Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek herken haar, maar het haar nog nooit persoonlik ontmoet nie.

Sy tel rustig die kledingstukke een vir een op en vou dit netjies voor sy dit in die sak pak. Wanneer sy die ligte pienk toppie optel, sien sy iets daarop. Sy lig dit nader aan haar oë en bekyk dit. Seker ‘n kol wat uitgewas moet word? Dalk ‘n stukkende plek wat regmaak benodig?

Hy is ook besig om in te pak. Anders as sy, bondel die lang, donker man sy klere in ‘n sak. Wanneer hy klaar is, loop hy na haar en sit sy arms om haar middellyf; soen haar innig. Hulle bly so in hul omhelsing staan, onbewus van my wat hulle onbeskaamd vanuit my lugverkoelde motor sit en dophou. Dis negeuur in die oggend en klaar 31 grade. Sy het ‘n langmoutop onder ‘n dun bloesie aan. Wat besiel haar? wonder ek. Sy gaan vrek brand in die hitte. Hy tel die twee sakke by sy voete op en loop; bedink homself, draai om en soen haar weer.

Sy draai haar blonde hare in ‘n elegante Franse rol, terwyl sy hom agternakyk waar hy om die hoek verdwyn. Sy bevoel haar kop; bo, agter, onder. Sy is nie tevrede nie, want sy maak dit los en rol die hare weer op. Haar hande spieël oor haar kapsel. Skynbaar gelukkig met dít wat sy voel, pak sy al haar oorblywende goed in die sak.

Sy glimlag wanneer hy weer om die hoek verskyn. Dit lyk of hy iets vergeet het, want sy krap in een van haar sakke en gee dit vir hom. Ek wens ek kon hoor wat hulle vir mekaar sê. Hy soen haar vol op die mond voor hy loop.

Sy kyk af na die area om haar voete. Stap. Stop. Kyk. Lig hier en daar iets op en kyk onder dit. Waarna sou sy soek? Dalk iets wat nog bly lê het? Sy lyk angstig. Haar hande pik-pik soos ‘n hoender in die gras. Elke nou en dan tel sy iets op, bekyk dit en laat dit weer val. Dalk soek sy sigaretstompies? Een met nog ‘n laaste trek in hom? 'n Bietjie nikotien om haar Maandag mee te face?

Sy voel weer aan die Franse rol. Tel die twee sakke op en hang ‘n swart handsakkie oor haar skouer. Haar oë bespied vir oulaas die grond voor sy in dieselfde rigting stap waarheen die man netnou verdwyn het. Die gebreklike onderbeen skuur ongemaklik teen die ander een. Haar werkende Maandag het begin. Agter haar los sy haar glashuis waarin voyeurs soos ek skaamteloos kan kyk:
'n Boom.
Droeë gras.
En twee plat-geslaapde kartonbokse.

Wanneer ek haar volgende keer by Tygervallei se verkeerslig met die plakkaat sien staan, sal ek haar groet asof ek haar ken.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Maandag oggend
Wat n pragtige werkie Santie. ek so ook ek wil nog lees
5 jaar 11 maande 2 dae 10 ure oud


---

Ag nee man! Ek wil nog lees!

Se gou bietjie, is sy getroud en is dit haar trouring wat in die gras geval het? Is ek die man se vrou wat so voyeur, voyeur speel? Gits, skielik kom lè hier 'n effense dof`seer hier in my binneste? Weird!

Gaan jy die kortverhaal verder vat? Dis wraggies`waar baie goed geskryf!
5 jaar 11 maande 3 dae 15 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar