Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die klok kreun deur die werkswinkel soos 'n kermende pou wat oor die vérte uitroep met verlange. Gewoonlik is dit 'n irriterende klank wat my tot in my tone laat gril, maar vandag is dit 'n soete streeling in my ore.
"Daar gebeur dit oom."
"Gebeur wat?" Ek gluur vir Frikkie aan.
"Dis mos nou vakansie tyd, oftewel, vakansie tyd vir oom. Ons ander moet maar nog werk." Hy lag vir homself terwyl hy die gereedskap in die kas op hang.
"Ja jou snotneusie, jou tyd sal kom. Hey, pak daai kas mooi! Ek sal jou teen jou kop klap." Dit kan my tot in my siel in grief as die vakleerlingtjies so 'kannie-worrie' houding het.
"Jammer oom." Sy stem het 'n eentonige toon. Met 'n vinnige swaai klap ek hom agter die kop.
"Moenie jou sarkasties hou met my nie mannetjie!" Hy duins en kyk oor sy skouer met groot gerekte oë en 'n angsgewekde glimlag.
"Jammer oom." Sy stem klink nou beter, meer emosie gevuld. Hy lag sag.
"En laat ek nou terug kom en hierdie kas deurmekaar kry, dan is dit ek en jy mannetjie!" Ek trek my veiligheids handskoen uit en gooi dit op die tafel.
"Reg oom, ek maak so oom."
"Goed dan. Dan sien ek jou oor twee weke." Ek klap Frikkie op sy skouer.
"Geniet dit oom, ek weet ek gaan." Hy lag uit sy maag van lekkerte. Klein strooi, hy kan bly wees ek's in 'n goeie bui.

Die voordeur gaan oop net toe ek wil uitstrek om die klokkie te druk. Aan die ander kant staan my mooi vroutjie vir my en glimlag. Na 'n huwelik van 27jaar het ek haar nog so lief soos die dag wat ek haar ontmoet het. Sy't by die inry se winkeltjie uitgestap gekom en met volle momentum in my vasgeloop. Springmielies het die hele wêreld vol geskiet soos konvetti. Ek onthou hoe woedend ek nog was vir die lomp meisie, maar toe sy haar kop lig en haar mooi voorkoms my oë gevange neem was dit tot daarna toe. My hart het my gedikteer om haar myne te maak. Vandag is ons nog so verlief en verlore. Ons stem nou nie altyd met alles oor een nie, maar wie doen?
"Hallo daar jou vakansie ganger." Sy glimlag die mooiste plooitjies en gee my 'n stywe druk.
"Naand mooiste dame." Fluister ek sag in haar oor. Wat die vakansie wat voor lê so spesiaal maak is die feit dat Marko (ons jongste) vroeër die jaar in sy eie woonstel in getrek het. Dit is ons eerste vakansie alleen in 20jaar.
"Is jy seker jy wil vanaand nog ry? Jy lyk bietjie uitgeput." Kommer is die uitvloeisel van haar vraag. Nie kommer oor die algemeen nie, maar kommer van omgee.
"Ek is seker my skat. As ons net eers daar is dan kan ons rus. Dan eers begin ons vakansie. Dis in elk geval net 5ure." Ek glimlag oortuigend vir haar. Sy druk haar onderlip uit soos 'n stout dogtertjie en kantel haar kop effens na die kant toe. Ek gluur haar vir 'n oomblik aan met vernoude oë. Oomblik herstel haar postuur en aangesig.
"Nou goed. Als is gepak en gereed. Wil jy eers stort en eet?" Sy gryns met afwagting.
"Nee, laat ek gou als in die motor pak." Ek flits vir haar 'n oogknik en maak my pad na die kamer. Die menigde tasse wag my in toe ek die deur binne tree.
"Aarde vrou. Mens sal sweer ons vlug land uit."
"Ag toe nou. Jy weet ek voel meer gerus as ek voorbereid is vir enige iets." Sy het haar vir my ligtelik vervies.
"Vir iemand wat altyd proklameer dat sy in geloof lewe wys jy dit nie regtig nie nê." Ek lag en vat die grootste tas eerste.
"Vir iemand wat nie geloof het nie bring jy die onderwerp darem maar baie op." Haar woorde laat my op my tande kners. Een van daai onderwerpe waaroor ons nie noodwendig ooreen stem nie. Sy't my al medigte male probeer benader met die saak, waarop ek elke keer antwoord...
"Daar is nie so ding soos geloof nie. Geluk aan die ander kant, daar's nou iets waarop mens kan steun." Ek kreun my stelling uit onder die swaar gewig van die tas. Dit voel asof sy die stoof hier ingepak het. Geluk was nog altyd die pilaar waarop ek gesteun het. Ek kom uit 'n kinderhuis weens my ouers wat my soos 'n onnodige hondjie weggegooi het. Ek moes nog altyd op myself staatmaak; en van vroeg af het ek besef dat die lewe vol stampe en stote is... en geluk, wat van tyd tot tyd in my guns geval het. Olivia het in 'n christelike huis groot geword, so geloof is in haar gene van kleins. Die enigste dag wat sy my in 'n kerk kon kry was die dag van ons troue.

"Ons Hemelse Vader, hou ons asseblief veilig onder U kosbare bloed waar ons nou die lang pad aandurf ,dat geen kwaad of onheil ons mag aanraak nie. Amen." Olivia sit haar voet neer as dit kom by bid voor ons ry, ek gee dit vir haar. Ek wil ook nie oor als stry nie. Met my geluk kan niks in elk geval fout gaan nie. Klaar gepak, gestort en geeet. Die tyd het aangebreek om te vertrek. Stadig maar seker word my wese met opwinding gevul. Die donkerte sprei uit oor die verte. Die wiele suis oor die teer en word net-net uitgedoof deur die sagte musiek wat die kajuit vul. Die Toyota Hilux dubbel kajuit het ek vroeër die jaar met 'n groot geluk bekom. Daar was 'n misverstand met 'n kliënt en soos die lot nou wou was ek die dag opsoek na 'n nuwe bakkie. Weens komplikasies het die verkoopsman hom vir 'n baie lae prys aan my laat gaan. Praat van geluk. Ek glo hy sal homself goed hanteer opad see toe. Die eerste tol hek loer oor die bult na ons, net na hom is daar 'n vulstasie. Ek het nog altyd die gewoonte om die tenk op te top by elke vulstasie. Sodoende kan daar nooit 'n te kort aan brandstof opduik nie. Die tolhek is agter die rug en die ligte van die vulstasie groet vriendelik.
"Ek gaan gou uitspring om vir ons versnapperings te kry." Olivia se moegheid steek my aan met 'n lang gaap wat ontsnap.
"Koffie sal nou lekker wees." Mompel ek deur die gaap. Ek stop by die eerste en naaste pomp. Olivia klim uit en pyl na die winkel. Die joggie staan nader en ek sak die venster.
"Maak hom vol my maat."
"Reg meneer." Hy draai en loop na die pomp se kant. Die motor aan die anderkant steel my aandag. Vier mans gluur my aan van binne. Ek knik my kop om my groet te be-edig. Hulle groet nie terug nie, maar begin onder mekaar praat. Hulle oë bly op my gevestig terwyl hulle onder mekaar gesels. Snaakse vente die. Ek draai my kop terug na voor. Olivia is al by die till.
"Dit sal R230 wees meneer." Branstof is belaglik deesdae. Ek gee die geld vir hom en sluit die bakkie aan. Sag gly hy oor die teer na die parkerings. Ek sluit hom af en klim uit. 'n Koel windjie streel my liggaam. Die flikkers blink twee vinnige flitse toe ek die deure sluit.
“'n Leker warm koffie en hoender pastei vir my wonderlike man." Olivia strek die koffie en pastei na my en glimlag opgewek na my.
"Jy's die beste." Ek vat dit en sluk somer dadelik 'n lekker warm mond vol koffie. Die hitte gly in my keel af en gloei tot in my maag. Ons draai terug na my silver bulletjie. Ek druk die knoppie en maak die deur vir Olivia oop. Ek het nou nie 'n pa gehad om my sulke dinge te leer nie, maar respek is iets wat ek goed ken.
"Gee my jou sleutel." 'n Onvewagte stem klop op my skouer. Ek draai om. Die vier mans van die motor wat langs my gestaan het, staan agter ons.
"Here help ons." Stik Olivia
"Olivia, staan agter my." Fluister ek en gee 'n halwe tree vorentoe.
"Is jy doof? Sleutel! Nou! " Ek kon nie uitmaak wie dit gesê het nie. Wie dink hierdie bogsnuitertjies is hulle?
"Sleutel se gat! Kry julle ry! Niemand vat my bakkie nie!" Impulsief brand die aggressie uit my mond uit.
"Albert, gee net vir hulle die sleutel. Ek smeek jou." Olivia se angsgevulde woorde stotter in my ore.
"Nee!" Byt ek na haar. Een van die mans stap nader en 'n gedeelte van die winkel lig val oor sy lyf. My liggaam word yskoud. In sy hand sien ek 'n AK-47. Ek gryp Olivia aan die arm en beweeg stadig weg van die bakkie af na die winkel se rigting.
"Op die grond!" Skree die man wat gewapen is. Sy oë blink in die donkerte.
"Wayne! Hyt gesien hoe jy lyk." Sê een van die ander.
"Jesus hou ons onder U bloed." Huil Olivia agter my.
"Op die grond!" Hy gee 'n blits vinnige tree nader. Pyn ontplof oor my kop soos hy my 'n hou gee met die agter deel van die geweer.
"Nee!..."
"Hou jou bek vroumens! Of ek skiet julle vrek."
"Kalm, kalm. Hier's die sleutel." Ek lig my hande om aan te dui dat ons op gee. Die sleutel hang uit my hand. Hy gryp dit verwoede.
"Sorry toppie, jy't klaar gesien hoe ek lyk." Hy tel die geweer op en oombliklik verteer yskoue prikkels my liggaam.
"Here...help." Woorde wat my lippe nooit sou kruis nie. Ek kan hoor hoe die sneller in sy vinger kreun en toe reën die skotte op ons neer. Tyd transformeer in 'n oogwink, sekondes word eeue soos skote deur die lig dreun. Deure slaan toe en ek hoor hoe my bakkie wegry. Deur die gesuis in my ore kan ek hoor hoe Olivia huil. My liggaam is koud. Koud, maar sonder pyn?
"Olivia?" My stem vibreer deur my keel. Ek kyk rondom ons en sien die prominente gate oral om ons. Olivia staan nog agter my... sonder 'n skraapie. Ek kyk na my lyf van bo tot onder. Onmoontlik! Die geweer was dan direk op ons gerig! Dit is menslik onmoontlik! Kan dit wees? Geluk? Nee...
"God is 'n werklikheid!."



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Geluk
Geluk? God se genade. Hierdie was 'n aangrypende verhaal. Het my geboei van die begin tot die einde. Goed gedoen. Ek het dit geniet.
7 jaar 8 maande 3 weke 5 dae 18 ure oud



Jesus, die Doper met die Gees

deur Christo Nel

In die taal en idioom van Afrikaanssprekende mense neem Christo gelowiges na die sowat 319 verse in die Bybel waarin daar direk na die Heilige Gees verwys word.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar