en die ouderlinge moet by die gemeentelede gaan uitvind wat hulle wil bydra - groente, vleis, melk, geld en so aan.

Nou is oom Abram nie 'n man wat 'n ding sommer aanvaar nie. Hy gaan die aand beswaard huistoe.

Die koevertjies word uitgedeel en die nuwe sisteem word aan die gemeente verduidelik. En so gaandeweg begin daar ietsie in die kassie val. Hierdie bydraes kom vanaf die wyke van die pro-koevertjielidmate. Net hulle. Nie 'n enkele een uit oom Abram se wyk nie en omtrent niks uit die wyke van die ander anti-lidmate nie. Die hele gemeente is verdeeld. Een groep skaar hulle by oom Abram en staan gou bekend as die anti-koevertjie mense, en die ander groep staan weer bankvas agter oom Buks - dis nou die pro-koevertjie lidmate.

En die situasie kring uit, word ernstig. Die Pro's en die Anti's kuier nie meer bymekaar nie. Sekere winkels, waarvan die eienaar bekend is vir sy pro- of anti gesindheid, word geboikot. In die kerk sit die pro's in die regterkantse helfte van die kerk en die anti's sit weer aan die linkerkant. Toe oom Abram vir hom 'n nuwe Ford koop, koop oom Buks 'n Chev. En toe begin die garages op die dorp sommer uitstekende sake doen, want al die pro's wat Fords het, gaan ruil dit in vir Chev's en die Anti's sorg weer dat hulle Fords koop.

Algou het jy toe die een groep, pro-koevertjie, wat Chevs ry en aan die linkerkant in die kerk sit, en die ander groep, die Anti's, wat Fords ry en aan die regterkant van die kerk sit met eredienste. Die middelblok is vir die neutrales, wat deur beide oom Buks en oom Abram uitgeskel word vir draadsitters.

Dis die beleid in die kerk dat 'n ouderling nie sy eie ouderling kan wees nie. Hy word besoek en versorg deur die ouderling van die wyk waarin hy woon en tot oom Abram se groot ergenis, is oom Buks sy ouderling. En oom Buks besluit toe dat oom Abram bietjie aangepraat moet word oor sy houding met die bydraes.

So ry oom Buks dan een middag oor na sy buurman toe. "Kyk, ou Broer," begin hy met 'n sondige lekkerkry in in sy binneste, "ek wil met jou praat. Jy is tog die voorganger van die anti-koevertjies. Wil jy nie maar ..."
"Jy m-moet nie met my kom staan b-bodder nie, Buurman! Ja, Buurman. Los my uit. Die Bybel sê ..."
"Ag ou Buurman, jy ken g'n die Bybel so goed nie. Janee. As die dominee sê dis reg, dan is dit reg. Hy ken die Bybel baie beter as jy. Ek wil jou ernstig vermaan. Gaan op jou knieë, Broer, en vra vergifnis ..."
"Los my uit, Buurman! As jy v-verder bodder, gaan sê ek vir d-dominee van jou stookketel. Ja, Buurman. Gaan vra jy liewer vergifnis! Ek sê jou nou, B-Buurman! My manne sal nooit g'n koevertjie in die kassie gooi nie!"

Oom Buks staan maar dadelik op om te ry. Hy is nie hier welkom nie, dink hy. Sal maar met Dominies gaan praat, besluit hy met groot lekkerte. Ou Abram sal maar van hoër af aangepraat moet word ... dalk sensuur, wie weet? Wonder wat die ou helsim bedoel het toe hy praat van sy manne ...?

Oom Buks vind 'n paar weke later uit wat oom Abram bedoel met "sy manne." Toe hy en sy dogters die Sondag kerk toe ry, is daar 'n padblokkade met 'n paar dieseldrommne en drie bakkies wat die pad versper sodat motors moet stilhou. Langs die pad is 'n banier gespan met "K W B" daarop en onder dit in kleiner letters, staan "Koevertjie Weerstand Beweging." So vyf jongmanne, konserwatief in hulle kakieklere en hoede, beman die blokkade. Nuuskieriges het stilgehou en uitgeklim om te verneem wat nou eintlik aan die gang is. Hier so 'n halfuur voordat die kerk moet begin, hou al meer toeskouers stil, hoog in hulle skik met die afleiding op 'n Sondagmore.

Ernst Treurnicht, die welsprekende onderwyser wat so roerend en innig kan voordra op konserte, klim op 'n drom. Vandag gaan hy 'n toespraak afsteek soos nog nooit in hierdie bosveld gehoor is nie. "Vriende," begin hy stentories en vee met 'n hand wat bewe van ontroering oor sy welige baard. "Ek is vandag diep ontroer oor my volk. Ja, my broers en susters, namens die KWB sê ek nou vir julle ... vandag is vir my 'n smartlike dag. 'n Smartlike dag ..."

Voordat hy die smartlikheid van die dag verder kan verduidelik, word hy ru onderbreek deur 'n woedende Ds Visagie
. "Kerk toe," bulder hy. "Almal van julle. Julle narre in die kakieklere ook! Nou dadelik!"

Die Sondag sal vir altyd onthou word. Die woedende leraar preek nie, hy vreet die gemeente uit, dreig met baie ernstige stappe as daar nie onmiddellike, totale inkeer kom nie. Dan roep hy die kerkraad konsistorie toe met streng bevele aan die gemeente om te bly sit, kom na 'n halfuur terug met kerkraad en al en praat dan vinger in lug verder.

Ds. Visagie sluit af: "Van nou af, Broeders en Susters, kan u kies of u die bydrae aan die diaken wil gee, en of u dit in die koevertjie wil afdra." Uiteindelik, na drie ure, verlaat die gemeente die kerkgebou. Stil en nadenkend. Oral begin die Anti's en die Pro's handskud en vroue val mekaar snikkend om die nek.

Werklik 'n aandoenlike Sondag wat nooit vergeet sal word nie. In die weke wat volg, doen die kerkraad baie moeite om te wys hoe ernstig hulle op eensgesindheid ingestel is. "Jy kan maar sê ons is 'n Raad van Kerklike Eenheid," probeer oom Buks dit naamgee een more in die konsistorie. "n Soort van RKE ..." Ds Visagie se kyk der aller kyke laat hom vinnig stilbly.

Dan lê die basaar voor. Oom Abram was al by oom Buks om te hoor wat hy gaan bewillig en het oom Buks se belofte van twee duisend rand aangeteken. Alles gebeur baie gemoedelik en vriendelik ... so op die oppervlakte langs.

So 'n week later, ry oom Buks toe weer na oom Abram toe. "Kom ook maar hoor van jou bydrae vir die basaar, Buurman," verduidelik hy sy besoek toe oom Abram hom binnenooi en sit-maak in die huis. "Hoe lyk dit?"
"Ja, Buurman. Ek sal 'n bees gee vir die basaar," antwoord oom Abram. "'n Mooi vet os. Maar daar is 'n voorwaarde."
"Ja Buurman?"
"Ja Buurman. Die voorwaarde is dat jy daardie os in jou koevertjie steek en in die kassie by die kerk gaan gooi. Ja, Buurman."



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Nou eers gelees
Ja, die ouderlinge darem!
Dankie vir die lewensles.
Origens, ek weet hoe om daai os in die koevertjie te kry:
Maar die assies gaan nie meer twee-duisend rand inbring nie.
GvT
c];o)
3 jaar 8 maande 2 weke 2 dae 11 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar