Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die wind waai nog eenstryk deur - hy hoor dit aan die geklop van die los dakplaat op die agterstoep. Die hitte het ook nie gebreek nie, want hy’s steeds taai van die sweet. Dit sal nie help om verder te probeer slaap nie en daarom staan hy op en trek sy broek aan. Hy sluit die agterdeur oop en stap uit op die stoep. Dit is duidelik dat dit net hulle twee se spore is wat die laag stof en sand op die, eens rooigepoleerde, sementvloer versteur het. As hier selfoonontvangs was, dan was dit dalk ‘n heel ander storie.

Hy vermoed dat die meisie vir Santiago werk want hy’t haar gister tweemaal betrap waar sy ‘n selfoonoproep skielik kortgeknip het. Hy moes gedink het, maar hy was moeg en het miskien ‘n drankie of twee te veel gehad. Meisies kom nie na hom toe aangestap en knoop geselsies aan nie, veral nie in vreemde kroeë op klein plattelandse dorpies nie. Aanvanklik was hy gevlei, maar soos die dag gevorder het, het hy deur haar mondering begin sien. Sy was heeltemaal te senuweeagtig en kunsmatig met die agtergrondinligting wat sy aan hom opgedis het. Werk wat kwansuis nie uitgewerk het nie, kêrel wat haar gelos het en die nodigheid om in die Kaap uit te kom waar daar ‘n “job offer” gewag het.

Nadat Santiago hom laasweek op ‘n slinkse manier uitgerook het, was sy laaste beskikbare opsies daarmee heen en dit het gemaak dat hy moes probeer om suidwaarts, oor die grens, na Suid Afrika uit te wyk. Om dit te verhoed het beteken dat die Kubaan lokaas moes uitsit op al die hoofroetes en hoop dat die vis gaan byt. Die vis het gebyt, maar hulle beplanning het nie voorsien dat hy gaan draaie ry tot waar daar nie kontak met hulle informant was nie. Dit was reeds donker toe hulle hier aangekom het en op pad hierheen het hy ‘n paar maal verdwaal ook. Die meisie het meeste van die pad gesit en slaap en hy glo nie sy sou kop of stert van sy gesukkel om die plek te kry kon uitmaak nie. Gelukkig was albei van hulle gisteraand te gedaan om verder as net aan slaap te dink. As die meisie dalk die opdrag gehad het om hom van kant te maak, dan’t sy beslis gisteraand haar kans verspeel want hy’t soos ‘n klip geslaap.

Vêr op die oostelike horison was die son hard besig om sy rooi kop deur die vaal deinserigheid te probeer steek. Behalwe vir die vrolike gekwetter van die voëls in die paar windverwaaide en halfdooie peperbome, is daar geen ander geluid hoorbaar nie. Hy stap oor die werf, verby die waenhuis, waarbinne hy weet daar nog ‘n amper nuwe Landcruiser staan, tot by die skaapkraal waarvan die hek skeef oophang. Teen ‘n bloudistel slaan hy water af en steek daarna ‘n sigaret op. Dis al amper ‘n jaar laas dat hier mense of vee op die plaas was en die plek is ooglopend besig om te verval. Die plek het aan ‘n vriend van hom se oom behoort maar sedert die ou man dood is, is die plek aan die genade oorgelaat. Jack, wat die plek geërf het, sit in die tronk en dis te betwyfel of hy ooit in sy lewe weer sy voete op hierdie grond sal sit. Hy maak die windpomp los sodat die watertenk kan volloop en stap na die buitekamer toe.

Die sleutel is waar Jack gesê het dit sal wees. Hy sluit die deur oop en gaan die skemer vertrek binne. Die geweertas is onder in die ou hout-gereedskapskis. Gelukkig dat die plaas in ‘n baie afgeleë gebied lê anders was die huis en buitegeboue lankal geplunder. Die dof-swart geweer is skoon en die vyf-rondte magasyn is vol. Dis ‘n 30-06 met ‘n Springfield-aksie, 62 sentimeter loop en pasgemaakte teleskoop wat gemodifiseer is om as ‘n skerpskutter se geweer diens te kan doen – ‘n oorblyfsel van hom en Jack se vlugtige betrokkenheid by Kolonel Rocky Bruwer se huursoldaat operasies. Hy versteek die geweer agter sy bakkie se sitplek nadat hy die buitekamer toegesluit en die sleutel teruggesit het waar dit was.

Hy loer by die meisie se kamer in. Sy lê op haar rug, haar mond effens oop en sy snork liggies terwyl sy asemhaal. Hy kyk vlugtig na die klere van haar wat sy oor ‘n stoel se leuning gehang het. Dit was duidelik nie van die nuutste nie, iets wat hy ook al opgemerk het aan die bra en broekie wat sy uitgewas en in die badkamer opgehang gehad het. Sy moes van hulle drinkwater gebruik het, want die watertenk was gisteraand nog leeg. Sulke dingetjies tel vir hom baie punte. As daar iets is wat hom grensloos irriteer is dit ‘n vroumens wat nie gesteld is op haar persoonlike versorging nie. Sy ma het dit by sy susters ingeprent en hulle het altwee vêr in die lewe gekom en hy was nog altyd trots op hulle.

Hoekom hy is waar hy is, is waaragtig nie sy ma se skuld nie. Sy’t gedoen wat sy kon met dit wat sy gehad het en dit wat sy gedoen het om hulle drie kinders groot te maak het sy goed gedoen. Ongelukkig beland mens om die een of ander rede soms in ‘n spreekwoordelike maalkolk wat jou net al hoe vinniger en vinniger intrek totdat omdraai later onmoontlik is. Iemand het juis eenkeer gesê het dat die soektog na iemand anders om vir jou foute te blameer altyd suksesvol is.

Hy was destyds ‘n lid van die Verkennerskorps en is een aand, terwyl sy ma en susters by ‘n troue van ‘n familielid op Vereeniging was, by die huis kom haal vir ‘n geheime oorgrens-operasie. Hy’t nie die geleentheid gekry om hulle te groet nie maar is darem die volgende dag ‘n paar minute gegee om met sy ma oor die telefoon te gesels. Twee dae later is hulle met ‘n duikboot weg om langs Tanzanië se kus êrens afgelaai te word. Maar, nog voordat hulle op die operasie vertrek het, is sy ma, op pad terug van die troue af, in ‘n motorongeluk dood. Hy’t eers omtrent ‘n maand later daarvan te hore gekom toe hulle uiteindelik, na baie ontberinge, terug was in die basis. Hulle wou hom nie voor die tyd sê nie omdat dit die sending kon verongeluk. Die sending was welliswaar ‘n taktiese sukses, maar na hy van sy ma se dood gehoor het, het hy so bietjie uitgehaak en is hy gestuur vir sielkundige behandeling. Hy was erg verbitterd teenoor die owerheid en na sy ontslag uit die weermag het hy met die verkeerde vriende begin uithang en betrokke geraak by dwelms.

Jack Beier, ‘n vriend uit sy weermagdae, red hom betyds uit daardie seker doodloopstraat en stel hom aan da Souza voor. Dié was ‘n Angolese Portugees wat ‘n plaas in die suide van Namibia as basis gebruik vanwaar hulle met ligte vliegtuie smokkelgoedere na en van die buurlande vervoer het. Hy raak, saam met Jack, betrokke by die smokkel van diamante uit Angola en die destydse Kongo. Later smokkel hulle selfs gebuite Russiese en Chinese wapens na rebellegroepe in die Kongo en ander Afrikalande met die hulp en insette van ‘n paar oud Suid Afrikaanse weermagoffisiere.

Na hulle vlugtige betrokkenheid by Rocky Bruwer se groep huursoldate, is hulle terug in die land en op soek na iets om te doen ontmoet hulle vir Santiago. Hy’s ‘n oud Kubaan wat ‘n drank in- en uitvoerbedryf op die noordgrens van Namibia as front gebruik om diamante en ander onwettige goedere op ‘n “wettige” manier die land in te bring. Hy bied hulle ‘n baie aantreklike pakket aan om vir hom te begin werk. Vir twee jaar gaan dit goed totdat Santiago met ‘n drank- en sigarettransaksie sy hand oorspeel en twee doanebeamptes in die proses om die lewe gebring word. Om die fokus van hom af te kry, impliseer Santiago vir Jack, met genoeg gefabriseerde getuienis en geplante bewyse, om te verseker dat die arme mannetjie vir lewenslank tronk toe gestuur word.

Dit was toe dat hy besef het dat hy en Jack bloot pionne is wat heeltemaal te maklik in Santiago se skaakspel opgeoffer kan word. Uit weerwraak vir dit wat aan sy vriend gedoen is, lewer hy ‘n groot koevert vol inligting by die polisie in Windhoek af. Met die inligting in daardie koevert, word twee van Santiago se adjudante tronk toe gestuur en word die grootste van sy pakhuise gesluit en die inhoud daarvan gekonfiskeer. Dit het ‘n verlies van etlike miljoene vir die Kubaan beteken, ‘n verlies wat hy nie eintlik kon bekostig nie.

Met dít wat hy gedoen het, verklaar hy homself effektiewelik voëlvry en moet hy halsoorkop vlug vir sy lewe. Na ses maande se laaglê deur van die een na die ander skuilplek te verskuif, het die opsies ongelukkig laasweek opgeraak en het die net só nou begin trek dat ‘n konfrontasie onvermydelik geword het. Die koms van die meisie was die finale bewys daarvan.

Hy skeer, borsel tande en klim onder die stort in. Die water is heerlik koel en hy voel verfris toe hy daar uitstap en skoon klere in die slaapkamer gaan aantrek. In die kamer langsaan lê die meisie nog steeds en slaap, maar het intussen omgedraai en lê op haar maag.

Buite die kombuis draai hy die gas oop en gaan steek die stoof aan. Voor hulle uit die dorp weg is het hy kosvoorrade aangekoop wat hy nou gebruik om ‘n stewige ontbyt aanmekaar te slaan. Hy’t nog altyd daarvan gehou om sy dag met ‘n oordentlike ontbyt te begin. Daar is genoeg kos vir twee mense as die meisie dalk later iets sou wou eet.

Toe hy na haar soek is sy nie meer in haar kamer nie en hy kry haar uiteindelik halfpad teen die windpomp uit waar sy met haar selfoon sukkel.

“Jy kan maar netsowel afkom daar, hier is nie sein nie. Ek sal later op ‘n plek stilhou vanwaar af jy kan bel as dit dan so dringend is.” Sy verloor omtrent haar houvas soos sy skrik en toe weet hy verseker sy werk vir Santiago.

“Daar’s kos in die kombuis, as jy wil eet. Ek wil graag voor agt-uur die pad vat as jy dalk nog wou stort.”

“Ek moes dringend vir my ouma bel, sy verjaar vandag,” mompel sy ‘n verskoning nadat sy van die toring afgeklim het. “Dankie, ek sal probeer om gou klaar te maak.”

Hy staan nog ‘n lang ruk by die windpomp en luister hoe die water al krakend uit die dieptes opgetrek word voordat hy die rem vastrek en kombuis toe stap en die gasbottel onder die afdak toedraai. Binne gekom merk hy dat al die kos opgeëet is - sy moes beslis baie honger gewees het. Hy was die skottelgoed, pak alles weg en ruim vinnig op. Nadat hy sekergemaak het dat alles is soos hy dit gekry het, sluit hy toe en stap bakkie toe.

Die meisie staan by die kar en wag en hy kan sien dat sy erg op haar senuwees is. Sou dit wees omdat sy kontak met haar base verloor het, of weet sy van iets waarvan hy nog nie weet nie? As dit nie was dat sy vir Santiago gewerk het nie, dan was daar iets omtrent haar waarvan ‘n mens baie sou kon hou.

Hy’s gladnie haastig nie en daarom ry hy op sy tyd die vier kilometer met die tweespoorpaadjie na die hek toe. Op die grootpad is daar geen voertuig te sien nie en na hy ‘n paar minute gewag het, draai hy wes. Die pad vorm aanvanklik ‘n eindelose geel-bruin streep wat vêr op die horison verdwyn. Later begin dit geleidelik klim tot by ‘n asemrowende uitkykpunt voordat dit met ‘n kronkelende pas afdaal woestyn se kant toe. Hy stop by die uitkykpunt en beduie vir die meisie dat sy net oor die rantjie moet loop om redelike selfoonontvangs te kan kry. Sy hardloop behoorlik van die kar af weg so gretig is sy om kontak met haar “verjarende ouma” te probeer maak.

Omdat hy weet dat daar later in die dag busse met toeriste by daardie uitkykpunt sal stop, los hy haar sak net daar op die piekniektafeltjie, klim in die bakkie en trek weg. Stadig begin hy met die steil en slingerende gruispad afdaal woestyn se kant toe. Hierdie pas word nie baie gebruik nie en daarom is die kanse skraal dat hy ander voertuie gaan teekom. Die pad is boonop sleg verspoel en hy kan dit behoorlik nie waag om verder as derde rat te vorder nie. Tussenin hou hy die omgewing gespanne dop vir enigiets wat nie inpas by die eentonige vaalte van die omgewing nie. Net toe hy om ‘n draai kom sien hy ‘n vlugtige weerkaatsing van sonlig op iets verder ondertoe. Hy hou aan met ry totdat hy net buite sig is van dit wat die flits kon veroorsaak het en hou stil. Met die geweer in die hand sluip hy terug en maak seker om agter rotse en die bossieagtige struike te bly. Van agter ‘n gebreekte rotsformasie begin hy die omgewing deur die teleskoop te fynkam. Die son is skuins agter hom en daarom behoort daar geen weerkaatsing van sy kant af te wees nie.

Na ‘n rukkie kry hy waarna hy soek. Dit is ‘n vuilgroen bakkie wat langs die pad, half onder ‘n boom, geparkeer staan. Hy bespied versigtig die omgewing rondom die bakkie totdat hy seker is daar is net twee persone. Albei van hulle is gewapen en aan die twee se houding is dit duidelik dat hulle vir iemand wag. Hulle is opsigtelik verveeld en het heel moontlik die hele nag daar gesit. In alle waarskynlikheid was hulle dus moeg, honger en redelik kort van draad.

Vandag was die oomblik van afrekening, die sogenaamde “final showdown” en hy weet dat dit nie vandag sal gaan oor wie die beste kan onderhandel nie - daar gaan nie onderhandel word nie. Dit het hy baie goed besef toe hy vanoggend opgestaan het. Santiago het nie verniet die afgelope ses maande soveel tyd, en geld en moeite gespandeer om hom te probeer opspoor nie. Hy, wat Santiago is, se eer is op die spel en die uiteinde van dit wat vandag hier, of op watter ander plek ookal, gaan afspeel, gaan Santiago se posisie vorentoe in die misdaadwêreld bepaal.

Hy bekyk vlugtig die natuurlike hulpmiddels om hom en bespiegel die moontlikhede wat dit vir hom kan bied. Om te bly waar hy is, gaan nie werk nie, want die son gaan hom nou-nou begin uitbrand. Links van hom is daar ‘n afvoersloot wat met sement en klip uitgebou is. Dit is gedeeltelik aan die agterkant verspoel en bied hom die waarskynlike moontlikheid om bietjie nader aan die twee daar onder te probeer kom. Verder ondertoe, of so lyk dit van waar hy sit, is ‘n beter wegkruipplek met bietjie skaduwee, maar dit is al wat dit is, ‘n wegkruipplek. Hy sal die konfrontasie na sy oposisie toe moet vat en hoop vir die beste.

‘n Stuk van die rots aan sy regterkant ontplof meteens in stukke en splinters klip, feitlik onmiddelik gevolg deur die knal van ‘n swaar-kaliber geweer. Hy voel die steekpyn van veelvuldige splinters en stukkies klip wat sy kop, nek en lyf tref. Sy reaksie is instinktief en hy rol/val tot anderkant die afvoersloot waar hy vir ‘n paar oomblikke doodstil lê. Daar klap nog twee skote, maar dit tref die omgewing waar hy oomblikke vantevore was. Santiago? Hy’t byna in ‘n lokval ingeloop as dit nie was vir die Kubaan se tipiese ongeduld nie.

“Oliver, ons kan dit op die lang manier doen of ons kan dit gou-gou afhandel,” dis die Kubaan se stem in sy gebroke weergawe van Engels. Die man kan nie meer as sowat vyftig meter van hom af wees nie. “Kom uit met jou hande bokant jou kop en dalk is daar so ‘n bietjie genade in my oor. As jy nie wil nie, dan kan dit ‘n baie lang dag vir jou word. Die uiteinde gaan in elkgeval dieselfde wees.”

Terwyl die Kubaan praat, werk hy homself geleidelik aan die uitgespoelde agterkant van die afvoersloot laer af tot by die skadukol wat hy ‘n rukkie tevore geïdentifiseer het. In die tyd wat hy stadig op sy elmboë en knieë van posisie verander, klap daar drie skote iewers agter hom. Tussen ‘n deurmekaar klomp rotsblokke, wat versteek is agter doringagtige struike, gaan hy platlê. Hy vee met sy hand teen sy kop en dit kom rooi van die bloed terug. Dit kan gelukkig nie té ernstig wees nie, want hy leef nog. Dit moet maar bloei en klaar bloei.

Baie versigtig fokus hy deur die teleskoop in die rigting vanwaar hy die stem hoor kom het. Hy tel toevallig ‘n beweging op en fokus daarop. Al wat hy kan uitmaak is, wat vir hom lyk soos die haak en agterkant van ‘n blinkleer skoen. Hy trek die kruishaar vas op wat die draer van die skoen se hakskeen moet wees en knyp die sneller af. Hy hoor ‘n wilde swets in Spaans en swaai vinnig die geweer in die rigting van die ander twee laer af in die pad. Hulle is duidelik verward en daarom konsentreer hy eerste op die een met die geweer. Met die fokus doodstil op die geweer se magasyn druk hy die sneller versigtig. Die geweer ontplof omtrent in die man se hande wat dit gillend laat val en eenkant toe spring. Hy gebruik die oomblik van verwarring om die pistool uit die ander ou se hand te skiet wat, op die laaste oomblik, sy hand draai en daardeur veroorsaak dat die swaar koeël hom in die gewrig tref.

Hy weet daardie twee is tydelik buite aksie en daarom draai hy weer in die rigting van Santiago. Die man moet geweldig pyn hê want hy’t nog nie weer teruggeskiet nie. Ongelukkig laat die oomblik nie ruimte vir jammerte nie en daarom fynkam hy weer daardie dieselfde omgewing deur die teleskoop. ‘n Stukkie kleur wat nie by die omgewing pas nie trek sy aandag. Hy bly daarop konsentreer en besef na ‘n rukkie dat dit ‘n stukkie van ‘n elmboog in ‘n perskleurige hemp is wat hy sien. Die vloek na bo in Spaans is vir hom meer as genoeg bewys dat hy sy teiken getref het. Om meer koeëls te mors sou onnodig wees. Die skade wat hy aan Santaigo se liggaam gedoen het sou beswaarlik kon herstel en hy weet dat dit die man se aansien oneindig skade gaan aandoen. Versigtig werk hy sy pad terug tot by sy bakkie, sit die geweer agter die sitplek en draai die voertuig in die pad om. Terwyl hy stadig terugry, neem hy ‘n besluit. Daar was genoeg geld in die bank om van te kan lewe en daar was meer as genoeg op Jack se plaas om homself mee besig te hou. Die plek kan nie so staan en verval nie. Hy was nou wel nie ‘n boer nie, maar hy kan probeer.

Toe hy op die werf inry trek ‘n spatsel kleur sy aandag. Die meisie van vroeër het langs haar verweerde sak op die stoep gesit. Sy staan stadig en onseker op en hy kan sien dat sy geen kwaad bedoel nie.

“Jy’s terug?” haar vraag kom amper verlig na hom toe.

“Ek het genoeg skade gedoen aan myself en aan ander. Daarom het ek gereken om maar op hierdie plek te kom probeer om my lewe uit te sorteer en weer aanmekaar te sit. Hoe kom jy hier?”

“Toeriste - ‘n man en sy vrou het my hier kom aflaai.”

“Maar hoekom hiernatoe?”

“Gisteraand, hier saam met jou en op hierdie plek, was die eerste keer in ‘n lang tyd wat ek veilig gevoel het. Ek het vir Santiago geld geskuld maar kon dit nie alles terugbetaal nie. Hy’t my verplig om vir hom takies te verrig soos en wanneer hy my nodig gehad het. Ek kon eenvoudig nie meer so aanhou nie. Is hy . . .?”

“Dood? Nee, dit kon ek nie. Maar ek dink hy’t baie seer.” Sy lyk snaaks verlig.

Toe sy weer praat is haar stem huiwerig en onseker. “Dink jy . . . dink jy hier sal plek wees vir my ook . . . om te probeer werk aan my eie lewe?”

Hy glimlag skeef. “Hier is mos twee slaapkamers, of dan nie?”

Daardie aand, op NBC-radio se sewe-uur nuusbuletin hoor hulle dat ‘n verbygaande boer op ‘n swaar gewonde Carlo Santaigo en twee van sy werknemers op die Kranzbergpas afgekom het. ‘n Woordvoerder van die Namibiese polisie het intussen bevestig dat daar op verskeie onwettige wapens asook ‘n groot hoeveelheid inkriminerende getuienis, wat in Santiago se luukse motor gevind is, beslag gelê is. Volgens die twee werknemers, wat hulleself duidelik van Santiago gedistansieer het, het hulle vir hom probeer vlug en het hulle bloot hulleself probeer verdedig. Die saak word verder ondersoek.

 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Goeie leesstof
Dit was nou lekker Saterdagmiddag-leesstof, dankie!
7 jaar 3 maande 2 weke 5 dae 18 ure oud



Kroniek van die Suid-Afrikanse Weermag (1912 - 1994)

deur Francis Gillieron

Beskryf die geskiedenis van die ou SA Weermag vanaf sy stigting in 1912 tot sy ontbinding in 1994. Die SA Weermag se voorgeskiedenis word ook weergegee.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar