Weergawe: 1
Aantal woorde: 530
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 02 Apr 2015
Ons skriflesing, liewe kinders, kom vanoggend uit die boek van Genesis, hoofstuk 6, verse 1 tot 11: “Toe die mense baie begin word het op die aarde, het die hemelwesens gesien dat die dogters van die mense mooi was en hulle het van die hemele afgekom en met die dogters gemeenskap gehad. Hierna was daar reuse op die aarde. Hulle was die sterk mense van die ou tyd. Die aarde was korrup in die oë van God. Elke mens op die aarde se lewe was verrot. En God het besluit om die mense op die aarde uit te wis”. Ons lees tot daar. Amen.
Liewe seuns en dogters, wat wil die Woord vandag vir ons hier sê? Watter waarhede breek die Skrif vir ons hier oop? Luister met aandag, kinders. Moet nooit enigiemand vertrou nie. Veral nie engele nie. Hulle is ‘n spul jagse rokjagters. Dogters, al kan julle hulle nie noodwendig altyd sien nie… hulle is daar. Wees op julle hoede, veral die mooies onder julle. Die hemelwesens sal julle bespring wanneer julle dit die minste verwag. Die tweede les wat hiermee gepaard gaan, is: As julle nie reuse wil baar nie, hou julle kniegkoppe maar altyd mooi styf teen mekaar. ‘n Mens weet nooit wanneer die hemele oopbars en ons weer sien vere spat nie. Pasop, dogters. Hierdie cherubims en serafims is nie wie hulle voorgee nie. Wanneer hulle julle nader, moet julle tog maar in alle rigtings in spaander. Weer die aanslag af met tand en klou. Seuns, julle moet duidelik ook maar ligloop. Hierdie hemelwesens is voorwaar ‘n trop losbandige, onsedelike ramkatte.
Seuns en dogters, julle mag dalk vra wat van die hemelwesens geword het. Kort na die reusemens opgegroei het, het God almal op die aarde, behalwe ‘n handjievol regverdiges, se lewens met die sondvloed uitgewis (reuse inkluis). Die hemelwesens, duidelik maar ‘n afvallige klomp leeglêers, het heel moontlik soos lafaards op vlug geslaan terug na die hemele toe waar die waters hulle nie kon raak nie. Dit het sekerlik baie mooipraat gevat van hulle om weer in God se aangesig te kon verskyn.
Kom ons buig nou ons hoofde. Liewe Vader, beskerm ons teen dit wat ons nie verstaan nie. Hou ons maar eerder blind vir dít wat ons kan mislei en dié wat ons wil verlei. Amen.
Net ‘n paar afkondigings: Die evolusiegroep vergader vanmiggad om 3-uur by die ekskewasiegat. Die kwantumkaskenades se uitstappie na die WNNR vertrek om 2-uur. Onthou om julle anti-materie vraelyste saam te bring. Die Kopkrap-filosofieklub se knelvraag hierdie maand is, “Is ewigheid verstaanbaar?” Kom krap saam kop elke Maandagmiddag om 2-uur in die biblioteek. Almal is welkom. Meditasie vind vandag plaas agter die rotstuin. Juffrou Pillay wil julle net herinner om asseblief nie julle vingersimbaaltjies te vergeet nie. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk hou Vrydag kerkkooroudisies vir die seniorleerders in die skoolsaal. Slegs diegene wat wedergebore Christene is, sal in aanmerking geneem word. Komaan, seuns en dogters, kom ons ondersteun die kerk in hul poging om te oorleef.
Om mee af te sluit, hier is die graad 8 kuns- en kultuurgroep se dansuitvoering, “I spit on your grave”. Daarna staan ons almal vir die sing van die Volkslied. Geniet dit, ouens.