Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

'n KOSMIESE BESOEKER.

Oom Jan en tant Alie de Waal se plaas, Vriesfontein, is die
koudste plek in die hele Sutherland-distrik. Tweeduisend
hektaar van goeie karoobossieveld en oom Jan se ervare en
kundige hand het gesorg dat dit een van die spogplase in die
omgewing is. Dis net die allerverskriklike koue. Maar soos
oom Jan altyd sê, die koue maak al die kieme en bosluise
vrek. Dis daarom dat hy minder as die ander boere hoef te dip
of medisyne gee en dus 'n winsgewender boerdery kan bedryf.
Dis ook asof sy Merinos se wol digter en dikker is weens die
koue. Sy woloes is altyd groter as die ander boere s'n en met
die pryse wat wol behaal kan oom Jan maar net glimlag.

Die sonnetjie is nog nie ordentlik op nie. Net so 'n
stralekrans oor die oosterkim begin gooi toe oom Jan sy oë
oopmaak en na die daglumier deur die kamervenster loer. Dit
is middel-Julie en, gereken aan die lae temperature van die
laaste paar dae, gaan dit een van die koudste winters wees
wat hy in sy agt en sewentig jaar beleef het. Hy trek die
komberse styf teen sy keel. Sy slaapmus sit nog reg op sy
kop. "Laat die mense maar lag," dink hy."Iemand wat nie met
'n mus slaap op hierdie plaas nie, se harsings sal vries." Hy
het al genoeg gesien van die kinders en skoonkinders wat soms
hier vir 'n vakansietjie uitval. Dit is nou vir hom duidelik
hoekom Dawid en sy vrou net somermaande kom kuier. Dawid se
vrou het hom verbied om met 'n mus te slaap.

Tant Alie begin roer hier langs hom. Hy kyk in haar rigting.
"Môre, vrou, het jy lekker geslaap?"
"Heerlik dankie, maar dit voel ekstra koud vanoggend, of
verbeel ek my?"
"Ja vrou, dit ¡s vreeslik koud. Ek kan nie in my dag des jare
onthou dat ek al ooit so koud gekry het nie!"
"Ek dink ons moet vanoggend 'n bietjie later lê as gewoonlik.
Tollie sal nou-nou die vuur in die stoof kom opsteek. Dan kan
ons opstaan." Oom Jan stem saam. Vir jare al trotseer hy die
koue maar hy raak nou te oud vir sulke dinge. Hy trek die
komberse vas teen sy ken en skuif 'n bietjie dieper in die
bed af. Hy begin skielik honger raak vir die heerlike
boontjiesop wat sy ou wederhelf gisteraand vir hulle gemaak
het. Hy kan nie onthou wanneer hy laas so 'n lekker sop ge‰et
het nie. Alie het al dikwels boontjiesop gemaak, maar
gisteraand het sy haarself oortref. Dit was ook seker die
koue wat meegehelp het. Hy het drie bakke vol geëet en sy het
hom moes maan oor wat die sop later aan 'n mens kan doen.
Nietemin het Alie self so twee borde vol weggeslaan.

Terwyl hy so lê voel hy 'n snaaksigheid teen sy voet. So al
asof daar 'n ronde bal teen sy voetsool rus. Hy druk met sy
toon teen die ding. Dit is yskoud en hy kom agter dat dit
effens onder die komberse uit lê. Hy stoot die bal versigtig
met sy voet. Dit beweeg en rol weer terug tot teen sy voet.
Hy stamp aan tant Alie.
"Vrou," sê hy verbouereerd, "voel bietjie daar onder met jou
voet. Het jy gisteraand iets in die bed gesit. 'n
Warmwatersak of iets?" Tant Alie voel met haar voet. Haar kop
is byna heeltemal onder die komberse soos sy met haar
regtervoet rondsoek na die ding wat oom Jan ontdek het. Dan
voel sy dit ook. 'n Ronderige bal, yskoud en seepglad. Sy ruk
haar voet so hard terug dat die katel bewe. Hulle hoor altwee
hoe die bal met 'n dowwe slag op die plankvloer plof. Oom Jan
vlieg uit die bed op en gooi vinnig sy swaar kamerjas om hom.
Hy loer versigtig na die voetekant van die bed.
"Alie, vrou, kom kyk hier! Hier lê die snaakste ding wat ek
nog gesien het!" Tant Alie staan op en wikkel haar in haar
japon toe.

Voor hulle lê die eienaardigste bal. Dit is 'n bietjie groter
as 'n volstruiseier en meer ovaal. Daarby is dit van 'n
kleurlose, ondeursigtige materiaal met 'n gladde oppervlak.
Daar is geen teken van die kenmerkende riffeltekstuur van 'n
eierdop nie. Oom Jan druk met sy gepantoffelde voet daarteen.
Dit voel solied maar daar is tog iets van 'n elastisiteit aan
die ding wat hom interesseer en tog ook ietwat ontstel.
"Wat se ding is dit, Jan?" Tant Alie het agter hom skuiling
gesoek en loer nou om hom na die verskynsel.
"Nee, vrou, so 'n ding het ek nog nooit gesien nie. Dit lyk
soos een of ander soort eier." Hy buk en wil die ding optel
toe tant Alie skielik waarsku: "Nee, Jan, nie met jou kaal
hande nie! Mens weet nooit watse kieme die ding kan hê nie.
Nou-nou steek jy iets vreesliks aan!" Oom Jan stem in. Mens
weet nooit wat die ding kan doen nie. Hy kyk na sy vrou.
"Kry vir my die skoenelap daar in die bedkassie!"

Oom Jan draai sy een hand dik toe met die lap en raak-raak
aan die eieragtige ding. Dis te groot om met een hand raak te
vat en dit rol effens onder die bed in. Tant Alie gee 'n
verbouereerde gilletjie en spring 'n entjie terug.
"Pasop tog, ou man!" Oom Jan loer vies na haar.
"Bedaar tog vrou. Die ding kan niks doen nie!" Hy gooi die
lap dubbelgevou oor die ding en tel dit met altwee hande op.
Tant Alie vra nuuskierig: "Hoe voel dit, Jan?"
"Snaakserig. Dis nie hard nie maar tog solied en nogal lig
vir sy grootte. En die ding is ysig koud. Miskien moet ons
probeer om dit warm te maak, dan kyk ons wat gebeur." Tant
Alie steek hiervoor egter viervoet vas.
"Is jy nou besig om gek te word, Jan? Jy kan dit mos nie wil
doen nie. Nou-nou broei die ding dalk in die huis uit en dan
het ons moeilikheid. Ons moet eers uitvind wat dit is. Kom
ons sit dit in die vrieskas tot iemand dit kan identifiseer."
Oom Jan moet saamstem dat dit 'n blink gedagte is en die
vreemde voorwerp word diep in die vrieskas weggepak. Op die
oomblik kom Tollie in om die stoof aan die gang te kry.

Oom Jan en tant Alie is terug kamertoe om te gaan aantrek.
Die koue het aan hulle begin vreet. Die flou wintersonnetjie
loer swakkies deur die oostevenster. Die ryp gaan tot na
middagete nog hard op die veld lê. Dit is bitter koud.
"Weet jy, ou man," begin tant Alie, "ek dink dit is 'n
basilisk se eier. As dit so is moet ons die ding gaan
begrawe. As hy hier uitbroei sal dit 'n ewige vloek op ons
bring!"
Oom Jan sit vir 'n oomblik diep ingedagte op die rand van die
bed. Dan gaan hy voort om sy stewels wat met skaapvel
uitgevoer is vas te gespe.
"Dit kan wees, maar dan moet ons vir ou pater Schultz van die
Duitse Sendingkerk op Koos Grobler se plaas laat kom. Hy sal
weet van sulke dinge. Daar word mos in die Bybel gepraat van
die basilisk. Miskien sal hy weet." Hy gaan bel die Pater.

Pater Schultz tel die gehoorstuk op.
"Deutsche Mission. Pater Schultz hier."
"Pater, dis Jan de Waal van Vriesfontein wat praat. Ons wil
vra of jy nie gou kan oorkom nie. Ons het 'n baie eienaardige
ding hier in ons kamer ontdek en my vrou dink dit kan die
eier van 'n basilisk wees. Kan u kom?" Pater Schultz dink 'n
oomblik na. Sou dit 'n spottery wees? Hy glo darem nie dat
iemand van oom Jan se status hom daartoe sou verneder nie.
Die ou oom klink te ernstig.
"Oom Jan, ek sal dadelik kom. Wat het julle met die eier
gemaak?"
"In die vrieskas gebêre dominee, ag ek bedoel Pater." Oom Jan
vervies hom vir sy verspreking. Hy is egter dankbaar dat die
pater sal kom.
"Hoe lyk die ding wat julle ontdek het?" Oom Jan verduidelik.
Pater stem saam. Dit kan 'n basilisk se eier wees. Miskien
moet hy sy vriend, dr Bonsma van die sterrewag net buite die
dorp, ook vra om 'n opinie te kom lug. Hy sal hom dadelik
bel. Oom Jan is dankbaar. Hoe meer geleerdes die ding wil
ondersoek, hoe beter. Hy lui af en gaan kombuistoe waar tant
Alie reeds die koffie skink. Sy fluister vir hom. "Ek het die
ding vir Tollie gewys. Sy weet wat dit is!"
"Wat?" roep oom Jan verbaas.
"'n Tokkeloseier. Sy sê haar oorgrootjie se oorlede neef se
broerskind se niggie se man het ook eendag op so 'n ding
afgekom. Net soos ons. Half onder hulle komberse op 'n koue
oggend. Hy het die ding warm gemaak en toe broei daar die
gruwelikste wese uit. Glo so 'n klein harige mannetjie met
lang tande. Die ding eet glo net skaapvleis. Hy het hulle
hele skaaptrop binne vier dae opgevreet." Oom Jan is heimlik
bly dat hy nie die eierding warm gemaak het soos hy wou nie.
As Tollie reg is sou dit hom geruïneer het. Maar pater
Schultz en sy geleerde vriend sal nou-nou hier wees. Dan sal
hulle weet wat dit is en wat hulle te doen staan!

Pater Schultz se kewer dreun die werf binne en kom met 'n
stofkomeet op sy stert voor die stoep tot stilstand. Die
pater en 'n ander man met 'n knypbrilletjie op sy neus klim
uit. Albei is swaar bejas, met serpe om die nek en handskoene
aan die hande. Die stoom staan wolke voor hulle monde. Dit is
reeds tienuur maar nog steeds skrikwekkend koud. Om die huis
in die koelte lê die ryp nog kliphard. Hulle stap die stoep
op net toe oom Jan die voordeur oopmaak.
"Kom binne, Pater. Stap sommer deur kombuis toe. Dit is
ietwat warmer daar." Hy kyk na die man met die knypbril.
"Ek is Jan de Waal." Pater Schultz lyk verleë.
"Haai verskoon tog oom Jan. Dit is doktor Bonsma van die
sterrewag. Hy is een van die land se vooraanstaande
sterrekundiges." Dr Bonsma maak die pater se lofbetuiging met
'n beweging van sy hand af.
"Ag nee wat, oom," sê hy verleë, "ek is maar net 'n
nuuskierige ou sterrekyker." Hulle gaan deur na die kombuis
waar oom Jan sy vrou aan die doktor voorstel. Dan gaan sit
hulle om die groot greinhouttafel terwyl tant Alie vir hulle
koffie skink.

"Waar is die verskynsel, oom Jan?" begin die pater eerste.
"Ek sterf van nuuskierigheid om die ding te sien."
"Ja," sê dr Bonsma nuuskierig, "ek sal ook graag wil sien.
Daar was gisteraand 'n baie eienaardige ligontlading in die
Alpha Centauri-stelsel. Ek wonder of dit iets daarmee te
doen kon hê."
"n Watseding in die hoesenaam?" Oom Jan kon nie mooi begryp
of die geleerde doktor vloek of net probeer snaaks wees nie.
"'n Buitengewoon groot liguitstraling van een van die sterre
naby ons sonnestelsel, oom Jan. Dit gebeur baie selde en ek
het net gewonder of die ding wat pater Schultz my van vertel
het nie dalk iets daarmee te doen gehad het nie." Oom Jan
voel hoe trek sy keel toe.
"Doktor, wil jy vir my sê die eierding kan dalk uit die hemel
geval het. Ons het dan niks gevoel of gehoor nie!" Die
paniek slaan deur in die ou oom se stem. Die doktor keer:
"Nee wat oom, dis niks om oor ontsteld te raak nie. Soms
gebeur dit dat sekere kosmiese gasse tot by die aarde
deurdring. Dit kon moontlik hier gebeur het. Dit kan 'n
geval van koagulasie van die gasse wees." Hy bedink hom
weer.
"Met koagulasie bedoel ek dat die gasse kon stol," keer hy
die vraag wat op oom Jan se lippe kom lê het.
Tant Alie staan op en druk aan haar man se skouer.
"Kom Jan, bring die lappe en kom haal die ding uit die
vrieskas. Pater en die doktor moet maar deurstap eetkamer toe
want die kombuis is te warm. Netnou broei daar iets lelik
uit." Hierdie laaste deel sê sy gedagtig aan Tollie se storie
van die Tokkeloseier. Sy waag geen kanse nie!

Oom Jan bring die voorwerp in lappe toegedraai na die
eetkamer waar die twee geleerde here ongeduldig wag. Hy
plaas die ding op die tafel tussen hulle neer en gee 'n paar
tree agteruit. Tant Alie kom staan weer agter hom. Doktor
Bonsma trek die doek stadig van die voorwerp af en toe die
ondeursigtige ovaal bal verskyn, trek hy sy asem skielik diep
in. Oom Jan gee veiligheidshalwe nog 'n tree agteruit en trap
op tant Alie se voet. Sy swets gedemp maar hy neem haar hand
verskonend in syne en gee dit 'n ekskuus-drukkie. Die doktor
haal 'n balpuntpen uit sy binnesak en krap ingedagte aan die
eienaardige gedoente. Die pen kras oor die oppervlakte maar
laat geen merk nie. Oom Jan se stem wurg skielik.
"Doktor, jy moet nie neuk om die ding se dop te wil stukkend
krap nie. Netnou peul hier 'n gevaarte uit!" Die doktor
glimlag ingedagte.
"Hierdie objek het definitief 'n gasbasis, daarvan is ek byna
seker. Kyk hier Pater, as ek die pen teen hom druk is dit
asof die oppervlak effens meegee. As ek die pen vinnig
wegneem vloei die merk byna dadelik toe. Baie eienaardig!"
Pater Schultz raak versigtig met sy vinger aan die eier. Hy
wonder of dit nie 'n demoniese verskynsel is nie. Net soos
Pandora se kassie uit die legende. Breek hom oop en duisende
plae bars oor die aarde los. Hy kyk vraend na die doktor.
"Kan u met sekerheid sê dat dit kosmiese gas is?" Doktor
Bonsma skud net sy kop.
"Nee, hoegenaamd nie met sekerheid nie. Om dit te kan bepaal
het ek 'n laboratorium nodig." Pater Schultz sit 'n oomblik
peinsend. Dan besluit hy.
"Vriende, ek dink ons het hier met iets uit die ryk van die
Bose te doen. As ons net dink hoe die verskynsel homself
gemanifesteer het. Uit niks hier aangekom. Dit gaan alle
logika te bowe, dink jy nie ook so nie Doktor?" Die doktor sê
niks. Die Bose is nie sy studieveld nie.

Oom Jan was nog nooit in sy hele lewe 'n bang man nie.
Daarvan kan tant Alie goed getuig. Maar hier het hy met die
buite-aardse te doen en hy weet nie hoe nie. Nogtans, die
gebroedsel het sy huis uitgekies om te kom nes skop en dit
gaan hy nie toelaat nie. Die saak moet uitgepluis word.
"Kom ons sit die ding weer in die vrieskas tot ons besluit
het wat om te doen!" sê hy. Die ander stem gretig in en die
yskoue ding word sonder seremonie teruggebêre in die
vrieskas. Hulle gaan sit om die tafel in die kombuis. Tant
Alie is weer gasvrou.
"Wil Pater en die doktor nie 'n ou kommetjie heerlike sop hê
nie? Dit begin al weer prut op die stoof en daar is niks wat
die koue so verdryf soos 'n lekker warm soppie nie. Ek en Jan
het juis gisteraand so lekker daarvan geëet." Pater en die
dokter stem gretig in. Selfs oom Jan sou weer 'n bordjievol
kon wegsit. Die demoon in die vrieskas is vergete. Hulle smul
aan die dik sop en die tuisgebakte brood.
"Tant Alie," sê die pater terwyl hy sy mond met 'n servet
afvee, "hierdie is die lekkerste sop wat ek nog geëet het."
Doktor Bonsma knik instemmend.
"Is so, tante. My ouers is Nederlanders en hulle kan sop
maak. Maar so 'n heerlike sop soos die het ek nog nooit
geproe nie!"
"Dankie Pater en Doktor. Dit is vir my so lekker as julle dit
geniet. Maar wat nou van die ding in die vrieskas?"

Die ding word weer uit die vrieskas gehaal. Doktor Bonsma
krap met sy pen daaraan. Duidelik uit die veld geslaan. Die
pater vryf met sy voorvinger heen en weer oor die snaakse
gladde oppervlakte. Hy het ook geen voorstel nie, maar dat
die ding iets boos inhou, voel hy aan. Om Jan beskou die twee
geleerdes se onvermoë en besluit daar en dan.
"Vrou, bring daardie groot koekblik van jou. So kan dit nie
langer voortneuk nie." Hy sien hoe Pater vinnig na hom kyk.
"Ekskuus vir die lelike woord, Pater, maar ons gaan nou
uitvind wat in die ding is."

Tant Alie bring die groot koekblik met 'n deksel. Oom Jan tel
die ding op die tafel versigtig op en plaas dit saggies in
die koekblik. Hy druk die deksel vinnig styf op. Dan sê hy:
"Wag net 'n bietjie, ek is nou terug," en verdwyn in die
rigting van die kamer. 'n Paar oomblikke later is hy terug
met 'n yslike twaalfboor haelgeweer. Hy haal albei die hane
oor en laat die geweer teen die kant van die tafel staan.
Versigtig tel hy die blik op en plaas dit op die warm stoof.
Vir die wis en die onwis haal hy 'n groot houtstomp uit die
krat langs die stoof en sit dit op die gedekselde koekblik.
Hy staan terug en lig die haelgeweer. Die loop wys in die
rigting van die koekblik. Pater en die doktor staan albei op
en skuifel na die agterdeur se kant toe. 'n Trekkie van vrees
flits oor die pater se gesig. Tant Alie staan in die deur na
die eetkamer. Almal se oë is vasgenael op die blik wat nog
roerloos op die stoof staan.

Skielik is dit asof die blik begin beweeg - meer asof dit
vibreer op die stoof. Eers net 'n effense trilling. Toe al
meer, totdat dit later letterlik rondspring. Die pater se oë
is toe en sy lippe prewel 'n gebed. Doktor Bonsma gee 'n tree
nader aan die toe agterdeur en hou die blik met pieringoë
dop. Tant Alie begin weer fyn piepgeluidjies maak en oom Jan
staan roerloos met oë sy stip op die blik - gereed om albei
skote af te vuur die oomblik as die ongedierte sy verskyning
maak.

Die blik bedaar effens maar dan merk oom Jan dat dit begin
opswel. Al groter en groter. Die stomp rol van die deksel af
en val op die vloer. Pater begin harder prewel en tant Alie
se piepgeluidjies word meer hoorbaar. Die doktor staan
versteen. Met 'n dawerende knal skiet die deksel af. Uit die
blik kom 'n klipharde tjorrr-geluid en 'n effense newel dryf
af na die vloer. Oom Jan brand los. Albei snellers word gelyk
getrek en terwyl hy van die stamp van die geweer half van die
vloer lig en op die greinhout tafel neerval, bars die dokter
en pater Schultz met 'n onaardse geskree gelyk by die
agterdeur uit. Die splinters spat uit die deurslot, want nie
een het daaraan gedink om die deur eers oop te maak nie. Tant
Alie staan versteen en kramp met albei hande aan die kosyn
vas.

'n Onuithoudbare stank tref oom Jan waar hy weer gereed maak
om die geweer te laai. 'n Reuk wat hy al vantevore teëgekom
het. In die walm is iets onmiskenbaar boontjiesop. 'n Lig
gaan vir hom op en hy bars uit van die lag net toe die pater
en die dokter met asvaal gesigte deur die stukkende
kombuisdeur loer.
"Kom binne, vriende. Dit was maar net 'n windeier in die
werklike sin van die woord. Boontjiesop het maar sy nadeel en
laasnag se koue het sy tol geëis. Sutherland is mos 'n
bitterkoue plek met sy eie eienaardighede!"




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Lelani

deur Rachelle du Bois

Lelani Botha bestuur die eksklusiewe boetiek op die dorp. Sy is beeldskoon, stylvol en kunstig. Maar sy dra swaar aan ‘n geheim waarvan niemand weet nie. Tot hul botanis buurman Leon Postma haar eendag betrap in ‘n situasie wat sy nie langer kan wegsteek nie. Hy weet nou baie meer as wat enige ander mens van haar weet en sy verkwalik hom daarvoor. Hy het geen reg om te weet nie. Sy is pragtig, vurig en wantrouig. En sy is in Leon Postma se lyf, in sy kop en sy bloed. Hy sal vir haar ʼn brug oor die water bou wat haar na hom toe sal bring. Of so hoop hy. Maar Lelani bied hewig weerstand teen haar groeiende aangetrokkenheid tot Leon. Sal sy toegee aan die man wat soos ʼn koors in haar binneste kom intrek het? Sal sy uiteindelik die brug na hom toe oorsteek?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar