Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Toe ek vroeg voor die Kraaines stilhou om my passasiers op te laai het die son nog nie eens ‘n gedagte om sy gesig vir die dag te wys nie.

Sussa is gewapen met die dagboek en ek dink aan my eie vrag lêers agter in die bakkie. So asof ons daaroor gepraat het, het ons elkeen afsonderlik besluit om die papierwerk saam te neem. Net so vir in geval …

Ek waarsku aldrie van hulle dat hulle nie in die bakkie mag rook nie.

      “Julle moet maar sê as die uithou te groot raak dan kan ek stilhou. Maar weet ook net dat ek nie tyd wil mors nie. Volgens Skippie is dit ‘n vêr pad.”

Duiker wat voor langs my sit snork deur sy neus:

      “Ag ou Skippie se kop is lekker bedonnerd dis g’n só vêr nie. En jy kan ook nie die mense se gatte uit die kooi gaan jaa as jy voor brêkfis daar aankom nie.”

Ek glo nie Skippie wat agter in die dubbel kajuit sit het hom gehoor nie anders sou hy nie so stil gebly het nie.

Die bakkie se neus staan Suid-oos die Sandveld in. Ons ry nog teerpad, maar ek onthou Skippie was baie pertinent oor die slegte grondpad wat ons nog gaan ry.

Ons was skaars ‘n uur in die pad toe Duiker begin rondskuif. Ek weet hy wil rook maar hou hardgebak my aandag voor in die pad en maak of ek nie sy ongemak raaksien nie.

Sussa kom tot sy redding;

      “Boeta as jy nie wil hê ou Duiker moet die sitplek ‘n gat in kners nie, moet jy stilhou dat ons kan rook. Dan drink ons sommer koffie ook wat ek in die mandjie het.”

Nadat Sussa vir ons elkeen ‘n stomende beker koffie gegee het en elkeen van hulle aangesteek het verwys sy vir die eerste keer weer na die dagboek.

      “Ek het gisteraand weer bietjie verder gelees. Ou Netta het baie geraamtes in die kas. Ek trek nou daar waar sy vir jou pa gesê het sy het ‘n miskraam gehad.”

Toe ek haar vraend aankyk sê sy met klein bietjie ongeduld in haar stem.

      “Jou ma het vir Loopdop gesê sy is swanger toe trou hy haar en dit terwyl sy nie verwag het nie?”

Die vraagteken aan die einde van haar sin kom as ‘n beskuldiging dat ek nie luister as sy my vertel wat sy in die dagboek lees nie.

      “Ewenwel voor Loopdop te opgewonde kon raak oor die kleintjie toe gee Netta ‘n miskraam voor en sy sorg dat sy nie swanger raak die kere wat sy nie jou pa se attensies kon ontwyk nie.”

Skippie luister nou ook grootoor. Het hy dan nie die opmerking gemaak dat die kleintjie die lug in verdamp het nie?

Hy trap sy sigaretstompies in die sand dood en skop los grond daaroor terwyl hy sy inset lewer:

      “Ja-nee, dit kan mens van die ou koei verwag. Sy sou haar nie laat voor-praat hoe om dinge te doen nie.”

Dis ook hy wat vir Duiker en Sussa begin aanjaag dat ons nou weer bietjie tot ry moet kom.

Sussa skuif so dat sy tussen die voorstel sitplekke deur kan praat.

      “En luister bietjie hier, sy het al die jare ‘n verhouding gehad met niemand anders as Dirk Bruwer nie!”

Sy laat die nuus in die lug hang en ek beleef weer die man se arrogansie toe hy dit vir my gesê het. Ek gee glad nie te kenne dat ek dit weet nie.

Duiker en Skippie daar-in-teen het hulle gewone gekruide reaksie:

Skippie soos die aand toe Duiker vir hom gesê het ek is Loopdop Doep se kind;

      “Not a fok!”

Duiker se reaksie is meer intens. Ek skryf dit toe aan skok. Dit bly sy suster.

      “Terwyl sy rondfok en haar man en kind wat sy fokken nie kon verdra nie afskeep, maak die bliksem ons wys dat sy niks met hom te doen wil hê nie.”

Ek voel verlig dat ek dit geweet het voor Sussa se meedeling. Ek is egter meer dankbaar dat ek nie nodig gehad het om dit vir hulle te sê nie.

Voor Sussa verder kan vertel beduie Skippie waar ek moet afdraai op die grondpad.

“Hoe lank nog Skippie?” vra ek as die bakkie se wiele die stofstreep agter die bakkie opskop.

      “Nog so uur.” Antwoord hy en haal sy sigarette ingedagte uit sy sak. Sussa vat dit uit sy hand en druk dit terug in sy hempsak. Terwyl sy net haar kop skud.

Ek vang sy gesigsuitdrukking in die truspieël en ek kry hom amper jammer. Hy lyk soos ‘n hond wat op die snoet geslaan is omdat hy vleis gesteel het.

Ek besluit om deur te druk en nie die rokers weer kans te gee om te rook nie.

Dit is stil in die bakkie want almal sit met afwagting vir ons om die plaas te bereik. Sussa hang nog steeds tussen die voorste sitplekke gestut op haar elmboë.
Toe ek voor die toe plaashek stilhou spring Duiker en Skippie gelyktydig uit om dit oop te maak. Ek is seker as Sussa net nader aan die deur gesit het sy ook sou gepoog het.

So in die sukkel om die hek oop te kry word daar ook sigarette brand gemaak en dit vat ekstra lank om die hek weer toe te kry.

Die nou sandspoor pad wat ons na die huis toe vat kronkel tussen gras en bosse deur.
Die lower groen gras rondom die groothuis is ‘n salwing vir mens se oë na die vaal van die pad.

As ons onder die Bloekombome stilhou kom ‘n jongvrou by die voordeur uit.
Sy het lang donker hare en sy is mooi. Haar oë is treffend blou. Dit laat my aan Ma en Duiker se oë dink.

Sy trek haar klere reg. Duiker en Skippie bly sit in die bakkie terwyl ek en Sussa uitklim.

      “Môre – “ groet sy onseker.

Sussa steek haar hand op ‘n distansie uit;

      “Môre, ek is Sussa en hierdie is Jannus du Plessis.”

Daar is geen reaksie by die vrou nie. Dus ken sy nie die naam Jannus du Plessis nie.

Sy versit haar gewig en kyk by my en Sussa verby na die twee manne in die bakkie.

Terwyl ek haar hand skud is dit Sussa wat praat.

      “Verskoon hulle tog maar. Seker maar styf gesit.”

Die vrou met ‘n sagte stem praat as Sussa bakkie toe stap en die deure ooppluk as aanduiding vir die twee om uit te klim.

      “Aangename kennis. Ek is Marda Burger. Waaraan het ons hierdie besoek te danke?”

Ek trap ongemaklik rond

      “Dis ‘n lang storie. As jy tyd het kan ons vertel?”

Sy nooi ons nie by die huis in nie laat ons by die ronde tafel in die tuin sit. Sy verskoon haarself en gaan terug die huis in.

Sonder om te dink vra ek die vraag hardop vir geeneen in besonder nie:

      “Waar de joos begin mens nou met hierdie deurmekaar spul?”

Marda antwoord agter my. Ek het haar nooit hoor uitkom nie.

      “Begin maar, soos almal altyd sê, by die begin”

Sy gaan sit en ek besluit om by Ma se dood te begin. Dit is volgens my die begin van hierdie deurmekaar nuwe lewe van my.

Terwyl ek vertel van Ma wat dood is kom dit by my op om nie alles te vertel nie. Ek vat dus kortpad na Pa se testament wat sê ek erf hierdie plaas.

Sy frons en draai haar kop skeef.

      “Dit klink vir my jou pa het nie sy testament op datum gehou nie. Want ek is op hierdie plaas gebore.”

Sy neem die wind vir ‘n wyle uit my seile. Maar ek ruk myself vinnig reg.

      “As jy hier gebore is neem ek aan die plaas behoort aan jou pa?”

      “Nee die plaas behoort aan my. Pappa het die plaas op my naam geregistreer toe hy afgetree het. Nou boer ek hier.”

Ek voel sotlik dat ek sommer ‘n aanname gemaak het. Ek raak ongeduldig want ek voel dat die antwoord hier op hierdie plaas lê. Maar hoe kry ek dit uit haar? Hoe stuur ek haar in die rigting van die antwoorde sonder om te voorop te klink.

Dan moet ek haar nou maar inspan met die hele ou morsige verhaal. Miskien is daar iewers raakpunte wat ons aanmekaar kan knoop.

      “As jy dan nie omgee nie – Marda – sal ek jou die verhaal moet vertel sodat jy weet hoekom ek hier is.”

Sy is ‘n vrou van min woorde, maar haar oë spreek boekdele.

My verhaal het nog nie gevorder sover as Ma wat vir Dirk en Babbels agter die duin betrap het nie toe daar nog twee bakkies op die werf aangejaag kom en met stofstrepe stilhou.

Twee groot manne breed van skouer en lank spring uit die bakkies uit. Boere van die distrik, neem ek aan maar hulle kom aggresief voor en staan met gevoude, bultende arms en gluur ons aan.
Die grootste een van die twee wil weet;

      “Alles reg by jou Marda.”

Skielik maak dit vir my sin. Marda het haarself verskoon en versterkings laat kom vir ingeval ons skurke is en haar op haar plaas wil oorrompel.
Ek bars uit van die lag en dit klink bietjie kranksinnig. As ek sien hoe die ander vir my kyk sluk ek my lag.

Nadat sy hulle verseker het dat alles reg is gaan hulle ook sit. Haar afwagtende blik spoor my aan om verder te vertel.

Ek besef nie hoe die tyd verby gaan terwyl ek die verhaal vertel nie. Sussa vul hier en daar aan. Skippie en Duiker sit stil soos muise.

As ek die verhaal wat so onwerklik soos fiksie klink afsluit is daar ‘n oomblik van stilte.

      “Gee jy om as ek vir jou ‘n paar vrae vra oor jou ouers?” probeer ek.

      “My pa is Bertus Burger en Mamma is Cora Burger.”

Ek voel hoe dit in my ruk. Cora is mos ook die naam wat Dirk Bruwer genoem het.

      “Wat was jou ma se nooiensvan?” Dit voel of sy taai is om die inligting te gee en of ek nog baie trekwerk gaan moet doen.

      “Mamma se nooiensvan was Bruwer.” Verskaf sy die inligting sonder moeite.

Ek glo sy kan die ongeloof in my stem hoor as ek skerp vra:

      “Bruwer?!! En jy is seker sy is nie familie van Dirk Bruwer nie?”

Sy skud haar kop ontkennend terwyl sy antwoord.

      “Nee, Mamma is die enigste kind.”

Dit tref my dat sy praat van ‘is’. Dit beteken haar ouers leef nog.

Dan staan sy op;

      “Kom ons gaan eet iets. Dit is al middag-tyd. Kom Daan, Dawie, kom eet saam met ons”

Ek wil opspring en vir haar skree dat ek nie wil eet nie. Dat ek antwoorde op my vra wil hê. Dat ek teleurgestel is dat alles wat ek hier verwag het maar net weer ‘n doodloopstraat is.

Ons stap agter haar aan die huis binne. In die voorhuis hang familie-portrette teen die muur. My oog vang die man in die een portret en ek skok in my spore vas.

      “Wie is hierdie man en vrou in hierdie foto?” vra ek dringend terwyl ek na die foto wys.

Marda kom langs my staan;

      “O dis Pappa en Mamma.” Sy kyk na my asof sy van my verwag om te reageer. Dit is ook presies wat ek doen.

      “Daar is nie ‘n manier dat die man in hierdie foto jou pa Bertus Burger kan wees nie. Want die man in hierdie portret is my pa Jannus du Plessis.”

Ek kyk hulpsoekend oor my skouer na Duiker wat ook vinnig nader staan.
Daar kom net twee fluister woorde oor sy lippe;

      “Loopdop Doep!”

© Zymrly 21 Oktober 2015



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Loopdop.
Nee wraggies....nou gaan ek vir my ń loopsoop gooi.

Ou Doep en sy skandes....

Ons wag in spanning vir die res.
4 jaar 2 weke 6 dae 19 ure oud


Loopdop 10
Uitstekend! Nou kom daar behoorlik verassings na vore, Loppdop Doep wat het jy gemaak?
4 jaar 3 weke 17 ure oud


10
'n Dubbel identiteit! Kan jy dit nou oorvertel? Nee jong, jy kan mos nie nou alweer stop nie. Jy is erger as die spul rokers. Vertel nou, man!
4 jaar 3 weke 18 ure oud


loopdop 10
hier kom n ding.... Man ek kan nie wag vir die res van die verhaal nie dit raak by die oomblik net al hoe meer interessant!! Zim jy ken jou storie om n storie te vertel!!
4 jaar 3 weke 1 dag oud


loopdop
Zym hierdie verhaal is n meesterstuk soos die raaisels opduik
4 jaar 3 weke 1 dag 8 ure oud



Kroniek van die Suid-Afrikanse Weermag (1912 - 1994)

deur Francis Gillieron

Beskryf die geskiedenis van die ou SA Weermag vanaf sy stigting in 1912 tot sy ontbinding in 1994. Die SA Weermag se voorgeskiedenis word ook weergegee.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar