Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Enna sit en krap met ‘n pendoring in haar afgebreekte kiestand. ‘n Turksvypit sit in ‘n wurggreep saam met ‘n stuk boomgom in die gat vas. Sy snork onvergenoegd toe die doring se punt ‘n trilogie sluit in ‘n liriese samesmelting met die gom en pit. Sy oorweeg dit om Maans se geroeste tang in die garage te gaan haal en vir eens en altyd van die tand ontslae te raak. Bloedspoeg haar voorland – die Woord sê mos as daar ‘n splinter… sy frons … is dit nou in die oog of tand? Toe onthou sy dat die buurman Baartman die tang geleen het. Sy bekyk die werksaamhede in die bure se agterplaas agterdogtig aan. Snork weer. Die tand nou vergete. Bid jou aan, ‘n karavaan bou? Sy wonder of die bure moontlik afstammelinge is van Nederlandse skeepsbouers en die honderdjarige handelsgeheime van skeepsbou bekom het. Sy stap in die rigting van die garage. Klim op die hoenderhok se dak en beloer die gevaarte wat besig is om gestalte te kry. Vir haar lyk dit altevol na Noag se Ark.

“Enna, wat staat en maak jy daar op die hoenderhok se dak? Kom sit handjie by. Ek is besig om die kêrevên se gordyne op te hang”
Enna ruk soos sy skrik, verloor effens balans en tuimel amper van die dak af toe sy Fienie se skril stem hoor. Sy dink so in die stilligheid - dat Daan nog by haar uithou is ook net genade. Die vrou se kop raas en daardie ambulans-sirene-stem! Karavaan bou of Kêrevên soos sy dit noem, is nou al weke lank die middelpunt van elke gesprek met iedereen wat ‘n gewillige oor het om te luister. Enna koes - buk af op die hoenderhok se dak en skree-praat terug.
“Jammer buurvrou, ek kan nie nou kom help nie, ek is besig om die hoenderhok se dak reg te maak. Slang se kind gaan ‘n fees hê as hy hierdie opening ontdek – hier gaan nie ‘n lewendige hoender of enkele eier oorbly nie.”
Enna stuur ‘n skietgebed op oor die witleuntjie. Sy het nie vandag krag vir Fienie se karavaan uitleg en groot trek wat beplan word nie. Sy klim van die hoenderhok se dak af en gaan sit in die skadu van die doringboom. Sy bekyk die goudkleurige gom verlangend aan. Voel-voel met haar tong in die gat van die gebreekte tand met sy nóu natuurlike stopsel en besluit daarteen.

Die karavaanbouery het al ongeveer drie maande gelede begin. Fienie het met gróót vertoon kom vertel hoe die Baartmans nou van Otjiwarongo oppad Kaap toe is. Sy wou glo nog haar hele lewe lank in ‘n kêrevên bly – en nou gaan Daan en die ses kinders vir hulle die liefdeshuis op wiele bou. Cash en kontant. Toe sy nog verder uitbrei dat ‘n ou laatlammetjie … het Enna se dermwerking byna tot stilstand gekom. Geen wonder Fienie nooiensvan was De Haas nie. Die vrou broei erger as ‘n wedvlugduif. Die gehamer en gekap laat Enna se gedagtes teruggaan na die September lentedag toe sy vroegoggend ru uit die slaap gewek is. Die onaardse reuk van ‘n brandende koppelaar, huilende bande wat versmorende stofwolke opskop - die donderende gebrul van ‘n bakkie wat ‘n worstel om ‘n ou sestig-sitplek bus se onderstel die werf in te sleep, is nog vars in haar geheue.
Vir weke lank is daar gesaag, gesny, gesweis en toe die panele uiteindelik finaal vasgeslaan is, is die tweeslaapkamers, kombuis, badkamer en sitkamer vertrekke uiteindelik op onderstel staangemaak. Daar is op die dak, langs die watertenk plek gemaak vir die mak bobbejaan, Kerneer, se hok. Brakkies se hok het sy regmatige plek by die voordeur gekry. Goed vasgeanker met 40 millimeter houtskroewe. Die kinders sou sy afsterwe langs die pad nie kon hanteer nie en vir ‘n tranedal en Fienie se verwyte oor vakmanskap het Daan nie kans gesien nie. Pollie Papegaai se hok het die kombuis gehaal en sal langs die wasbak staanplek kry.

Na ‘n rustelose nag is Enna douvoordag uit die vere. Sy moet die uittog van die bure persoonlik aanskou. Dit is ‘n gewoel en gewerskaf. Bevele word uitgeskree en die kinders is rasend van opgewondenheid. Toe begin die aandra van meubels na die karavaan toe. ‘n Dubbelbed, twee enkelbeddens vir die jongste telgies, spieelkas en twee hangkaste word in die hoofslaapkamer ingedra. Vier enkelbeddens en twee hangkaste word in die tweede slaapkamer staan gemaak. Die badkamer, toegerus met ‘n bad, wasbak, Westinghouse wasmasjien en ekstra linnekas is stampvol gepak en die trapmodel Singer naaimasjien styf ingeskuif vir ekstra oppervlak. Dubbeldoelig. In die kombuis is die yskas, stoof, tafel met agt stoele en kombuiskaste ingelaai. Met die hele huishouding se verdere breekgoed en losgoed mooi verpak, kind en kraai wat plek inneem word die Ford bakkie aangeskakel.

Enna vergaap haar aan die gedoente. Weereens is dit die onaardse reuk van ‘n brandende koppelaar, huilende bande wat versmorende stofwolke opskop - die donderende gebrul van die V8 bakkie wat worstel om die Titanic se gewig in ‘n arkvorm die werf uit te sleep. Met die draaislag word die hekpaal, twintig meter ogiesdraad, die helfte van die malva-bedding en tien stokrose saamgesleep. Brakkies het stuipe. Hulle het van hom vergeet en hy sit die karavaan histries agterna. Twee huise verder is die swart hond asvaal. Die gebrul en gil van die kinders agter in die karavaan raak so erg dat Daan begin remme aanslaan. Die gewig van die karavaan stoot die hele pakkasie vorentoe en kom hulle eers by die derde huis in ‘n stofwolk tot stilstand. Brakkies word genadiglik ingelaai en die reis kan voorgaan.

Op die voorstoep van die ouetehuis sit en bekyk Pieter en Gabriël die naderende bakkie en karavaan. Gabriël se oë is nie meer wel nie. Toe die bakkie verby is, gewaar hy die karavaan. “Broer Pieter”… brul hy… groet my … die eindfluitjie het vir my geblaas. Hier kom die engele my nou haal – in styl broer in styl – nogals met die Ark!” Pieter is net so verstom oor die rare verskyning dat hy op sy knieë neerslaan en begin bid. “Vader, voor U my ook in die Ark oplaai , vergewe tog my jare se ontrou met Gabriël se vrou Jacomiena”
(Blykbaar het Pieter eers drie dae later in die Intensiewe Eenheid wakker geword met ‘n skedelfraktuur wat byna sy lewe gekos het. ‘n Kierie kan ‘n gevaarlike wapen in die hand van ‘n woedende ou man wees.)

Die Grootpad Windhoek toe word aangepak. Na ‘n lang dag se ry, nader die Ford en karavaan die buitewyke van Windhoek. Daan besluit hulle moet anderkant Windhoek by Aris vir die nag gaan oorslaap. Dit is toe net hier waar die trekvermoë en krag van die Ford bakkie op die proef gestel word. Die stylte blyk net te veel te wees vir die bakkie. Die “Ark” ‘n dooie gewig. Vuurvonke en swart rookwolke borrel onder die bande uit. Stukke staalkoord staan later soos ystervarkpenne op die bande uit. . Los klippe suis deur die lug toe die bakkie skuins swaai en doodruk. Fienie spring wit geskrik uit die Ford. Op pad karavaan toe peul ses swart besmeerde kindertjies skreeuend uit die karavaan. Fienie sak in ‘n beswyming neer. Die skok aan die gedagte dat haar telgies dalk half verkool is, is net te veel in haar toestand.

Na ‘n paar skote water uit die watersak wat voor aan die Ford hang, kom Fienie by. Die kindertjies is darem ongeskonde. Brakkies se irriterende geblaf laat haar opkyk na die bron van sy ontsteltenis. Die hoenders op die dak ! Hulle nekke is lank uitgerek om die naderende optog beter te kan beskou. Polisie en ses verkeersmanne in beherende en raadgewende hoedanigheid, bestorm die toneel. Dit is chaos. Vakansiegangers se voertuie is vir kilometers ver tussen Rehoboth en Windhoek opgehoop. Ure later daag die Gallion Padskraper van die Departement Paaie Afdeling ook op want dit is ‘n onbegonne taak om die “Ark” geroer te kry. Die afhaak en aanhaak van die padskraper is nie ‘n grap nie. Die vier agterwiele en twee voorwiele skop nog meer rook op as die Ford. Toe die burgermeester in opdrag van die stadsraad ook nog op die toneel opdaag – blink geslaan met sy ampsketting – besluit Kerneer die bobbejaan dat sy dae getel is, en om liewer Aris berge sy nuwe tuiste te maak. Met die afspring van die karvaan se dak af, beland hy tussen die skare en pak die Burgermeester. Hy besluit om die ge-eerde raadslid se blink ketting saam te neem, menende dat hy darem in styl by die ander bobbejane kan aansluit. Dit is hier waar die polisie en verkeersbeamptes hulle rewolwers uitruk om die aanval op die ge-eerde amsdraer te stuit. Die waarskuwingsskote was die laaste strooi. Kerneer is die berge in met die goue ketting om sy lyf en ses gillende kinders wat ylings padlangs terug huistoe probeer vlug.

Die son het al begin water trek toe die Gallion uiteindelik die karavaan op die kruin van die berg staanmaak. Daan is moeg gesukkel. Die kinders, hond en papagaai is almal veilig agter op die Ford se bak gelaai. Kerneer is die gebergtes in - seker ook maar ‘n genade van Bo. Hy verstaan nou Charles Darwin se beroemde gesegde in 1838. “He who understands the baboon would do more towards metaphysics than [renowned philosopher] John Locke.” Daan is lus en vat die pad agter Kerneer aan – sy sosiale struktuur is besig om te verkrummel – en dit oor Fienie se liefde vir ‘n karavaan en drome oor die Kaap.

Sy voet rus swaar op die petrolpedaal toe hulle die afdraande oppad Aris toe met kletterende staal op teer aandurf. ‘n Koel biertjie by die hotel is nie te versmaai na die gesukkel om die karavaan teen die berg uit te kry nie. Dit is toe hy oor die treinbrug by Aris die skerp draai na die hotel toe vat, dat hy besef die remme van die Ford het ook gegroet en die Karavaan is op sy eie krag oppad Kaap toe. Regoor die afdraai na die hotel, knak die Ford regs en stop in ‘n stofwolk met hees gegilde kinders voor die hotel. In afgryse staar hulle na die karavaan wat die B1 Nasionale pad Kaapstad toe, op sy eie aandurf.
Die hoenderhok het darem ongeskonde daarvan afgekom. Die res van die meubelment en karavaan het soos vliegtuigwrakstukke oor die vlaktes hulle eindbestemming bereik. Aan flarde.
Genadiglik was daar darem plek op die trein om die terugtog Otjiwarongo toe aan te pak. Die paar lappe klere wat hulle nog in die vlaktes bymekaar kon skraap is in bondels op die kinders se rûe vasgemaak. Dit was ‘n tranedal wat geen mens kon beskryf nie. Daan het genoeg gehad van Fienie se drome. Skoonma was heel tegemoetkomend om hulle tydelik te huisves. Dit was per slot van sake haar dogter Fienie se idee om die karavaan te bou en Kaap toe te verhuis. Was dit sý besluit – Daan wou nie aan die gevolge dink nie. Wat ‘n man nie ook alles sal verduur in die naam van liefde nie. Die Ford het het hy onder die doringboompies by die rangeerwerf gelos – dit is anderdag se bekommernis. Pollie is aan die hotel geskenk waar hy onmiddelik in die kroeg in vreemde tale begin praat het.

Enna skud haar kop uit pure ongeloof. Sy kan nie glo wat sy op die voorblad van die koerant lees nie. “Pa ” roep sy haar man. “kom hoor bietjie hier … die Baartmans is voorbladnuus”. Sy lees hardop. “Burgermeester draai by die dood om toe ‘n hondsdol bobbejaan uit Aris berge hom aanval. ‘n Reuse karavaan van Daan Baardman het die pad byster geraak … “ Enna lag dat die trane loop. “Karavaan … hondsdol bobbejaan? Kerneer, jou masbieker, ek hoop jy raak voorsitter van die Afbakeningsraad!”













Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

LIEFDE IS 'N HENGSE KêREVêN


Jy mag maar stories vertel! Baie dankie vir hierdie special!
4 jaar 3 maande 1 week 6 dae 23 ure oud


Karavaan.
Lekker gelag en lekker gelees.
4 jaar 3 maande 1 week 6 dae 23 ure oud


Liefde is . ..
Ek geniet gemaklike lekkerlees kuiers.
Baie dankie.
4 jaar 3 maande 1 week 6 dae 23 ure oud


karavaan
Oulik. Het nou lekker gelag. Goed gepen.
4 jaar 3 maande 1 week 6 dae 23 ure oud


Karavaan
:D

Dit laat my dink aan my man se oom (slim geleerde hoor?) wat 'n ou bus gekoop het en hom omgebou het in 'n soort mobiele karavaan ~ daar in ons Hartland, ja. Sy tannie was later sooooo moedeloos as hy net die woord 'bus' noem . . . so baie moeilikheid het hulle elke vakansie gehad met dié ding . . .

Maar soos jy sê: wat sal 'n man (vrou) nie alles verduur vir die liefde nie!
4 jaar 3 maande 2 weke 5 ure oud


kerevan
Moet sê hierdie storie van jou het my heerlik laat lag
4 jaar 3 maande 2 weke 8 ure oud


Liefde is n hengse kerevan
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die LIEFDE projek.
4 jaar 3 maande 2 weke 21 ure oud



MAMMON

deur Piet Schoombie

Mammon handel oor 'n beroepsgholfspeler se lewe en ervarings plaaslik en oorsee. Soos die boek se naam aandui, speel geld deurgaans ’n belangrike rol..



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar