Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


“Volg die treinspoor, dan sal jy terug in die dorp kom.”

Die klippies slaan teen haar voete en die stof warrel op tot in haar gesig. Sy is te verslae om te hoes. Sy voel die stof tussen haar voete en die sandale gaan lê. Sy bly staan. Dit brand as sy inasem, maar sy weet nie of dit van die stof is, of van die seer in haar hart nie.

Annelie het dit nie verwag nie. Sy en Jacques het al maande probleme. Hierdie reis was veronderstel om hulle die geleentheid te gee om hulle probleme op te los. Sy’t nooit verwag hy sal dit aan haar doen nie?

Volg die treinspoor dan sal jy terug in die dorp kom. Sy kan nie meer onthou wat die dorp se naam is waarheen die treinspoor lei nie!


Sy is dankbaar sy het nie baie mense van hulle verlowing vertel nie. Dit was asof hy ’n ander mense geword het die oomblik wat die ring aan haar vinniger gesit is. Sy ma se ring. Sy kyk daarna, pluk dit af en gooi dit vorentoe in die pad. Sy kyk op en maak haar oë toe. Die son sit bo haar. Sy voel dit haar donker hare op haar kroontjie brand.

Sy moet seker die ring gaan soek. Jacques se ma het niks verkeerd gedoen nie. Sy kyk eers om haar rond. Dis oop vlaktes en lande. Sy hoor net die sonbesies. Geen voertuie nie.
Sy kyk af. Haar pers tas is vol stof. Sy haal diep asem en loop na daar waar sy dink die ring geval het. Die diamant gee die wegkruipplek tussen vaal gras weg. Dank die Vader, want sy sou nie lank daarna gesoek het nie.


Sy grou in haar tas vir haar beursie. Daar is tweehonderd rand in. Sy kyk weer om haar rond. Hoe kon hy dit aan haar doen? Hoe los enige iemand ’n vrou so in die middel van nêrens?

Jacques is nie ’n man nie. Dit het sy die laaste paar maande geleer. Hy is ’n selfsugtige inhalige drol. Geen man praat so met ’n vrou nie. Geen man dreig ’n vrou nie. Net ’n lafaard doen dit.


Annelie trap versigtig tot op die hout tussen die spore. Haar tas is nie te swaar nie, maar sy het geen idee hoe vêr die dorp is nie. Sy kan dit nie sien nie en die landskap om haar is baie plat. Gaan Jacques nou alleen hulle beplande reis doen? Alleen in al die gastehuise slaap wat vooruit betaal is?

Hy moet dit maar geniet. Sy loop eerder alleen in die vreemdes as om ’n dag verder saam met hom te wees. As sy terugdink, was die laaste argument nie so erg nie. Dis die opgeboude warboel binne haar van die laaste paar maande wat haar dit aan hom laat sê het. “Ek kan nie met jou trou nie Jacques. Ek is nie meer lief vir jou nie.”

Sy’t regtig nie verwag hy gaan haar net só aflaai en wegry nie. Sommer net so?


Sy weet nie hoe vêr sy al geloop het nie, maar haar hand brand. Die tas raak ongemaklik. Sy kyk kort-kort terug, so bang sy hoor nie ’n trein aankom nie. Sy hoor ’n dreuning en haar hartklop verhoog. Maar dit kom nie nader nie en die spore onder haar voete vibreer nie. Sy kyk om haar rond en sien vêr ’n trekker op ’n land. Sy huiwer. Dalk moet sy van die spoor afklim sodat wie ook al op die trekker is haar nie sien nie. Mens weet nie wie op die trekker is nie. Mens weet nie wie om te vertrou nie.

Die gruis onder haar voete is los, maar sy val nie. Haar mond is droog. Die son warm. Die dreuning van die trekker word harder. Die gras langs die spoor is kort. Die grondpad netjies. As daar net ’n bordjie was wat haar ’n idee kon gee waar sy is ...

Sy hoor stemme wanneer die trekker naby is. Sy hoor mense in ’n Afrikataal praat. Sy hoor ’n voertuig aangesluit word en sy loop vinniger. Daar is nie ’n pad aan die anderkant van die spoor nie. Sy bid dat die voertuig ’n ander pad moet ry. As sy iets gehad het om te drink, het sy nou gehardloop.

Sy hoor die trekker en voertuig sagter raak en haal weer diep asem. Dit brand haar keel maar sy hou aan met loop. Haar voete is seer. Sy vloek vir Jacques in haar hart. Hy kon haar tenminste by ’n bushalte of iets afgelaai het!

Sy skrik en vries wanneer sy ’n voertuig van agter af hoor aankom en sy oorweeg dit om plat te gaan lê. Daar is nêrens bome in sig nie. Die pienk klere wat sy aan het, sal nie dien as kamoeflering nie.

Sy bly staan. Die wit high lux kom stadig tot stilstand langs haar. Die deur gaan oop en Annelie moet opkyk na die man wat uitklim. Sy oë is groen en dadelik in hare. “Middag.”

Sy probeer haar tong natmaak voor sy praat. “Hi.”

Hy kyk om hulle rond en dan na haar tas, terug in haar oë. Sy probeer glimlag. “Het u motor gaan staan?”

Sy skud haar kop liggies. Hoe verduidelik jy aan ’n vreemdeling? Hy haal sy hoed af. Sy langer, blonde hare val oor sy oë. Hy vryf dit uit die pad uit. Die hitte laat dit daar bly. ’n Ligte frons verskyn tussen sy oë. Hy het mooi oë.

“Jou naam is nie dalk Annelie nie?”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Treinspoor 1
Hier kom ek toe nou eers af hierop! Baie boeiende en lekkerlees-storie...Gaan nou-nou die ander de(e)l(e) soek....
5 jaar 6 maande 3 dae 1 uur oud


Treinspoor deel 1
Sjoe toe ek vanoggend deel 2 sien toe spring ek en soek na deel 1, so dankbaar ek het hom gevind, nou gaan ek deel 2 lees.

Ek is mal hieroor en dink hierdie gaan n trorie en n half wees want dit klink baie baie interessant.
5 jaar 6 maande 1 week 5 dae 17 ure oud


Spoor
Ek wil hierdie een volg. Epos my wanneer die volgende reg is. Ek hoop net nie die meisiekind val sommer alweer vir die volgende knaap met mooi oge nie. Enige iets is nou moontlik, maar as jy vir Jacques iewers raakloop, stuur hom vir my!
5 jaar 6 maande 1 week 6 dae 16 ure oud


Ano
Treinspoor
OK, lyk my jy het hier vir jou eie stert 'n kweperlat gepluk :-)) Ons wag in spanning vir die opvolg....
5 jaar 6 maande 2 weke 16 ure oud


trein
Wow...eks mal oor hierde storie...jy het my aandag. Moenie vergeet om vir my 'n leesversoek te stuur vir die opvolge nie :-)
5 jaar 6 maande 2 weke 20 ure oud


Langs die treinspoor
En skielik is dit nie meer 'n vreemdeling want hy ken haar naam... Skryf gou verder!
5 jaar 6 maande 2 weke 1 dag 12 ure oud


Treinspoor
Hierdie storie gaan ek al langs die treinspoor af, volg.

Kan nie wag vir die res nie.
5 jaar 6 maande 2 weke 1 dag 14 ure oud


langs die treinspoor
so dankbaar daar staan "deel 1"...!! ek wil NOG lees!!
5 jaar 6 maande 2 weke 1 dag 15 ure oud



Gebroke Harts Gebede

deur Anze Bezuidenhout

Gebroke Harts Gebede is ‘n digbundel oor die einas van die lewe. ‘n Soeke na liefde op ‘n stormagtige pad. Mag hierdie bundel vir die leser ‘n pad na herstel aanwys. Die diepe besef dat jou krag van Bo kom. Ja jy is tot alles in staat deur Christus wat jou krag ~ Anze Bezuidenhout



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar