Kortverhale

Titel: Krappie
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Met die ontgroenings nagmerrie net agter die rug, en die uitspattige naamborde van ons nekke af, het ons begin gewoond raak aan die Hoërskool se dinge. Ontgroening en ander ‘dinge’ wat standerd sessies moes doen, het gewoonlik gemaak dat ek die groen Austin wat my huistoe moes vat, verpas het. Dan moes my pa my maar kom haal met sy motorfiets, ‘n rooi Suzuki 750 GS, wat my gepas het, want ek het nogal van die naakte stuk yster met dubbel uitlaatpype gehou. Een middag, terwyl ek vir ‘n geleentheid huistoe wag, sien ek so ‘n skraal knaap op die hoogspringmatte naby die motorfiets parkering sit. Sy spierwit hare was in ‘n middelpaadjie gekam, lang maer bene het by sy kortbroek uitgesteek, met ‘n paar pote wat soos russiese frigatte lyk. Ek kyk toe op sy naambord. “Willem van Wyk” Ek het hom gevra wat hy dink van hierdie skool en hy het net droogweg na die fietse gekyk en gesê: “My pa is ‘n onnie hier” Ek het langs hom gaan sit omdat ek al moeg gestaan was en my sitvlak na die sagte hoogspringmatte getrek het soos ‘n magneet. Ons het gesels oor dinge waarvan seuns van ons ouderdom maar gesels. Motorfietse, karre, maar die aanknopingspunt wat ons albei se belange geprikkel het, was vliegtuie, en daar praat ons die hele middag om, tot ek moes huistoe gaan. Die volgende dag het ek hom gaan soek, met vliegtuigboeke onder my arms en ‘n ou tweede wereld oorlog vlieg keps, gemaak van leer, wat ek by ‘n vriend van my pa gekry het. Hy was ‘n Spitfire loods in die oorlog. Niemand kon my sê waar om vir Willem te kry nie, want niemand het geweet wie “Willem” was nie. En dis ook nie so maklik om hom op die skool terrein te kry nie, want sekere dele was ontoeganklik vir standerd ses laaities, soos agter die metaalwerk sentrum waar die ouens gerook het, of die tennis huisie waar die ouens gevry het. Toe kry ek hom, tussen ‘n groep ouens, almal ook in standerd ses, maar van die meer invloedryke families. Ek was op die punt om om te draai en te loop toe hy my sien. “Hey jy!” het hy geskreeu. “Wag vir my!” Hy het die tennis bal waarmee hulle gespeel het, terug gegooi en na my toe aangehardloop gekom. “Krappie!, waar gaan jy heen! Los hom man, Hy’s ‘n bus-kind!” het hulle agter hom aan geskreeu, maar hy’t hulle geignoreer en die boeke by my gevat.
Hoe beter ek hom leer ken het, hoe meer het ek besef dat ons belangstelling so eenders was. Hy’t als geweet van visvang, gewere, en karre. Sy pa, ‘ou’ Krap, het skeikunde gegee. ‘n Baie interressante omie gewees, ou Krappie. Waar al die ander onderwysers safaripakke wat voos gebrand was van die sigaretstompies, gedra het, sou hy daar by die skool aankom in sy leer rypak en wynrooi full-face helmet, bo-op sy Yamaha XS400 special. Hy’t nooit ‘vinnig beweeg nie, altyd baie rustig op die terrein rondgeswerf, met sy hande so agter sy rug inmekaar ingevou. Hy’t ook nooit hard gepraat nie, mens moes baie mooi luister as hy daar voor in die klas met daai verdomde periodieke tabel van hom besig was. Ek kon nooit daai tabel verstaan nie, dit was net so Grieks gewees soos Alpha en Gamma en Sin en Tan. Krappie het gou gewild geraak onder die ander kinders, hoekom, weet ek nie. Miskien was dit oor sy beeldskone sussies waaroor al die seuns gedroom het, of dalk omdat sy pa en ma by die skool gewerk het. Die meisies het ook van hom gehou, al het sy adams-appel soos ‘n golfbal by sy nek uitgestaan. Hy’t erg gesukkel om te sing. Sy stem was maar aan die bas kant gewees en as die note te hoog raak, sak hy sommer ‘n hele oktaaf af, dan klink sy stem soos ‘n bas viool met snare so slap soos Stilfontein se wasgoedlyne in Desember.
Om na sy huis toe te gaan, was vir my amper beter as om na Japie se plaas toe te gaan. Daar was ‘n trompet, kitaar, Chello, saxophone, knortjorre, motorfietse, ‘n ou Ford F100 wat aan sy oupa behoort het, ‘n groot erf, baie gewere, en ‘n lekker hoëtroustel met eindelose kassette van David Gresham se South African Top Twenty, wat Krappie elke Vrydag aand van Springbok radio af opgeneem het. Ons het ure op die mat in sy pa se studeerkamer deurgebring en geluister na Bob Dylan, Rodrigues, Jim Steinman, Chris de Burgh en sommer baie ander musiek makers. Sy pa het Beatles en Jazz geluister. Skool vakansies het bestaan uit visvang, swem, karre, motorfietse, en die Top Twenty.
Teen die tyd wat ons in Matriek was, het Krappie al uitgemaak van disco’s, of ‘parties’ soos hulle dit genoem het. Dit begin mos hier in standerd ses, waneer jou pa sy kar by die bure moet parkeer, hoofsaaklik vir twee redes, een, omdat die ou kerel se Zepphir Zodiac nie deur jou vriende gesien moet word nie, en twee, sodat jy in die motorhuis kan party. Dan, as jy ouer word, gaan haal jy jou meisie met jou eie skedonk, wat heeltyd gerev moet word as jy by die stopstraat kom, omdat hy nie wil luier nie, en ook nie weer sal start as hy vrek nie, en in ‘n baie erger toestand is as die Zepphir wat jou pa maar net nie van ontslae wil raak nie. Maar jy is trots op die mobiele olie lek met die rostyle mags wat nou vollop is omdat niemand meer Ford Capri’s ry nie. Dan word daar nie meer geparty in die motorhuis nie! Nee, jy gaan na die Lion’s saal aan die ander kant van die treinspoor toe, en ruk en spring op ‘Stars on Forty-five’ of ‘Tainted Love’
Krap het omtrent soveel ritme gehad soos ‘n DKW wat afslek vir ‘n stopstraat, en mens raak heel van die stryk af, as jy hom op die dansvloer dophou. Ek, die lang maer nerd met die kuif wat lyk of ek in die gesig deur ‘n koei gelek is, het nie van parties of disco’s gehou nie. Man, ek het nie eers langbroeke gehad nie, wat nog van denims! Die eerste langbroek wat ek ooit in my lewe gekry het, was so ‘n ‘nylon job’ vir die matriek afskeid, en toe eers weer toe die Army vir my langbroeke gegee het, wat jou in die ‘DB’ sou laat beland het as jy dit na ‘n disco toe aangetrek het.
Met die Hoërskool se stof van ons voete af, klok ek in Krap vir die Desember vakansie, by die Three Fountains Hotel se bottelstoor in, vir ‘n paar sente voordat ek Army toe en hy PUKKE toe gaan.
Ons het albei met die selfde probleem gesit. SLIM SUSSIES! Slim sussies kry jou net in die moeilikheid.
Vir Krappie was dit so ‘n bietjie erger as vir my, want hy het al reeds ‘n slim sussie, wat nogal aptekerswese geswot het, op universiteit gehad, waar ek, aan die ander kant, ‘n sussie gehad het wat NA my was. Mense het altyd eers op die daaropvolgende jaar uitgevind dat ek eintlik net lui was, en nie dom nie. ‘Lui’ is so ‘n negatiewe woord, want toe juffrou Roodt my in standerd nege gevra het om my 3-uit-25 wat ek vir my geskiedenis toets gekry het, aan haar te verduidelik, het ek platvoet vir haar gesê dat ek nie geleer het nie. En toe sy vra hoekom ek nie geleer het nie, ek ek vir haar gesê: “Ek was seker maar te lui gewees” Sy tel net daar daai verwoede rooi pen op en skryf langs die groot rooi sirkel met die toets punt in, op die eerste bladsy van my vraestel: “Adriaan beweer dat hy te lui was om te studeer”. Sy stop die papier terug in my hand in en sê: Dê! Gaan gee vir jou pa om dit te teken!” Daai dag was baber se blokkies vloer niks in vergelyking met die sement vloer van ons motorhuis nie.
Die vier weke in die bottelstoor was ‘n ervaring gewees, veral oor Kersfees. Ons kon nie voorbly met die volhou van die rakke nie, en in Stilfontein drink die meeste mense Klipdrift, want? Dis ‘n MYNDORP!! Dit neem ook nie lank om presies te weet wie wat koop, en hoe gereeld nie. Daar was een spesifieke ou wat klokslag half vyf elke middag ingestap het, en dan ‘n bottel gekoop het, behalwe Saterdag, dan kom hy half een ingestap en koop twee bottels , omdat die winkel een uur op ‘n Saterdag sluit, en nie weer voor Maandag oopmaak nie. Amper soos die Isrealiete wat op die dag voor die Sabat genoeg manna en kwartels bymekaar moes maak. “n Ander fandaal weer, het op die mees ongereelde tye daar aangekom, afhangende van waneer die buurman geslaap het, sodat hy oor die heining kon spring en die se blou geverfde Datsun bakkie sonder aansitter, kon ‘hot-wire’ en gou Three Fountains toe jaag, So het ons hulle almal geken, maar wat my heeltemal gegooi het, was toe Juffrou Roodt die dag wat die matriek uitslae uitgekom het, self ‘n flessie kom haal het omdat sy nie kon glo dat ek ‘n “C” vir Geskiedenis gekry het nadat ek dit vir die afgelope twee jaar solid gepluk het. Sy’t nie geweet van die twee raakgespotte langvrae nie.
In die agterste pakstoor het ek agtergekom dat Krappie al lankal kennis gemaak het met die lewerpetrol. Hy kon nie wag om sy vingers in die gebreekte bottles wat mens kry as jy die kratte uitpak, te druk nie, en dit dan met sy oë toe van lekkerte, af te lek. Sy tydsberekening moes baie beter wees as sy dans ritme, want as oom Dries, die bestuurder daar inkom om sy skelm sopie af te gorrel, moes Krappie weg wees. Dit sou ‘ongesond’ wees as die bestuurder gevang word met sy lippe aan ‘n bottel, deur ‘n student, of anders om.
Met genoeg sakgeld en ‘n rekening by die poskantoor, is ons Potch toe, hy op die kampus, en ek op die kamp. Vir die volgende twee jaar was ek te besig gewees met militere onbenullighede om nog te wonder oor Krappie, maar toe ek net ses maande oor het in die bruin oorlog masjien, klaar Krappie in, En nie waar nie, valskermbatteljon! Sy ouers, wat hom nie ‘n eers ‘n motorfiets wou koop omdat hulle bekommerd was oor sy veiligheid, was baie verlig toe hy weens ‘n besering, nie die kursus voltooi het nie. Ek sweer hulle het water op die kniee gekry van al die bid, daar in die studeerkamer langs die hoëtroustel, sodat Krappie nie uit ‘n vliegtuig hoef te spring nie. Ja nê, dis by die van Wyk’s waar ek die krag van gebed gesien het, baie kere.
Krap se name is die selfde as my oorlede pa s’n. Een oggend vroeg lui die telefoon. Dit was krappie se pa wat hom soek, en toe my eie pa die foon optel en sê:”Dis Willem wat praat.” Gooi die ou kerel sy speelgoed heeltemal uit die kot uit. “WILLEM!! HOEKOM BEL JY ONS NIE EN Sê VIR ONS JY’S BY ADRIAAN NIE?! JOU MA HET GISTRAAND NIE ‘N OOG TOEGEMAAK NIE! BOETIE, SMEER MAAR JOU GAT SALF WANT JY SAL NIE KAN SIT VIR ‘N WEEK NIE!” My pa, rooi in die gesig omdat hy probeer om sy lag terug te hou, sê toe proesend:” Dis Willem van der Westhuizen wat praat…” En net daar het ek besef dat dit ‘n goeie ding is dat jy nie kan sien met wie jy oor die foon praat nie, want ek reken dat ou Krap, wat normaalweg so kalm en bedaard is, en nooit skel nie, seker so skaam gekry het dat hy gewens het, die aarde hom sal insluk.
En toe kom die meisies. Mensig, om vir Willem ‘n meisie te kry, is moeiliker om ‘n ryk man in die hemel in te kry. Maar heelaas, eendag gebeur dit toe. Hy bel my en sê: “Adriaan, ek’s in my moer in” Ek reken hy kan gelukkig wees om in sy moer in te wees met daai vrou van hom, Met haar donker hare en groen oë, het sy reggekry wat geen aster ooit kon regkry nie.
Hulle het nou twee seuns, oulike knape, wat my partykeer laat dink dat die Liewe Vader afkyk op Krappie, Japie en myself, en dan glimlag as Hy sien hoe ons seuns ons rev, sodat ons ‘n bietjie kan ervaar wat ons eie ouers moes deurmaak met ons.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

BEGRAFNIS OF VERASSING - Wat se die Skrif daarvan?

deur Spannie

Hierdie baie kontroversiele vraag van ons tyd rakende die hantering van die menslike liggaam na afsterwe word onomwonde en baie duidelik aan hand van die Skrif en geskiedkundige bronne uiteengesit in hierdie volledige studiestuk. Liggaamsverbranding is baie duidelik 'n suiwer heidense gebruik en streng verbied in die Woord. Vloeiend geskryf, met baie interessante gegewens uit die geskiedenis van ons tyd is hierdie 'n boek wat mens moeilik neersit na jy begin lees het. 'n Moet vir elke ernstige gelowige van ons tyd.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar