Kortverhale

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Patrys sit alweer penorent reg op die randjie van haar stoel met haar skouers hoog teen haar ore opgetrek. “Ek soek ‘n broodjie met peanut butter”, bulder sy al spoegende. Patrys is ‘n ses-jarige meisie wat buitengewoon hard praat en glad nie oogkontak maak nie. En sy knyp. ‘n Geniepsige klein dingetjie. Sy kom so drie maal per dag te voorskyn en bly vir so ‘n halfuur op ‘n slag. Almal is maar al te dankbaar vir haar kort kuiertjies want sy kan baie veeleisend raak.

Tannie Rina is die een wat die meeste verskyn en by verre die meeste kommunikeer. Sy is ‘n bejaarde skool onderwyseres, saggeaard maar ongelooflik puntenerig. Loop aldag en korregeer almal met wat hulle ookal besig mag wees. ‘n Tipiese ou skool juffrou, maar dierbaar. Tannie Rina glo sy het toegang tot die Boek van die Lewe waaruit sy voortdurend voorlees en vir mense opsoek of hulle name daarin verskyn. Indien nie, word hulle summier getug oor hulle afvalligheid en prontuit gesê om oor ‘n maand terug te wees vir ‘n opvolg lesing.

Dan kry jy vir Waldo. Waldo is ‘n kangaroe wat glad nie praat nie. Al wat hy doen is skree asof hy in verskriklike pyn is. Waldo kom bitter min te voorskyn. Sy rou gille onstel die ander pasiënte tot so ‘n mate dat dit vir almal beter is as hy in isolasie geplaas word. Gelukkig is sy verskynings gewoonlik van korte duur.

Die werklike problematiese een is Sarel – ‘n aggressiewe jong tiener seun wat meeste van die tyd op die vloer sit en deur sy neus blaas. Sarel is die rede waaroor Mathilda opgesluit is. Sarel het twee jaar gelede Mathilda se ma verwurg. Mathilda was aangekla van moord maar is onskuldig bevind op grond van geestesversteurdheid. Mathilda was gediagnoseer met veelvuldige persoonlikheids versteuring met vier geïdentifiseerde onderskeibare persoonlikhede. Waldo beeld die pyn uit wat Mathilda se persoonlikheid laat opsplit het. Patrys gee uiting aan die verwaarlose klein Mathilda. Sarel is die een wat met al die opgeslote woede rondloop en Tannie Rina is die een wat probeer om orde in Mathilda se lewe te skep. Mathilda self is ses-en-twintig. Haar vier persoonlikhede pas soos legkaart stukke in mekaar, waarin een stuk slegs sin maak in terme van die ander drie. Wanneer die stukke in mekaar gepas word, vorm dit egter nie ‘n prentjie van Mathilda nie, maar slegs van ‘n oorlewing strategie. Mathilda het lankal tussen die legkaart se passings verdwyn. Waldo is Mathilda se kern. Hy is dit wat Mathilda voel. Partys is Mathilda se geheue van haar bejammerenswaardige kinderjare. Sarel is Mathilda se reaksie op die trauma in haar lewe – haar uitlaatklep. Tannie Rina is Mathilda se kontinuïteit wat haar verlede, hede en toekoms bymekaar hou. Solank die legkaart pas, oorleef Mathilda. Dit is ook die strategie van die psigiatriese behandeling wat sy ontvang.

Op Maandag, 4 Mei, het dinge egter erg verkeerd geloop. Die dokters het dit toegeskryf aan Mathilda se dele wat om een of ander rede in mekaar begin vloei het. Die grense tussen die dele het blykbaar gedisintegreer. Ek het dit alles voor my eie oë sien gebeur. Mathilda het as Tannie Rina vroegoggend na die stoep geskuifel om in die sonnetjie te sit. Toe ek haar medikasie vir haar neem het ek agtergekom dat iets nie pluis was nie. Tannie Rina en Patrys was in gesprek met mekaar – iets wat nooit van tevore gebeur het nie. Tannie Rina het in die Boek van die Lewe gekyk of Patrys se naam daarin voorkom. Klaarblyklik het dit nie. Tannie Rina het Patrys uitgevreet oor haar skandelike lewe en Patrys het meteens katatonies begin ruk. Die twee het mekaar al hoe vinniger begin opvolg totdat dit heeltemal buite beheer geraak het. Die volgende oomblik het Waldo onbeheersd begin skree met pynkrete wat my hare laat rys het. Ek het vir die sekuriteitswagte geskree om my te kom help, maar dit was te laat. Sarel het te voorskyn gekom en soos ‘n wilde dier op en af begin spring. Skielik het hy sy kop teen die brandblusser met geweldige krag begin kap. Die bloed het van Mathilda se kop gestroom. Toe hardloop hy ‘n draai en pyl reg op die brandblusser af en storm kop eerste daarin. Voor my voete het Mathilda leweloos in ‘n plas bloed met ‘n gebreekte nek gelê.

Ek is geen psigiater nie, maar ek het vir die laaste twee jaar vir Mathilda en haar alter ego’s opgepas en haar dalk beter as enigiemand anders leer ken. Omtrent ‘n maand gelede het ek tydens nagskof agter gekom dat Mathilda in haar slaap praat. Die ding was dat sy nie in een van haar persoonlikhede gepraat het nie. Ek kon sweer sy het as Mathilda self gepraat. Sy het oor en oor gesê, “Ek is so jammer, mammie. Ek is so jammer”. Dan het sy begin huil en gesê, “Dis ek, mammie. Dis Mathilda”. Ek het dit aan die psigiaters gerapporteer, maar dit het duidelik op dowe ore geval.

Ek is nie ‘n dokter nie, maar ek weet wat ek gehoor het en ek weet wat ek gesien het. Mathilda het weer begin vorm aanneem in haar onderbewussyn. Sy wou uitkom en haar lewe terugneem, maar die vier dele moes haar met alle mag onderdruk sodat hulle kon aanhou bestaan. Haar stukke moes hulleself teen die geheel beskerm. Daarom het Mathilda hulle verwoes.

Ek glo dat Mathilda se siel vry is; dat sy vry is van die brandwonde en die swart hale, die verkragting en die opsluit in die donker, die honger en dors, die gebrek aan enige liefde en die einde van hoop.

Die probleem met my werk is dat ek hierdie goed daagliks beleef. Dan vra ek myself af waar die goeie lê en slaap wanneer die bose kom om mense van hulle lewens te beroof.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Legkaart van 'n kranksinnige
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die LEGKAART projek
5 jaar 7 maande 3 weke 3 dae 19 ure oud


Legkaart
goed gedoen - die wêreld van die lewende dooies.
5 jaar 7 maande 3 weke 4 dae 4 ure oud


Legkaart . . .
Ek noem hulle Hemels - kinders.

Dis nie vir my im te Dissekteer nie.

Thanks.

Ek lees moeilik maar het die geniet.
5 jaar 7 maande 3 weke 4 dae 14 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Die Besoeking

    deur Kobus van Eden

    DIE BESOEKING handel oor 'n Gideonsbende wat die plaasmoorde begin wreek. Hul sukses is verstommend! Gou staan Koos Gerade bekend as die Bloedwreker en sy manskappe as 'die hel.'



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar